2022-10-16
2 Korintiërs 5:7 NLV
Jesus het gesê: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).
Die lewe hou aan om vir ons probleme te gee wat ons geloof toets. Daniël se sukses het van hom ‘n teiken gemaak. Omdat hulle geweet het dat hy gereeld bid, het sy vyande vir koning Darius oortuig dat alle aanbidding slegs teenoor hom as koning moet plaasvind, dus het die koning vir Daniël in die leeukuil laat gooi. God het egter die situasie verander. Die volgende oggend het Daniël uit die leeukuil gestap, sy vyande is daarin gegooi en die koning het aangekondig: ‘…die God van Daniël. Hy is die God wat lewe…’ (Daniël 6:27 NLV).
Sadrag, Mesag en Abednego het geweier om die koning se afgodsbeeld te aanbid. Selfs toe hulle met ‘n vlammende oond gedreig is as hulle nie voor die beeld buig nie, het hulle gesê: ‘Die God wat ons aanbid kán ons uit die vuur red… En selfs al red Hy ons nie… sal ons nie u gode vereer nie…’ (Daniël 3:17-18 NLV).
Dawid het geweier om die koning se wapenrusting te dra toe hy voor Goliat te staan gekom het. Hy het gesê: ‘…Ek is nie daaraan gewoond nie…’ (1 Samuel 17:39). Wat het hy dus wel saam met hom geneem? ‘…die Naam van die Here die Almagtige…’ (1 Samuel 17:45 NLV).
Die kans is goed dat jy jouself nooit in ‘n leeukuil, ‘n vlammende oond of voor ‘n reus sal bevind nie, maar sommige dae voel dit wel so. Wanneer jy egter aangeval word, moet jy, 1) bid en God se mag opeis, 2) in geloof wandel, en 3) in die ‘Naam van die Here die Almagtige’ gaan.
Sielskos: Jes 61:1-9; Luk 4:16-30
2022-10-15
Psalm 18:30 NLV
John Maxwell skryf: ‘Hoe reageer jy wanneer jy voor ‘n probleem te staan kom? Ignoreer jy dit en hoop dit gaan weg? Het jy in die verlede sulke slegte ervarings gehad toe jy probleme probeer oplos het dat jy net sommer tou opgooi? Of pak jy hulle gewillig aan? ‘n Mens ontwikkel die vermoë om probleme doeltreffend te hanteer deur ervaring te kry in die hantering en oorkoming van struikelblokke. Elke keer wanneer jy nog ‘n probleem oplos, raak jy meer geoefen daarmee. As jy egter nooit probeer, misluk en weer probeer nie, sal jy dit nooit goed leer doen nie.’
Die skrywer George Matthew Adams het gesê: ‘Wat jy dink, beteken meer as enigiets anders in jou lewe. Meer as wat jy verdien, meer as waar jy woon, meer as jou sosiale posisie en meer as wat enigiemand anders van jou mag dink.’ Die meeste van koning Dawid se probleme was vyande wat hom wou oorwin. Hy het egter vertroue in God gehad: ‘Met U loop ek ‘n leër storm; met my God spring ek oor ‘n muur (vers 30 NLV).
Doen die volgende om jou vaardighede in probleemoplossing te verbeter: 1) Vind die regte strategie. Soms vind ons dit moeilik om ‘n probleem op te los, omdat ons nie weet hoe om dit aan te pak nie. Probeer om die akroniem T.E.A.C.H. te gebruik: Time – neem die tyd wat nodig is om die ware kwessie te ontdek. Exposure – vind uit hoe ander soortgelyke probleme opgelos het. Assistance – moenie dit alles alleen probeer doen nie, laat ander mense toe om jou te help. Creativity – oorweeg verskeie oplossings. Hit it – voer die beste oplossing uit.
2) Omring jouself met probleemoplossers. ‘Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid’ (Spreuke 13:20 NLV).
Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 3:22-36; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18
2022-10-14
2 Korintiërs 4:9 NLV
Elke probleem waar voor jy in die lewe te staan kom, leer jou iets van jouself. Dit wys hoe jy dink en waarvan jy gemaak is. Mense reageer op probleme op drie maniere: 1) hulle weier om dit te aanvaar, 2) hulle aanvaar dit en verduur dit, of 3) hulle aanvaar dit en probeer om dinge te verbeter. Hoe reageer jy op probleme?
Paulus was ‘n probleemoplosser. Hy het geweet dat hy met God aan sy kant sou seëvier. ‘Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie. Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons word nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie’ (verse 7-9 NLV). Wat moet jy dus doen wanneer jy voor probleme te staan kom?
1) Verwag hulle. Aangesien probleme onvermydelik is, moet jy jouself geestelik en emosioneel daarvoor voorberei. As jy vir God se beste bid en Satan se ergste verwag, sal jy jouself in ‘n goeie posisie bevind om die probleme wat oor jou pad kom, op te los.
2) Sien die groter prentjie. Jy kan nie bekostig om deur emosie oorweldig te word nie. Jy kan ook nie bekostig om in die klein dingetjies verstrik te raak en dit wat belangrik is, uit die oog te verloor nie.
3) Hanteer een ding op ‘n slag. Richard Sloma het gesê: ‘Moet nooit al die probleme op een slag probeer oplos nie – gee een-een aan hulle aandag.’ As jy verskeie probleme het, maak seker dat jy die een waaraan jy werk heeltemal oplos, voor jy na die volgende een toe beweeg.
Sielskos: Ef 1:1-4:16; Joh 3:9-21; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14
2022-10-13
1 Korintiërs 13:5 NLV
Wanneer jy op dit wat jy het om te bied eerder as die behoeftes van ander mense fokus, kom hulle dit agter en verloor gou belangstelling. Jy kan selfs in ‘n poging om jou geloof te deel so verdiep raak in jou aanbieding en om ‘resultate te kry,’ dat jy die ander persoon koud laat.
In sy boek, Presenting to Win, wys Jerry Weissman uit dat wanneer mense kommunikeer, hulle te veel op die kenmerke van hul produk of diens fokus, in plaas daarvan om die vraag: ‘Kan jy my help?’ te beantwoord. Die sleutel, sê Weissman, is om op die voordele, nie die kenmerke nie, te fokus.
Hy skryf: “‘n Kenmerk is ‘n feit of eienskap van jou of jou maatskappy, die produkte wat jy verkoop of die idee wat jy voorlê. ‘n Voordeel, daarenteen, is ‘n feit of eienskap wat jou gehoor sal help. Wanneer jy mense wil oortuig, is dit nooit genoeg om die kenmerke van dit wat jy verkoop aan te bied nie; elke kenmerk moet in ‘n voordeel vertaal word. Waar ‘n kenmerk dalk irrelevant tot die behoeftes of belangstellings van jou gehoor mag wees, is ‘n voordeel, by definisie, altyd relevant.”
Om vir die ander persoon om te gee, moet altyd jou beweegrede en beginpunt wees. Paulus skryf: ‘Al sou ek enige taal op aarde of selfs in die hemel kon praat, maar ek kom die liefde kort, het ek ‘n galmende trom of ‘n klinkende simbaal geword… En al sou ek al my besittings vir die armes gee en selfs my liggaam opoffer sodat ek my daarop kon beroem, maar ek kom die liefde kort, sou dit my niks help nie’ (verse 1, 3 NLV).
Jy moet dus eerstens vir ander mense omgee.
Sielskos: 1 Sam 27-31; Joh 3:1-8; Ps 110; Spr 23:6-9
2022-10-12
Openbaring 21:5 NLV
Daar word gesê dat die Titanic as gevolg van goedkoop boute wat uitgeskiet het toe die skip die ysberg tref en swak beplanning gesink het. Hoe stewig is die boute in jou geloof? Versterk hulle daagliks met God se Woord, in-diepte gebed en versterkende gemeenskap.
Jesus het die tekens van die eindtye as volg beskryf: ‘Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd’ (Matteus 24:8 AFFR83), en die geboortepyne teken die aanvang van die finale drukking aan. ‘n Verloskundige sê: ‘Dit sal vir ‘n ruk baie seer wees, maar dit gaan beter word,’ en Jesus bied aan ons dieselfde versekering rakende die gebeure wat in die eindtyd gaan plaasvind. Ons bevind onsself in die laaste ure – net ‘n klein rukkie vanaf die geboorte van die nuwe tyd.
Johannes het gesê: ‘Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien; want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see het nie meer bestaan nie. Ek het ook… die nuwe Jerusalem… uit die hemel sien neerkom… soos ‘n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is. Ek het toe ‘n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God. Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het eenvoudig verbygegaan.’ Hy wat op die troon sit, het toe gesê: ‘Kyk, Ek maak alle dinge nuut…'” (Openbaring 21:1-5 NLV).
Jou doel is nie om in een stuk uit hierdie wêreld te gaan nie, maar om soveel mense as moontlik saam met jou hemel toe te neem.
Sielskos: 1 Sam 24-26; Joh 2:12-25; Ps 23; Spr 23:4-5
2022-10-11
1 Korintiërs 14:8 NLV
Maak nie saak hoe goed jou visie is nie, as jy nie iemand is wat mense wil volg nie, sal jou visie nooit realiseer nie. Wie jy is maak saak! Die belangrikste boodskap wat jy kan deel, is jouself. Hier is ses gedagtes oor goeie leierskap:
1) Vertroue verbind mense aan ‘n leier se visie. Vertroue laat mense die visie aangryp en help om met die visie vorentoe te beweeg.
2) Leierskap gaan nie net oor wat jy doen nie; dit gaan daaroor om ander mense te inspireer en te bemoedig.
3) Net omdat jy die leier is, beteken nie jy kan ander mense stoomroller nie! Abraham Lincoln het gesê: ‘Byna alle mans kan teëspoed verduur, maar as jy ‘n man se karakter wil toets, gee hom mag.’ Saam met mag kom die verantwoordelikheid om ander mense te dien, te ontwikkel en te bemagtig. Deur hulle te help groei, groei jyself.
4) Reëls sonder ‘n verhouding lei tot teëstand. Jy kan ‘n klomp reëls hê, maar as jy nie in mense belê en ‘n verhouding met hulle ontwikkel nie, sal hulle rebelleer.
5) Paulus sê: ‘En as die trompet nie ‘n helder klank laat hoor nie, watter soldaat sal vir die geveg gereedmaak?’ Lei dus met optimisme, entoesiasme en positiewe energie, en roei pessimisme en negatiwiteit uit. Die filosoof Nicholas Murray Butler het gesê: ‘Optimisme is noodsaaklik vir prestasie, en dit is ook die grondslag van moed en ware vooruitgang.’
6) Goeie leiers het nie al die antwoorde nie, maar hulle stel ‘n span saam wat die antwoorde het – of dit kan kry.
Sukses is ‘n proses, nie ‘n bestemming nie. Om sukses te behaal, moet jy op die mense en die proses, nie op die uitslag nie, fokus.
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Joh 2:1-11; Ps 131; Spr 23:1-3