Hoe om teleurstelling te hanteer (2)

2022-08-14
Job 30:26 NLV

Wanneer leiers jou teleurstel. Dit sou redelik wees om aan te neem dat jy Eli, die hoëpriester van Israel, kan vertrou. Dis wat Samuel se ma gedink het toe sy haar seun aan hom toevertrou het om hom vir God se diens te mentor. Eli het egter ‘n ernstige karakterfout gehad. Hy was ‘n swak ouer, een wat bygestaan het terwyl sy seuns hul priesterlike voorregte misbruik het deur omkoopgeld te aanvaar en met prostitute om te gaan.

Wie sou jong Samuel blameer het as hy teleurgesteld was toe die man na wie hy opgekyk het, so klaaglik misluk het? Hy het egter eerder sy oë op God gehou: ‘Samuel het grootgeword en die Here was met hom…’ (1 Samuel 3:19 NLV). Gevolglik het hy een van Israel se grootste profete geword. Hoe hanteer jy teleurstelling in jou leier? Deur jou oë op die Here te hou.

Wanneer jou familie jou teleurstel. Vra vir Josef. Toe God hom ‘n visie van toekomstige sukses gee, het hy gedink dat sy broers daaroor bly sou wees. Hulle het egter met wrokkigheid gereageer en hom in slawerny verkoop. Ver van vriende en van sy huis, het hy jare in die tronk vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie, deurgebring. Dis ‘n uitnodiging om bitter te word en jou weerwraak te beplan. As Josef dit gedoen het, sou hy as onbekende misdadiger in ‘n vreemde land se tronk gesterf het. Hy het egter vir God toegelaat om hom te verdedig.

God sal dieselfde vir jou doen. “‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets kan uitrig nie. Elke aanklag teen jou, sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van die Here. Aan hulle laat Ek reg geskied,’ verklaar die Here” (Jesaja 54:17 NLV).

Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13