Die beheerder en die selfbeheersde

2022-12-01
Galasiërs 5:22-23 NLV

Is jy selfbeheersd, of ‘n beheerder? Kom ons vind uit: Beheerders blameer dinge soos die duiwel, mense en omstandighede vir hulle probleme en reageer deur te blameer, wrokkig te wees of frustrasie te projekteer. Hulle manipuleer mense en omstandighede tot hul eie voordeel. Dit werk egter nie; hulle pogings verskerp hulle pyn en verander hulle verhoudings in ‘n magstryd. Hoe meer hulle probeer beheer, hoe slegter voel hulle; en hoe slegter hulle voel, hoe meer probeer hulle beheer. God wil nie hê dat jy so moet lewe nie.

Die selfbeheersde verstaan dat die duiwel niks sonder jou samewerking kan doen nie en dat jy dit nie hoef te gee nie (sien Lukas 10:17). Hulle verstaan dat mense en omstandighede ook nie die probleem is nie – hoe ons dit hanteer is egter wel. Hulle reageer dus deur hulself aan drie dinge te herinner:

1) Die persoon wat ek moet beheer, is myself.
2) Soms moet ek mense en omstandighede aan God oorgee en Hom toelaat om hulle te hanteer.
3) Ek moet daagliks krag uit die Heilige Gees put sodat ek my reaksies kan beheer en die Skrif se beginsels toe te pas om in beheer van my lewe te bly (sien 2 Timoteus 1:7).

Gevolglik vermy die selfbeheersdes dit om by blaamspeletjies en selftoegediende pyn betrokke te raak en om verhoudings in gevegsones te verander. Deur te weet dat as ‘die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…,’ verstaan hulle dat die Gees hulle nie sal beheer, of hulle sal help om ander te beheer nie, maar dat Hy hulle sal bemagtig om hulself te beheer. Mense wat deur die Gees bemagtig word, word vry van die probleem en word deel van die oplossing.

Sielskos: 2 Kron 29-31; Joh 12:20-36; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8

Wat verteer jou?

2022-11-30
Lukas 17:14 NLV

‘…tien melaatse mans [het] Hom teëgekom… Hulle het hard na Hom geroep: ‘Jesus, Here, kry ons tog jammer!’ Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: ‘Gaan wys julleself aan die priesters.’ Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword. Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ‘n harde stem vir God geloof’ (verse 12-15 NLV).

Daar is ‘n geestelike vergelyking wat tussen melaatsheid en die lewe getref kan word; beide kan jou verteer. Is dit wat vandag met jou gebeur? Indien dit die geval is: 1) Neem jou probleem na Jesus toe. Hy kan dit wat jy verloor het herstel en vir jou jou vrede en vreugde teruggee. Roep uit na Hom. ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV).

2) Doen wat Hy vir jou sê om te doen! Moenie voorwaardes aan God stel nie. Moet ook nie ‘n ervaring wat identies is aan iemand anders s’n, verwag nie. Jesus het vir die tien melaatse mans gesê om hulle aan die priesters te gaan wys. Hoekom het Hy hulle nie daar en dan gesond gemaak het nie? Geloof vereis nie verduidelikings nie!

3) Wees voorbereid om ‘n pad te stap. ‘…Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword…’ Soms wanneer God jou die antwoord gee, moet jy in geloof die pad stap, met elke tree wat jou nader aan jou uitkoms bring. Niks gebeur egter totdat jy nie daardie eerste tree geneem het nie.

4) Moenie vergeet om Hom te bedank nie. Net een van die tien melaatse mans het omgedraai om dankie te sê, en Jesus het dit opgemerk. Jy kan met vrymoedigheid vir jou volgende antwoord na Hom toe gaan, wanneer jy onthou om Hom vir jou vorige antwoord te bedank.

Sielskos: 2 Kron 25-28; Joh 12:12-19; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4

Vra God vir wysheid

2022-11-29
Jakobus 1:5 NLV

Salomo het gesê: ‘Soek na wysheid en goeie oordeel. Moenie my woorde vergeet nie. Moenie dit laat los nie. Moet nooit afstand doen van die wysheid nie. Dit sal jou beskerm. As jy wysheid liefhet, sal dit jou beveilig. Die verstandigste ding om te doen, is om eers wysheid te bekom. Wy jou daaraan toe om onderskeidingsvermoë te verkry. Stel wysheid voorop, dan sal dit vir jou aansien gee. Stel dit hoog op die prys en dit sal aan jou eer gee’ (Spreuke 4:5-8 NLV).

Daar is baie maniere om wysheid te verkry: 1) Ontleen dit uit die kollektiewe kennis van ander. ‘Selfvoldaanheid lei altyd tot rusies. Julle wat na ander luister, het wysheid’ (Spreuke 13:10 NLV).

2) Dink buite die boks. Uitsprake soos: ‘Dis die manier hoe ons nog altyd dinge hier rond gedoen het,’ regverdig ondersoek wanneer dit gebruik word om maniere wat nie meer werk nie, te verdedig.

3) Skryf neer en dink na oor dit wat jy deur ervaring geleer het.

4) Moenie jaag om klaar te maak nie. Die vermoë om gefokus en vervul met geloof te midde van verandering te bly, is die kenteken van groei en volwassenheid.

Die uiteindelike bron van wysheid is egter God se Woord! ‘Dis tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:6 NLV). ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg’ (Jakobus 3:17 NLV). ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV). Weier om ‘n ontoegewyde lewe te lei. Weier om ‘n rigtinglose lewe te lei. Vra vandag vir God vir wysheid.

Sielskos: 2 Kron 21-24; Joh 12:1-11; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27

Moet nooit God se Woord verwring nie

2022-11-28
Hebreërs 2:1 NLV

Ons moet aanhoudend ons Skriftuurlike fondasies herbevestig. Wat is hierdie grondwaarhede waarop die kerk van Jesus Christus gebou is? Die onfeilbaarheid van die Bybel; Christus se maagdelike geboorte; sy sondelose lewe; sy versoeningsdood; sy liggaamlike opstanding en bemiddelingswerk namens ons; ons behoefte om gered, gedoop en met die Heilige Gees vervul te word; en die opdrag om die evangelie na die vier uithoeke van die aarde uit te dra en die spoedige wederkoms van ons Here Jesus Christus om te heers, aan te kondig. Hierdie waarhede is ononderhandelbaar!

Jy sê: ‘Maar gaan dit ons nie bekrompe laat lyk nie?’ Nee, Paulus sê: ‘Vervloek is elkeen wat ‘n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of ‘n boodskapper uit die hemel wees’ (Galasiërs 1:8 NLV). Kanker begin in een ongeïdentifiseerde sel, maar dit kan die hele liggaam vernietig. Dis hoekom Judas skryf: ‘…Maar nou voel ek verplig om… julle aan te spoor om aan te hou stry vir die geloofsbelydenis wat eenmalig oorgelewer is aan God se mense. Want sekere mense het hulle in julle geledere ingewurm, goddelose mense wat reeds lank tevore vir die oordeel bestem was. Hulle verwring die onverdiende goedheid van ons God tot roekeloosheid en misken ons enigste Meester en Here, Jesus Christus’ (Judas verse 3-4 NLV).

Let die woorde: ‘eenmalig oorgelewer aan God se mense,’ op. Ons metodes om die wêreld te bereik mag dalk verander, maar ons boodskap mag nooit verander nie. Jy vra: ‘Maar is ons nie veronderstel om almal lief te hê nie?’ Ja, en dis hoekom ons nooit God se Woord moet verwring nie.

Sielskos: 2 Kron 18-20; Joh 11:45-57; Ps 114; Spr 27:20-22

Is jy in ‘n verhouding waar jy misbruik word?

2022-11-27
Lukas 23:34 NLV

Wat moet jy doen as jy in ‘n verhouding is waar jy misbruik word?

1) Bid vir hulle. Jesus het gesê: ‘…Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak’ (Lukas 6:27-28 NLV). Daar word gesê dat 90 persent van diegene wat ander mishandel, self mishandel is. Dikwels reageer hulle as gevolg van wonde wat nie genees het nie en kwessies wat nie opgelos is nie. Terwyl dit glad nie ‘n verskoning vir hulle optrede is nie, gee dit jou insig oor hoe om vir hulle te bid. Satan hou daarvan om dinge soos alkohol, dwelms, woede, pornografie en ander vervalsings te gebruik om verhoudings te vernietig. Bid dus dat hulle die persoon sal word wat God in gedagte vir hulle het. ‘Hy sal roep, en Ek sal antwoord. In nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:15 NLV).

2) Kry hulp. Salomo het gesê: ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:12 NLV). As jy ondersteuning van ‘n groep of ‘n bemiddelaar nodig het om in te gryp, neem aksie – nou.

3) Beëindig die verhouding indien nodig. Dis nie jou werk om die ander persoon te verander nie. Dis ook nie jou mislukking as hulle nie verander wanneer hulle met God se liefde en die waarheid gekonfronteer word nie. Hier is ‘n belofte waarop jy kan staan: “…’Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV).

Sielskos: 1 Kon 17:1-7; 1 Kon 18:41-46; Mark 4:35-41

Jy kan hierdie reus oorwin

2022-11-26
1 Samuel 17:47 NLV

Om reuse soos verslawing, wrokkigheid, vrees, wellus, afguns, trots en woede te oorwin, moet jy hierdie drie Skrifgedeeltes verstaan:

1) ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Goliat is as baba gebore, maar hy het ‘n reus geword. Ons reuse is dikwels klein sondes wat ons miskyk en toelaat, totdat hulle ‘n lewe van hul eie aanneem en terugkom om by ons te kom spook. Soos jy egter begin om nee vir klein impulse te sê, sal jy die krag kry om dit vir groter impulse te sê.

2) ‘Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan’ (1 Samuel 17:48 NLV). Dawid het Goliat reg van voor in die gesig gestaar. Jy moet jou reus in die lig dwing en hom nie in jou lewe teruglaat nie. Stel grense! Indien nodig, maak jouself teenoor iemand wat jou kan versterk en aanmoedig, aanspreeklik. Bly uit die verkeerde geselskap uit. Bowenal, moenie God in die lig van jou probleem beskou nie, sien jou probleem in die lig van God.

3) ‘…Die oorlog is die Here s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!’ Jy is nie alleen in die geveg nie. God wil jou help om ou gewoontes te oorkom en nuwe gedrag te vestig. Wanneer jy jou bekeer, wat beteken om ‘n ommeswaai te maak en jouself voor te neem om saam met God te wandel, sal Hy jou die krag gee om die reus wat jy in die gesig staar, te oorwin. God het nog nooit ‘n stryd verloor nie en wanneer jy Hom nooi om by jou aan te sluit, sal jy wen.

Sielskos: 2 Kron 13-17; Joh 11:38-44; Ps 95; Spr 27:17-19