Hanteer vandag die gemors

2022-06-18
Jesaja 43:18 NLV

Ons almal het emosionele solders en kelders waar ons ons ‘gemors’ bêre. Dit werk dieselfde met ons verhoudings. Dis moeilik vir ‘n verhouding om te floreer wanneer beide partye nie hul geestelike en emosionele gemors al verwerk het nie. Ons praat hier van: 1) spyt oor foute in die verlede, 2) wrokke waaraan ons vashou omdat ons voel dat ons verkeerd behandel is, en 3) seer wat ons onder ‘n wolk van woede, twyfel en isolasie wegsteek. As jy die tipe persoon is wat wrokke koester en aan foute in die verlede vashou, weet jy hoe dit voel om deur jou geestelike en emosionele gemors afgerem te word.

Wanneer jy aan seer vasklou en wrokke koester, sal dit jou siel vreet, jou blydskap verorber en al jou vordering van jou steel. Soos blaam, hou hierdie gemors jou in die verlede vasgevang. As ‘n eks jou seergemaak het en jy dit nooit laat gaan het nie, sal jy elke keer wat jou maat iets soortgelyks doen, met onbillike drif daarop reageer, asof hulle die oorspronklike persoon is wat jou seergemaak het. Gevolglik is jou maat ontsteld en deurmekaar oor jou oordrewe reaksie op ‘n klein oortreding, wat op sy eie onbeduidend is.

Jy sal nie weet wat jy in jou lewe het, om nie te praat van wat jy nodig het, totdat jy nie die gemors van die verlede hanteer het sodat jy die seën van die ‘hier en nou’ kan geniet nie. Dit kom daarop neer om hierdie twee Skrifgedeeltes te gehoorsaam: ‘En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het’ (Matteus 6:12 NLV), en 2) ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV). Hanteer vandag die gemors.

Sielskos: 2 Kon 13-15; Matt 19:1-14; Ps 73:17-28; Spr 13:20

Die goddelike kuns om te laat gaan

2022-06-17
Hebreërs 11:17 NLV

In Genesis 12, het God vir Abraham gesê om sy land, sy familie en sy sekuriteit te verlaat. Abraham het op die krag van ‘n belofte op ‘n onbekende pad na ‘n onbekende bestemming gereis. Sonder om te aarsel, het die vyf-en-sewentig-jaar oue patriarg ‘…verhuis soos die Here hom beveel het…’ (Genesis 12:4 NLV). Vyf-en-twintig jaar later is Isak gebore; die wonderwerkseun wat God se belofte sou vervul dat Abraham se nageslag: ‘…die draer van seën vir al die nasies op die aarde [sal wees]. Ek sal dit doen omdat Abraham na my geluister het en gehoorsaam was…’ (Genesis 26:4-5 NLV).

Dan maak God ‘n hartverskeurende bevel: ‘Neem jou seun… ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer…’ (Genesis 22:2 NLV). In gehoorsaamheid aan God se Woord, het Abraham: ‘Die volgende oggend… vroeg opgestaan… en ook sy seun Isak geneem om saam te gaan…’ (vers 3 NLV). God se beloofde seën het van Abraham se gewilligheid om dit waarvoor hy die liefste was te laat gaan, afgehang. Dit sou natuurlik en verstaanbaar gewees het indien Abraham besluit het om dit nie te doen nie, maar dit sou die beloofde seën geblokkeer het.

Waaraan klou jy vas wat God se seën in jou lewe blokkeer? Is dit jou kinders, vriendskappe, reputasie, mag, besittings, gemak of gewoontes? Abraham se gewilligheid om Isak te offer was die hoogste daad van geloof. Hoe kon hy dit doen? ‘Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek…’ (Hebreërs 11:19 NLV). Abraham het geglo dat met God, beteken om te laat gaan nooit dat jy verloor nie, maar dat jy iets beters terugkry. Jy sal ook!

Sielskos: 2 Kon 10-12; Matt 18:21-35; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19

Spreek woorde wat heelheid bevorder

2022-06-16
Spreuke 6:2-3 NLV

Stormie Omartian sê: ‘Vroeg in my wandel met die Here het ek baie negatief gepraat. ‘Ek is ‘n mislukking,’ ‘Ek is lelik,’ ‘Niks loop ooit reg nie.’ Toe het die Heilige Gees met my hart gepraat: ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV).

Ek het van kindsbeen af ‘n spraakprobleem gehad en is dwarsdeur my skoolloopbaan daaroor gespot. Toe ek oud genoeg was om professionele hulp te kon bekostig, het ek met ‘n spraakterapeut begin werk. Ek het dag vir dag, jaar na jaar geoefen, maar net ‘n klein verbetering ervaar. Met elke toespraak wat ek gelewer het, het ek steeds halfpad deur my stem verloor. ‘Ek sal nooit reg kan praat nie,’ het ek gehuil. Soos ek egter daardie woorde gesê het, het die Here vir my gesê: ‘Jy bring dood oor jou situasie omdat jy nie die waarheid praat nie. Praat dit wat jy weet die waarheid in my Woord is. ‘…Die mense wat hakkel, sal maklik kan praat’ (Jesaja 32:4 NLV). ‘Ek het my woorde in jou mond gesit…’ (Jesaja 51:16 NLV).

Kort daarna, toe ek gevra is om ‘n toespraak by ‘n damesoggend te lewer, het ek my vrese na God toe geneem en sy waarheid gepraat in plaas daarvan om my eie negatiewe opinies te lug. My praatjie het so goed afgeloop dat ‘n hele nuwe bediening daaruit ontstaan het. Die Bybel sê: ‘as jy gevang is deur wat jy sê, vir jouself ‘n strik gestel het, dan moet jy gou iets daaraan doen…’ (Spreuke 6:2-3 NLV). Dit sluit die manier wat jy met jouself praat, in. Vee woorde van hopeloosheid, twyfel en negatiwiteit uit jou woordeskat uit. Dit mag dalk onskadelik klink, maar dit affekteer jou liggaam en siel. Spreek woorde wat die heelheid wat jy begeer, reflekteer.’

Sielskos: 2 Kon 7-9; Matt 18:10-20; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16

Onvoorwaardelike blydskap

2022-06-15
1 Johannes 1:3-4 NLV

Wanneer blydskap in jou lewe afwesig is, is krag ook afwesig (sien Nehemia 8:10). Ons vreugde moenie op dit wat om ons gebeur gebaseer word nie; dit moet van ons verhouding met Jesus afhanklik wees. Johannes sê: ‘…ons blydskap [kan] tot sy volle verwesenliking… kom’ (1 Johannes 1:4 NLV).

Pastoor Reimar Schultze merk op: ‘Johannes het dit nie gesê toe alles goed gegaan het nie, maar toe alles in duie gestort het.
1) Al sy mede-apostels is vermoor.
2) Rome het die tempel vernietig sodat daar nie een steen op ‘n ander een oorgebly het nie. Flavius Josefus, ‘n ooggetuie, het geskryf: ‘Die menigte wat omgekom het, het al die verwoesting wat mense of God al ooit oor die wêreld gebring het, oortref.’
3) Baie Jode en Christene het vlugtelinge geword. Die gemiddelde lewensverwagting was omtrent veertig jaar en 25 persent van die mense in Rome, was slawe.
4) Johannes het self as veroordeelde misdadiger op die eiland Patmos gebly. Hy het geen aardse gemak gehad nie; geen versekering dat hy nog ‘n dag sou oorleef nie. Toe sy beker van smart vol was, het God hom opdrag gegee om vir die wêreld die absolute mag en triomf van die Christendom oor alles te wys. Johannes se geskrifte, met verwysing na ons daaglikse wandel, sluit alles wat die hemel in die Woord wou openbaar af: as ons deel van die apostoliese gemeenskap is, sal ons blydskap tot sy volle verwesenliking kom.’

Die Psalmdigter het dit die beste gesê: ‘…in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV).

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 18:1-9; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12

Huweliksraad van “‘n ou hand” (2)

2022-06-14
1 Tessalonisense 2:11-12 NLV

Die skrywer Jim Killam gee nog ‘n paar wenke vir ‘n suksesvolle huwelik:

‘1) Om saam te bid kan die intiemste ding wees wat julle saam doen, selfs meer as seks. Bid saam voor julle besluite maak. Op die ou einde is die besluit wat julle maak minder belangrik as die feit dat julle saam daaroor gebid het.
2) Hou jou loopbaan liggies vas. Dis nie wie jy is nie, dis net wat jy doen.
3) Om elke paar jaar te trek is ‘n goeie manier om bestek te neem van hoeveel onnodige goed jy het.
4) Neem af en toe ‘n week sonder om televisie te kyk. Dit sal daar wees wanneer jy terugkom en daar sal steeds (baie min) wees wat die moeite werd is om te kyk.
5) Kry gereelde tye waar julle saam en apart kan stil wees.
6) Moet nooit self ‘n stukkende skottelgoedwasser probeer regmaak nie. Jy kan die nutsman nou of later bel. Bespaar jouself jare se vernedering. Bel dadelik!
7) In plaas daarvan om jouself te vermaak, fokus na buite. Saam kan julle julle gemeenskap en julle wêreld beïnvloed.
8) Soek ‘n goeie kerk en raak betrokke. Moenie net toeskouers wees nie; kerke het genoeg daarvan.
9) ‘Eer jou vader en jou moeder’ is op alle ouderdomme van toepassing.
10) Praat dikwels oor jou hoop en drome en moenie vir hare lag nie.
11) Baklei skoon en regverdig. Moenie skree of dikbek wees nie.
12) Onthou: ‘Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ‘n groot rykdom’ (1 Timoteus 6:6 NLV). Benader elke dag met ‘n dankbare hart; dis bevrydend om te besef dat niemand jou iets skuld nie.
13) Jou vrou is ‘n wonderlike geskenk van God; behandel haar dus so.
14) Geen huwelik is koeëlvas nie. Pas dit met jou lewe op.’

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Matt 17:14-27; Ps 143; Spr 13:9-10

Huweliksraad van “‘n ou hand” (1)

2022-06-13
Spreuke 4:1 NLV

Jim Killam skryf: ‘Oor ‘n paar dae sal ons oudste seun in die huwelik tree. Ek het geen raad oor trouebeplanning nie, maar gebaseer op 24 jaar se ondervinding, kan ek ‘n paar stukkies raad gee oor hoe om die huwelik te navigeer.

1) Dit doen wondere vir jou vrou se selfbeeld om haar voor ander mense te prys.
2) Om haar voor ander mense te kritiseer, selfs as ‘n grap, is altyd ‘n slegte idee.
3) Soms wil sy nie hê dat jy haar probleme moet oplos nie, sy wil net hê dat jy luister. Ek weet; ek verstaan dit ook nie!
4) Moenie daardie simpel gesegde glo dat die huwelik ‘n meulsteen om jou nek is nie. Die mense wat dit vir jou vertel, sal enigiets gee om te hê wat jy het.
5) Soms, so onprakties soos dit mag klink, is dit beter om die geld op ‘n vakansie eerder as meubels te spandeer – mits jy dit kan bekostig.
6) Kredietkaartskuld is ‘n monster. Moenie daarvoor val nie. Moet ook nooit finansiële geheime hou nie; dit bly nooit geheim nie. Lewe op minder as wat jy maak; indien moontlik, lewe op een inkomste.
7) Gee jou tiende. Dit eer nie net God nie, maar fokus die res van jou besluite oor jou geld.
8) Om saam te lag is beter vir julle as om saam te oefen.
9) Moenie so bang wees om mekaar se gevoelens seer te maak dat julle nooit praat oor hoe julle regtig voel nie. (Dit het my 5 jaar geneem om vir jou ma te sê dat ek nie van die konfyt wat sy op my grondboontjiebotter broodjies smeer, hou nie!)
10) Moenie te skaam wees om saam oor seks te praat nie.’

Sielskos: Op 19-22; Matt 17:1-13; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8