2022-10-28
1 Johannes 2:12 NLV
Johannes sê: ‘Ek skryf aan julle, kinders: Julle sondes is vergewe op grond van wat Jesus vir ons gedoen het’ (vers 12 NLV). Wanneer jy wedergebore word, is jou enigste wete dat jou sondes vergewe is en dat jy in die regte posisie voor God is. Jy het egter nog baie om te leer. Die Griekse term vir ‘kinders’ verwys na kleuters. Kleuters hou aan struikel en val. Totdat hulle leer loop, het hulle iemand nodig om hulle op te tel en gerus te stel dat om te val nie beteken dat hulle nooit sal loop of dat hulle nie deel van die familie is nie.
Dis belangrik dat jy twee dinge in jou geestelike kindertyd verstaan: die verskil tussen jou vlak van groei en jou posisie voor God. Moet hulle nie met mekaar verwar nie! Jou vertroue in die voltooide werk van Christus plaas jou in die regte posisie voor God as sy aanvaarde, verloste kind. As jy dit vergeet, sal die duiwel jou elke keer wat jy val aan jou verlossing laat twyfel.
Wanneer jy sondig, beteken dit nie dat jou posisie voor God verander nie; dit beteken dat jou geestelike groei werk nodig het. Die vergifnis wat jy by die wedergeboorte ontvang, is ‘n geregtelike handeling, wat jou ‘n lid van God se familie maak. Die vergifnis wat jy egter daagliks ontvang, is ‘n verhoudingsdaad. Wanneer jy byvoorbeeld die verkeerde syfers op jou sakrekenaar druk, wat doen jy? Jy wis jou fout uit en begin die som weer maak. Dis wat die bloed van Jesus doen. Bekering laat jou toe om sonde te oorkom deur God se vergifnis te aktiveer, sodat die vloei van sy genade kan voortduur. Wanneer genade vloei, volg groei.
Sielskos: Habakuk 1-3; Joh 6:35-51; Ps 49; Spr 24:19-22
2022-10-27
Filippense 1:9 NLV
Het jy al ooit opgelet dat wanneer jy met iemand uitgaan, julle moeiteloos vir ure lank kan gesels, maar as jy ‘n rukkie getroud is, kan gesprekke oppervlakkig raak en selfs tot meningsverskille lei? Die Bybel sê: ‘…wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie…’ (Jakobus 1:19 NLV). Daar is ‘n kuns aan kommunikasie.
1) Kyk uit vir geleenthede om mekaar te komplimenteer. Jy mag dalk dink dat jou eggenoot wonderlik is, maar hulle het nodig om dit gereeld te hoor. Dit neem twaalf komplimente om die effek van een kritiese opmerking te neutraliseer. Wanneer die lewe dus jou maat aftakel, moet jy hom/haar opbou.
2) Moenie hulle probeer verander deur te neul nie. Vrae soos: ‘Hoekom kan jy nie?’ of ‘Hoekom doen jy altyd?’ is nie opbouend nie. Sê vir jou maat een keer – nie ‘n duisend keer nie – wat jou pla. Voor jy praat, vra ook eers jouself af: ‘Sal ek dit vir ‘n gewaardeerde vriend sê?’ Indien nie, moet dit nie sê nie!
3) ‘n Huwelik kan net soveel ‘siel-ontbloting’ verdra. ‘Liefie, kan ons gou vir ‘n paar minute gesels?’ is baie minder dreigend as die onheilspellende: ‘Ons moet praat,’ aankondiging. Om druk op jou maat uit te oefen kry net die verkeerde resultate. As jou eggenoot nie op ‘n kwessie reageer nie, bespreek dit met ‘n vriend of berader. Gee dan vir jou eggenoot die verkorte, minder emosionele weergawe.
4) Laat jou maat toe om te lei. Wanneer jou eggenoot praat oor dinge waarin jy nie regtig geïnteresseerd is nie, onthou die volgende Skrifgedeelte: ‘…julle [moet] aan mekaar onderdanig wees’ (Efesiërs 5:21 NLV). Soms beteken dit dat jy vra: ‘Waaroor wil jy graag gesels?’
Indien jy ‘n goeie huwelik wil hê, moet jy hierdie vier beginsels daagliks toepas.
Sielskos: Nahum 1-3; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18
2022-10-26
Psalm 127:1 NLV
Niemand weet meer van die huwelik as God nie. Sy Woord sê: ‘As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs…’ Kom ons kyk dus na sy Woord en sien watter tipe raad Hy vir jou huwelik het:
1) Wees gewillig om raad te aanvaar. Salomo sê: ‘Selfvoldaanheid lei altyd tot rusies. Hulle wat na ander luister, het wysheid’ (Spreuke 13:10 NLV). Voor die argument dus in ‘n krisis ontaard, vra ‘n vriend wat jy vertrou of ‘n berader vir hulle insette. Dit verg nederigheid, maar betaal groot dividende.
2) Moenie ophou praat nie. Selfs as iets vir jou voor-die-hand-liggend lyk, moenie aanvaar dat jou maat jou gedagtes kan lees nie. Moet ook nie stilstuipe kry nie. Sê vir jou man of vrou wat jou pla, selfs al beteken dit julle moet deur ‘n meningsverskil werk. Dis wanneer jy nie genoeg omgee om van jou maat te verskil nie, dat dinge uitmekaar val.
3) Hou jou liefde lewendig. Om ‘n sterk huwelik te bou, beteken dat jy oor en oor en oor op dieselfde persoon verlief moet raak. Paulus skryf: ‘Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel’ (Filippense 1:9 NLV).
Dis onmoontlik om van huwelikstres te ontsnap, maar jy kan dit beheer deur geleenthede weg van die daaglikse sleur te skeduleer. Gaan stap saam, kyk ‘n fliek saam, gaan drink koffie, doen iets wat julle weer bymekaar uitbring. Laat jou kinders ook weet dat julle tyd neem om saam te wees. Nie net sal hulle leer om dit te waardeer nie, dit sal hulle ook help om later ‘n goeie huwelik van hul eie te bou.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 6:16-24; Ps 85; Spr 24:11-14
2022-10-25
Filippense 2:4 NLV
Paulus skryf: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (verse 3-4 NLV). Dit beteken dat jy die volgende vyf dinge moet doen:
1) Stel opreg in ander mense belang. ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle’ (Romeine 12:15 NLV). Jy kan dit slegs doen wanneer jy die moeite doen om uit te vind wat in iemand anders se wêreld aangaan.
2) Wees opgewek. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal. Hartseer maak ‘n mens terneergedruk’ (Spreuke 15:13 NLV). Moenie jou probleme op iemand anders afpak nie, hulle het genoeg van hul eie. Neem jou probleme eerder in gebed na die Here toe.
3) Wees versigtig wat jy sê en sê altyd minder as wat jy dink. “‘n Dwaas bars uit in woede. Iemand wat wys is, hou homself in toom” (Spreuke 29:11 NLV). Wees altyd vriendelik en hoflik, omdat hoe jy iets sê net so belangrik is as wat jy sê.
4) Wees betroubaar. Die Bybel sê: ‘…gedurende die laaste dae… sal… mense… hulle vriende verraai…’ (2 Timoteus 3:1-4 NLV), maar jy hoef nie hierdie profesie te vervul nie. Streef daarna om ‘n persoon te wees wie se woord betekenis het.
5) Wees ‘n bemoediger. Barnabas was bekend as ‘n motiveerder, want hy het mense ‘…aangespoor om lojaal aan die Here te bly’ (Handelinge 11:23 NLV). Selfs ‘n glimlag kan wondere verrig. Job het gesê: ‘Wanneer hulle moedeloos was, het ek hulle met ‘n glimlag bemoedig. Wanneer ek met goedkeuring na hulle kyk, was dit vir hulle kosbaar’ (Job 29:24 NLV). Soms is dit so eenvoudig!
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 6:1-15; Ps 126; Spr 24:10
2022-10-24
Jeremia 1:5 NLV
Wanneer God jou seën, moet jy jouself gereedmaak vir die klakouse wat dink dat Hy hulle eerder moes seën. Toe ‘n dispuut oor watter van die twaalf stamme Israel moes lei, ontstaan het, het God vir Moses gesê om elke stamleier se naam op ‘n stok te skryf en dit oornag in die tabernakel te plaas. Toe het God gesê: ‘Daar sal bloeisels kom uit die stok van die leier wat Ek verkies. Ek sal ‘n einde maak aan die Israeliete se opstand teen julle’ (Numeri 17:5 NLV). Dink jou in – ‘n ou stok sonder wortels wat in die donkerte blom! Die waarheid is dat geloof nie sonder swaarkry kan groei nie; dit moet in die duisternis van teëspoed ontwikkel.
God het vir Jeremia gesê: ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder…’ Voor jy nog ‘n hartklop op ‘n monitor was, het God planne vir jou gehad. Die rede hoekom jy nie op die operasietafel of in die karongeluk gesterf het nie, is omdat God sy hand oor jou hou. Hy het jou egter nie gekies omdat jy so deugsaam en wonderlik is nie. Nee, ‘Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk… het God uitgekies… Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie’ (1 Korintiërs 1:28-29 NLV).
Die Bybel sê toe God die hemel en die aarde geskep het, ‘…[was] die diep waters toegevou in duisternis…’ (Genesis 1:2 NLV). Toe het God gepraat en gesê: ‘Laat daar ligte wees…’ Dit het toe so gebeur’ (Genesis 1:14-15 NLV). Vandag kan God lig uit jou duisternis en hoop uit jou wanhoop meebring. Hy word nie deur die duisternis geïntimideer nie – dis waar Hy sommige van sy beste werk doen!
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 24:8-9
2022-10-23
Psalm 30:6 NLV
Die aarde roteer voortdurend, wat beteken wanneer dit lig in een halfrond is, dit donker in die ander een is. Terwyl een persoon middernag ervaar, verbly ‘n ander persoon hom omdat die dag uiteindelik vir hom aangebreek het. Beide persone lewe op dieselfde planeet, maar hulle is op baie verskillende plekke.
Wanneer jy dus ‘n nagtelike ervaring het, sal dinge verander as jy net ‘n bietjie langer uithou. God waarborg dit. Op dieselfde manier waarop jy in die donkerte in geroteer het, sal jy weer daaruit roteer. God werk die nagskof en Hy sal jou donkerte in lig verander as jy net aanhou om op Hom te vertrou.
Sommige betekenisvolle gebeurtenisse in die Bybel het in die nag plaasgevind. Byvoorbeeld, terwyl Adam geslaap het, het God geopereer en Eva geskape. Om middernag, terwyl die ander gevangenes geslaap het, het Paulus en Silas God gelofprys en het Hy hulle bevry. Toe Petrus in die binneste gedeelte van die tronk toegesluit was, het God om middernag ‘n engel gestuur om hom te bevry. Toe Jesus gekruisig is, is die aarde in duisternis gedompel, maar op Paasmôre het die lig aangekom – vir altyd.
Jy moet te wagte wees dat jy nagtelike ervarings sal hê. God se ‘donkerkamer’ is waar Hy jou in die beeld van Christus ontwikkel. Volharding is wat jou die getuigskrifte gee om in die daglig uit te stap, nadat jy die reg verdien het om daar te wees.
Hierdie soort geloof is hardnekkig, radikaal en meedoënloos. Wanneer dit in ‘n hoek vasgekeer word, staan dit sy man en verklaar: ‘Ek het my werk verloor, my verband is agterstallig, my simptome lyk nie te goed nie, maar ek glo God steeds.’ Dis die tipe geloof wat elke keer resultate kry!
Sielskos: 2 Kon 6:8-23; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36