Die voordele van meditasie op God se Woord

2022-10-04
Psalm 77:13 NLV

Wat beteken die woord mediteer? Dit beteken dat jy jou gedagtes fokus op iets en daaroor peins. Dawid het gesê: ‘U dade bly in my gedagtes. Al u werke wil ek bepeins.’ Vraag: Totdat jy oor God se Woord gemediteer het, wat kan jy sê wat enige daadwerklike verskil sal maak? Al wat jy sal doen is om jou opinie te deel, wat net een opinie van baie is. Jy sal nie in staat wees om oortuigend te praat of ‘n ware verskil in die persoon met wie jy praat, se lewe te maak nie. Dis God se Woord wat mense se lewens verander, nie joune nie!

Hier is tien voordele daaraan verbonde om oor God se Woord te mediteer: 1) Dit kweek ‘n liefde vir God en sy Woord binne-in jou.
2) Dit gee jou nuwe insigte en geestelike begrip.
3) Dis ‘n bron van gerusstelling en krag.
4) Dit bemagtig jou om ‘n opregte getuie vir Jesus Christus te wees.
5) Dit vernuwe jou gedagtes.
6) Dit beskerm jou teen sonde.
7) Dit herstel jou siel en jou emosies.
8) Dit stel jou in staat om die Here met jou hele hart te vertrou.
9) Dit laat jou gees lewendig word.
10) Dit help jou om God, ander mense en jouself, beter te verstaan.

Daar is groot krag in God se Woord en wanneer jy oor die Bybel mediteer, kry jy toegang tot daardie krag. ‘Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang! Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur…’ (2 Petrus 1:3-4 NLV).

Sielskos: 1 Sam 11-13; Joh 1:1-13; Ps 51; Spr 22:12-16

Die behoefte aan verbintenis (3)

2022-10-03
Romeine 12:4 DB

Paulus skryf: ‘…’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ‘n liggaam. Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies… As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit. Maak sy wil bekend in die geloof wat jy daarmee saam uit God se hand ontvang het. As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit. As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap’ (verse 4-8 DB).

Dikwels is ongelukkigheid nie die afwesigheid van liefde nie; dis die afwesigheid van verbintenis. Dit lê nie daarin om ‘n selfoon met baie nommers daarop te hê nie, maar om jou lewe met diegene wat vir sake groter as hulself lewe, te deel.

Waar moet jy begin? Deur ‘n eensame, vergete persoon in die naaste ouetehuis te besoek. Deur een keer ‘n week vrywillig by die sopkombuis te werk. Deur vir jou pastoor te sê: ‘Gee my asseblief ‘n taak waarin ek ander mense kan help.’ Hierdie is klein treetjies, maar jy sal verstom wees oor hoe hulle jou lewe verryk.

Sielskos: 1 Sam 8-10; Mark 16:9-20; Ps 60; Spr 22:7-11

Die behoefte aan verbintenis (2)

2022-10-02
1 Johannes 3:14 NLV

Daar is ‘n direkte skakel tussen jou gesondheid en jou verhoudings. Wanneer jy afgesonder van ander mense is, is die moontlikheid om te sterf twee tot vyf keer groter as mense met noue bande! Selfs mense met slegte gewoontes soos rook, oormatige kosinname en fisiese onaktiwiteit – maar wat steeds sosiaal ingeskakel bly – leef langer as mense met goeie gesonde gewoontes wat geïsoleerd is.

Ons sien die fisiese, lewensgewende krag van verbintenis in die lewe van Winston Churchill. Hy het ‘n wonderlike huwelik en ‘n diepe verbintenis met sy familie, sy vriende, sy land en sy werk gehad. Sy gewoontes in terme van sy gesondheid was egter iets verskrikliks. Sy dieet was aaklig en hy het konstant sigare gerook. Hy het te veel gedrink, op vreemde tye geslaap en het hoofsaaklik gesit – en tog het hy negentig jaar oud geword.

Dit herinner mens aan die joernalis wat ‘n ou man oor sy lang lewe uitgevra het: ‘Ek veronderstel jou lang lewe is te danke aan gereelde oefening?’ Die ou man het geskerts: ‘Die enigste oefening wat ek kry is as kisdraer by my vriende wat hulle oefeninge oordoen het, se begrafnisse!’

(Let wel: ons keur nie slegte gewoontes goed nie!). God het gesê: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie…’ (Genesis 2:18 NLV), want wanneer jy alleen is, is jy meer geneig om aan versoeking en mismoedigheid toe te gee, selfgeabsorbeerd te raak en geld op selfsugtige wyses te spandeer. Nie net ly jy daaronder nie, maar ook die mense wat God in jou lewe geplaas het om sy liefde teenoor hulle te bewys. Jy sê: ‘Mense het my al seergemaak.’ God het egter goeie verhoudings vir jou in gedagte – praat dus vandag met Hom daaroor.

Sielskos: Eks 17:8-16; 2 Kor 1:3-7

Die behoefte aan verbintenis (1)

2022-10-01
Genesis 2:18 NLV

Tydens die skepping het God na alles wat Hy gemaak het gekyk en gesê: ‘Dit is goed.’ Later het Hy egter agtergekom dat die mens eensaam, onvervuld en onvoltooid is. Dis toe dat Hy sê: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie…’ Hy het dus vir Eva, die eerste vrou gemaak.

Die feit is dat niemand van ons tot ons volle potensiaal kan ontwikkel nie, tensy ons by koesterende, lewe-gewende verhoudings ingeskakel is. ‘n Voorbeeld daarvan is as volg: In die twaalf-stap programme, doen die berader net 10 persent van die werk deur leiding te verskaf. Negentig persent van die herstelproses vind plaas omdat die mense in die groep mekaar uitdaag, troos en versterk. Die waarheid is dat ons deur mense gevorm word!

Die regte mense help jou om die beste weergawe van jouself te wees en jy doen dieselfde vir hulle. Hulle sien dinge raak wat jy miskyk, moedig jou aan soos jy vorentoe beweeg en daag jou uit wanneer jy van jou doel af wegbeweeg. Die hoogste en beste vorm van hierdie tipe verhoudings word in die Skrif as ‘gemeenskap van die Heilige Gees’ genoem (sien Filippense 2:1; 2 Korintiërs 13:14 en 1 Johannes 1:7). Dis nie net ‘n sosiale of intellektuele verbintenis nie, maar ‘n diep geestelike verbintenis wat ons laat floreer.

Dis soos die verskil tussen bye en skoenlappers. Skoenlappers dek meer grond, maar bye maak meer heuning bymekaar. Hoekom? Omdat bye nie net kortliks op ‘n blom land en dan aanbeweeg nie, maar daar bly en die lewe-gewende nektar insamel. God het vir Dawid die gawe van Jonatan gegee, en vir Naomi die gawe van Rut. Hy het mense in gedagte wat Hy graag sal wil hê jy moet ontmoet. Praat dus vandag met Hom daaroor.

Sielskos: 1 Sam 4-7; Mark 16:1-8; Ps 68:19-35; Spr 22:6

Die seën van bekering (2)

2022-09-30
Psalm 51:12 NLV

‘n Christelike skrywer sê: ‘Soms is mense bang dat as hulle nie vinnig genoeg verander nie, sal God ongeduldig met hulle raak. Hulle gebruik oor die algemeen nie hierdie presiese woorde nie, maar hulle wonder: ‘Hoeveel sonde kan daar in my lewe wees voor ek my moet begin bekommer? Is daar ‘n vlak van sonde wat aanvaarbaar vir ‘n Christen is en as jy dit verbysteek, is jy in gevaar? Is daar ‘n beperking of vaste standaard vir onreinheid? Is dit moontlik om ‘n Christen te wees en net nooit te groei nie?’ Die kwessie is nie of God gaan moeg word om ons sondes te vergewe nie. Vergifnis is altyd die regte reaksie op opregte berou. God is nie bekommerd dat Hy dalk misbruik sal word nie.’

Die gevaar lê nie daarin dat God nie op ons eerlike bekering sal reageer nie. Die gevaar lê daarin dat ons so vasgevang in die gevaarlike gedagtes wat sonde onvermydelik voortbring kan raak, dat ons gevoelloos en selfvoldaan word en eenvoudig nie meer in staat is om ons te bekeer nie! Dis as gevolg hiervan dat ons sonde so ernstig moet opneem.

Die sendeling Frank Laubach het die evangelie aan ‘n stam wat ‘n lang geskiedenis van bloedvergieting gehad het, verkonding. Die hoofman van die stam was so ontroer, dat hy berou gehad het en Christus op die plek aangeneem het. Toe het hy in waardering na Laubach gedraai en gesê: ‘Dit is wonderlik! Ek wil jou graag bedank vir wat jy vir my gedoen het. Wie wil jy hê moet ek vir jou doodmaak?’ Dit was sy beginpunt. Net God weet wat elkeen se beginpunt is. Wat is joune?

Sielskos: 1 Sam 1-3; Mark 15:33-47; Ps 68:1-18; Spr 22:1-5

Die seën van bekering (1)

2022-09-29
Romeine 2:4 NLV

Wanneer jy jouself op die verkeerde pad bevind, laat bekering jou toe om ‘n U-draai te maak en terug in die regte rigting te gaan. Wat ‘n seën is dit nie. Soms dink ons dat ons onsself moet bekeer omdat God vir ons kwaad is en tyd nodig het om weer af te koel. Of ons dink aan bekering as ‘n manier om onsself te straf sodat God minder kwaai met ons sal wees. Dis nie bekering nie, dis ‘n lae selfbeeld! ‘n Lae selfbeeld laat jou glo dat jy so min waarde het, dat jou reaksie nie saakmaak nie.

Wanneer jy jouself egter bekeer, verstaan jy dat jou reaksie belangrik is, omdat jy so baie werd vir God is. Paulus sê: ‘…Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?’ Wanneer jy lief is vir God, is jou grootste bekommernis nie dat God jou sal seermaak nie, maar dat jou aksies Hom sal seermaak.

Toe Dawid vir Urija doodgemaak het nadat Dawid by sy vrou geslaap het, het hy vir ‘n jaar lank homself nie daaroor bekeer nie. Hy moes homself forseer om nie daaraan te dink nie. Wat ‘n ellendige manier om te lewe! In sy boetegebed, het hy gesê: ‘…my sonde is gedurig voor my’ (Psalm 51:5 NLV). Toe het hy uitgeroep: ‘Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees… Skep vir my ‘n rein hart, o God… Gee my tog weer die vreugde van u redding…’ (verse 9, 12, 14 NLV). Gevolglik het God hom vergewe, sy lei skoon gevee en Dawid het aangegaan om Israel se grootste koning te word.

Jy sien, bekering is nie tot God se voordeel nie – dis tot joune!

Sielskos: Hoog 5-8; Mark 15:21-32; Ps 91; Spr 21:28-31