Wat om op jou lewensreis te verwag (2)

2020-10-02
2 Timoteus 4:7 NLV

Nie almal wat wegspring, voltooi die resies nie.

Paulus skryf: ‘Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ‘n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ‘n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ‘n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie’ (1 Korintiërs 9:24-27 NLV).

Paulus praat nie hier van sy verlossing nie; dit was ‘n uitgemaakte saak. Hy praat hier van sy hemelse beloning; en hierdie spesifieke woorde moet jou laat stop en dink: ‘Ek wil tog nie… self deur God gediskwalifiseer word nie.’ Hier is ‘n paar dinge wat sal veroorsaak dat jy op jou reis struikel:

1) Deur nie elke dag God se Woord te lees en te bid nie.

2) Om vir God nee te sê wanneer Hy met jou aan ‘n spesifieke area in jou lewe werk.

3) Morele mislukking wat uit verkeerde gewoontes en verhoudings spruit.

4) Deur toe te laat dat vrees en twyfel jou beheer.

5) Deur tyd met onsinnige doelwitte te verspil.

6) Deur sukses by die werk te behaal, maar by die huis te misluk.

7) Deur nie jou gawes, talente en tyd in God se koninkryk te saai nie.

Die lys kan aangaan en aangaan. Maak die volgende vandag jou gebed: ‘Deursoek my, o God, en ken my hart… Kyk of daar enige gebrek by my is, en lei my op die ewige pad’ (Psalm 139:23-24 NLV). God hou daarvan om sulke gebede te beantwoord!

Sielskos: Lev 23:33-44; Sag 14:16-21; Joh 7:1-40

Wat om op jou lewensreis te verwag (1)

2020-10-01
Hebreërs 11:8 NLV

Die Bybel sê vir ons: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.’ Kom ons kyk vir die volgende paar dae na sommige van die dinge wat jy op jou lewensreis kan verwag.

1) Geleenthede en teenstand. Paulus het geskryf: ‘want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (1 Korintiërs 16:9 NLV). As jy nie struikelblokke en teenstand teëkom nie, moet jy vir God vra of jy op die regte pad is. Die grootte van jou Godgegewe opdrag bepaal gewoonlik die omvang van die aanval teen jou. Daar is egter goeie nuus: Aanvalle is ‘n teken van respek. Dit beteken dat die Vyand jou as ‘n bedreiging vir sy planne sien.

2) Terugslae wat bedoel is om jou te ontspoor. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV). Mislukkings maak nie van jou ‘n mislukking nie, maar wanneer jy tou opgooi, doen dit! Jy word ‘n mislukking wanneer jy nie daaruit leer nie, weier om jou metodes te verander, weier om raad te aanvaar en weier om weer te probeer! As sonde veroorsaak dat jy struikel, moet jy dit bely en dit afsweer; en dan weer op die regte pad voortgaan. Indien jy geval het omdat jy iets nuuts en onbekend gepoog het, moenie te hard op jouself wees nie. Put eerder krag uit God se genade, besluit om beter te doen en hou aan vorentoe beweeg. Om dr John Maxwell aan te haal: ‘Misluk vroeg, misluk dikwels – en misluk altyd vorentoe!’

Sielskos: 1 Sam 11-13; Luk 24:25-35; Ps 60; Spr 22:7-11

Verklaar: ‘Dit werk vir my’

2020-09-30
2 Korintiërs 4:17 NLV

George Barna het in ‘n opname gerapporteer dat twee uit elke drie Amerikaners na hulself as ‘informele Christene’ verwys. Dis ‘n interessante term, maar wat beteken dit? In wese beteken dit ongebonde… nie toegewyd nie… wanneer ek so voel. Hier is egter hoe Paulus die Christelike lewe beskryf: ‘Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie’ (vers 7 NLV). Let op die woord ‘skat’. Paulus het dit wat God in hom geplaas het as ‘n kosbare vonds gesien; hy het dit beskerm, homself daaroor verheug en die meeste daaruit geput. Beteken dit dat die Christelike lewe maklik en sonder probleme sal wees? Nee, Paulus gaan voort: ‘Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (verse 16-18 NLV). God gebruik die lewe se ervarings – goed en sleg – om jou te verryk, te verskerp, te verdiep en te stabiliseer. Nog ‘n belangrike waarheid is dat dit wat jy tydens moeilike tye glo en spreek, die kwaliteit van jou geestelike lewe en jou toekoms bepaal. ‘Omdat ons dieselfde geloofsgesindheid het as waarvan daar geskryf staan: ‘Ek het geglo; daarom het ek gepraat,’ glo ons steeds en daarom hou ons ook aan met preek’ (vers 13 NLV). In plaas daarvan om dus te dink dat jou situasie teen jou werk, staan vandag in geloof op en verklaar: ‘Dit werk vir my!’

Sielskos: 1 Sam 8-10; Luk 24:13-24; Ps 68:24-35; Spr 22:5-6

Jy is geregtig in God se oë

2020-09-29
Hebreërs 5:13 AFR53

Paulus skryf: ‘Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.’ Geregtigheid is nie ‘n toestand wat jy deur menslike inspanning kry nie, dis ‘n posisie waarin God jou plaas wanneer jy op Christus vertrou. Van daardie oomblik af wil God hê dat jy jouself as ‘geregtig’ moet sien, omdat dit is hoe Hy jou sien. ‘aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet… vir almal en oor almal wat glo…’ (Romeine 3:20-22 AFR53). As jy sukkel om geregtig te wees sodat jy hemel toe kan gaan, lees die volgende teksgedeelte: ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). In dieselfde sin wat God Jesus ‘sonde gemaak’ het, maak Hy jou ‘geregtig’ die oomblik wat jy in Jesus glo. Sal jy steeds sondig omdat jy nog ‘n vleeslike liggaam het? Ja. Totdat jy jou nuwe liggaam ontvang, sal dit altyd so wees. Ons moet die verskil tussen ons posisie en ons toestand verstaan. Ons posisie ‘in Christus’ is wat ons vrymoedigheid voor God gee. Hier is ‘n belangrike Skrifgedeelte: ‘Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees’ (Romeine 14:17 AFR53). Let die volgorde op. Omdat ons geregtig in God se oë is, het ons vrede; en omdat ons vrede het – het ons blydskap.

Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 24:1-12; Ps 68:12-23; Spr 22:3-4

Hoe om in geloof te wandel

2020-09-28
Romeine 4:12 AFR53

Die Bybel praat van diegene wat ‘…ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham…’ Hoe wandel jy so? 1) Abraham het geglo in ‘…’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is (vers 17 NLV). Wanneer God aan jou ‘n belofte maak, het Hy die mag om dit ‘n werklikheid te maak, selfs wanneer al die bewyse en omstandighede dit wat Hy gesê het, weerspreek. 2) ‘Teen alle verwagting in het Abraham geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word…’ (vers 18 NLV). Toe daar geen rede meer was om te hoop nie, het Abraham steeds gehoop. Hoekom? Want sy hoop was in God! As jy vandag hooploos voel, dink aan hierdie woorde: ‘Keer terug na die vesting toe, gevangenes vol hoop! Ek belowe dat Ek julle dubbel sal vergoed vir al julle swaarkry’ (Sagaria 9:12 NLV). 3) “Teen alle verwagting in het Abraham geglo… op grond van God se belofte: ‘Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel'” (Romeine 4:18 NLV). Wanneer God ‘n belofte maak, bevat dit reeds die krag om die belofte te vervul. ‘Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). 4) ‘Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword…’ (Romeine 4:20 NLV). Abraham het nie geweifel, geaarsel, innerlik met homself gestry of toegelaat dat ander mense se opinies hom beïnvloed nie. Hy het vasberade en standvastig gebly. Dís hoe jy in geloof wandel!

Sielskos: 1 Sam 1-3; Luk 23:50-56; Ps 68:1-11; Spr 22:1-2

Die waarheid oor geld

2020-09-27
Spreuke 23:4 NLV

Meer geld kan jou meer geleenthede gee om goed in die wêreld te doen. Jesus het gesê: ‘Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom’ (Matteus 24:14 NLV). Om hierdie opdrag te vervul sal geld kos – en baie daarvan. Geld self sal jou egter nie gelukkig maak of veilig laat voel nie. Salomo, een van die wêreld se rykste mans, skryf: ‘Moenie jou afsloof om ryk te word nie. Wees verstandig genoeg om binne perke te bly. As jy nog na jou rykdom kyk, is dit eensklaps weg soos ‘n voël wat wegvlieg in die lug’ (Spreuke 23:4-5 NLV). Toe een van die wêreld se rykste mans onlangs oorlede is, het ‘n verslaggewer een van sy familielede gevra: ‘Hoeveel het hy nagelaat?’ Die familielid het geantwoord: ‘Alles wat hy gehad het!’ Maak nie saak hoeveel geld jy maak, spaar, belê of hou nie, uiteindelik gaan jou geld jou verlaat, of jy gaan jou geld verlaat. Iemand het een keer wys opgemerk dat die mens sewe ouderdomme het. Eerstens, sien ‘n kind die aarde. Tweedens, wil hy die aarde hê. Derdens, werk hy om die aarde te kry. Vierdens, besluit hy hy sal met die helfte daarvan tevrede wees. Vyfdens, besluit hy dat hy met minder as helfte tevrede sal wees. Sesdens, is hy tevrede om ‘n stukkie grond so groot soos ‘n graf te kan hê. Sewende, kry hy dit! Daar is baie dinge waarsonder jy kan lewe – en groot rykdom is een daarvan. Jy kan egter nie sonder vrede met God, ‘n familie gevul met liefde, ‘n lewenslange vriendskap met jou kinders en ‘n lewe wat ter ere van God geleef is, ‘n goeie lewe maak nie.

Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14