2022-09-22
Efesiërs 2:19 NLV
‘Hy het ‘n einde gemaak aan die wet met sy voorskrifte. Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te maak. Ja, deur sy dood aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig. Só het Hy albei groepe in een liggaam met God versoen. Hy het vrede kom verkondig vir hulle wat ver is, én vir hulle wat naby is. Dit is aan Hom te danke dat albei van ons deur een Gees toegang tot die Vader het. Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huis wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ‘n tempel wat aan die Here toegewys is’ (verse 15-21 NLV).
As jou kinders buite jou huis gestaan het en gepleit het om in te kom, wat sou jy dink? Sou jy nie: ‘Kom binne, jy is my vlees en bloed. Ek is lief vir jou, jy hoef nie te pleit nie,’ sê nie? God is besig om ‘n huis te bou en jy is deel daarvan. Jy kan Hom enige tyd met enige behoefte nader, met die wete dat jy met liefde ontvang sal word. God is die vader op wie jy nog altyd gehoop het en jy is die kind wat Hy nog altyd wou gehad het. As jy enigsins daaraan twyfel, kyk na die kruis; dis hoe groot God se liefde vir jou is. Jy behoort vandag aan God!
Sielskos: 2 Kor 1-4; Mark 14:43-52; Ps 39; Spr 21:9-13
2022-09-21
Ester 4:14 NLV
Die verhaal van Ester leer ons twee belangrike waarhede: 1) Jy het mentors nodig om jou te lei. Omdat sy bereid was om na Mordegai te luister, het Ester ontdek dat haar roeping nie net was om koningin te wees nie, maar om haar volk te red. Wie ken jou goed genoeg om jou roeping in die lewe te verduidelik en te bevestig? Wie is lief genoeg vir jou om jou uit te daag wanneer jy die pad byster raak en om jou te versterk en te bemoedig wanneer jy wil tou opgooi en weghardloop? Ons almal het blinde kolle, ons benodig mense met 20/20 visie om inspraak in ons lewens te hê. Josua het na Moses geluister. Timoteus het na Paulus geluister. Rut het na Naomi geluister. Na wie luister jy?
2) Jy moet weet dat jy op die plek is waar God wil hê jy moet wees. Mordegai het Ester uitgedaag en haar lewe verander deur te sê: ‘…Wie weet, of dit nie miskien juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!’ Ester moes tussen haar gemak en roeping kies. Dis ‘n keuse wat jy ook moet maak. Jy vra: ‘Wat is my roeping?’ Dit kan jou werk, jou huwelik, jou take as ouer, of jou vriendskappe behels. Dit kan die buurt waar jy woon of om by jou kerk vrywilligerswerk te doen, behels.
Een ding is egter seker: Wanneer God roep, is dit jou ‘tyd.’ Jy mag dalk in die versoeking kom om te dink dat jy op die oomblik net water trap, terwyl jy vir ‘n ander tyd of ‘n belangriker geleentheid wag. Nee, jy kan nie jou tyd kies nie; God doen dit! Die Psalmdigter het gesê: ‘My toekoms is in u hande…’ (Psalm 31:15 NLV).
Sielskos: Eseg 46-48; Mark 14:27-42; Ps 3; Spr 21:4-8
2022-09-20
Johannes 21:7 NLV
‘Toe die nuwe dag breek, het Jesus daar op die strand gestaan, maar sy dissipels was nie daarvan bewus dat dit Hý is nie. Hy vra toe vir hulle: ‘Kinders, het julle nie iets om te eet nie?’ Hulle antwoord vir Jesus was net: ‘Nee.’ Hy sê toe vir hulle: ‘Gooi die net aan die regterkant van die boot uit en julle sal vis kry.’ Hulle het die net uitgegooi, maar kon dit nie weer intrek nie as gevolg van die groot hoeveelheid vis. Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: ‘Dit is die Here!’ Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is… [het] hy in die water gespring…’ (verse 4-7 NLV).
Petrus moes besluit of hy sy vis gaan los en na Jesus toe gaan, of agterbly en dit waarvoor hy hard gewerk het, gaan geniet. Dis ‘n toets waarvoor ons almal te staan kom wanneer ons ons lewensdoelwitte bereik het, wanneer ons visnette vol is en ons dit uiteindelik ‘gemaak het.’
Paulus verwys kortliks na die suksesse in sy loopbaan: ‘…ek is ‘n Benjaminiet… Ek was ook ‘n… Fariseër… wat die Joodse wet stiptelik nakom…’ (Filippense 3:4-5 DB). Luister egter wat hy later te sê het: ‘…Dit het glad geen waarde meer vir my nie… Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword…’ (verse 7-8 DB). Paulus het besef dat sy ware identiteit nie in sy prestasie lê nie, maar in sy verhouding met Jesus.
Voel jy ook so? Petrus het dalk daardie aand gevoel asof hy alles verbeur, maar toe hy die strand bereik het, het hy Jesus gevind – besig om vis gaar te maak! Wat jy ook al nodig het, God het dit. Wat jy ook al prysgee, sal Hy met baie rente terugbetaal.
Sielskos: Eseg 43-45; Mark 14:12-26; Ps 19; Spr 21:3
2022-09-19
Jakobus 1:22 NLV
Om die bron van jou moedeloosheid te identifiseer, is dit raadsaam om met iemand wat jou insig en leiding kan bied, te gesels. Wees egter versigtig – julle kan tot die dood toe oor julle probleme praat en nêrens kom nie! Dis hoekom die Bybel sê: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself.’
Dus: 1) Doen altyd wat reg is. Min dinge vererger moedeloosheid soos berou en ‘n skuldige gewete. Dis moeilik om verskoning te vra, jou foute te erken, te vergewe, jou humeur te beteuel, verdiende blaam op jou skouers te tel en oor te begin. Dit werp egter altyd vrugte af wanneer jy besluit om hierdie dinge op gepaste tye te doen.
2) Onthou, tydsberekening is belangrik. Dikwels soek ons na verligting in die vallei in plaas daarvan om vir die helderheid te wag wat ons op ‘n bergpiek sal vind, omdat dit baie inspanning verg om die piek te bereik! Wanneer ons egter die donkerte van die vallei ervaar, is dit aanloklik om veranderinge wat ons hoop ons ongemak sal help verlig, op die plek aan te bring. Soos dr Robert Schuller egter sê: ‘Wanneer jy op die piek van die spreekwoordelike berg staan, is dit tyd om besluite te maak. Dis wanneer jy jou situasie op sy duidelikste sien. Jy beweeg na iets toe, nie net van iets af weg nie. Jy besluit om positiewe data, nie negatiewe data nie, te gebruik. Jy is meer geneig om van piek tot piek in plaas van vallei tot vallei, te beweeg.’ Aan die ander kant, as jy aanhou volhard terwyl jy in die vallei is, sal jy nie net na hoër grond beweeg waar jy wyser besluite kan neem nie, jy sal ook jou karakter ontwikkel wat jou deur jou lewe sal help.
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Mark 14:1-11; Ps 24; Spr 21:1-2
2022-09-18
Markus 11:24 NLV
Om moedeloosheid te oorkom, moet jy twee dinge doen. 1) Spreek die regte woorde. Een van die grootste redes vir moedeloosheid, is die negatiewe manier waarop jy met jouself praat. In sy boek, Spiritual Depression, skryf dr Martyn Lloyd-Jones, een van Brittanje se voorste hartchirurge, die volgende: ‘Die meeste van jou ongelukkigheid in die lewe is die feit dat jy vir jouself luister, eerder as om met jouself te praat.’ Met dit bedoel hy dat ons toelaat dat negatiewe boodskappe in ons verlede ons denke affekteer, in plaas daarvan om aktief vir onsself goeie dinge te sê wat ons sal help om meer positief te dink (sien Filippense 4:8). Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg [probleem] sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:23 NLV). Woorde is kragtig. Hulle kan óf jou vrese, óf jou geloof versterk. Die keuse is joune.
2) Handhaaf die regte verwagtinge. J. Wallace Hamilton het een keer opgemerk: ‘Elke persoon se lewe is ‘n dagboek waarin hy of sy bedoel om een verhaal te skryf, maar geforseer word om ‘n ander verhaal te skryf.’ Het jy dit al so ervaar? Dikwels draai die lewe anders uit as wat jy beplan het. Hier is egter die goeie nuus: Die verhaal wat jy skryf kan beter wees as die een wat jy in gedagte gehad het – mits jy egter die regte verwagtinge het. Wat verwag jy? Voor jy daardie vraag antwoord, tel eers jou Bybel op en kyk wat God vir jou beloof het – en eis dit dan op!
Sielskos: 1 Kon 3:4-28; Jak 1:2-8
2022-09-17
Jeremia 32:17 NLV
As die kwessie waarmee jy stoei jou moedeloos maak, moet jy die volgende doen: Eerstens, kyk kortliks na die probleem. Baie mense wat terugslae beleef, vra hoekom. Hulle beweeg egter nooit verby die vraag na die antwoord toe nie. Jy kan nie jou probleme oplos deur hulle te ignoreer nie, maar jy kan hulle ook nie oplos deur daarop gefikseer te raak en daardeur geïmmobiliseer te word nie. Sodra jy die probleem herken en geanaliseer het, moet jy op die oplossing begin fokus.
Tweedens, kyk lank na die moontlikhede. Soms kan jou probleem jou help om moontlikhede te sien wat jy nie geweet het bestaan nie. Toe Louis Waterman ‘n kontrak moes teken om ‘n transaksie te beklink, wou die vulpen wat hy gebruik het nie skryf nie. Gevolglik het Waterman werk daarvan gemaak om die nou beroemde vulpen wat sy naam wêreldwyd dra, te ontwikkel. ‘n Kultuur waaraan dr Alexander Fleming by die St Mary’s Hospitaal in Londen gekweek het, het verander toe dit per ongeluk aan muf blootgestel is. Dit het egter geboorte aan die wondermiddel penisillien gegee, wat miljoene lewens gered het.
Dit is baie waarskynlik dat indien jy vandag iets negatiefs in die gesig staar, daar êrens, op een of ander manier, ‘n geleentheid daarin vervat is. Dit mag dalk nie maklik wees om te vind nie en dit mag dalk nie tot ‘n groot deurbraak soos vir Waterman en Fleming lei nie, maar dit mag dalk – veral as dit beteken dat jy na God vir antwoorde draai. In die woorde van Jeremia: ‘Ag, Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!’
Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Mark 13:24-37; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30