God se oplossing vir depressie (4)

2021-11-09
1 Konings 19:15 NLV

Laat God jou ‘n nuwe rigting gee. God het vir Elia gesê om na die woestyn van Damaskus te gaan om ‘n nuwe koning, sowel as ‘n nuwe profeet om hom op te volg, te salf (sien verse 15-17 NLV). Met ander woorde, Hy het vir Elia ‘n nuwe opdrag gegee.

Hou op om in selfbejammering rond te sit. Neem jou oë van jouself af en begin na die behoeftes van ander mense kyk. Raak by hulle lewens betrokke deur ‘n bediening waardeur jy kan gee en waar God deur jou kan gee. As jy konstant na jouself kyk, sal jy ontmoedig word. Jesus het gesê dat jy jou lewe moet verloor om dit te vind (sien Matteus 16:25).

Jy sê: ‘Maar ek het ‘n groot mislukking gemaak en ek is teleurgesteld in myself. God is sekerlik ook teleurgesteld in my.’ Teleurstelling vind net plaas wanneer iemand van jou verwag om iets anders te doen as wat jy reeds doen. Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën, maar het hom nog steeds geroep. Hoekom? Omdat Hy geweet het dat Petrus deur die ervaring sou leer en groei en na groter dinge sou aanbeweeg.

God wil vir jou ‘n nuwe doelwit en rigting gee. Hy is nie klaar met jou nie. As jy Hom toelaat, sal God jou optel en jou help om oor te begin. Een fout – of ‘n honderd foute – maak jou nie vir die res van jou lewe nutteloos nie. Vandag wil God jou uit jou depressie oplig. Hy kan jou help. Hy kan jou verander. Jy hoef nie deur die lewe te gaan met jou emosies wat jou manipuleer nie. Jou emosies word deur jou gedagtes beheer en met God se hulp, kan jy hoe jy dink en dit waaroor jy dink, verander!

Sielskos: 1 Kro 16-18; Joh 9:13-23; Ps 105:1-15; Spr 25:23-25