Rig jou gedagtes

2022-10-10
Kolossense 3:2 NLV

Om jou gedagtes te rig is soos om ‘n termostaat te stel; dit bepaal die klimaat waarin jy lewe. Rig dus jou gedagtes op God se Woord! In plaas daarvan om te probeer ophou om verkeerde gedagtes te dink – wat onmiddellik die tipe gedagtes oproep wat jy wil vermy – vul jou gedagtes met God se Woord. Jesus het vir sy dissipels gesê dat die Heilige Gees hulle aan alles wat Hy hulle geleer het, sou herinner (sien Johannes 14:26). Wanneer jy dus die Skrif in jou geheue liasseer, sal God se Gees jou help om die regte leêr te trek wanneer jy dit nodig kry.

Stel jou ‘n amateurvlieënier voor wat deur sy eerste storm navigeer. Hy kan geen landmerke sien waar om hy moet vlieg nie, want hulle is in ‘n miswolk gehul. Dan kom ‘n stem van die kontroleur in die toring egter deur wat sê: ‘Luister net na my en ek sal jou lei.’ Jesus het gesê: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).

Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).

Deur jou gedagtes op God se Woord te hou, sal jy vrede in enige situasie hê.

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21; Heb 11:8-16

Hoor, verstaan en ontvang

2022-10-09
Jakobus 1:19 NLV

Om ‘n goeie verhouding met iemand te hê, moet jy goed kan kommunikeer. Goeie kommunikasie word op twee dinge gebaseer: praat en luister. Stop en oorweeg ‘n paar van jou mees onlangse konflikte en probeer gedrag en houdings identifiseer wat daartoe mag bygedra het. Vrese. Onsekerhede. Jaloesie. Hardkoppigheid. Arrogansie. Gierigheid. Sonde. Rebelsheid. Onuitgedrukte of onvervulde verwagtinge. Onrealistiese verwagtinge. Ongedefinieerde rolle en verantwoordelikhede. Verskillende standaarde, oortuigings, filosofieë of sienings. Kompeterende begeertes. Oneffektiewe sisteme en prosesse. Magstryd. Teenstrydige doelwitte. Oortreding van grense (gesproke of onuitgesproke). Onvoldoende of yl hulpbronne (tyd, geld, ruimte). Taalhindernisse. Gebrek aan inligting. Gebrek aan begrip van die behoeftes van verskillende persoonlikhede. Swak verhoudingsvaardighede.

Jakobus skryf: ‘My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie.’ Hierdie Bybelvers is noodsaaklik vir goeie kommunikasie. Deur te luister, skep ons ‘n atmosfeer waar mense voel of hulle verstaan word en dat hulle sienings en gevoelens bekragtig word. Dit is die helfte van die stryd om enige konflik op te los.

Luister is egter nie passief nie! Dit verg aansienlike inspanning om te onderskei wat werklik gesê word of selfs onuitgesproke is. Daar is egter goeie nuus: As jy ernstig daaroor is, sal God jou help om ‘n beter luisteraar te word! Jesaja skryf: ‘Die oppermagtige Heer het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat. Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ‘n leerling betaam’ (Jesaja 50:4 NLV). Vra God om jou te help praat en luister.

Sielskos: Joël 2:23-32; Hand 2:1-21

Kan jy tereggewys word?

2022-10-08
2 Samuel 12:13 NLV

God het die profeet Natan gestuur om koning Dawid oor sy owerspel met Batseba te konfronteer. As koning, het Dawid die mag gehad om Natan ter dood te veroordeel. Hy het egter nie. Hy het homself nederig gemaak, teregwysing ontvang, berou gehad en is op sy troon en in God se guns herstel.

Vraag: Kan jy tereggewys word? As jy kan, is jou toekoms blink en jou potensiaal groot. Jy moet egter onderskeidingsvermoë aan die dag lê. Nie alle teregwysing is opbouend nie en hoef dus nie aanvaar te word nie. Iemand mag jou dalk probeer afbreek, jou selfvertroue probeer vernietig of jou probeer manipuleer om hulle manier van dink te aanvaar. Jy moet dit dus ‘n gewoonte maak om die beweegredes van die persoon wat jou teregwys, te analiseer.

Vra jouself die volgende vrae af: 1) Het hierdie persoon in die verlede ‘n opregte belangstelling in my persoonlike welstand en ontwikkeling getoon?
2) Wat bereik hy of sy persoonlik as ek doen wat hulle aanbeveel? Wat kry ek daaruit? Wat verloor ek?
3) Is hulle houding een van goedhartigheid, of voel dit of ek aangeval en verneder word? (Wees versigtig; moenie ‘n persoon se irritasie oor jou gedrag met ‘n persoonlike aanval verwar nie).
4) Nadat hulle my gekritiseer het, voel ek soos ‘n hopelose mislukking of het hulle geloof in my kapasiteit om te verander, gekommunikeer?
5) Is hulle toegewyd daaraan om deur hierdie veranderinge by my te staan?

Die Bybel sê: ‘Die wonde van iemand wat lief is vir jou is baie beter as die baie soene wat jou vyande jou wil gee’ (Spreuke 27:6 NLV). Aangesien God jou so liefhet dat Hy mense oor jou pad stuur om jou tereg te wys, ontvang hulle, omdat hulle jou beste belange op die hart dra.

Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Joh 1:43-51; Ps 29; Spr 22:26-29

Jy het genoegsame slaap nodig

2022-10-07
Spreuke 3:24 NLV

Hoe lyk jou slaapgewoontes? Gaan jy op ‘n sekere tyd bed toe en staan op ‘n sekere tyd op? Of laat jy toe dat gebeure, mense, spertye of ander omstandighede jou slaapskedule dikteer? As jy wys is, sal jy jouself genoeg tyd toelaat om af te skakel, sodat jy kan slaap wanneer jy in die bed klim.

Ons dink aan slaap as ‘n passiewe proses waar jy in die vergetelheid wegdryf en verskeie ure later uitgerus wakker word. Slaap is egter ‘n aktiewe proses. Metaboliese en ander herstellende prosesse vind tydens die verskillende vlakke van slaap plaas. As ons nie lank genoeg slaap vir ons sisteme om vernuwe te word nie, irriteer die kleinste dingetjies ons en is ons geneig om te ooreet. Die oortollige hongerpyne is ons liggaam se kreet vir die energie wat veronderstel was om deur ‘n goeie nag se slaap voorsien te word. Dawid het gesê: ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).

Dis moeilik om te slaap wanneer jy drukkende kwessies op die hart het. As jy dus ‘in vrede wil gaan lê en slaap,’ moet jy jou bekommernisse aan God oorgee en Hom vertrou om dit te hanteer. As jy nie in staat is om dit te doen nie, probeer die volgende: Kry ‘n klein houer met ‘n deksel, skryf neer wat jou pla, sit dit in die houer, sit die deksel op en plaas dan die houer in jou kas. Deur hierdie eenvoudige daad van geloof, sê jy: ‘Here, ek gee dit aan U oor. Wanneer ek more wakker word, sal U vir my die krag en die wysheid gee om dit te hanteer.’ Probeer dit; dit werk!

Sielskos: 1 Sam 16-17; Joh 1:29-42; Ps 92; Spr 22:24-25

Beveg jou vrese met God se Woord

2022-10-06
Psalm 56:4 NLV

Vrees en geloof is beide kragtige magte. Die een waaraan jy toegee, sal jou beheer. Hier is dus ‘n paar Skrifgedeeltes om jou te help om jou vrese te beveg: ‘…Wees sterk en vol moed… Moenie bang wees of moedeloos word… nie. Want die Here God, my God, is met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie…’ (1 Kronieke 28:20 NLV). ‘Die Here is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil…’ (Psalm 18:3 NLV). ‘in God stel ek my vertroue. Daarom sal ek nie bang wees nie! Wat kan ‘n gewone mens aan my doen?’ (Psalm 56:12 NLV). ‘Vir slegte tyding is hy nie bang nie; hy is gerus, hy vertrou op die Here’ (Psalm 112:7 NLV). ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my…’ (Psalm 23:4 NLV). ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV). ‘…Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie…’ (Romeine 8:38 NLV).

Beveg dus jou vrese met God se Woord!

Sielskos: 1 Sam 14-15; Joh 1:14-28; Ps 63; Spr 22:17-23

Die waarheid oor gee

2022-10-05
2 Korintiërs 9:10 NLV

Hier is wat die Bybel ons oor gee leer: 1) Jy kry altyd meer terug as wat jy gee. ‘God wat saad voorsien aan die saaier en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei.’ Wanneer Paulus hier oor saad praat, verwys hy na geld. Sommige van die geld wat God vir jou gee moet jy gebruik om aan jou eie behoeftes te voldoen, maar sommige daarvan is om die ‘vrugte van jou goedhartigheid,’ te laat groei. Wat beteken dit?

Paulus verduidelik: ‘…Hy het uitgedeel en gegee aan die armes; sy goedhartigheid bly vir altyd staan’ (vers 9 NLV). Met ander woorde, jy moet goedhartigheid teenoor diegene wat seer het bewys en vrygewig gee aan diegene wat nie in staat is om vir hulself te voorsien nie. Die Bybel sê waneer jy vir die armes gee, leen jy inderwaarheid aan die Here en Hy sal jou terugbetaal (sien Spreuke 19:17).

Kan jy jou indink die rente wat God betaal? Jesus het gesê: ‘As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle toe terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang’ (Lukas 6:38 NLV).

2) Jy moet gee, met die verwagting dat jy geseën sal word. Jy sê: ‘As ek meer ontvang, sal ek meer gee.’ Nee, jy span die wa voor die perd in. Dis hoeveel jy gee wat sal bepaal hoeveel jy ontvang. Breek dus deur jou hindernis van vrees en toets God. Hy sal jou nie teleurstel nie. Sodra jy sy seën ervaar het, sal jy op geen ander manier wil lewe nie.

Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16