2022-10-22
2 Timoteus 1:6 NLV
Ander mense mag dalk nie dink dat jy belangrik is nie, maar God doen. Sy opinie is die een wat die meeste tel. Onthou jy vir Dawid? Voor hy koning geword het, moes hy twee struikelblokke oorkom. Die eerste struikelblok was sy familie se onvermoë om sy potensiaal raak te sien. Toe Samuel, die profeet, vir ‘n koning onder Isai se seuns gesoek het, is Dawid nie eers oorweeg nie. Miskien omdat hy die jongste was, of omdat dit gelyk het of sy broers meer gekwalifiseerd was, of omdat sy pa die profeet wou probeer beïndruk. Die tweede struikelblok was Samuel se onvermoë om God se roeping op Dawid se lewe te herken. Toe Samuel die oudste broer, Eliab, wat ‘n generaal in die koning se leër was sien, het hy gesê: ‘…Dis sekerlik die Here se gesalfde!..’ (1 Samuel 16:6 NLV). God het egter vir Samuel – en die res van ons – met hierdie woorde tereggewys: ‘…Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (1 Samuel 16:7 NLV).
Dawid se probleem is ‘n algemene een. Baie van ons glo nie in onsself nie, omdat ons nie deur ons ouers erken en aangemoedig is nie. Miskien het jy die potensiaal om ‘n goeie musikant te wees, maar omdat niemand genoeg omgegee het om vir jou musieklesse te gee toe jy jonger was nie, het jy opgegee. Of jy mag dalk ‘n ontluikende entrepreneur wees wat vir jou ‘dwase idees’ oor hoe om besigheid te doen gekritiseer is, dus het jy die drome van jou jeug laat vaar.
Indien dit die geval is, is dit tyd om te begin bid dat God jou oë sal oopmaak en iemand in jou lewe sal plaas wat die vuur binne in jou sal bekragtig en aanblaas.
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 24:7
2022-10-21
Psalm 119:47 NLV
George Müller was ‘n man met groot geloof. Hy het duisende hawelose kinders in Engeland gered. Soms wanneer hulle rondom die tafel vir aandete bymekaar gekom het was daar niks om te eet nie, dus sou hy bid en God vir bonatuurlike voorsiening dank. Wanneer hy skaars klaar ‘Amen’ gesê het, het daar ‘n bakker met brood, ‘n groenteboer met groente of ‘n boer met melk aan sy deur geklop.
Hier volg ‘n inskrywing in sy dagboek, gedateer 9 Mei 1841: ‘Ek het met meer duidelikheid as ooit besef dat die primêre taak waaraan ek daagliks eerste my aandag moet wy, nie moet wees hoe baie ek die Here dien nie, maar hoe om my innerlike menswees te voed. Want ek kan probeer om die waarheid met die onbekeerdes te deel, ek kan probeer om gelowiges te bevoordeel, maar indien ek nie gelukkig in die Here is nie, en nie my innerlike menswees dag na dag voed en versterk nie, kan ek nie met die regte gesindheid dit alles doen nie. Voorheen het ek gebid nadat ek in die oggend aangetrek het. Nou sien ek dat die belangrikste ding wat ek moet doen, is om my oor te gee aan die lees van God se Woord en om daaroor te mediteer, sodat my hart vertroos, bemoedig, gewaarsku, bestraf en onderrig word; en dat my hart deur middel van die Woord van God, terwyl ek daaroor mediteer, in eksperimentele gemeenskap met die Here gebring kan word.’
Vir meer as veertig jaar het Müller in die krag van God geleef en wonderwerke gesien. Wat was sy geheim? Om elke dag tyd te neem om oor God se Woord te mediteer.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 24:5-6
2022-10-20
Deuteronomium 7:2 ABA
Die Amerikaanse skrywer Henry van Dyke sê: ‘Solank as wat gewoonte en roetine die lewenspatroon dikteer, sal nuwe dimensies van die siel nie na vore kom nie.’ Verandering verg nuwe gedrag, gedagtes, verhoudings en ‘n gewilligheid om ou denkpatrone te beveg. Dit beteken dat jy ‘n sterk verhouding met God moet hê!
Toe hulle die Beloofde Land binnegegaan het, het God vir sy mense gesê om hulle vyande te oorwin en te vernietig; andersins sou hul vyande hulle uiteindelik vernietig. Wanneer God dus vir jou sê om oorlog met jou slegte gewoontes te maak, moenie sê: ‘Almal doen dit,’ of: ‘Dis nie so ‘n groot probleem,’ nie. Enigiets wat jou verslaaf hou en jou verhoed om die vryheid te geniet wat Jesus vir jou op Golgota gekoop het, is ‘n baie groot probleem.
In plaas daarvan om teenstand te bied en verskonings te maak, bid: ‘Here, wys my die wortel van hierdie probleem en hoe om dit te hanteer. Ek is vandag gereed om positiewe veranderinge in my lewe te maak.’
Het jy al ooit opgelet dat wanneer jy ‘n bergtop-ervaring met God het, die Vyand altyd vir jou aan die voet van die berg wag? Nadat die dissipels alleen saam met Jesus op ‘n hoë berg was, is hulle deur ‘n man genader wie se seun in ‘n siklus van selfvernietiging vasgevang was waar hy dikwels in die vuur of water geval het (sien Matteus 17:15 NLV). Wanneer jy aanhoudend in dieselfde strikke trap, dieselfde foute maak, dieselfde soort verhoudings aanknoop of aan dieselfde gewoontes verslaaf raak, is dit tyd om jou probleem na Jesus toe te neem en Hom te vra om jou te help. Hy sal dit doen!
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 24:1-4
2022-10-19
Romeine 12:3 NLV
Dis maklik om aan negatiewe gedagtes en vrese oor hoe dinge gaan uitdraai toe te gee. Soos Jesus uitgewys het, lewe ons in ‘n ‘ongelowige en ontaarde’ wêreld (Matteus 17:17 NLV). Dit beteken dat jy voortdurend teen die pessimistiese houding wat deur die kultuur, die media, die onderwysstelsel, die werkplek – en soms jou eie vriende – uitgebeeld word, moet veg. Dis hoekom jy jou geloof daagliks op God se Woord moet voed. Jesus het gesê: ‘…Dít verseker Ek julle, as julle geloof selfs so klein soos ‘n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen…’ (Matteus 17:20 NLV).
Let op dat Jesus nie na ‘n berg verwys wat jy jare gelede teëgekom het nie. Hy verwys na ‘hierdie berg.’ Hy wil hê dat jy vandag jou geloof moet uitoefen! Hy het gesê: ‘…as julle geloof selfs so klein soos ‘n mosterdsaadjie was…[sal] niks vir julle onmoontlik wees nie’ (vers 20 NLV). ‘n Mosterdsaadjie is so klein dat dit tussen jou tande kan vassit. Jesus het egter gesê dat alhoewel dit ‘die kleinste van alle saadsoorte’ is, dit ‘n groot boom word waarin die voëls in sy takke kan kom nesmaak (sien Matteus 13:32 NLV).
Jy sê: ‘Ek het nie geloof nie.’ Ja, jy het. Paulus het gesê dat elkeen van ons ‘die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het,’ het. Wanneer hierdie geloof geaktiveer word, gebeur wonderwerke. Selfs al het jy net ‘n gram geloof oor, het jy dit wat jy nodig het om te seëvier. Geloof werk egter net wanneer dit die taal wat jy praat en die houding wat jy handhaaf, word. Die Vyand wil nie hê dat jy dit moet weet nie, want dan sal jy nie net dink aan dit wat plaasvind nie, maar begin dink aan dit wat moontlik is!
Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 23:29-35
2022-10-18
Maleagi 3:10 NLV
Pasop daarvoor om ‘n sin van geregtigheid te ontwikkel waar jy dink dat jou geld iets is wat jy op jou eie verdien het. Elke keer wat jy sukkel om vir God dit te gee waarop Hy volgens die Skrif geregtig is, is dit omdat jy meer geheg aan die gawe as die gewer geraak het.
Lees egter die volgende: ‘…Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in my tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (vers 10 NLV).
‘n Pastoor het ‘n brief van ‘n paartjie in sy gemeente gekry: “Ons was agter met ons huur en ons karpaaiemente. Ons was veertigduisend rand in die skuld, ons het geen kos in die yskas gehad nie en het pas met ‘n konstruksiebesigheid begin. Toe jy ons egter uitgedaag het om ons tiende te gee, het ons gedink: ‘Hoe kan ons gee wat ons nie het nie?’ Nietemin, het ons besluit om voort te gaan en God te eer deur Hom die eerste tiende van ons inkomste te gee. Die heel eerste week het ons ‘n kontrakteur ontmoet wat ons gevra het om ‘n huis te bou, met vele meer wat gevolg het. Nou het ons nie meer bevraagteken hoe ons ons verbintenis aan God sou nakom nie; om die waarheid te sê, ons het ons gawes verhoog! Jy kan egter nie meer as God gee nie. Deur ‘n reeks goddelik georkestreerde geleenthede het ons van huurders tot huiseienaars gegaan. Vandag geniet ons finansiële seën. En al gaan hierdie verhaal daaroor om God te vertrou, probeer ons by nabetragting steeds een vraag beantwoord: ‘Wat presies was dit wat ons opgeoffer het?'”
Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 23:22-28
2022-10-17
Job 12:12 NLV
‘n Bejaarde dame het gesê: ‘Een voordeel van ‘n lang lewe is om dit wat ek geleer het, te kan deel. Laat my toe om drie geheime te deel wat jou lewe kan verbeter.’ Toe het sy baie goeie raad aangebied:
1) ‘Tyd is kosbaar, moenie dit mors nie. Nadat my man oorlede is, het ek by vriende gebly. Een aand het hulle met mekaar begin stry. Ek weet argumente vind plaas; ek en my man het self ‘n hele paar gehad. Op daardie oomblik, het ek egter soos nooit tevore nie verstaan dat die tyd wat ons saam met mekaar het, kosbaar is. Moenie dit mors om oor dinge te stry wat nie sal saak maak wanneer jou geliefde nie meer daar is nie. Doen alles wat jy kan om in harmonie te leef en betoon liefde aan mekaar. Hoekom? Omdat dit nie saak maak hoeveel tyd julle saam het nie, dis nooit genoeg nie.
2) Maak goeie herinneringe bymekaar. Wanneer ek terugkyk, dank ek God vir onvergeetlike oomblikke. Die dag wat my man oorlede is het ons oudergewoonte mekaar die middag totsiens gesoen. Die aand was hy oorlede. Ek is altyd bly oor daardie finale soen. Skep dus herinneringe en nie oomblikke waaroor jy later spyt gaan wees nie.
3) Dis nie wat gebeur wat saak maak nie, maar hoe jy daarop reageer. Elke dag bring nuwe uitdagings wat jou liefde en voornemens gaan toets, mee. Jy het egter deur Christus die krag om elke toets ‘n geleentheid vir groei te maak. Die lewe is vol skynbaar onaangename gebeure. Probeer om hulle op so ‘n manier te hanteer dat wanneer jy oud is, jy daarop sal kan terugkyk en sê: ‘Dankie Here, vir daardie ervaring; dit het my help groei.’
Dis hoe mens wys en wel leef!
Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21