Gedagtes oor die Bybel (2)
2022-08-09Psalm 119:89 NLV
God se Woord moet ‘vas staan’ in jou lewe. Die hemel is die Hooggeregshof, wanneer dit uitspraak lewer oor ‘n saak, is die saak afgehandel. Omdat God se Woord dus vas staan in die hemel, is die vraag: Staan dit ook vas in jou lewe? Jesus het gesê: ‘Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan’ (Markus 13:31 NLV).
Die Bybel hoef nooit opgedateer te word nie; dis perfek en kan nie verbeter word nie. Dis hoekom Jesus ons opdrag gee dat sy woorde ‘n stewige vastrapplek in ons moet kry (sien Johannes 15:7). Jy moet dus jou gedagtes met die Skrif programmeer. Hoe doen jy dit? 1) Gee dit permanente verblyf, nie besoekerstatus nie. ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (Kolossense 3:16 NLV). Lees die Bybel, mediteer daaroor, spreek dit hardop. Ja, sing selfs die woorde: ‘…Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God’ (Kolossense 3:16 NLV).
2) Hou dit ten alle tye by jou. ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV). Praat daaroor, dink daaroor, stap daarmee saam! Jy sê: ‘My geheue is nie meer so goed nie.’ Geen probleem. Jesus het gesê: ‘…die Raadgewer, die Heilige Gees… wat die Vader in my Naam sal stuur, sal… julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (Johannes 14:26 NLV). Soos jy oor God se Woord mediteer, sal die Heilige Gees jou geheue aanwakker en help.
Sielskos: Deut 18-21; Mark 3:20-35; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6