Beskerm jou geestelike lewe

2020-11-17
Job 33:4 NLV

Jy kan diefwering voor jou vensters sit, ‘n alarm in jou kar hê, video-kameras by jou besigheid hê en jou waardevolle items in ‘n kluis toesluit. Wat doen jy egter om jou waardevolste besitting, jou geestelike lewe, te beskerm? Elihu het vir Job gesê: ‘…Die asem van die Almagtige gee my lewe.’

Wanneer God tydens jou redding sy Gees in jou inblaas, word jy geestelik lewendig. Nou het jy die vermoë om Hom lief te hê, Hom te dien en Hom te behaag. Dis wat die Vyand wil vernietig – die deel van God wat binne-in jou is! Om by dit uit te kom sal hy jou liggaam aanval, oorlog met jou gedagtes maak en jou deur jou gewoontes, vertwyfelinge en vrese probeer beheer. Hy sal selfs deur ander mense werk, insluitend nabye vriende en familielede.

Toe God asem in Adam ingeblaas het, het hy lewendig geword. Hy het besef wie hy is en wat hy geroep is om in die lewe te doen. Moenie die les hierin misloop nie! Totdat jy besef dat God jou geskep en vir ‘n doel gered het, sal ander mense probeer om hulle identiteit en agenda in jou ‘in te blaas.’ Dis gevaarlik, want wanneer iemand jou kan definieer, kan hulle jou beheer!

‘Hoe kan ek myself beskerm?’ vra jy. Deur elke dag met die bewustheid van God se teenwoordigheid te leef! Die Psalmdigter het gesê: ‘U is vir my ‘n skuilplek, ‘n sterk vesting buite bereik van my vyande. Laat my vir altyd in u woning bly, en onder die beskerming van u vleuels skuil!’ (Psalm 61:4-5 NLV). Wanneer jy in daardie plek van veiligheid is, kan die Vyand nie jou of enigiets wat regmatig joune is, bykom nie.

Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 26:27-28