Hou aan om op God te vertrou; Hy sal ingryp

2022-08-11
Eksodus 2:25 NLV

‘…Die Israeliete het egter nog steeds gebuk gegaan onder slawewerk. Hulle het om hulp geroep… God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ‘n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle’ (verse 23-25 NLV). Net toe die Israeliete gedink het dat die lewe nie moeiliker kan raak nie, het die farao hulle strooi weggeneem en hulle beveel om dieselde kwota bakstene elke dag te lewer. Dis toe dat hulle hul breekpunt bereik het! Is dit waar jy vandag is? Indien dit die geval is, is daar drie dinge wat jy moet weet:

1) Dit help soms om jou gevoelens te deel. Veral wanneer jy dit op die regte tyd, op die regte manier en met die regte mense deel. Dit kan terapeuties en genesend wees. Dikwels kan die hulp wat jy nodig het egter nie in mense gevind word nie, dus:

2) Daar kom ‘n tyd wat jy na God om hulp moet roep. God het gesien hoe die Israeliete sukkel om deur nog ‘n dag te kom. Aangesien hulle egter met almal behalwe Hom daaroor gepraat het, het niks verander nie. Het jy al daaroor gebid? Gebed moet jou eerste opsie, nie jou laaste uitweg wees nie. Dawid het gesĂȘ: ‘In my nood het ek tot die Here gebid. Die Here het my geantwoord en my bevry’ (Psalm 118:5 NLV).

3) God verbreek nooit sy beloftes nie. ‘…Hy het onthou dat Hy ‘n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle.’ God werk volgens sy plan, nie joune nie. Hy het ‘n bepaalde skedule waarvolgens Hy jou gebede beantwoord en jou red, hou dus aan bid en glo Hom.

Sielskos: Deut 25-27; Mark 4:13-25; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15