Laat jou liefde vir Jesus weer ontvlam

2022-11-25
Openbaring 2:4 NLV

Jesus het vir die kerk in Efese drie dinge gesê: 1) Dink terug. ‘Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het…’ (vers 5 NLV). Dink aan die hoogtes wat jy eens op ‘n tyd geken het. Nie die slegte tye nie, maar die beste tye. Onthou toe dit die hoogtepunt van jou dag was om tyd in gebed en met die Skrif te bestee? Wat het jy toe gedoen wat jy nie nou meer doen nie?

2) Bekeer jouself. Dit beteken dat jy jou gedagtes, jou rigting en jou optrede verander. Jy kan nie ‘n probleem met dieselfde denke en optrede wat dit veroorsaak het, oplos nie. Toe die Verlore Seun by die varkhok gekom het, het hy besef dat hy sy laagste punt bereik het. Dis toe dat hy gesê het: ‘Ek sal huis toe gaan na my pa toe en sê: Pa, ek het gesondig teen sowel die hemel as teen Pa’ (Lukas 15:18 NLV). Sy pa het hom vergewe en hom herstel. Hoe het sy verhaal geëindig? Hy het weer sy regmatige plek by die familietafel ingeneem. Dit kan ook met jou gebeur.

3) Herhaal. ‘…doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (Openbaring 2:5 NLV). Maak ‘n lys van die dinge wat jy gedoen het toe jou verhouding met die Here wonderlik was en wy jouself dan met gebed daaraan toe om dit weer elke dag te doen. Doen dit totdat die vreugde van jou eerste liefde weer aan die brand gesteek is.

Betwyfel jy dat God genadig teenoor jou sal wees? Lees dan die volgende: ‘…Maar U is ‘n God wat vergewe, genadig en vol deernis… U is liefdevol en getrou. U het hulle nie in die steek gelaat nie’ (Nehemia 9:17 NLV).

Sielskos: 2 Kron 9-12; Joh 11:28-37; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16

Hoe om jou roeping te verstaan

2022-11-24
Efesiërs 2:10 NLV

Toe God vir Moses geroep het om Israel uit Egipte te red, het Moses dit eers op sy eie manier probeer doen. Nadat hy ‘n Egiptenaar doodgemaak het om ‘n Israeliet se lewe te red, was hy vir vyf-en-veertig jaar voortvlugtig. Nadat hy in die woestyn geleef en sy les geleer het, het hy teruggekeer om God se wil – op God se manier – te doen. Almal van ons word geroep om God se wil op God se manier te doen. Jy vra: ‘Maar hoe kan ek weet wat my roeping is?’

Jy begin deur die volgende vrae te beantwoord: 1) Wat is jou geestelike gawes? ‘…God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee…’ (1 Petrus 4:10 NLV). Laat God jou, deur middel van jou diepste begeertes, daardie kernbevoegdhede wys waarmee jy die beste geskik is om Hom te dien.

2) Is daar iemand wat jou kan mentor en opbou? Dis deel van jou pastoor se werk: ‘om God se mense toe te rus vir die werk wat hulle in sy diens moet doen. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou’ (Efesiërs 4:12 NLV). Jy het hulp nodig; jy kan nie alleen daar kom nie!

3) Is jy by jou plaaslike kerk betrokke? ‘Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig’ (Romeine 12:4-5 NLV).

4) Is jy gewillig om daar waar ‘n behoefte is, te dien? ‘…Met hierdie gawes moet julle mekaar dien…’ (1 Petrus 4:10 NLV). As jy wil weet wat jou roeping is, begin dien en God sal dit aan jou openbaar.

Sielskos: 2 Kron 6-8; Joh 11:17-27; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12

Moenie jou visie laat vaar nie!

2022-11-23
Spreuke 29:18 NLV

God het ‘n plan vir jou lewe; een wat jou sal help sien wat waarlik belangrik is. Dit word “‘n visie” genoem. Daarsonder, weet jy nie waarheen jy veronderstel is om te gaan nie. Atlete fokus slegs op een ding: om te wen! Om dit te doen, offer hulle verhoudings, ontspanningstyd en plesiere op. Die Boodskap stel dit so: ‘Waar die woord nie gehoor word nie, doen mense net wat hulle wil. Wie die wil van die Here ernstig opneem, is ‘n gelukkige mens’ (vers 18 DB).

Wanneer God jou ‘n visie gee, begin jy dinge sien soos Hy hulle sien. Moses het die Beloofde Land ‘gesien,’ terwyl almal rondom hom net woestyn gesien het, wou tou opgooi en na Egipte toe terugkeer (sien Hebreërs 11:24-27). Hy het ook verstaan dat hy die Beloofde Land op God se skedule, volgens God se plan, een tree op ‘n slag, sou bereik. Soms kan jou visie oorweldigend voel. Dis wanneer jy dit in klein stappe moet opbreek en jouself visualiseer waar jy die volgende stap neem. Jy sal verras wees oor jou vooruitgang. Tot jy egter die eerste stap neem, is ‘n visie net ‘n dagdroom.

‘n Britse predikant genaamd Frederick Langbridge het geskryf: ‘Two men looked out from prison bars. One saw mud, the other stars.’ Wat sien jy in jou toekoms? Dink jy dat God sukses net in jou skoot sal laat val? Nee, jy moet jou visie deur geloof energie gee en dit deur harde werk momentum gee. Nadat hulle die hele nag gewerk het en geen visse gevang het nie, het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘…Vaar nou dieper in…’ (Lukas 5:4 NLV). Toe hulle dit doen, het hulle hul grootste vangs ooit gevang. Die wêreld beheer nie jou voorraad nie – God doen!

Sielskos: 2 Kron 1-5; Joh 11:1-16; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9

Gehoorsaam God, ongeag (4)

2022-11-22
Deuteronomium 14:22 NLV

Hoekom het God sy mense beveel om die eerste tiende van hulle inkomste vir Hom te gee? Hy sê vir ons: ‘…Dan sal die Here jou God jou seën in al jou werk’ (vers 29 NLV). Wanneer jy vir God die eerste tiende van jou inkomste gee, beloof Hy om jou ‘in al jou werk,’ te seën. Die vraag is dus nie of die kerk jou tiende nodig het nie, maar of jy God se seën nodig het? God se werk sal nie bankrot speel as jy nie jou tiende gee nie, maar hoe goed sal jy vaar as jy Hom ongehoorsaam is? Paulus skryf: ‘Op elke Dag van die Here moet elkeen van julle na vermoë iets opsy sit en dit spaar…’ (1 Korintiërs 16:2 NLV).

Jy sê: ‘Ek dog dit was net in die Ou Testament wat mense tiendes moes gee. Het die Nuwe Testament se Christene dit ook gedoen?’ Aangesien die enigste ‘Bybel’ wat die gelowiges in die Nuwe Testament gehad het die Ou Testament was, hoeveel dink jy het hulle gespaar? Verseker nie minder as ‘n tiende nie.

Jesus het vir die Fariseërs gesê: ‘Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners… Want julle gee noukeurig tiendes… maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om deernis te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie’ (Matteus 23:23 NLV).

Sal jy vir God minder onder genade gee as wat jy onder die wet sou gee? Die tiende is die minimum, maar slegs jou liefde vir God en sy koninkryk kan die maksimum bepaal.

Sielskos: 1 Kron 26:20-29:30; Joh 10:34-42; Ps 76; Spr 27:4-6

Gehoorsaam God, ongeag (3)

2022-11-21
Deuteronomium 5:29 NLV

God sal jou die genade gee om te doen wat Hy jou beveel om te doen. Dit beteken egter nie dat dit maklik sal wees nie. Die koning het beveel dat Sadrag, Mesag en Abednego lewend verbrand moet word omdat hulle geweier het om sy goue beeld te aanbid.

Let hulle geloofsbelydenis op: 1) ‘Die God wat ons aanbid kán ons uit die vuur red…’ (Daniël 3:17 NLV). Hulle het nooit God se vermoë betwyfel nie.
2) ‘Hy sal ons uit u hand bevry…’ (vers 17 NLV). Hulle het nooit God se gewilligheid betwyfel nie.
3) ‘En selfs al red Hy ons nie… sal ons… nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie’ (vers 18 NLV).

Hulle het nie vir een oomblik ongehoorsaamheid oorweeg nie! Hoe het hulle verhaal uitgedraai? ‘Koning Nebukadneser was egter verstom. Hy het… gevra: ‘Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?’ ‘Ja, beslis, U Majesteit,’ het hulle vir hom gesê. Hy sê toe vir hulle: ‘Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ‘n bo-aardse wese’ (verse 24-25 NLV).

Wanneer God jou vra om iets te doen wat jy nie wil doen nie, of voel dat jy dit nie kan doen nie, het Hy jou beste belange op die hart. Wanneer jou kinders sê: ‘Ek kan dit nie doen nie, dis te moeilik,’ laat jy hulle maar begaan? Nee, jy dring daarop aan omdat dit vir hulle eie beswil is. Dis hoe God oor jou voel: ‘Ag, as hulle maar altyd sulke harte sal hê dat hulle My sal vrees en al my gebooie sal gehoorsaam! As hulle dit doen, sal hulle en hulle nageslag vir altyd voorspoedig wees’ (Deuteronomium 5:29 NLV).

Sielskos: 1 Kron 23:21-26:19; Joh 10:22-33; Ps 81; Spr 27:1-3

Gehoorsaam God, ongeag (2)

2022-11-20
2 Korintiërs 1:8 NLV

Job beskryf die belonings van gehoorsaamheid: ‘As hulle luister en Hom gehoorsaam, word hulle geseën met voorspoed deur hulle hele lewe’ (Job 36:11 NLV). Johannes voeg by: ‘Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:22 NLV).

Paulus beskryf egter die prys van gehoorsaamheid: ‘Ons wil nie hê dat julle… oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting. Hy sal ons altyd weer red’ (2 Korintiërs 1:8-10 NLV).

Let op die woorde: ‘Hy het ons gered… Hy sal ons weer red… Hy sal ons altyd weer red.’ God het nie Paulus uit sy probleme gered nie, Hy het saam met hom daarin gestap en hom daardeur gebring. Jy sê: ‘Maar ek het God gevra om my te help om hierdie situasie te verstaan en Hy het nie.’ God skuld ons nie ‘n verduideliking nie, maar Hy beloof ‘n uitweg. ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – gehoorsaam God, ongeag wat.

Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:1-42