2022-12-13
Spreuke 10:32 NLV
Hoe voel jy wanneer iemand anders jou probeer afkraak? Moet dit dan nie aan ander mense doen nie! ‘Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde ontstel mense’ (Spreuke 15:4 NLV). Jy kan iemand met wat jy sê verpletter, wees dus versigtig. Sommige van die mense wat jy elke dag ontmoet, het ‘n emosionele opheffing nodig, moedig hulle dus aan. ‘Die regverdige weet wat die gepaste dinge is om te sê. Wat die goddelose sê, bring moeilikheid’ (Spreuke 10:32 NLV).
Moenie die tipe persoon wees wat toeslaan op iemand anders se swakpunt nie. Dalk doen jy dit grappenderwys, maar jy doen dit en jy geniet dit om dit te doen. In ‘n strokiesprent, praat Charlie Brown oor die foon met ‘n meisie wat sê: ‘Raai waarvoor het ek in aanmerking gekom? Om as die Mei-koningin by my skool gekroon te word.’ Charlie Brown sê: ‘Dis interessant. Lucy word altyd by ons skool daarvoor gekies.’ Die meisie op die foon antwoord: ‘Jou skool se standaarde is nogal laag Chuck, nie waar nie?’ Nadat Charlie Brown die foon neergesit het, kyk hy vir Lucy en sê: ‘Sy sê geluk!’ Dis nou diplomaties! Dis ook ondersteunend.
Hoe ondersteunend is jy? As God jou ‘n rand gegee het vir elke vriendelike woord wat jy gesê het en ‘n rand weggeneem het vir elke nare woord uit jou mond, sou jy ryk of arm gewees het? Toe die broers wat Josef verraai het voor hom in die farao se paleis gekniel het, het hy die mag oor lewe of dood oor hulle gehad. Hy het hulle egter vergewe, was genadig teenoor hulle en het belowe om vir hulle te sorg. Ondersteunende woorde kan ‘n brug in ‘n gespanne verhouding bou. Die woord vir jou vandag is dus – bou ander mense op.
Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:1-11; Ps 150; Spr 29:22-27
2022-12-12
Filippense 2:4 NLV
Dikwels in die huwelik is ons onbewus van ons maat se behoeftes. Ons word gevoelloos. Ons hou op luister. Ons is onbewus van die druk waaronder hulle verkeer. Eenvoudig gestel, is die wortel van baie huweliksprobleme ‘n gebrek aan sensitiwiteit.
Elke mens wat jy teëkom het goedhartigheid nodig. Ons vind ‘n wonderlike voorbeeld van sensitiwiteit in koning Dawid se lewe. Dawid se vriend, Jonatan – Saul se seun – is vermoor. Veilig op die troon al vir etlike jare, het Dawid ‘n seldsame versoek gerig. Hy het gevra of daar enigiemand van Saul se familie oor was wat hy kon help. Hy het Saul se kleinseun – Jonatan se seun – Mefiboset, wat kreupel aan beide voete was, gevind. Toe Dawid hom ontbied het, het Mefiboset seker gedink: ‘Ek gaan vermoor word, omdat ek ‘n lid van die vyand se familie, die voormalige vorstehuis, is.’
Let egter Dawid se woorde op: ‘…Moenie bang wees nie! Ek sal aan jou goeddoen ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet’ (2 Samuel 9:7 NLV). Mefiboset se reaksie is interessant: ‘…Wat is u dienaar dat u so goed is vir ‘n dooie hond soos ek?..’ (vers 8 NLV). Hy het soos ‘n hond gevoel en het verwag om soos een behandel te word. Die punt wat jy egter moet insien is die volgende: Dawid het die tyd geneem, moeite gedoen en was sensitief teenoor Mefiboset se behoeftes.
Een van die gevare van sukses is dat die druk wat daarmee saamgaan, jou onsensitief teenoor ander kan maak. Die vraag is: Teenoor wie moet jy vandag meer sensitief wees?
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 15:18-27; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21
2022-12-11
Kolossense 3:12 NLV
Wanneer jy in die oggend opstaan, moet jy jouself nie net fisies nie, maar ook geestelik en emosioneel aantrek. Jy moet vir jouself vra: ‘Watter tipe houding gaan ek vandag dra? Sal ek oorheersend wees of saamwerk? Positief of negatief? Bemoedigend of krities? Selfsugtig of dienend?’ Jy sê: ‘Maar wanneer ek vriendelik is, maak mense misbruik van my.’ Ja, soms sal dit gebeur.
Ten spyte van die risiko’s, is daar egter twee redes om vriendelik te wees: 1) ‘Dit is mos [God se] onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het…’ (Efesiërs 2:8 NLV). Genade en vriendelikheid loop altyd hand aan hand! Die digter Robert Burns het gesê dat die vriendelike hart die meeste na God aard.
2) Omdat jy wil hê dat mense vriendelik teenoor jou moet wees en jou goed moet behandel. ‘Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen…’ (Matteus 7:12 NLV). As jy ongeskik is, sal mense ongeskik teenoor jou wees. As jy egter vriendelik is, sal die meeste mense op dieselfde manier reageer. ‘Iemand wat hom beywer vir reg en liefde, ervaar ‘n vol lewe, geregtigheid en eer’ (Spreuke 21:21 NLV).
Hier is nog ‘n rede om vriendelik te wees: “‘n Mens wat vrygewig is, baat self daarby. ‘n Wrede mens vernietig homself” (Spreuke 11:17 NLV). Wanneer jy dus vriendelik teenoor ander mense is, doen jy jouself eintlik ‘n guns. Kom ons lees dit weer: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld’ (Kolossense 3:12 NLV).
Gaan dus uit en probeer om een hele dag so te lewe.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3
2022-12-10
Filippense 4:19 NLV
God het belowe om aan jou behoeftes te voldoen, nie aan elke gier nie. Wanneer jy skuld maak om dinge te koop wat jy nie moet nie, moet jy nie van Hom verwag om jou daaruit te red nie. Geen verantwoordelike ouer sal dit doen nie en God is ‘n verantwoordelike ouer. Hy gee vir jou keuses en wys die nagevolge aan jou uit. Hy het vir Adam en Eva gesê om nie die verbode vrugte te eet nie. Toe het Satan verbygekom en gesê: ‘God bedoel dit nie regtig nie, jy kan doen wat jy wil en niks slegs sal gebeur nie.’ Dis tyd vir jou om uit skuld te kom, nie om jouself dieper daarin te grawe nie. Die Bybel sê vir jou hoe om dit te doen.
1) Moenie gierig vir die dinge van hierdie lewe wees nie, want: ‘…julle [moet] die volgende wêreldse dinge afsterf …gierigheid, wat van geld ‘n god maak’ (Kolossense 3:5 NLV). In plaas daarvan om die dinge wat jy nie het nie te begeer, geniet die dinge wat jy het.
2) As jy nie jou tiende gee nie, begin nou! Jy sal van die wêreld se wankelende ekonomie na God se mislukking-veilige ekonomie oorskakel. Wanneer jy jou tiende gee, beloof Hy om jou belange te beskerm en jou te seën. ‘…Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (sien Maleagi 3:8-12 NLV).
3) Voor jy gaan inkopies doen, probeer bid. Vra God wat jy ‘nodig’ het en wag dan vir Hom om te reageer.
4) Begin om van jou besittings weg te gee. ‘Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer… Mense wat ‘n ander iets gun, het self altyd oorvloed…’ (Spreuke 11:24-25 NLV).
Gehoorsaam God. Wees geduldig en kyk wat gebeur.
Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:5-17; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15
2022-12-09
Romeine 12:3 NLV
Jy kan nie terugsit, niks doen en glo dat God alles vir jou sal doen nie. Jy het ‘n rol om te speel. Paulus sê dat God vir elkeen van ons ‘geestelike toerusting’ gegee het. Judas sê dat jy geestelik ontwikkel deur jouself ‘…op te bou op die fondament van die allerheiligste geloof…’ (Judas vers 20 NLV). Dis in die strydperke van die lewe waar jy ontdek of jy geloof gekoester of verwaarloos het.
In die Bybelse tyd het ‘n Romeinse soldaat se skild hom van sy kop tot by sy tone beskerm. Dit was van yster gemaak, met dik lae materiaal oorgetrek, en hy het dit in water geweek voordat hy die stryd betree het. Gevolglik is die vlammende pyle van die vyand geblus sodra dit daarmee kontak gemaak het. Nou verstaan jy wat Paulus bedoel het met: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (Efesiërs 6:16 NLV).
Satan se pyle kan nie jou hart binnedring wanneer dit suiwer, deurweek met die Skrif en versterk deur geloof is nie. Dis hoekom Jesus vir Petrus gesê het: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (Lukas 22:31-32 NLV). Dis jou geloof wat aangeval word! Dis jou geloof wat gevoed moet word! Dis jou geloof wat jou in die lewe se strydperke onderhou!
Jesus het vir ons gesê: ‘…Julle moet geloof hê in God’ (Markus 11:22 NLV). Dis die tyd wat jy met die Skrif en in gebed met God bestee, wat jou geloof versterk om die lewe se strydperke te oorwin.
Sielskos: Jos 11-13; Joh 14:26-15:4; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10
2022-12-08
Jeremia 31:26 NLV
Soms is die mees ‘geestelike’ ding wat jy kan doen om vroeg bed toe te gaan en verfris wakker te word, sodat jy gereed is om God se doelwitte vir die dag te vervul. Wanneer jou battery konstant laag is, word dit in jou houding, jou verhoudings, jou optrede en jou gesondheid, weerspieël.
Dis hoekom die Bybel oor die belangrikheid van slaap praat:
1) ‘Tevergeefs werk jy so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
2) ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).
Slaap is ‘n vertrouensdaad: Wanneer jy gaan slaap, erken jy dat die wêreld in God se hande, nie joune nie, is. Wanneer jy môreoggend wakker word, net soos God vir Israel vars manna gegee het, sal Hy vir jou gee wat jy vir die dag nodig het. Jeremia het gesê: ‘Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.’
Het jy al ooit probeer bid as jy nie genoeg geslaap het nie? Dis moeilik. Voor Elia in staat was om langdurige tye in gebed deur te bring, het die engel van die Here hom gedwing om nie net een nie, maar twee lang slapies te vat. Kontrasteer dit met die dissipels in Getsemane wat nie kon bid nie, omdat hulle aanhoudend aan die slaap geraak het. Dis moeilik om soos Jesus te dink, te voel en op te tree wanneer jy slaap kort. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5