God se oplossing vir depressie (1)
2021-11-061 Konings 19:7 NLV
Gee aandag aan jou fisiese behoeftes. Elia was uitgeput, dus het hy hom onder ‘n boom uitgestrek en aan die slaap geraak. ‘Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ‘n engel het hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet!’ Hy kyk op en dáár sien hy ‘n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ‘n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het weer gekom, hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees. Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink…’ (verse 5-8 NLV).
Jy kan jouself vir ‘n goeie saak uitput en bid tot jy blou in die gesig is, maar dit sal jou nie baat totdat jy leer om wysheid rakende die fisiese behoeftes van jou liggaam, uit te oefen nie. God se aanvanklike oplossing vir Elia se depressie, was om hom ‘n goeie maaltyd en ‘n ordentlike rus te gee. ‘n Goeie nagrus of ‘n vakansie doen wondere vir jou houding.
Wees wys; wanneer jy fisies en geestelik gedreineerd is, is jy kwesbaar. Let op dat God nie met Elia geraas het en vir hom gesê het: ‘Jou lafaard! Wat maak jy hier in die woestyn?’ nie. Nee, Hy het hom fisies herstel. Dit was die beginpunt. As jy dus depressief is, mag jou eerste stap na herstel wees om fisies na jouself om te sien. Sien na jou gesondheidsbehoeftes om. Miskien moet jy jou dieet verander, meer slaap inkry of begin oefen. Fisiese gesondheid het ‘n diepgaande effek op jou bui. Kan God jou in antwoord op jou gebede genees? Ja. (sien Jakobus 5:14). Hy verwag egter van jou om geloof – en wysheid! – te gebruik.
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Joh 8:42-59; Ps 123; Spr 25:18-20