Beoefen selfbeheersing

2021-09-15
Romeine 6:12 DB

Paulys skryf: ‘…beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God!.. Moenie toelaat dat die sonde en sondige begeertes ooit weer ‘n houvas op julle kry… nie. Moenie dat ‘n enkele liggaamsdeel van julle ooit in diens van die sonde staan nie. Nee, gee julle lewens vir God, van kop tot tone… (verse 11-13 DB). As jy hom toelaat, sal jou liggaam jou van die pad laat afdwaal. Dis nie dat jou liggaam boos is nie, maar dit het sekere aptyte wat altyd gereed is om op eksterne stimuli te reageer, wat alles baie aantreklik en tydelik bevredigend is.

Chuck Swindoll skryf: ‘Die lewe op aarde is werklik niks meer as ‘n string oomblikke nie. Ek wil nie hê dat my getuienis vir Jesus Christus deur ‘n enkele oomblik wat ek aan my liggaam toegee, verpletter moet word nie. Ek wil nie hê dat een oomblik van woede of trots of begeerte ‘n skadu oor ‘n leeftyd van wandel met my Here gooi nie. Ek vrees inderwaarheid daardie moontlikheid. Ek wil daardie moontlikheid vrees. Sodra ek ophou om dit te vrees – is ek in ernstige gevaar.’

Hoe hanteer jy dus jou vleeslike begeertes? Die enigste manier om dit te doen, is om God se Woord jou gedragskode te maak en te weier om kompromieë aan te gaan. Jesus het gesê: ‘…As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie…’ (Matteus 16:24 ABA). Kyk elke dag vir ‘n geleentheid uit om jouself in ‘n klein area te ontsê. Jy sal verbaas wees hoe moeilik dit is! Die beloning kom egter later, wanneer jy nodig het om jouself in ‘n groot area in die lewe, waarvan daar baie meer afhang, te ontsê.

Sielskos: 2 Kor 1-4; Luk 22:1-13; Ps 78:56-64; Spr 20:25

Geestelike groei is ‘n groepsprojek

2021-09-14
Psalm 122:1 NLV

Die Psalmdigter het gesê: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Kom ons gaan na die huis van die Here.'” Voel jy ook so oor God se huis? Paulus skryf: ‘…Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ‘n sterk en stewige gebou. Dit is soos ‘n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is’ (Efesiërs 2:20-22 DB).

Daar is tye wanneer jy alleen met God in gebed moet wees en daar is tye wat jy die antwoord wat jy soek, slegs sal vind wanneer jy saam met God se mense is. Wanneer diegene in wie God se Gees woon bymekaar kom vir lofprysing, onderrig, bemoediging en diens, daag God op ‘n kragtige manier op. Jy groei geestelik soos jy sy teenwoordigheid ervaar, sy Woord hoor en genootskap met jou broers en susters in Christus het.

Dis moeilik om alleen fees te vier. Wanneer jy iets het wat gevier moet word, roep jy oor die algemeen mense bymekaar om in jou vreugde te deel, nie waar nie? Jesus was so opgewonde oor sy oorwinning aan die kruis, dat Hy ons elke week bymekaar roep om dit wat Hy vir ons bereik het, te vier. Feesviering, soos geestelike groei, is ‘n groepsprojek.

Sielskos: Eseg 46-48; Luk 21:25-38; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24

God sal jou nooit verlaat nie

2021-09-13
2 Timoteus 4:16-17 NLV

Dit maak baie seer as iemand vir wie jy lief is sterf, jou skei, of jou verlaat. Selfs Paulus was nie daarvan vrygestel nie. Hier is van sy laaste woorde aan Timoteus: ‘Kom asseblief so gou jy kan. Demas het my verlaat… Net Lukas is by my. Bring Markus saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees… Aleksander die kopersmid het my baie skade aangedoen… Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat… Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee… En Hy het my van ‘n gewisse dood gered. Ja, en die Here sal my verlos van enige aanval en my veilig in sy hemelse koninkryk bring…’ (verse 9-18 NLV).

Die feit is dat jy sonder ander mense kan oorleef, maar jy kan nie sonder God oorleef nie. Dis hoekom Hy dinge wegneem wat ons afhanklik van ander mense maak. Hy stuur sekere individue in jou lewe in om jou te help om jou geloof te bou en jou karakter te ontwikkel en wanneer hulle weg is, om jou met die versekering te laat dat God in beheer is.

Die verlies van mense vir wie jy lief is: 1) ontwikkel jou geestelike spiere; 2) toets jou veerkragtigheid; 3) wys jou die omvang van God se krag. Toe Moses gesterf het en Josua beheer moes neem, het God vir hom gesê: ‘…Soos wat Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees…’ (Josua 1:5 NLV). Dis iets wat Josua nooit sou gehad het terwyl Moses nog in die prentjie was nie. Dis ook ‘n les wat jy nie kan leer terwyl jy nog na iemand anders vir antwoorde kyk nie. Draai dus vandag na die Here toe.

Sielskos: Eseg 43-45; Luk 21:12-24; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21

Moenie jou doelwitte uit die oog verloor nie

2021-09-12
Psalm 112:8 AFR53

Om sukses in die lewe te behaal, is daar drie struikelblokke waarvan jy bewus moet wees en moet oorkom:

1) Moegheid. Daar word beweer dat die perd wat die Kentucky Derby wen, na die eerste halwe myl uit suurstof uit hardloop en die res van die wedloop net met ‘hart’ hardloop. Ondersoek dus vandag jou hart en kyk of jy waarlik toegewyd is. ‘…As julle aanhou glo, dan gee God vir julle ‘n groot beloning. Daarom moet julle aanhou om te glo, en julle moet doen wat God wil hê sodat julle die dinge kan kry wat Hy vir julle belowe het’ (Hebreërs 10:35-36 ABA).

2) Vrees. Wanneer dit by toewyding kom, is daar vier tipes mense: a) Leeglêers: mense wat geen doelwitte het nie en wat hulself aan niks toewy nie. b) Bangbroeke: Mense wat nie weet of hulle hul doelwitte kan bereik nie en dus te bang is om hulself daaraan toe te wy. c) Ophouers: mense wat begin om na ‘n doelwit te werk, maar ophou wanneer dit moeilik raak. d) Vasbyters: mense wat doelwitte stel en die prys betaal om hulle te behaal. Watter een van die vier is jy? Vrees en geloof sal altyd in jou lewe teenwoordig wees en die een wat jy kies, sal bepaal of jy sukses behaal of misluk.

3) Selfvoldaanheid. Die suksesvolle besigheidsman, Ray Kroc, het gesê: ‘Solank as wat jy groen is, groei jy. Sodra jy ryp is, begin jy verrot.’ As jy wys is, sal jy gereeld rus om verfris te word, jouself te vernuwe en te herfokus. Jy moet egter nie op gister se suksesse rus of op vandag se momentum staatmaak nie. Wees soos Paulus: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe…’ (Filippense 3:13-14 NLV).

Sielskos: Jona 1:10-2:10; Matt 12:38-42

Liefde is ‘n werkwoord

2021-09-11
1 Johannes 4:8 NLV

Liefde is nie net ‘n selfstandinge naamwoord nie; dis ‘n werkwoord. Dis nie wat jy dink of voel nie; dis wat jy doen. Toe Moeder Teresa in 1948 in Kalkutta aankom, was een van die eerste dinge wat sy gedoen het om vyf straatkinders op te laai en hulle na haar ‘skool’ toe te bring. Voor die einde van die jaar het sy een-en-veertig studente gehad wat oor higiëne in haar klaskamer, wat in ‘n publieke park geleë was, geleer het.

Binne twee jaar het sy haar aandag daarop begin vestig om vir die sterwendes te sorg. ‘n Bedelaar wat sterwend op ‘n ashoop gevind is, is na haar toe gebring. Honger en lyding het hom in ‘n wesenlike geraamte verander. Moeder Teresa het hom huis toe gevat en in die bed gesit. Toe sy hom probeer was, het sy ontdek dat sy lyf met wurms oortrek was. Dele van sy vel het afgekom toe sy hom probeer bad het. Vir ‘n kort oomblik was die man by sy bewussyn en het hy vir haar gevra: ‘Hoekom doen jy dit?’ Moeder Teresa het met twee woorde, wat die kenmerk van haar lewe was, geantwoord: ‘Vir liefde!’

Besige mens, dis maklik om mense wat in jou pad staan om dinge gedoen te kry, as irritasies en ongerief te sien. Dis moeilik om bo jou selfgesentreerde gevoelens uit te rys en hulle lief te hê. Miskien dink jy dat hierdie nie ‘n belangrike saak is nie. Dink weer; die Bybel sê: ‘Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik. Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God die liefde self is’ (vers 7-8 NLV).

Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Luk 21:1-11; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19

Bêre die maatstok!

2021-09-10
Spreuke 3:3 NLV

Voor die Paasmaal, het al die dissipels vergeet om Jesus se voete te was. Nadat Jesus verduidelik het hoe die brood en wyn sy komende kruisiging simboliseer, het hulle begin stry oor wie van hulle die belangrikste in die Koninkryk sou wees. Jesus het ook geweet dat hulle binne ure saam met Hom in die Tuin van Getsemane aan die slaap sou raak. Hy het geweet dat Petrus Hom sou verloën. Hoe het Hy dus hierdie verkeerde optredes van hulle veroordeel? Hy het nie! Hy veroordeel nie mense nie.

Jy hoef dit ook nie te doen nie. Jy sal wonderlike rus in jou siel vind wanneer jy ophou om mense te veroordeel en hulle eerder begin liefhê. Eerder as om die dissipels tereg te wys, komplimenteer, beloon en bevorder Jesus hulle en plaas hulle op die hemel se ererol. Selfs nadat hulle nie sy voete gewas het nie, wou Hy steeds graag saam met hulle die Paasmaal geniet (sien Lukas 22:15).

Gevoed deur hul liefde, het Hy gesê: ‘Maar julle is die mense wat deur dik en dun in my swaarkry by My gebly het… Ek [bemaak] dit ook aan julle sodat julle gedurende my koningsheerskappy kan eet en drink aan my tafel en kan sit op trone…’ (Lukas 22:28-30 NLV). In sy oë was hulle almal belangrik. Hy het hulle nie volgens optrede veroordeel nie, maar op hulle liefde wat hulle aangespoor het om alles anders agter te laat en Hom deur dik en dun te volg.

Reiman Schultze sê: ‘Moenie standaarde vir jouself stel nie. Dit kan jou doodmaak. Net soos Jesus toe sy dissipels liefgehad het, so het Hy hulle nou ook lief. Hou dus op om jouself en ander te veroordeel!’

Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Luk 20:41-47; Ps 78:9-16; Spr 20:11-14