Is jy bekommerd oor jou gesondheid?

2022-11-13
Jeremia 30:17 NLV

Hoekom het Johannes geskryf: ‘… ek hou aan bid… dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes vers 2)? Omdat jou liggaam in verhouding tot hoe goed jy geestelik vaar, floreer. Te veel stres verlaag jou immuunstelsel, verhoog jou bloeddruk en veroorsaak cholesterol wat jou are blokkeer. Dit veroorsaak die presiese toestand waarvoor jy bang is. Job het gesê: ‘Dit waarvoor ek gevrees het, het oor my gekom…’ (Job 3:25 NLV). ‘n Sekere hoeveelheid stres is nodig om adrenalien aan die gang te kry, maar te veel daarvan sal jou laat ineenstort.

As Satan jou nie sover kan kry om jou aan slegte dinge oor te gee nie, sal hy jou aan goeie dinge laat oorgee. Jou onkunde oor sy planne wat stres veroorsaak, stel hom in staat om ‘n vastrapplek in jou denke te kry. As jy vandag angstig oor jou gesondheid is, staan op God se Woord:

1) ‘…Spits jou ore vir my woorde! Moet dit nooit uit die oog verloor nie. Hou dit altyd in gedagte. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam…’ (Spreuke 4:20-22 NLV).
2) “‘Ek sal jou gesond maak en jou wonde genees,’ sê die Here…” (Jeremia 30:17 NLV).
3) ‘Julle mag niemand anders as die Here julle God aanbid nie. Ek sal julle met kos en water en gesondheid seën… Ek sal julle lank en gelukkig laat lewe’ (Eksodus 23:25-26 NLV).
4)’Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV).

God se Woord is jou voorskrif vir gesondheid en genesing, neem dit dus daagliks in.

Sielskos: Deut 9:13-29; Luk 4:1-13; Dan 1:3-21

Leer om af te skakel en te ontspan

2022-11-12
Markus 6:31 NLV

Is dit nie interessant dat vir die mees hoë-tegnologie generasie in die geskiedenis ook die meeste medisyne voorgeskryf word nie? Die Bybel het dit voorspel. God het vir Daniël gesê dat in die laaste dae ‘Baie hiernatoe en daarnatoe [sal] gaan om meer te wete te kom’ (Daniël 12:4 NLV). Dis ons! Een navorser sê dat ons ons brein opgelei het om: ‘gedurig deur die heelal van boodskappe en inligting te sweef op soek na kort trefslae van opgewondenheid. Ons grawe nooit te diep voordat ons aanbeweeg na die volgende afleiding nie en dit verhoog ons stresvlakke op maniere wat ons nou eers effens begin verstaan.’

Wanneer was die laaste keer wat jy ononderbroke tyd bestee het om te ontspan, sonder om skuldig of onproduktief te voel? Jy moet die volgende doen om nie uit te brand nie:

1) Herken die tekens. As jy heeldag lank vir mense boodskappe stuur en steeds eensaam voel, mag tegnologie jou lewe domineer.
2) Doen iets daaraan. Maak jouself vir kort tydperke onbeskikbaar en kyk wat gebeur. Die wêreld sal nie tot ‘n einde kom nie, belowe!
3) Besef dat jy ‘n keuse het. Mense wat dink dat hulle vier-en-twintig uur ‘n dag beskikbaar moet wees, oordryf hulle eie belangrikheid.
4) Stel grense vas. Hou die e-posse en teksboodskappe in toom. Het jy regtig al daardie inligting oor dieselfde ding nodig?
5) Sê vir mense, tensy dit werklik dringend is, beantwoord jy e-posse slegs op aangewese tye deur die dag.
6) Stel ‘n skedule op en bly daarby. Na ‘n paar minute se rondsnuffel op die web, vra jouself af: ‘Is dit wat ek nou veronderstel is om te doen?’

Jesus het gesê: ‘…Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Hoekom? Want as jy dit nie doen nie, val jy uitmekaar uit!

Sielskos: 1 Kron 3-5; Joh 8:31-41; Ps 99; Spr 25:26-28

Jy sal daardeur kom

2022-11-11
Psalm 16:8 NLV

Wanneer dit voel of gebed nie die antwoord bring nie, begin jy vra: ‘Hoe kom ek deur dit?’ Die Bybel spreek hierdie vraag aan deur vir ons te sê dat Jesus, ‘…ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur [het]…’ (Hebreërs 12:2 NLV). Dan word die volgende bygevoeg: ‘Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie’ (vers 3 NLV).

Die rede hoekom Jesus kon verduur, is omdat Hy gefokus was op dit wat later sou gebeur; die blydskap dat Hy die Vader behaag het, die bou van die kerk en die evangelie wat die wêreld uitgestuur is. Hier is hoe Dawid deur moeilike tye gekom het. ‘Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof, en rus in veiligheid’ (Psalm 16:8-9 NLV).

In plaas daarvan om die werklikheid te ontken of jou pad daardeur te probeer oopstoei, besef dat die Here by jou is en put die krag wat jy nodig het uit Hom uit. Dit is moeilik om swaarkry te verduur, maar as jy nie verstaan hoekom nie, kan dit frustrerend wees. Dus, wanneer jy nie ‘n antwoord in sy Woord of deur gebed en die raad van ander kan vind nie, bly jy wonder. Jy sal ook nie die eerste een wees wat wonder nie. Dawid vra herhaaldelik ‘Hoekom?’ in die Psalms en steeds het God hom ‘…’n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê’ (Handelinge 13:22 NLV), genoem. Skep dus moed; jy sal deur dit kom!

Sielskos: 1 Kron 1-2; Joh 8:21-30; Ps 115; Spr 25:23-25

Kom ons sorg vir mekaar

2022-11-10
Handelinge 4:34 NLV

Wanneer ons aan die kerk in die Nuwe Testament dink, is ons geneig om op hulle groei en krag te fokus. Petrus preek in Handelinge 2 en drieduisend mense word vir Christus gewen. In Handelinge 3 word ‘n verlamde man wat by die tempelpoort gebedel het, deur Petrus en Johannes se bediening genees. In Handelinge 4 lees ons die volgende: ‘Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000…’ (vers 4 NLV). Preke! Wonderwerke! Groei! Opwindende dinge.

Hier is egter ‘n deel van hulle verhaal wat jy nie moet miskyk nie: ‘Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het. Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee. Nie een van hulle het ‘n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam Levi, en is op Siprus gebore. Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het’ (verse 32-37 NLV).

Ja, ons hoofprioriteit moet wees om mense vir Christus te wen en hulle te help om geestelik volwasse te word. As ons egter in die spore van die kerk in die Nuwe Testament wil volg, moet ons onthou dat ons ook geroep is om vir mekaar te sorg.

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 8:12-20; Ps 15; Spr 25:21-22

Leer om te luister

2022-11-09
Jakobus 1:19 NLV

Om goeie verhoudings te bou, moet jy ‘n goeie luisteraar word. Om ‘n goeie luisteraar te wees, moet jy die volgende doen:

1) Luister sonder om in die rede te val. Selfs wanneer jy meer as die ander persoon weet, moet dit nie doen nie! Respekteer hulle genoeg om dit wat hulle sê te waardeer en luister aandagtig totdat hulle klaar is.

2) Probeer om hulle oogpunt, gevoelens, denkwyses en behoeftes in te sien. Met ander woorde, luister om te verstaan. Om goed te luister beteken om te hoor wat mense werklik dink, bedoel of voel, nie wat jy dink hulle behoort te dink, doen of voel nie. In plaas daarvan om te raai, vra beleefd: ‘Verstaan ek reg? Bedoel jy…? Voel jy….?’ Moenie aanneem nie – bevestig.

3) Moenie gevolgtrekkings maak nie. Luister sonder om te oordeel. As dit wat hulle sê nie heeltemal sin maak nie, hou aan luister. ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom’ (Spreuke 18:13 NLV). Wanneer jy meer hoor, mag dit dalk sin maak.

4) Moenie hulle op die agtervoet plaas nie. Luister sonder om te korrigeer of te verskil. Deur te sê: ‘Dis nie hoe dit gebeur het nie,’ of ‘Wat het jy verwag?’ of ‘Jy is laf en oorsensitief,’ maak ware kommunikasie dood.

5) Aanvaar hul persepsies en gevoelens as geldige uitdrukkings. Vra hulle om jou te help om op dieselfde bladsy as hulle te kom. Deur te sê: ‘Gegewe dit wat jy vir my gesê het, kan ek sien hoekom jy so sou voel,’ sal hulle gewilligheid om jou gedagtes te oorweeg en die oplossings wat jy bied te aanvaar, verhoog. As jy mense wil wen en hulle wil beïnvloed, leer om te luister.

Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 8:1-11; Ps 123; Spr 25:18-20

S.H.A.P.E. (5)

2022-11-08
Romeine 12:2 NLV

Die letter E staan vir ervaring. Hoe kan jy God se wil vir jou lewe ken? Paulus antwoord: ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen…’ (vers 2 NLV). Die woord ‘omvorm’ beteken ‘om van vorm te verander.’

Hoe word ‘n diamant gevorm? Dit is die gevolg van onophoudelike druk oor ‘n lang tydperk. Jou lewenservarings sal jou lewensdoel vir jou wys. God mors nooit ‘n pyn nie! Die Psalmdigter het gesê: ‘Voor ek gely het, het ek afgedwaal, maar nou leef ek volgens u woord… Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:67, 71 NLV). Hoe leer ons om te doen wat reg is? Deur die pyn te ervaar wanneer ons doen wat verkeerd is. Jy sê: ‘Maar ander mense het my mishandel. Is dit ook deel van God se wil vir my lewe?’ Dit mag dalk wees. Paulus skryf: ‘…Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed? Dit help die verkondiging van die evangelie aan’ (Filippense 1:12 DB). Dan voeg hy by: ‘…Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen… Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen, maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie. Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe… Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie’ (Filippense 1:20-21 DB).

Die agterkant van ‘n tapisserie lyk soos ‘n verstrengelde warboel drade. Dit is egter wat dit verg om ‘n prentjie van skoonheid, orde en waarde te produseer. Kry jy die idee? Ondersoek weer jou lewenservarings.

Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:45-53; Ps 30; Spr 25:13-17