Wees gereed om te ontvang

2020-11-16
Johannes 16:24 NLV

Die Bybel sê nie vir ons hoe lank die verlamde man in Handelinge hoofstuk 3 by die tempelingang gesit en bedel het nie, maar dit was ‘n daaglikse gebeurtenis. Toe hy Petrus en Johannes sien, was die kans goed dat hy niks verwag het nie – hy het net probeer oorleef. Toe het Petrus vir hom gesê: ‘…Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ (Handelinge 3:6 NLV). ‘Hy het opgespring, op sy voete gestaan en begin rondstap. Daarna, terwyl hy rondstap, huppel en God prys, is hy saam met hulle die tempel in’ (vers 8 NLV).

Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. God het sekere tye bepaal om sekere dinge te doen. Hy het ‘n kalender waarop jou naam is: ‘…want die bestemde tyd het aangebreek, die tyd om hom genadig te wees’ (Psalm 102:14 AFR83). As jy nie geestelik by jou ‘bestemde tyd’ ingestel is nie, mag jy dalk dit wat God vir jou in gedagte het, prysgee. Dit beteken dat jy moet leer om in verwagting te leef, omdat God se seëninge óf na jou toe kom, óf by jou verbygaan.

Die Vyand sal probeer om jou so besig, sinies en hooploos te hou dat wanneer God die antwoord stuur waarvoor jy gebid het, jy dit nie sal herken, daarvoor uitreik of dit ontvang nie. Jesus het gesê: ‘…Ek verseker julle, wat julle ook al van die Vader vra op grond van my Naam, sal Hy aan julle gee. Tot nou toe het julle nog nie op grond van my Naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:23-24 NLV). Wees dus gereed om te ontvang.

Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 26:23-26