Al die aanklagtes is uitgevee

2022-09-16
Kolossense 2:14 NLV

Wanneer iemand vir ‘n misdaad gearresteer word en in die hof verskyn, sal die staatsaanklaer sê: ‘Die aanklagtes teen jou is die volgende…’ Op daardie punt hoop hulle dat hul prokureur die klagtes teen hulle teruggetrek kan kry. Wel, God het ‘n dokument van elke sonde wat jy al ooit gepleeg het. Dit behels details van al die slegte keuses wat jy al ooit gemaak het, van al die haatlike dade, die onvergewensgesinde houdings, die vooroordeel, die hebsug, die wellus, die leuens; Hy het dit alles opgeteken.

Nie jy of enigiemand anders het al ooit hierdie dokument gesien nie, want, ‘…God het… al julle sondes vergewe… Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker’ (verse 13-14 NLV). Met die volle wete dat die prys vir ons sonde die dood was, het Christus ‘…vir eens en vir altyd vir ons sondes gesterf… Hy het vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom…’ (1 Petrus 3:18 NLV).

Die kruis is soos ‘n handelspos. Daar, op die punt van geloof, neem God al jou sondes en plaas dit op Christus se rekening, terwyl Hy terselfdertyd al Christus se geregtigheid neem en dit op jou rekening plaas. Is daar ‘n beperking aan God se liefde? As daar is, het Dawid die egbreker dit nooit ontdek nie. Ook nie Paulus, die vervolger van Christene nie. Selfs nie eers Petrus, die leuenaar nie. Ook nie die dief aan die kruis nie. Jy sal dit ook nie vind nie. Toe Jesus aan die kruis: ‘Dit is nou afgehandel’ (sien Johannes 19:30), uitgeroep het, het God ‘Ten volle vereffen’ oor elke sonde wat jy ooit sou pleeg, geskryf. Hoe wonderlik is dit nie?

Sielskos: Eseg 34-36; Mark 13:12-23; Ps 78:56-64; Spr 20:25

Hoe om gelukkig te wees

2022-09-15
Johannes 13:17 NLV

Jesus het sy lering oor geluk as volg opgesom: ‘As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle gelukkig wees as julle dit ook doen.’ Die Bybel gee vir ons drie sleutels wat noodsaaklik tot geluk is: 1) Wees tevrede (sien 1 Timoteus 6:8). ‘n Man wat alles probeer het om van paardebloem ontslae te raak, het ‘n kwekery gebel en gevra: ‘Wat kan ek volgende probeer?’ Die winkeleienaar het gesê: ‘Probeer daaraan gewoond raak!’ Dit waarop jy in die lewe fokus, kry jy. Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (Filippense 4:8 NLV).

2) Wees dankbaar (sien 1 Tessalonisense 5:18). Kyk rondom jou en wees dankbaar vir dit wat God vir jou gegee het. As jy dit nie kan doen nie, dank Hom vir dit waarteen Hy jou beskerm het. Die duiwel hoef nie enigiets by jou te steel nie, hy moet jou dit net as vanselfsprekend laat aanvaar. ‘Uit sy volheid het ons almal ‘n oorvloed onverdiende goedheid ontvang’ (Johannes 1:16 NLV).

3) Leer om jou geliefdes te waardeer. ‘Moenie op julle eie belange ingestel wees nie, maar wees ingestel op wat vir ander die beste is’ (1 Korintiërs 10:24 NLV). George Eliot het geskryf: ‘O, die onuitspreeklike gemak om veilig by ‘n persoon te voel; om nie gedagtes hoef te weeg of woorde te moet meet nie, maar om alles uit te gooi, net soos hulle is, kaf en graan saam, wetend dat ‘n getroue hand dit sal neem en sif, dit wat die moeite werd is om te bewaar, sal bewaar, en dan, met ‘n asem van vriendelikheid, die res weg sal blaas.’

Onthou, geluk is nie ‘n reg nie; dit is ‘n beloning vir wanneer jy elke dag die regte ding doen.

Sielskos: Eseg 31-33; Mark 13:1-11; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24

Wanneer jy teleurgesteld is

2022-09-14
Psalm 42:7 DB

Max Lucado sê: ‘Wanneer God nie doen wat ons wil hê Hy moet doen nie, is dit nie maklik nie. Geloof is die oortuiging dat God meer as ons weet en dat Hy ons deur die moeilike situasie sal bring. Moenie paniekerig raak nie, moenie tou opgooi nie, wees geduldig – God is in beheer.’

Wanneer jy dus teleurgesteld is: 1) Kyk binnetoe. Dawid het gevra: ‘Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld?..’ (vers 6 NLV). Erken hoe jy voel. Vra God om vir jou die wortel van die probleem te wys. Is dit opgekropte woede? Jaloesie? Onvergifnis? Trots? Fisiese en geestelike moegheid? Wees ontvanklik vir dit wat Hy aan jou openbaar.

2) Kyk boontoe. Dawid het gesê: ‘…Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys…’ (vers 6 NLV). In plaas daarvan om op jou teleurstelling te fokus, fokus op die Een wat die uitweg ken.

3) Onthou God se getrouheid in die verlede. Dawid het gesê: ‘My God, ek is heeltemal moedeloos… Hier ver weg van almal dink ek aan U…’ Deur elke toets het Josef aan die versekering dat God steeds in beheer van sy lot was, vasgeklou. Deur God se getrouheid weer op te roep, verhoog jou vertroue dat Hy sal aanhou om te voorsien.

4) Onthou, jy hoef nie te verstaan nie. Net omdat jy nie kan uitpluis wat God tans doen nie, beteken nie dat dit nie later sal sin maak nie. ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV).

5) Moenie aan bitterheid toegee nie. Wanneer jou hoop beskaam word, kan wrokkigheid intree. ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). Maak nie saak hoe diep die put dalk mag lyk nie – God is aan jou kant!

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 12:28-44; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21

God is steeds op die troon (2)

2022-09-13
Jesaja 55:8 NLV

God het gesê: ‘My gedagtes is anders as julle s’n… Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is… my gedagtes hoër as julle gedagtes’ (verse 8-9 NLV). Totdat jy nie vrede maak met die feit dat God nie soos jy dink nie, sal jy sy weë bevraagteken en selfs aan sy liefde twyfel. Ons probeer pyn vermy, maar God gebruik dit dikwels om vir ons vrede te bring. Ons wil vertroosting hê, maar Hy stel meer in karakter belang. Ons jaag dinge wat nie hou nie na, terwyl Hy vir ons sê om ons lewens op dit wat vir ewig duur, te bou. Die feit is dat God in ‘n dimensie bly wat ons nie eers kan begin om te begryp nie.

Salomo het gesê: ‘Maar wie kan ‘n waardige woning vir Hom bou? Nie eens die hoogste hemele kan Hom bevat nie!..’ (2 Kronieke 2:6 NLV). Wat jou beheer, beheer nie vir God nie en wat jou bekommer, bekommer Hom nie. Vra jouself af: Pla die verkeer ‘n arend? Nee, hy sweef bo dit uit. Word ‘n walvis deur ‘n orkaan versteur? Natuurlik nie; hy duik daaronder. Word ‘n leeu verbouereerd wanneer ‘n muis in sy pad staan? Nee, hy loop net bo-oor hom. Hoeveel te meer is God nie in staat om bo die probleme van die aarde te sweef, onder dit te duik, of bo-oor dit te loop nie?

Wat onmoontlik vir die mens is, is moontlik vir God (sien Matteus 19:26). God kan tegelyk orals wees en Hy kan al die gebede wat na Hom toe kom, hoor en beantwoord. God werk met ‘n plan en ‘n doel, Hy is op die troon en in beheer van alles – tog waak Hy oor elke detail van jou lewe. Laat hierdie waarheid jou vandag vertroos.

Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Mark 12:13-27; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19

Moenie mense se vermoë om te hoor, ‘afsny’ nie

2022-09-11
Spreuke 13:3 NLV

Bitsige woorde kan ‘n persoon se vermoë om te hoor wat jy te sê het, ‘afsny.’ Toe Jesus deur Judas verraai is, het Hy nie weerwraak geneem nie, selfs al kon Hy twaalf legioene engele tot sy verdediging geroep het (sien Matteus 26:53). Toe die skare kom, het hulle Hom gegryp en gearresteer. Op daardie punt het Petrus sy swaard uitgepluk en die slaaf van die hoëpriester se oor afgesny. Petrus het seker gedink: ‘Ons moet terugbaklei!’ Jesus het egter gesê dat dit nie die manier is hoe mens dinge moet hanteer nie. ‘…Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak’ (Lukas 22:51 NLV).

Petrus het die neiging gehad om te praat wanneer hy eintlik moes luister en betrokke te raak by situasies wat nie sy besigheid was nie. Hy moes leer om op God te wag en nederigheid en onderskeidingsvermoë uit te oefen. God het groot planne vir hom gehad, maar hy kon dit nie vervul as hy rondgeloop het en mense se ore afgekap het nie.

Daar is ‘n les hier te leer. Jy kan nie jou humeur verloor soos jy lus het nie. Jy moet sensitief vir God se Gees word: As Hy vir jou sê: ‘Moet niks sê nie,’ moet jy stilbly, selfs al beteken dit dat jy iemand laat dink hulle is reg wanneer jy weet dat hulle verkeerd is. Jy moet leer dat God jou nie ‘n verduideliking skuld nie. Jy kan jou geestelike groei of God se seën in jou lewe verhinder wanneer jy nie dit wat jy sê, beheer nie. Miskien dink jy dat, in vergelyking met owerspel of steel, dit nie so erg is nie. Dink weer: ‘Iemand wat op sy woorde let, bevorder die lewe. ‘n Bitsige antwoord kan alles ruïneer’ (Spreuke 13:3 NLV).

Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23

Drie dinge wat ‘n leier nie moet doen nie

2022-09-10
Romeine 12:8 NLV

Hier is drie dinge wat jy as leier nie moet doen nie: 1) Jy moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie (sien Jesaja 43:19). Wanneer jy iemand in ‘n nuwe rol plaas, is dit onvermydelik dat hulle gaan foute maak, maar dis hoe hulle leer. Om ‘n leier te wees beteken dat jy die risiko neem dat hulle gaan misluk en dat jy op jou lip byt wanneer hulle wankelend die onbekende aandurf. Soos ‘n ouer wat harder bid wanneer hul tiener die gesinsmotor die eerste keer bestuur, moet jy aanvaar dat die uitdagings wat jou bang maak, vir ander mense bevrydend is.

2) Jy moenie individuele lojaliteit met spanbou verwar nie (sien 1 Korintiërs 3:9). Dis goed om nou saam met sleutelpersone te werk, maar dis ook belangrik om aan mekaar verbind te bly (sien Romeine 12:5). Jy moet seker maak dat almal ‘n plek in die span kry, gewaardeer voel en leer hoe om met mekaar om te gaan.

3) Jy moenie mense probeer ‘micromanage’ nie (sien 2 Korintiërs 7:16). Daar is ‘n verskil om mense te bestuur en om hulle te lei. Om mense te bestuur verg ‘n oog vir detail, maar om hulle te lei beteken dat jy jou visie met hulle deel, saam met hulle doelwitte stel en hulle motiveer. Wanneer jy bestuur eerder as om te lei, daal die moraal, want mense benodig duidelike doelwitte en die vryheid om uit te vind hoe om dit te bereik. Moenie ‘micromanage’ nie; dit verminder die gevoel van eienaarskap wat diegene onder en rondom jou vir goeie spandinamika en probleemoplossing nodig het. President Eisenhower het eenkeer gesê: ‘Trek die tou en dit sal jou volg waar jy ook al wil hê dit moet gaan. Druk dit en dit sal nêrens heen gaan nie.’

Sielskos: Eseg 20-21; Mark 11:27-33; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10