Onmiddellike bevrediging lei tot langtermyn ellende
2022-12-10Filippense 4:19 NLV
God het belowe om aan jou behoeftes te voldoen, nie aan elke gier nie. Wanneer jy skuld maak om dinge te koop wat jy nie moet nie, moet jy nie van Hom verwag om jou daaruit te red nie. Geen verantwoordelike ouer sal dit doen nie en God is ‘n verantwoordelike ouer. Hy gee vir jou keuses en wys die nagevolge aan jou uit. Hy het vir Adam en Eva gesê om nie die verbode vrugte te eet nie. Toe het Satan verbygekom en gesê: ‘God bedoel dit nie regtig nie, jy kan doen wat jy wil en niks slegs sal gebeur nie.’ Dis tyd vir jou om uit skuld te kom, nie om jouself dieper daarin te grawe nie. Die Bybel sê vir jou hoe om dit te doen.
1) Moenie gierig vir die dinge van hierdie lewe wees nie, want: ‘…julle [moet] die volgende wêreldse dinge afsterf …gierigheid, wat van geld ‘n god maak’ (Kolossense 3:5 NLV). In plaas daarvan om die dinge wat jy nie het nie te begeer, geniet die dinge wat jy het.
2) As jy nie jou tiende gee nie, begin nou! Jy sal van die wêreld se wankelende ekonomie na God se mislukking-veilige ekonomie oorskakel. Wanneer jy jou tiende gee, beloof Hy om jou belange te beskerm en jou te seën. ‘…Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (sien Maleagi 3:8-12 NLV).
3) Voor jy gaan inkopies doen, probeer bid. Vra God wat jy ‘nodig’ het en wag dan vir Hom om te reageer.
4) Begin om van jou besittings weg te gee. ‘Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer… Mense wat ‘n ander iets gun, het self altyd oorvloed…’ (Spreuke 11:24-25 NLV).
Gehoorsaam God. Wees geduldig en kyk wat gebeur.
Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:5-17; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15