Hoe om moedeloosheid te oorkom (3)

2020-11-13
Nehemia 4:14 NLV

Beveg ‘n swaarmoedige lewensuitkyk. Houding is ‘n klein dingetjie, maar dit maak ‘n reuse verskil. Depressie, swartgalligheid, pessimisme, wanhoop en moedeloosheid affekteer meer mense as al die wêreld se gekombineerde siektes saam. Die waarheid is dat entoesiasme jou kan neem waar talent alleen nie kan nie. Dink daaroor: Elke dag gee talentvolle mense hulself oor aan moedeloosheid en gooi tou op, terwyl mense met minder talent en vermoëns aanhou en sukses behaal.

Winston Churchill het een keer geskerts: ‘Ek is ‘n optimis. Dit lyk nie of om enigiets anders te wees, werk nie.’ As jy regtig, regtig, regtig glo dat God aan jou kant is, sal jy optimisties wees, selfs wanneer jy voor oorweldigende struikelblokke en moedeloosheid te staan kom.

In die Ou Testament, het ‘n groep voormalige slawe die mure van Jerusalem in slegs twee-en-vyftig dae herbou en voortgegaan om te floreer. Hoe het hulle dit gedoen? Omdat hulle leier gesê het: ‘Moenie aan moedeloosheid oorgee nie. Nie eers bietjie nie. Beveg dit om elke hoek en draai!’ Dit werk vandag steeds so!

Een van Satan se gunstelingwapens is moedeloosheid. Hy weet dat hy jou nooit kan verslaan nie, tensy jy reeds in jou gedagtes verslaan is. Jy het egter die krag om hom te oorwin. Die Bybel sê: ‘…Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV). Wanneer Satan moedeloosheid na jou deur toe bring, wat moet jy doen? Moenie die deur oopmaak nie! Moenie hom innooi nie! Moenie vir die pakkie teken nie! Onderwerp jouself eerder aan God – en staan hom teen!

Van tyd tot tyd ervaar ons almal moegheid, frustrasie, mislukking en vrees. Deur egter op God se beloftes te staan en krag uit sy mag te put, kan jy kies om nie moedeloos te word nie. Die keuse is joune!

Sielskos: 1 Kro 16-18; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 26:13-16