Weet wie in jou lewe hoort

2022-09-28
Spreuke 17:17 NLV

Maak nie saak waar jy woon of wat se werk jy doen nie, jy sal met hierdie drie tipes mense in aanraking kom: 1) Die kritici. Kom ons wees eerlik, die meeste mense is gemaklik met die status quo. Hulle vrees nie net verandering nie, maar sal dit dikwels aanval. As jy dit dus waag om anders te wees, moet jy voorbereid wees om deur rowwe waters te seil. Die apostel Paulus se kritici het na hom as ‘n mal man, ‘n dwaas en ‘n brabbelaar verwys. Hoekom sal jy dan verwag dat dieselfde skare jou beter sal behandel?

2) Die versigtiges. Hierdie mense sal nie ‘n beskuldigende vinger wys nie, maar hulle sal ook nie ‘n helpende hand uitreik nie. Wanneer jy in die moeilikheid kom sal hulle hulself van jou distansieer, in die vrees dat hulle dalk deur jou vermeende aanspreeklikhede besmet kan word. Hulle sal basies eers wag en kyk of jy dit deur die tonnel maak en ander kant uitkom. Hulle sal dan wag en kyk om te sien wie jou aanvaar en of jy tot hulle voordeel kan wees. Eers dan sal hulle moontlik weer met jou kontak maak. Hierdie mense is gebruikers. Hulle is nie sleg nie; hulle is net selfdienend. Wees dus lief vir hulle, maar moenie op hulle steun nie.

3) Die toegewydes. ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is.’ Selfs wanneer hulle die ergste van jou hoor, glo die toegewydes steeds die beste van jou. Hulle waardeer jou vir jou sterkpunte en bewys genade wanneer hulle jou swakpunte hanteer. Hierdie mense is van onskatbare waarde, want jy kan altyd op hulle reken. Wanneer God dus so ‘n persoon in jou lewe plaas, beskerm en koester jou verhouding met hulle.

Sielskos: Hoog 1-4; Mark 15:12-20; Ps 13; Spr 21:22-27

Ontwikkel ‘n smaak vir God se Woord

2022-09-27
Psalm 119:103 NLV

Die feit dat ons nou groente geniet wat ons as kinders gehaat het, dui aan dat ons as volwassenes ‘n smaak vir gesonde, lewensgewende kos kan ontwikkel. Omdat die Bybel sielskos is, kan jy ook ‘n smaak daarvoor ontwikkel. Eugene Peterson skryf: ‘Christene voed op die Skrif. Die Heilige Skrif koester die heilige gemeenskap soos voedsel die menslike liggaam koester. Christene leer of bestudeer of gebruik nie bloot die Skrif nie; ons verteer dit en neem dit in ons lewens op op ‘n manier wat in liefdesdade gemetaboliseer word.’

Verbruikersnavorsing dui daarop dat die gemiddelde Bybeleienaar nege Bybels het en steeds meer wil hê. Wat is met hierdie prentjie verkeerd? Die onuitgesproke geheim is dat baie mense die Bybel vervelig vind. Dis ‘n redelike onlangse probleem – en ‘n ernstige een. Antieke Grieks, die taal waarin die Nuwe Testament geskryf is, het nie ‘n woord vir verveeldheid nie. Die woord het eers die laaste paar eeue sy huidige betekenis in Engels gekry. As ons die antieke wêreld in ag neem – geen televisie, internet, flieks en feitlik geen boeke nie – is ons geneig om te dink hoe vervelig dit moes gewees het. Die antieke mense was egter nie verveeld nie.

Ons is die generasie wat verveeld raak, omdat ons ons kapasiteit om ons aandag te fokus en ons gedagtes in langdurige gedagtegange te verlustig, as gevolg van ons afhanklikheid van eksterne stimuli, verklein het. Ons het te veel aanloklike alternatiewe. Dis hoekom dit dissipline verg om ‘n getroue Bybelleser te word en dit dan ‘n plig en uiteindelik ‘n plesier word. ‘Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond.’ Dit kan jou ervaring ook wees wanneer jy God se Woord lees. Jy moet net ernstig daaroor raak.

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Mark 15:1-11; Ps 54; Spr 21:18-21

Gedagtes wat floreer

2022-09-26
Filippense 4:8 NLV

Die apostel Paulus het vir ons gesê waarmee ons ons gedagtes moet voed: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.’

John Ortberg skryf: ‘Ons gedagtes word die hele tyd gevorm, maar ons het groot vryheid om gedagtes wat floreer, na te streef. Soos ‘n by wat nektar in alle soorte blomme kan vind, is ons nou vry – en word ons selfs beveel – om ons gedagtes met edele gedagtes te voed, waar ons dit ook al kan kry. Die Bybel self beveel ons om verby slegs die Bybel te kyk om ons gedagtes te voed. Kom ons mediteer ‘n oomblik op die frase: ‘wat… lieflik… is.’ Dink aan iets wat vir jou ‘lieflik’ is. ‘n Sonsondergang. Jou gunstelingboek. ‘n Geliefde se gesig. Musiek wat jou laat dans. Laat jou gedagtes vir ‘n oomblik daar stilstaan. Rig jou fokus daarop. Jy het so pas die Bybel gehoorsaam. Jy het so pas jou gedagtes vir die Heilige Gees oopgemaak om daardeur te vloei. Die Heilige Gees se doelwit is nie net om jou sover te kry om kwaai gevoelens te onderdruk nie. Die doel is ook dat jou gedagtes deur ‘n steeds toenemende vloei van Geesgeleide, waarheidsgebaseerde, lewensproduserende gedagtes en gevoelens, gekenmerk moet word. Wanneer ons iets edels lees; wanneer ons iets sien wat lofwaardig is, voel ons liggame sommer ligter. Ons emosies word geïnspireer en ons voel dat ons onsself wil verbeter. Dit tel as gehoorsaamheid aan die Skrif. Dit is geestelik.’

Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58

Hoe om ‘n goeie gesindheid te behou

2022-09-25
Psalm 119:164 NLV

‘n Slegte gesindheid is soos ‘n pap wiel; jy sal nêrens kom as jy dit nie vir ‘n ander een verruil nie. Min dinge in die lewe is so belangrik soos jou gesindheid en hier is vier maniere hoe jy ‘n goeie gesindheid kan behou:

1) Besef dat jou gesindheid aanhoudend aangepas moet word. Enigiets wat jy nie in stand hou nie, versleg uiteindelik. Hoe sterker jou natuurlike neiging tot twyfel en negatiwiteit is, hoe harder sal jy daaraan moet werk. Begin dus elke dag deur jou gesindheid te ondersoek en kyk deurlopend deur die dag vir rooi vlae uit dat jy nie so goed vaar nie.

2) Bid, omdat jy God se hulp nodig sal hê om ‘n goeie gesindheid te handhaaf. Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veilige weiding. Wees bly in die Here en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here… Hy sal vir jou sorg’ (Psalm 37:3-5 NLV).

3) Kyk uit vir dit wat goed is en jy sal dit vind. Moeder Teresa het twee dinge van diegene wat saam met haar in die Kalkutta-krotbuurte gewerk het, vereis: ‘n begeerte om te werk en ‘n vreugdevolle gesindheid. As sy vrolik onder die sterwendes en behoeftiges kon wees, kan jy sekerlik ook!

4) Kyk uit vir mense met geloof en bestee tyd saam met hulle. Waar is hulle? Jy sal hulle vind waar hulle bo die twyfelaars soos arende sweef. As jy ‘n slegte dag het, beweeg agter hulle in en sweef saam in hulle lugstrome. As hulle sukkel, moet jy die een wees wat voor vlieg en dinge makliker maak. Dawid het sewe keer per dag vir God geloof. Kan jy dink wat dit vir jou gesindheid kan doen?

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Soek God se goedkeuring, nie mense s’n nie

2022-09-24
Spreuke 29:25 NLV

As jou lewensdoel is om mense se goedkeuring te ontvang, sal jy nooit regtig veilig voel nie. Hoekom nie? Omdat daar ‘n tyd sal kom wat jy iets sal doen wat hulle nie goedkeur nie; en wat dan? Die Bybel sê: ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is. Jy beveilig jou lewe as jy op die Here vertrou’ (vers 25 NLV). Wanneer ‘n kritikus se mening jou eie mening word, leef jy in ‘n tronk van jou eie maaksel. Die waarheid is dat sommige van die mense wat jy so hard probeer beïndruk, nooit beïndruk sal wees nie. Jy moet die volgende aanvaar: Uit God se perspektief, maak dit nie saak nie. Hierdie wete stel jou in staat om saam met mense te werk, sonder om jouself toe te laat om deur hulle buie of opinies beheer te word.

Elke keer wat Paulus na ‘n nuwe dorp toe gegaan het, het mense hom vir die eerste keer gehoor en ontmoet. Sommige mense het van hom gehou, ander nie. Hy skryf: “Hulle sê mos: ‘Paulus se briewe is gewigtig en kragtig, maar as hy persoonlik teenwoordig is, is hy maar onindrukwekkend en het sy boodskap maar min om die lyf'” (2 Korintiërs 10:10 NLV). Hoe het Paulus dit hanteer? Hy skryf: ‘…Wil ek in mense se goeie boekies kom? Of wil ek God tevrede stel?.. As ek nog steeds mense gelukkig wil maak, is ek nie ‘n dienskneg van Christus nie’ (Galasiërs 1:10 NLV).

Om veilig in die lewe te voel en vervuld te voel deur dit wat jy doen, moet jy eers ‘n plek bereik waar jy in die spieël kan kyk en sê: ‘God is lief vir my en keur my goed, en dis al wat saakmaak!’

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Mark 14:66-72; Ps 52; Spr 21:17

Voed jou gedagtes met goeie dinge

2022-09-23
Spreuke 4:11 NLV

Soms voer ons ons troeteldiere slegte dinge – goed wat hulle nie veronderstel is om te eet nie. Wanneer slegte dinge egter in ‘n troeteldier ingaan, kom slegte dinge ook uit die troeteldier uit. Ons weet dit met betrekking tot ons troeteldiere, maar vergeet dit wanneer dit by ons gedagtes kom. Elke dag word ons met boodskappe van die media, werkgewers, kollegas, ons geliefdes, boeke, musiek – en van ons eie gedagtes – gebombardeer.

Satan werk op twee maniere. Eerstens, probeer hy jou met dinge soos versoeking, depressie en bekommernis voer. Tweedens, probeer hy jou daarvan weerhou om op te let wat jy besig is om jou gedagtes mee te vul.

Gesonde gedagtes voed ‘n gesonde gees. Jesus het gesê dat Hy gekom het om lewe in oorvloed vir ons te gee (sien Johannes 10:10). In plaas daarvan om voortdurend na eiewaarde, gemoedsrus, vreugde en geluk te moet streef, kan jou gedagtes hierdie dinge in oorvloed hê. Jy moet egter eers aandag gee aan dit waarop jou gedagtes gefokus is. Jeremia het gesê: ‘…Ek het elke woord ingeneem. U woorde het my bly gemaak…’ (Jeremia 15:16 NLV). Een van die grootste geskenke wat God vir ons gegee het is die Skrif – maar ons verander dit dikwels na ‘n las. ‘Moet ek elke dag die Bybel lees?’ Dis die verkeerde vraag om te vra. Jy behoort te vra: ‘Wat kan ek vandag my gedagtes mee voed sodat dit kan floreer?’

Die Psalmdigter het gesê dat wanneer jy vreugde in God se Woord vind, sal jy voorspoedig wees in alles wat jy doen (sien Psalm 1:1-3). Om te hê wat suksesvolle mense het, moet jy eers doen wat suksesvolle mense doen. Volgens die Psalmdigter, vind suksesvolle mense dag en nag vreugde in die Woord van God.

Sielskos: 2 Kor 5-8; Mark 14:53-65; Ps 34; Spr 21:14-16