Bou vandag ander mense op

2022-12-13
Spreuke 10:32 NLV

Hoe voel jy wanneer iemand anders jou probeer afkraak? Moet dit dan nie aan ander mense doen nie! ‘Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde ontstel mense’ (Spreuke 15:4 NLV). Jy kan iemand met wat jy sê verpletter, wees dus versigtig. Sommige van die mense wat jy elke dag ontmoet, het ‘n emosionele opheffing nodig, moedig hulle dus aan. ‘Die regverdige weet wat die gepaste dinge is om te sê. Wat die goddelose sê, bring moeilikheid’ (Spreuke 10:32 NLV).

Moenie die tipe persoon wees wat toeslaan op iemand anders se swakpunt nie. Dalk doen jy dit grappenderwys, maar jy doen dit en jy geniet dit om dit te doen. In ‘n strokiesprent, praat Charlie Brown oor die foon met ‘n meisie wat sê: ‘Raai waarvoor het ek in aanmerking gekom? Om as die Mei-koningin by my skool gekroon te word.’ Charlie Brown sê: ‘Dis interessant. Lucy word altyd by ons skool daarvoor gekies.’ Die meisie op die foon antwoord: ‘Jou skool se standaarde is nogal laag Chuck, nie waar nie?’ Nadat Charlie Brown die foon neergesit het, kyk hy vir Lucy en sê: ‘Sy sê geluk!’ Dis nou diplomaties! Dis ook ondersteunend.

Hoe ondersteunend is jy? As God jou ‘n rand gegee het vir elke vriendelike woord wat jy gesê het en ‘n rand weggeneem het vir elke nare woord uit jou mond, sou jy ryk of arm gewees het? Toe die broers wat Josef verraai het voor hom in die farao se paleis gekniel het, het hy die mag oor lewe of dood oor hulle gehad. Hy het hulle egter vergewe, was genadig teenoor hulle en het belowe om vir hulle te sorg. Ondersteunende woorde kan ‘n brug in ‘n gespanne verhouding bou. Die woord vir jou vandag is dus – bou ander mense op.

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:1-11; Ps 150; Spr 29:22-27