2022-12-07
Psalm 118:2 NLV
Doen jouself ‘n guns – lees Psalm 118! 1) ‘In my nood het ek tot die Here gebid. Die Here het my geantwoord en my bevry’ (vers 5 NLV). Waarmee sukkel jy vandag? ‘n Destruktiewe gewoonte? ‘n Gevoel van waardeloosheid? God wil jou daarvan bevry. 2)
‘Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie…’ (vers 6 NLV). Jou toekoms rus nie in die hande van mense nie, maar in God; ‘n goeie God wat goeie planne vir jou het.
3) ‘Die Here is by my. Hy help my. Ek sal neersien op my haters’ (vers 7 NLV). Wanneer mense jou probeer afkraak, sal God jou ophef. Wanneer hulle van jou weerhou, sal Hy in al jou behoeftes voorsien.
4) ‘Ek sal nie sterf nie, maar lewe, en van die Here se werke vertel (vers 17 NLV). Ons almal sal eendag sterf; maar jy hoef nie te sterf voordat jou taak voltooi is en jy God verheerlik het nie.
5) ‘Die Here het my swaar gestraf, maar nie aan die dood oorgegee nie’ (vers 18 NLV). Korrigeer God jou? Verbly jouself; sy korreksie is nie verwerping nie. Dis beskerming teen toekomstige foute.
6) ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees’ (vers 24 NLV). Of gister nou ‘n triomf of ‘n tragedie was, God gee vir jou ‘n nuwe dag. Gryp dit aan! Verbly jouself daarin!
7) ‘Wees dankbaar teenoor die Here, want Hy is goed! Sy goedheid duur vir altyd!’ (vers 29 NLV). Jy mag dae sonder genoeg geld ervaar, maar jy sal nooit ‘n dag sonder God se genade gaan nie.
Hierdie sewe Skrifgedeeltes is vir jou, staan dus vandag daarop.
Sielskos: Jos 5:1-8:29; Joh 14:1-14; Ps 2; Spr 28:25-28
2022-12-06
Filippense 1:3 NLV
Paulus het dikwels diegene wat hom gehelp het, erken. ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God… omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra’ (verse 3-5 NLV). ‘Julle, Filippense… geen gemeente behalwe julle [het] my finansieel ondersteun nie. Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help’ (Filippense 4:15-16 NLV). Hy skryf aan die gelowiges in Tessalonika: ‘…dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sal sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter! Gevolglik vertel ons self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur’ (2 Tessalonisense 1:3-4 NLV).
Die skrywer Barbara Glanz vertel van ‘n man wat ‘n brief vir sy graad agt letterkunde-onderwyseres geskryf en die volgende antwoord ontvang het: ‘Jy sal nooit weet hoeveel jou brief vir my beteken het nie. Ek is 83 jaar oud en bly stoksielalleen. My vriende en familie het almal heengegaan. Ek het vir 50 jaar skoolgehou en jou brief is die eerste ‘dankie sê’ brief wat ek ooit ontvang het. Soms wonder ek wat ek met my lewe gedoen het. Ek sal jou brief oor en oor lees totdat die dag wat ek doodgaan.’ Ironies genoeg was sy die onderwyseres waaroor die studente die meeste by die skoolreünies gepraat het, maar niemand het haar ooit daarvan gesê nie.
Om waardering te wys kos so min in terme van tyd en geld, maar kan die wêreld vir iemand beteken. Teenoor wie moet jy vandag jou waardering bewys?
Sielskos: Jos 1-4; Joh 13:31-38; Ps 130; Spr 28:21-24
2022-12-05
Spreuke 23:7 AFR53
Elke familie het generasie-‘kwessies’ waarmee hulle sukkel. Dis dinge soos verslawing, misbruik, woede, wellus, vrees, ensovoorts wat ons ouers en grootouers aan ons oorgedra het. Dikwels sê ons: ‘Dit loop in my familie, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.’ Ja, daar is! Jy mag dalk nie iets aan jou familie se verlede kan doen nie, maar deur God se genade kan jy die toekoms vir jouself en jou kinders verander.
Die Bybel sê: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Let op die woorde: ‘één is met Christus,’. Jy kan nie self jou familie se disfunksie verander nie, maar in Christus kan jy die krag ontvang wat nodig is om in ‘n nuwe rigting te beweeg. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NKV).
Jy vra: ‘Hoe vernuwe ek my denkpatrone?’ Deur dit met die Skrif te deurweek! Net soos jy sweet en vuilheid van jou liggaam verwyder deur dit in water te week, so reinig en korrigeer die Skrif jou denke wanneer jy jou gedagtes daarin week. Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Let op jou gedagtes, want dit word jou woorde. Let op jou woorde, want dit word jou dade. Let op jou dade, want dit word jou gewoontes. Hou jou gewoontes dop, want dit word jou karakter. Hou jou karakter dop, want dit word jou lot.’
God het vir Gideon gesê: ‘…Breek jou pa se altaar vir Baäl af…’ (Rigters 6:25 NLV). In die plek daarvan het Gideon ‘n nuwe altaar vir die Here gebou en sy lewe en die van sy familie vir ewig verander. Deur jou gedagtes met God se Woord te programmeer, kan jy dieselfde doen!
Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:18-30;
Ps 65; Spr 28:17-20
2022-12-04
2 Korintiërs 10:5 NLV
Hoe sal jy jouself beskryf? Is jy van nature positief, of negatief? Word jou besluite deur geloof in God, of deur die vrees vir mislukking, verwerping of tekort gedryf? Voel jy goed oor jouself, of kraak jy jouself af en voel soos ‘n verloorder? Wat jou antwoord ook al mag wees, die volgende is seker: Die patrone en houdings wat jou lewe regeer is nie oornag gevorm nie – so moenie verwag om dit oornag te oorkom nie. Jy kan egter ‘n begin maak deur die volgende Skrifgedeelte te gehoorsaam: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge…’ (Kolossense 3:2 NLV).
Die Bybel verwys na die Christelike lewe as ‘n wandelpad. ‘…Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het’ (Efesiërs 4:1 AFR83). ‘Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie’ (2 Korintiërs 5:7 AFR53). ‘As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel’ (Galasiërs 5:25 AFR53). ‘…wandel in liefde…’ (Efesiërs 5:2 AFR53). Om te wandel is die stadigste vorm van beweging! God nooi jou nie uit om saam met Hom te vlieg nie, maar om saam met Hom te stap. Sit net een voet voor die ander en hou dag na dag aan loop.
Wanneer is ons die meeste geneig om te gly en te val? 1) Wanneer ons leer loop. 2) Wanneer ons in omstandighede is wat ons nie geskep het nie en waaroor ons geen beheer het nie, soos ys en sneeu. 3) Wanneer ons gedreineer, moeg en swak voel. 4) Wanneer ons agtelosig raak, nie ons oë oophou nie en ophou fokus. Jou uitdaging is tweevoudig: om die regte ingesteldheid te kry en dit dan te onderhou. As jy God getrou soek, sal Hy jou help om beide hierdie dinge suksesvol te doen.
Sielskos: 1 Kon 17:17-24; Mark 5:21-43; Joh 11:1-45
2022-12-03
Kolossense 3:2 NLV
Wat is tans jou grootste uitdaging? Om ‘n slegte gewoonte te verbreek, of ‘n nuwe een in plek te stel? Om ‘n nuwe besigheid te begin, of ‘n ou een weer reg te ruk? Om van ‘n slegte huwelik te herstel, of ‘n goeie een beter te maak? Om uit ‘n depressiewe gat te kom, of om te keer dat jy in een verval? Paulus gee ons twee kragtige sleutels: 1) Stel jou gedagtes in die regte rigting. 2) Hou jou gedagtes gestel in die regte rigting. Om jou gedagtes in die regte rigting te stel is die maklike deel, om dit in die regte rigting te hou verg daaglikse toewyding.
Enigiemand kan ‘n begin maak, maar min steek die wenstreep oor. ‘ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie’ (Hebreërs 12:2-3 NLV).
Raak jy as gevolg van jou gedagtes en emosies moeg en moedeloos? Wat is die dryfveer in jou lewe? Jou gevoelens? Jou impulse? Jou buie? Hier is twee lewensveranderende Skrifgedeeltes: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). ‘Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).
Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Joh 13:1-17; Ps 14; Spr 28:13-16
2022-12-02
Prediker 3:1 NLV
Wanneer God vir jou ‘n visie gee moet jy voorbereid wees om ‘n paar trane te stort, omdat elke visie teen ‘n prys kom. Die pad na oorwinning is vol toetse en beproewings. Niemand word daarvan kwytgeskeld nie. God het egter belowe dat daar ‘n oes sal wees: ‘Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak dra, sal sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra’ (Psalm 126:5-6 NLV).
Die Skrif leer ons twee dinge: 1) Daar is ‘n tyd om te huil. Dit is nie ‘n verskoning vir passiwiteit, of ‘n houding van swakheid wat jou tot trane reduseer omdat die lewe nie regverdig is en dinge moeilik is, nie. Nehemia is tot trane deur die puinhoop van Jerusalem gedryf. Toe het hy egter ‘n plan ontwikkel, ‘n span bymekaar gekry en dit herbou. Waaroor voel jy passievol? Wat dryf jou?
2) Daar is ‘n tyd om te oes. Alles in die lewe het ‘n rede en ‘n seisoen (sien Prediker 3:1-8). Wanneer jy die rede verstaan en die meeste uit die seisoen put, word jy ‘…soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd…’ (Psalm 1:3 NLV). Let die woorde: ‘op die regte tyd,’. Vrugte sal nie voor hul tyd groei nie. Dis hoekom jy onderskeid tussen jou lewe se veranderende seisoene moet tref en by hulle moet aanpas.
Dis veral waar wanneer dit oestyd is. Jy moet weet wanneer jy moet ophou huil en begin oes; anders sal jy die oes misloop. Trane is vir die saaier, maar vreugde is vir die maaier. Wanneer jou seisoen dus begin verander, oes jou lande met vreugde. Jy het jou ledegeld betaal; nou is dit tyd om dit wat God vir jou beloof het, te geniet.
Sielskos: 2 Kron 32-34; Joh 12:37-50; Ps 146; Spr 28:9-12