2022-06-24
1 Korintiërs 2:16 NLV
Daar is ‘n natuurlike ingesteldheid en ‘n geestelike ingesteldheid. Om in oorwinning te lewe, moet jy ‘n geestelike ingesteldheid ontwikkel. ‘Mense wat nog in materiële terme dink, kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie… Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet uit ‘n geestelike perspektief verstaan word… ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:14, 16 NLV).
Soos jy jou lewe in ooreenstemming met God se Woord programmeer en jouself bewustelik daaraan onderwerp om elke dag sy wil te doen, sal Hy sy gedagtes in jou gedagtes plant. Wat ‘n voordeel! Byvoorbeeld: Iemand kritiseer jou en jou gevoelens word seergemaak. In daardie oomblik praat die Here met jou en sê: ‘Ja, jou gevoelens is seergemaak, maar ‘n deel daarvan is net gewonde ydelheid. Ek is lief vir jou ten spyte van al jou gemors. Jou posisie by My is nie in gevaar nie. Die persoon wat jou gekritiseer het, sien dalk ‘n fout raak. Maar dit is beter om nie te hoef voor te gee dat jy perfek is nie. Hier is ‘n kans om te groei. Gebruik dit!’
Selfs al is daar elemente van pyn in hierdie geestelike soort gedagtes, verlam dit jou nie, maar gee jou eerder energie. Dit is waar, dit gee jou grond om op te staan en jy besef dat indien jy jou gedagtes op hulle gefokus kan hou, sal die regte gevoelens en aksies meer geneig wees om daaruit te vloei. Nou begin jy die volgende belofte uitleef: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).
In plaas daarvan om op jou kritici te fokus, fokus eerder op God, op jou geestelike groei en wat jy uit die ervaring kan leer.
Sielskos: Hosea 1-5; Matt 21:1-17; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8
2022-06-23
2 Korintiërs 10:5 NLV
As ‘n dief by jou voordeur opdaag, sal jy hom binne nooi? Nee, jy sal die polisie bel en hom laat gevange neem. Dis ook wat jy moet doen wanneer verkeerde gedagtes na vore kom! Neem hulle gevange – voor hulle jou gevange neem. Jy moet dit doen die oomblik wat die eerste een in jou gedagtes opkom. Wanneer jy ‘n gedagte koester, bemagtig jy dit en sal dit jou oorwin.
Die Bybel sê: ‘Wys dus dat julle van God afhanklik is… Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV). Jy het nie op jou eie die krag om Satan te weerstaan nie, moet dit dus nie eers probeer nie! Die oomblik wat jy egter vir God vra en jou wil aan Hom onderwerp, kan jy Satan oorwin. Jy kan besluit wie jou gedagtes sal beheer: ‘As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede’ (Romeine 8:6 NLV).
Wanneer ‘n gedagte oor en oor in jou geestesoog afspeel, moet jy jouself die volgende afvra: ‘In watter rigting stuur hierdie gedagte my? Is dit na ‘n geestelike dood, of na ‘ware lewe en vrede’ toe?’ Dink daaroor: Jy neem nie eers versekering uit nadat ‘n storm jou huis vernietig het nie. In plaas daarvan om te faal en te sê: ‘Ek sal nooit anders wees nie,’ kyk terug en vra jouself: ‘Watter gedagtes het tot my mislukking gelei? Was ek in die verkeerde geselskap, of op die verkeerde plek, of het ek die verkeerde ingesteldheid gehad? Het ek God se Woord gelees en gereeld gebid? Het ek my lewe rondom mense wat my versterk, gebou?’
Om jou gedagtes te monitor, betaal in die langtermyn dividende uit!
Sielskos: 2 Kon 24-25; Matt 20:29-34; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4
2022-06-22
2 Samuel 23:5 NLV
Of jy nou in die kerk of by die werkplek die ‘persoon in beheer’ is, is daar ‘n belangrike vraag wat jy ernstig moet aanspreek: As jy nie vir jou eie huisgesin sorg en vir hulle lief is nie, hoekom moet die mense wat na jou vir leiding opsien dan dink dat jy vir hulle sal sorg en lief wees? Maak hierdie vraag jou ongemaklik? Laat dit jou reageer deur te sê: ‘My persoonlike lewe is niemand anders se besigheid nie’? Wel, dis waar jy verkeerd is! Jy lei deur jou voorbeeld. Die mense rondom jou mag dalk nie die vrymoedigheid hê om jou te vertel wat hulle van jou dink nie, maar dit weerhou hulle nie daarvan om dit te dink of met ander mense te bespreek nie.
Neem jy jou familie saam in jou soeke na sukses, of laat jy hulle agterweë bly? Gee jy vir hulle die tyd en aandag wat hulle verdien, of word hulle gereeld aan die einde van ‘n moeilike dag aan jou frustrasies onderwerp? Is hulle belangriker vir jou as jou loopbaan, jou sukses of jou persoonlike geluk? Hulle behoort te wees. As jy elke prys en toekenning by die werk wen, maar op die tuisfront misluk, wat het jy dan regtig bereik? Wie sal dit saam met jou vier?
Die sielkundige William James het gesê: ‘In elke persoon is daar ‘n groot behoefte om waardeer te word.’ Die vlak aanmerkings van kollegas wat jou talente en prestasies prys sal nie aan daardie behoefte voldoen nie. Dit kan net in ‘n huis waar aanvaarding, liefde en aanmoediging elke familielid met mekaar verbind, gevind word. Jou huis moet jou hawe wees – die plek waar jy skuiling teen die storms van die lewe vind. Wat doen jy om dit ‘n werklikheid te maak?
Sielskos: 2 Kon 21-23; Matt 20:17-28; Ps 139:13-24; Spr 13:25
2022-06-21
Prediker 5:1 DB
Wanneer dit kom by beloftes maak en die nakoming daarvan, draai Salomo nie doekies om nie: ‘Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie… As jy God iets belowe het, moet jy dit so gou moontlik doen. God hou nie van mense wat los en vas beloftes maak nie. Doen wat jy belowe het. Moenie dat baie praat jou in die moeilikheid bring nie, want dan moet jy weer… sê jy het dit nie so bedoel nie…’ (verse 1, 3-5 DB). Dit beteken dat jy nie impulsief moet wees nie, net soveel moet luister as wat jy praat, soveel informasie moet bymekaar maak as wat jy kan en God dan in gebed moet raadpleeg voor jy ‘n belofte maak.
Mense sê dikwels dit wat hulle dink ander mense wil hoor, maar dit kan hulle in baie moeilikheid bring. Moenie iets beloof wat jy nie kan nakom nie. Moet ook nie verskonings maak nie. Niks verminder jou invloed meer as wat jy ‘n fout met ‘n flou verskoning probeer wegpraat nie. Wanneer jy ‘n belofte maak wat op emosie gebaseer is, sal jy dit net nakom wanneer jy op ‘n sekere manier voel. Ware beloftes werk nie so nie. Dis nie ‘n gevoel nie; dis ‘n karaktereienskap. Menslike emosies fluktueer, maar beloftes moet stabiel wees.
Ware toewyding kom in tye van moeilikheid en teenstand na vore. Dit maak nie op gawes of vermoëns staat nie, maar op integriteit. Dis die resultaat van keuses, nie voorwaardes nie. Dit bly net in stand wanneer dit op waardes gebaseer is. ‘Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie…’ (vers 1 DB). Besin dus eers voor jy begin en dink mooi voor jy ‘n belofte maak.
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 20:1-16; Ps 139:7-12; Spr 13:24
2022-06-20
Numeri 1:1 NLV
‘n Goeie leier is soos ‘n goeie skeepskaptein; hulle beplan die hele reis in hul gedagtes nog voor hulle die hawe verlaat. Hulle het ‘n duidelike visie van hulle bestemming, hulle verstaan wat dit gaan verg om daar te kom, hulle weet wie aan boord moet wees sodat die reis suksesvol sal wees en hulle herken struikelblokke lank voor dit op die horison verskyn. Omdat hulle goed voorbereid is, kan goeie leiers hul mense omtrent enige plek neem.
Moses was so ‘n leier. Hy het veertig dae op ‘n berg gevas en gebid en geweier om te loop totdat hy verstaan het wat God wou hê hy moes doen. Toe het hy teruggegaan en dit aan die mense gekommunikeer, sodat hulle aan sy visie kon deelneem.
Dr John Maxwell skryf in Leadership Promises For Your Week, die volgende: ‘Moses het as ‘n goeie leier die stamme se kampe metodies in die woestyn gerangskik (sien Numeri 2:34 NLV). Hoe kan ons ook so goed georganiseer wees? Deur die volgende te doen:
1) Neem tyd om te beplan en te organiseer. Bepaal jou primêre doelwit.
2) Verstaan waar jy tans is, voordat jy probeer om ‘n strategie te ontwikkel.
3) Prioritiseer die behoeftes en doelwitte van die span, deur hulle die regte vrae te vra.
4) Skryf doelwitte wat realisties, meetbaar en oortuigend is, neer.
5) Klaar doelwitte op en kommunikeer met jou span.
6) Identifiseer moontlike struikelblokke.
7) Begroot vir jou koste en tyd deur alles wat jy kan te skeduleer en spertye daarvoor te stel.
8) Bestudeer die resultate. Evaluasie verhoed stagnasie en oordrywing.’
As jy wil hê dat God jou plan moet seën, moet jy ‘n plan hê wat Hy kan seën. Dit moet van God self af kom. Praat dus vandag met God oor sy plan vir jou lewe.
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 19:15-30; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23
2022-06-19
Josua 24:15 NLV
Die geliefde radiokommentator, Paul Harvey, het geskryf: ‘In ‘n tyd waar dit populêr is om jou seun se vriend te wees, gaan ek ‘n Vader bly. As daar ‘n afstand tussen my seuns, my dogters en myself ontstaan, sal ek hard werk om hulle te verstaan, maar ek gaan ook hard werk sodat hulle my verstaan. Wanneer hulle my vertel hoe dinge nou staan, sal ek luister, selfs al hou ek meer van hoe dinge was. As dinge soos gebed, Bybelstudie, lofprysing en geloof in God ooit deur my kinders as outyds of onnodig gesien word, sal ek op God se hulp vertrou om genoeg geloof te hê om vir hulle te bid.
Ek beloof saam met die patriarg Job om ekstra offers vir hulle te bring. Met liefde in ons huis, sal ek hulle vrae oor die feite van die lewe beantwoord, maar ek weier om vir naaktheid en onkuisheid te knipoog. As eksperimente met dwelms of dagga ooit ‘n probleem word, sal ek dit teenstaan in elke gebed en versoek. Ek wil hê dat my kinders moet weet dat ek foute maak; dat ek dwaas en trots en dikwels teenstrydig is. Ek sal dit egter nie as ‘n verskoning vir my skynheiligheid duld nie. Ek sal hulle vra om my te help om te verander en om van my te verwag om hulle te help verander.
Ander mense mag dalk na die jonger geslag kyk vir die wysheid om te besluit wat vir toekomstige generasies behoue sal bly en wat van die verlede weggegooi kan word. Ander mense mag dalk toelaat dat die kinders die kos, die musiek en die geldsake van die huisgesin bepaal, maar ek gaan ‘n Vader bly.’
Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16