“Daar is God”

2022-12-19
Romeine 8:32 ABA

Hou jy daarvan om Skriftuurlike beloftes vir uitdagende tye bymekaar te maak? Wanneer jou versameling onvoldoende lyk, dink jy: ‘Ek het nog net nie die regte belofte gevind nie’? Om die belofte op te eis sonder om die algenoegsaamheid van die Een wat die beloftes maak te verstaan, kan jou teleurstel. Omdat daar geen gebrek in God is nie, is Hy al wat jy nodig het. Hy is al wat jy ooit nodig sal hê! Die Bybel sê Hy kan ‘…oneindig meer… doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV).

Op soek na verligting gedurende ‘n moeilike tyd in haar lewe, het die skrywer Hannah Whitall Smith ‘n gerespekteerde Bybelonderwyser besoek in die hoop om ‘n antwoord te vind. Nadat hy aandagtig geluister het, het die onderwyser vir haar gesê: ‘Ja, alles wat jy sê mag dalk baie waar wees, maar dan, ten spyte van dit alles, daar is God.’ Gefrustreerd het Hannah geantwoord: ‘Jy het sekerlik nie begryp hoe ernstig my moeilikhede is nie.’ ‘Ja, ek het, maar dan, soos ek vir jou gesê het, daar is God.’ Verskeie teleurstellende besoeke later, nadat sy dieselfde reaksie gekry het, het dit uiteindelik by haar ingesink. Sy het besef dat sy die antwoord wat sy nodig gehad het, ontvang het; God alleenlik was genoeg vir al haar behoeftes!

Sy skryf: ‘Die algenoegsaamheid van God behoort vir ons te wees soos die algenoegsaamheid van ‘n moeder teenoor haar kind. Haar teenwoordigheid en liefde laat alle vrese verdwyn. Sy hoef nie enige beloftes te maak of verduidelikings te gee nie; sy alleen is al wat die kind nodig het.’ Paulus herinner jou: ‘…Alles behoort aan julle! Maar julle behoort weer aan Christus, en Christus aan God’ (1 Korintiërs 3:22-23 NLV). Jy sal dit wat jy nodig het ontvang, omdat jy sy verloste kind is.

Sielskos: Neh 5-7; Joh 18:1-11; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23

Alles wat jy ooit sal nodig hê

2022-12-18
Psalm 62:9 NLV

Die lewe kan oorweldigend voel wanneer jy vir verband- en huurpaaiemente, mediese rekeninge, klere vir die familie, toenemende kos- en petroluitgawes, skoolgelde en boonop nog voorsiening vir jou pensioen, verantwoordelik is! Die druk is nog groter as jy werkloos is. Na wie toe kan jy draai? Toe Dawid deur vyande omring was, het hy na God toe gedraai: ‘Net by God kan ek rustig wag, want van Hom kom al my hoop. Net Hy is my rots en my redding, my vesting waar ek stewig staan’ (Psalm 62:6-7 NLV).

Waar lê jou verwagting? In die hoop op ‘n beter ekonomie of arbeidsmark? Op die belofte van beter tye wat gaan kom? Dawid se hoop was meer seker: Hy het verwag dat die antwoord in die onveranderende karakter en getrouheid van God gevind kan word.

Wanneer ons angstig raak, fokus ons op ons vrese, voel onvoldoende en raak wanhopig. Om bewus te wees van jou behoeftes is verantwoordelik, maar om deur hulle oorweldig te word is ‘n bewys dat jy op die verkeerde plek na antwoorde soek. George MacDonald het gesê: ‘Ons beskou God as ons laaste en swakste hulpbron. Ons gaan net na Hom toe wanneer ons nêrens anders het om heen te gaan nie. Eers dan leer ons dat die storms van die lewe ons nie op die rotse gedryf het nie, maar na die gewenste hawe toe.’

Soos Dawid gesê het: ‘Net by God kan ek rustig wag, want van Hom kom al my hoop…’ Net by Hom, want God is jou voldoende bron. Omdat Hy sy Seun aan ons gegee het, het jy al die bewyse wat jy nodig het dat Hy ook ‘…alle ander goeie dinge aan ons sal skenk…’ (Romeine 8:32 NLV).

Sielskos: Ps 103:8-18; Joh 3:16-18; Hand 2:38-41

Wie gee jou raad? (2)

2022-12-17
Spreuke 15:22 NLV

‘n Goeie raadgewer doen drie dinge: hulle neem jou waar, onderrig jou en motiveer jou. Aan die begin mag die gedagte aan iemand wat jou evalueer intimiderend wees. Dink egter so daaraan; mense hou jou in elk geval dop. Hier is ‘n lys van areas waar jy dit mag oorweeg om ‘n raadgewer uit te nooi om jou te evalueer: geestelike groei, persoonlike dissipline, familieverhoudings, besluitneming, die hantering van finansies, konflikoplossing, om die regte mense te kies, om verkeerde gewoontes te verbreek en regte gewoontes daar te stel, doelwitstelling en toekomsbeplanning.

As jy ernstig daaroor is om sukses te behaal, kyk uit vir ‘n omgewing waar jy nie net ‘n salaris sal verdien nie, maar ook gementor sal word. Aan die begin is wat jy leer belangriker as wat jy verdien, omdat dit wat jy vroeg leer dit wat jy later verdien, sal bepaal. Dit wat jy nie weet nie, kan jou seermaak en ‘n demper op jou potensiaal plaas. Om deure van evaluasie oop te maak is iets wat jy jouself en diegene wat op jou staatmaak, skuld.

Moet dit ook nie by jou laat eindig nie. Gee dit wat aan jou gegee is, weer vir iemand anders aan. Jesus het gesê: ‘…Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet’ (Matteus 10:8 AFR83). ‘Maar ek is te jonk, niemand gaan my ernstig opneem nie,’ sê jy. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ‘n voorbeeld vir alle gelowiges…’ (1 Timoteus 4:12 NLV). Dit is nie jou verantwoordelikheid om alles te weet nie; jy is slegs verantwoordelik daarvoor om dit wat jy wel weet, met ander te deel. Vra dus vir God vir ‘n goeie raadgewer en word ook een vir iemand anders.

Sielskos: Neh 1-4; Joh 17:13-26; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19

Wie gee jou raad? (1)

2022-12-16
Spreuke 13:10 NLV

Om in die lewe te wen, moet jy lewenslank ‘n leerder wees. Om te leer verg onderdanigheid; ‘n karaktereienskap wat sommige van ons dink nie van toepassing op ons is nie. Ons dink dat onderdanigheid net vir die mense wat gelei moet word, toepaslik is. Dis veral waar in ons jonger jare wanneer ons seker is dat ons alles weet en elke geleentheid gebruik om dit te bewys. Om na ‘n goeie raadgewer uit te reik, verg nederigheid.

Die waarheid is dat indien jy nie onderrigbaar is nie, is jou toekoms reeds besluit! Hoe meer jy dink jy weet, hoe minder geneig is jy om jouself onder die invloed van diegene wat waarlik weet en jou kan help, te plaas. Dis veral waar as jy jouself as meer bekwaam, passievol en talentvol as die ander mense rondom jou, ag.

Wyse mense soek altyd raad. As jy wys is, sal jy jou beperkinge erken; slegs ‘n dwaas glo dat hy of sy geen swakpunte het nie. Net die naïewe is dwaas genoeg om met die veronderstelling te lewe dat hulle al die regte besluite sonder goeie insette kan maak. Hulle kan egter nie.

Hier is drie Skrifgedeeltes uit die boek Spreuke wat jy vandag oor moet nadink:
1) ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV).
2) ‘Sonder beraadslaging loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers’ (Spreuke 15:22 NLV).
3) ‘Luister na raad. Wees bereid om tereggewys te word sodat jy uiteindelik daardeur wysheid kan hê’ (Spreuke 19:20 NLV).

Dis nie net wat jou raadgewer weet nie, maar ook wat hulle sien wat hulle waardevol maak. Hulle is ‘n ekstra paar oë en ore. Hoekom sal jy sonder hulle wil lewe?

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:1-12; Ps 105:16-22;
Spr 30:10-14

Vlug, veg, of vergewe

2022-12-15
Johannes 13:1 NLV

Ons hanteer ons verhoudingsprobleme op een van drie maniere: vlug, veg, of vergewe. Sommige kies om te vlug. Hulle verlaat die verhouding en begin êrens anders oor, alhoewel hulle dikwels verras is wanneer dieselfde kwessies weer kop uitsteek. Ander mense veg. Gevolglik word hulle verhoudings gevegsones en stres word ‘n lewenswyse.

As jy wys is, sal jy Christus se manier kies: ‘…Jesus was lief vir sy eie mense… Hy het hulle enduit liefgehad.’ Vir meer as drie jaar het Jesus dieselfde span gehad. Hy het dieselfde twaalf of so gesigte rondom die tafel gesien. Hoe het Hy dus so toegewyd aan sy dissipels gebly? Was dit moeilik vir Jesus om Petrus lief te hê, met die wete dat hy Hom eendag sou verraai? Was dit moeilik om Tomas te vertrou, met die wete dat hy eendag sy opstanding sou bevraagteken? Hoe het Jesus die drang weerstaan om ‘n nuwe groep volgelinge te werf?

Johannes wou een vyand vernietig en Petrus het die oor van ‘n ander een afgesny. Net dae voor Jesus se dood, het sy dissipels baklei oor wie van hulle die beste was! Hoe was Hy in staat om mense lief te hê, as dit moeilik was om van hulle te hou?

Hier is die antwoord: Jesus het hulle nie aan hulle voorkoms, IK, talente, besittings of persoonlikhede gemeet nie; nee, Hy het hulle aan hul potensiaal gemeet. Op die ou einde het hulle verander en aan sy verwagtinge voldoen. Nie in alle dinge of die hele tyd nie. Jesus het hulle egter vergewe en hulle geleer dat liefde ‘n verbintenis is wat ons eers met onsself, en dan met ander mense sluit.

Sielskos: Kol 1-2; Joh 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9

Glo in wat jy doen

2022-12-14
Daniël 1:4 DB

Toe Daniël in Babel aangekom het, was hy ‘n slaaf. Hy het egter die boonste vlak as gevolg van die volgende kwalifikasies bereik: ‘Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis.’ As jy in enige werk bevordering wil kry, moet jy jouself eers bewys. Die Bybel sê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV). Tensy jy glo in wat jy doen, sal jy jouself nie ten volle daaraan oorgee nie; dus het jy dan geen reg om te verwag om sukses te behaal nie.

Het jy al ooit in ‘n vertrek ingestap en liefde, energie en opwinding gevoel? Jou gedagtes het ‘n teenwoordigheid; hulle is soos getye wat deur die lug beweeg, in staat om mense na jou toe aan te trek of weg te dryf. Jou houding word altyd aangevoel. Dis hoekom jy moet glo in wat jy doen om sukses te behaal. As jy nie doen nie – bid en vra dat God jou iewers anders plaas waaraan jy jou hele hart kan wy.

Jesus het geheel en al in sy produk geglo. Hy het vir die vrou by die put gesê: ‘…Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word…’ (Johannes 4:13-14 NLV). Jesus het tyd in gebed deurgebring om sodoende sy begrip van sy doel te vernuwe. Die woord vir jou vandag is dus – bid en glo in wat jy doen!

Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:12-18; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4