Hoe om teleurstelling te hanteer (1)
2022-08-13Spreuke 24:16 NLV
Kom ons kyk vir die volgende paar dae na vyf verskillende tipes teleurstelling. Teleurstelling in jouself. Dit is die uitputtendste soort teleurstelling, want dit kan jou in ‘n afwaartse spiraal plaas waaruit dit moeilik is om te herstel. Petrus het dit ervaar. Hy het lojaliteit aan Christus gesweer en gesê: ‘…Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie’ (Matteus 26:33 NLV). Tog het Hy Christus drie maal verloën. Later het hy Christus se woorde onthou: ‘…Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is’ (Matteus 26:34 NLV). Petrus was gebroke oor sy mislukking, ‘En hy het buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (Lukas 22:62 NLV).
Is dit hoe jy vandag voel? Dink jy: ‘Here, hoe kan U ooit iemand soos ek gebruik?’ Jesus was nie geskok nie. Hy was ten volle van Petrus se foute bewus toe Hy hom geroep het. Hy het egter ook geweet dat sy uitgesproke dissipel ‘n sagte hart het, dus het Hy gekies om genade teenoor hom te bewys, eerder as om hom eenkant toe te stoot. Die res van Petrus se verhaal is een van oorwinning. Wanneer jy dus sondig, of misluk en jouself teleurstel, wat staan jou dan te doen?
1) Word nederig en berouvol. Bely jou sonde; moenie verskonings maak, dit rasionaliseer of omstandighede en mense blameer nie.
2) Ontvang God se genade en vergifnis deur geloof, nie deur gevoelens nie. Moenie dat Satan jou oortuig dat jy buite God se bereik en genade is nie. Jy is nie.
3) Moenie toelaat dat jou teleurstelling jou in hopeloosheid en wanhoop dompel nie.
4) Kry vroeër, eerder as later, enige hulp wat jy nodig het om weer op dreef te kom.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 5:1-10; Ps 119:41-48; Spr 17:17