Gehoorsaam God, ongeag (1)

2022-11-19
Hebreërs 5:8 NLV

Die beloning vir gehoorsaamheid is wonderlik, maar soms is die proses pynlik. ‘Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. Op hierdie manier is Hy bekwaam gemaak…’ (verse 8-9 NLV).

Voor God jou tot ‘n posisie van bruikbaarheid in sy diens bevorder, rus Hy jou toe. Ons bewonder Abraham, wat sy seun Isak na Moria toe geneem en hom op ‘n altaar neergelê het, se geloof. Die verhaal maak egter nie sin totdat jy die eerste vers in die hoofstuk lees nie: ‘Na ‘n tyd wou God Abraham se geloof en gehoorsaamheid toets…’ (Genesis 22:1 NLV). Wat het God getoets? Sy geloof! Sy gehoorsaamheid! Toe hy die toets geslaag het, het God vir hom gesê: ‘…Ek [sal] jou oorvloedig seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ‘n ontelbare menigte…’ (Genesis 22:17 NLV).

Jy moet die volgende verstaan: Wanneer jy bid en God vir sukses vra, nooi jy Hom uit om jou geloof en gehoorsaamheid te toets. God sal jou heel waarskynlik nie op dieselfde vlak as Jesus en Abraham toets nie. Dis egter die kleiner toetse wat jou voorberei om die groter opdragte in God se koninkryk te hanteer.

In The Screwtape Letters, praat C.S. Lewis se senior duiwel met sy neef, Wormwood, oor hul gemeenskaplike vyand, die Here. ‘Do not be deceived, Wormwood. Our cause is never more in danger than when a human, no longer desiring, but still intending to do our Enemy’s will, looks round upon a universe from which every trace of Him seems to have vanished, and asks why he has been forsaken, and still obey.’ Die gehoorsaamheid wat God vandag van jou verwag, is ‘n gehoorsaamheid wat bo jou gevoelens en omstandighede uitstyg en ‘Ja, Here!’ sê.

Sielskos: 1 Kron 19:1-23:20; Joh 10:11-21; Ps 50; Spr 26:27-28

Ontmoet Jesus by die Nagmaaltafel

2022-11-18
Lukas 24:30 NLV

Net voor Jesus na die kruis gegaan het, het Hy die nagmaal ingestel. Hy het gesê dat die beker sy bloed wat vergiet is en die brood sy gebroke liggaam, verteenwoordig. Hy het die nagmaal afgesluit deur te sê: ‘…Gebruik dit ter herinnering aan My’ (Lukas 22:19 NLV).

Dink nou aan die huis van Kleopas en sy metgesel, nadat Jesus uit die dood opgestaan het. Jesus het saam met hulle op die Emmauspad geloop en gesels en aan hulle verduidelik dat alles wat gebeur het, die vervulling van ‘n profesie was. ‘Maar hulle het by Hom aangedring: ‘Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.’ Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly. Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee. Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken…’ (Lukas 24:29-31 NLV). Hierdie was ook in ‘n sekere sin ‘n nagmaaldiens. Let egter op wat met die mense gebeur het wat dit bygewoon het.

1) Jesus het hulle daar ontmoet.
2) Hulle oë het oopgegaan en hulle het Hom op ‘n manier herken soos nooit tevore nie.
3) Hulle was diep ontroer. ‘…Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat… het nie?’ (vers 32 NLV).
4) Toe het hulle uitgegaan en ander daarvan vertel. ‘Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle, wat die nuus vertel: ‘Die Here is regtig opgewek…’ (verse 33-34 NLV).

As jy ooit gewonder het wat jy veronderstel is om te voel en dink terwyl jy nagmaal gebruik, weet jy nou.

Sielskos: 1 Kron 16-18; Joh 10:1-10; Ps 105:1-15; Spr 26:23-26

Lasarus se verhaal en joune (2)

2022-11-17
Johannes 11:21-22 NLV

Hier is nog drie dinge wat ons uit die verhaal van Lasarus kan leer:

1) God kan dit wat jy verloor het, herstel. Een van die grootste beloftes in die Skrif is dat God die jare wat die lewe by jou gesteel het, kan herstel (sien Joël 2:25). Eis hierdie belofte op; neem dit terug na die tyd waar jy so baie verloor het en vra God om dit te vervang, te herstel en te vernuwe. Hy sal dit doen.

2) Waaraan jy ook al gebonde is, God kan jou vry maak. “…Hy [het] met ‘n kragtige stem uitgeroep: ‘Lasarus, kom uit!’ Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ‘n kopdoek. Jesus sê vir hulle: ‘Maak die doeke los en laat hom gaan'” (Johannes 11:43-44 NLV). God se krag is groter as enige gewoonte, kwessie of omstandighede wat jou gebonde hou. Bid saam met die Psalmdigter: ‘Gee vir my insig dat ek kan leef volgens u gebooie, en dit van harte gehoorsaam. Laat my wandel volgens u gebooie, want dis waarin ek vreugde vind’ (Psalm 119:34-35 NLV). Wanneer jy hierdie gebed bid, sal jou geloof groei en omstandighede wat tans vir jou onmoontlik lyk, sal deur God se krag verander word.

3) Maak nie saak hoe sleg jy voel nie, God verstaan. By Lasarus se begrafnis, het “Jesus [toe] begin huil. Die Jode sê toe: ‘Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!'” (Johannes 11:35-36 NLV). Hierdie verhaal bewys dat ons ‘n God dien wat nie net dit wat jy verloor het kan teruggee nie, maar wat omgee oor dit waardeur jy gaan (sien Hebreërs 4:15).

As jy dus vandag seer ervaar, draai na Hom toe en laat Hom toe om jou te help.

Sielskos: 1 Kron 12:23-15:29; Joh 9:24-41; Ps 8; Spr 26:17-22

Lasarus se verhaal en joune (1)

2022-11-16
Johannes 11:4 NLV

Neem waar: 1) God het ‘n plan in gedagte wat jy nie kan sien nie. Hoekom het Jesus vier dae gewag om die familie te gaan besoek nadat Hy gehoor het dat Lasarus gesterf het? God wag vir twee redes: a) Sodat jou geloof versterk kan word. Jesus het gesê: ‘…maar ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle kan glo…’ (vers 15 NLV). Jou volgende krisis sal anders as jou laaste een wees, maar jou geloof moet sterk bly. b) Dat God verheerlik kan word. Die Fariseërs het geglo dat jou siel op die vierde dag jou lyk verlaat. As Jesus vroeër ingegryp het, kon hulle gesê het: ‘Hy was nie regtig dood nie.’ Dus het Jesus gesê: ‘Hierdie siekte… vind plaas om die heerlikheid van God sigbaar te maak…’ Dis wanneer jy terugkyk, wat jy God se wysheid en wil in die situasie sien werk.

2) God sal jou dwing om kwessies wat jy probeer begrawe het, te hanteer. “Jesus sê toe: ‘Rol die klip weg.’ Maar Marta… sê vir Jesus: ‘Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag'” (vers 39 NLV). Bid jy vir ‘n antwoord in een area terwyl God vir jou sê om die klip in ‘n ander area weg te rol en daardie kwessie te hanteer? Wanneer jou hart reg is met God, sal jou gebede beantwoord word (sien 1 Johannes 3:21-22).

3) God sal jou ‘n voorbeeld van sy genade maak. Dink aan Lasarus na sy opstanding. Sonder om ‘n woord te spreek, het sy lewe aan almal verklaar dat Jesus die Here is. Dieselfde kan waar wees van jou. God het jou verlos en opgehef om ‘n getuienis van sy genade te wees.

Sielskos: 1 Kron 10:1-12:22; Joh 9:13-23; Ps 83:9-18; Spr 26:13-16

Jy is ‘volmaak’ terwyl jy ‘geheilig’ word

2022-11-15
Hebreërs 10:14 AFR83

Hou op om jouself af te takel deur te sê: ‘Ek hou aan misluk, so ek is nikswerd. Ek doen nooit iets reg nie.’ As jy jouself dit aanhou vertel, sal jy uiteindelik bewyse daarvan kry.

Een berader sê: ‘Deur jouself af te takel, versterk jy jou onvolmaaktheid eerder as om dit te korrigeer, omdat jy onnodige aandag en energie aan alles wat verkeerd met jou is, bestee, eerder as aan dit wat reg is. Hoekom sal jy dit doen as jy weet dat die enigste moontlike resultaat ‘n negatiewe uitkyk, nog negatiewe gevoelens en minder waardering vir die gawe van lewe is? Almal het aspekte van hulself wat hulle graag sal wil verbeter, maar dit beteken nie dat jy jouself moet aftakel nie.’ Die Bybel sê: ‘Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig.’

Max Lucado skryf: ‘Onderstreep die woord volmaak. Let op dat die woord nie beter is nie. Nie verbeter nie. Nie lyk beter nie. God verbeter nie net nie; Hy vervolmaak. Hy maak nie beter nie; Hy voltooi. Ek weet dat ons nie volmaak is nie. Ons maak steeds foute. Ons doen steeds presies wat ons nie wil doen nie, wat ons so hard probeer om nie te doen nie. Daardie deel van ons is die deel wat God sê ‘geheilig’ word. Wat ons plek voor God betref, is ons volmaak. As Hy ons elkeen sien, sien Hy een wat vervolmaak is deur die Een wat volmaak is – Jesus Christus.’

Ja, jy moet aanhou werk daaraan om jouself te verbeter, maar wees geduldig; stop dikwels en herinner jouself dat jy ‘…só verander en nuut gemaak [word] om al meer soos die Skepper te lyk’ (Kolossense 3:10 NLV).

Sielskos: 1 Kron 7:20-9:44; Joh 9:1-12; Ps 83:1-8; Spr 26:7-12

Moenie bekommer nie, staan op God se Woord

2022-11-14
2 Kronieke 32:7-8 NLV

Het jy jou sin van vrede verloor? Word jou gedagtes met bekommernisse beleër? Indien dit die geval is, begin om jou gedagtes met hierdie Bybelse beloftes te herprogrammeer – skryf hulle neer, dra hulle met jou saam en lees hulle gereeld:

1) ‘Die Here waak self oor jou. Die Here is jou beskermer… Die Here hou wag oor jou, of jy kom of gaan, nou en vir altyd’ (Psalm 121: 5-8 NLV).
2) ‘Dié wat u Naam bely, vertrou op U, want niemand wat U soek, laat U in die steek nie, Here’ (Psalm 9:11 NLV).
3) ‘…nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie… Ja hoegenaamd niks… sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:38-39 NLV).
4) ‘…Hulle sal teen jou veg, maar sal jou nie oorwin nie. Ek sal jou beskerm en jou red…’ (Jeremia 15:20 NLV).
5) ‘Jy sal vol moed wees omdat jy hoop sal hê. Jy sal beskerm wees en rus in veiligheid’ (Job 11:18 NLV).
6)’Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).
7) ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).
8) ‘…Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees… nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n’ (2 Kronieke 20:15 NLV).
9)’…Moenie bang wees nie… Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie…’ (Jesaja 43:1-2 NLV).
10) ‘Dan sal Ek jou red, sê die Here. Hulle sal jou nie oorlewer in die mag van dié mense vir wie jy so bang is nie’ (Jeremia 39:17 NLV).

Sielskos: 1 Kron 6:1-7:19; Joh 8:42-59; Ps 133; Spr 26:1-6