2022-11-07
Hebreërs 13:20-21 NLV
Die letter P staan vir persoonlikheid. Voor ‘n maatskappy ‘n leier aanstel, doen hulle dikwels ‘n persoonlikheidsprofiel om sy of haar swak- en sterkpunte te identifiseer. Vraag: Is jy deernisvol teenoor ander mense, of kompeterend? Is jy ‘n harddrywende tipe A-persoonlikheid, of het jy ‘n meer koesterende temperament? Die slegste ding wat jy kan doen is om iemand anders se tipe persoonlikheid te beny en te sê: ‘Ek wens ek was eerder soos hulle.’ Dis soos om vir God te sê: ‘U het ‘n fout gemaak toe U my gemaak het.’ God sal jou help om jou optrede te verander en jou karakter te versterk, maar jy kan bid tot jy blou is in die gesig, Hy sal nie jou persoonlikheid verander nie. Hy sal jou wel help om dit te identifiseer en ten volle te benut.
Die ou gesegde: ‘Hulle is voëls van eenderse vere,’ is waar. Arende wil nie saam met eende uithang nie. Hulle wil nie op die plaaswerf rondloop of in die dammetjie swem nie. Hulle potensiaal maak hulle ongeduldig met diegene wat nie kan sweef nie. Arende is alleenlopers. Eende, aan die ander kant, is spanspelers. Hulle vlieg duisende myle van Kanada na Meksiko in ‘n perfekte V formasie sonder om rang te breek. Hulle respekteer mekaar en sorg vir mekaar.
God het vir jou die regte persoonlikheid gegee om sy plan vir jou lewe te vervul. In plaas daarvan om jouself dus af te kraak of te wens dat jy ‘n ander temperament gehad het, sê saam met die Psalmdigter: ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!’ (Psalm 139:13-14 NLV).
Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:33-44; Ps 86; Spr 25:8-12
2022-11-06
Psalm 40:9 NLV
Die letter A staan vir ‘abilities’ of vaardighede. Die Bybel sê: ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV).
Wat is jou dominante gawe? Jy sê: ‘Ek dink nie ek het enige gawes nie.’ Niemand is sonder ‘n gawe gebore nie! Jou gawe mag dalk onontdek, onontwikkeld, ongebruik, ondergebruik of selfs misbruik wees, maar jy het ‘n gawe. Daar is niks so kragtig as ‘n idee wat op die regte tyd by mens opkom nie. Wanneer jy die regte geleentheid saam met die regte gawe op die regte tyd sit, kan die resultate letterlik die verstand te bowe gaan.
Dit mag dalk voel of jy net probeer oorleef wanneer daar skielik ‘n krisis opduik, ‘n situasie ontstaan, of ‘n deur van geleentheid oopgaan en jy vermoëns ontdek wat vir jare dormant in jou gelê het. Vandag mag jy dalk voel of jy in ‘n situasie opgesluit is waaruit jy nie jou weg kan vind nie, maar God sal vir jou ‘n uitweg gee (sien 1 Korintiërs 10:13).
Daniël, Sadrag, Mesag en Abednego was Jode wat as slawe na Babel geneem is. Praat van ‘n situasie sonder enige uitkoms! Die Bybel sê egter: ‘God het vir hierdie vier jong manne kennis gegee, insig in dinge wat neergeskryf is en ook wysheid… [Die koning] het gevind dat hulle in sake wat wysheid en insig vereis, tien keer beter was as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk’ (Daniël 1:17,20 NLV).
Beteken dit dat jy net moet rondsit en wag vir sukses om in jou skoot te val? Nee, geleenthede wag vir diegene wat die deur oopmaak en daarvoor gaan soek.
Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11
2022-11-05
Efesiërs 6:6 NLV
Die letter H verteenwoordig jou hart. Waarvoor het jy “‘n hart” of waaroor voel jy passievol? As ‘n Jood, was Paulus passievol daaroor om die Jode te bereik: ‘…die intense verlange van my hart en my gebed tot God is dat my volk gered sal word. Ek kan getuig hoeveel hulle hulle vir God beywer, maar hierdie ywer is misplaas. Want hulle ignoreer die vryspraak van God en hulle streef daarna om self hulle saak met God reg te maak. Hulle is nie bereid om God se vryspraak te aanvaar nie. Christus is immers die eindbestemming van die wet sodat elkeen wat in Hom glo, vrygespreek kan word’ (Romeine 10:1-4 NLV).
Jy sê: ‘Beteken dit dat ek in die bediening moet wees om God se wil te ken en te doen?’ Nee. Nelson Mandela was so passievol daaroor om sy mense van die euwels van apartheid te bevry, dat hy gewillig was om sewe-en-twintig jaar in die tronk te bestee om dit te bewerkstellig. Wanneer jou hart begin vra: ‘Wat kan ek doen om die situasie te verander?’ mag jy dalk besig wees om God se wil vir jou lewe te ontdek.
Die mense wat hierdie wêreld ‘n beter plek gemaak het, het almal daardie vraag gevra. Thomas Edison het dit beantwoord deur die wêreld gloeilampe te gee. Henry Ford het dit beantwoord deur die wêreld motors te gee. Moeder Teresa het dit beantwoord deur vir die mense wat in Indië vergete en sterwend was, liefde en waardigheid te gee. Nehemia het eers oor die puinhope van Jerusalem gehuil en toe het hy die mure daarvan herbou.
Wat roer jou hart? Wanneer jy dit beantwoord, mag jy dalk God se wil vir jou lewe ontdek.
Sielskos: Esra 3-5; Joh 7:25-32; Ps 96; Spr 25:1-7
2022-11-04
Psalm 143:10 NLV
Kom ons gebruik die volgende paar dae die woord S.H.A.P.E. as ‘n lettervers om God se wil vir jou te verstaan. Die letter S verteenwoordig jou ‘spirit’ of gees. Jou wedergebore gees is die deel van jou wat in staat is om met God te skakel en op Hom te reageer. Die Bybel sê: ‘Mense wat nog in materiële terme dink, kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ‘n geestelike perspektief verstaan word. Ons in wie die Gees is, verstaan al hierdie dinge, maar ander kan ons glad nie verstaan nie’ (1 Korintiërs 2:14-15 NLV).
Jy kan iets in jou gees weet sonder dat jy dit in jou brein verstaan. Klink dit vreemd? Dit is nie: ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). Soms staan ‘n Skrifgedeelte wat jy lees vir jou uit, en jy ‘weet’ dat dit God is wat met jou praat en jou leiding gee. Op daardie oomblik mag dit dalk nie vir jou sin maak nie, maar dit resoneer in jou gees. Sal jy dit soms verkeerd kry en ‘n fout maak? Ja. Die mees volwasse Christene onder ons maak foute. God moes vier verskillende kere met Samuel die profeet as kind praat, voordat hy uiteindelik God se stem herken het.
Net soos jy jou liggaam oefen om dit sterker te maak, so moet jy jou gees oefen om dit skerper en meer sensitief vir God te maak. ‘Vaste kos is bedoel vir grootmense – vir hulle wat in die skool van die lewe ingeoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei’ (Hebreërs 5:14 NLV).
Sielskos: Esra 1-2; Joh 7:14-24; Ps 9; Spr 24:30-34
2022-11-03
Johannes 14:30 NLV
Die Bybel sê: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp… En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het…’ (Openbaring 12:10-11 NLV). Satan is ‘die aanklaer.’ Waarvan kla hy ons aan? Sonde! Dis nie dat God nie sonde sal vergewe nie, maar wanneer ons weier om dit te erken en berou te hê, gee ons Satan ‘n geleentheid om ons te veroordeel.
Nou verstaan jy hoekom jy so sleg voel wanneer jy onbelyde sonde koester. Deur dit te doen, gee jy Satan mag oor jou. Let op wat Jesus gesê het: ‘…die regeerder van hierdie wêreld [Satan] is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie.’ Satan kon nie ‘n enkele sonde in die lewe van Christus uitwys nie, dus het hy geen mag oor Hom gehad nie.
Hier is die goeie nuus: Wanneer jy ‘in Christus’ is, verloor Satan ook sy mag om jou te veroordeel. ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV).
Sal jy steeds van tyd tot tyd sondig? Ja, en wanneer jy dit bely, sal God jou reinig, met jou werk en jou oorwinning gee. Solank as wat jy veilig ‘in Christus,’ die Een in wie daar geen sonde is nie geposisioneer is, val Satan se veroordeling op dowe ore en leef jy met die vreugde om te weet dat jy ten volle deur God aanvaar word. Wanneer Satan dus sê: ‘Jy het gesondig, dus is jy nie ‘n Christen nie,’ moenie hom glo nie. Solank as wat jy ‘in Christus’ is, is jy eenvoudig ‘n Christen onder konstruksie. Die wete hiervan neem ‘n kragtige wapen uit Satan se hande uit.
Sielskos: Sef 1-3; Joh 7:1-13; Ps 104:24-35; Spr 24:28-29
2022-11-02
Matteus 27:22 NLV
Wanneer dit by Jesus kom, het ons drie keuses. Kom ons kyk daarna: 1) Verwerp Hom. Dis wat die Fariseërs gedoen het. “‘Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,’ het Pilatus gevra, ‘wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?’ Hulle roep almal: ‘Hy moet gekruisig word!'” (vers 22 NLV). Hoekom? Omdat sy genade en krag hulle gebrek daaraan geopenbaar het. Sy waarheid het hulle foute blootgestel. Wanneer jy nie van die boodskap hou nie, verwerp jy die boodskapper.
2) Vermy Hom. Dis wat Pilatus se vrou gedoen het. “Terwyl Pilatus daar op die regbank sit, laat sy vrou hom weet: ‘Los daardie onskuldige man uit. Ek het laas nag ‘n aaklige nagmerrie oor hom gehad'” (Matteus 27:19 NLV). Hoekom vermy mense Jesus? Omdat Hy ‘n reaksie in hulle harte veroorsaak. Hy roep jou om die keuse te maak om vir jouself of vir Hom te lewe. Die leierpriesters het gesê: ‘…Hy hits deur sy onderrig die volk aan…’ (Lukas 23:5 NLV). Hulle was reg! Voor Jesus jou verlos, sal Hy jou versteur. Sommige van ons wil nie gesteur word nie.
3) Aanvaar Hom. Dis wat Paulus gedoen het: ‘Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf’ (Galasiërs 2:20 NLV). Pilates het probeer om te vermy om ‘n besluit oor Jesus te maak. Dit kan egter nie gedoen word nie. Jesus het gesê: ‘Wie nie aan my kant is nie, is teen My…’ (Matteus 12:30 NLV). As jy dus nog nie Christus as jou Verlosser aanvaar het nie, moet jy hierdie vraag antwoord: ‘…wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?..’
Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 6:60-71; Ps 104:1-23; Spr 24:26-27