2022-11-03
Johannes 14:30 NLV
Die Bybel sê: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp… En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het…’ (Openbaring 12:10-11 NLV). Satan is ‘die aanklaer.’ Waarvan kla hy ons aan? Sonde! Dis nie dat God nie sonde sal vergewe nie, maar wanneer ons weier om dit te erken en berou te hê, gee ons Satan ‘n geleentheid om ons te veroordeel.
Nou verstaan jy hoekom jy so sleg voel wanneer jy onbelyde sonde koester. Deur dit te doen, gee jy Satan mag oor jou. Let op wat Jesus gesê het: ‘…die regeerder van hierdie wêreld [Satan] is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie.’ Satan kon nie ‘n enkele sonde in die lewe van Christus uitwys nie, dus het hy geen mag oor Hom gehad nie.
Hier is die goeie nuus: Wanneer jy ‘in Christus’ is, verloor Satan ook sy mag om jou te veroordeel. ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV).
Sal jy steeds van tyd tot tyd sondig? Ja, en wanneer jy dit bely, sal God jou reinig, met jou werk en jou oorwinning gee. Solank as wat jy veilig ‘in Christus,’ die Een in wie daar geen sonde is nie geposisioneer is, val Satan se veroordeling op dowe ore en leef jy met die vreugde om te weet dat jy ten volle deur God aanvaar word. Wanneer Satan dus sê: ‘Jy het gesondig, dus is jy nie ‘n Christen nie,’ moenie hom glo nie. Solank as wat jy ‘in Christus’ is, is jy eenvoudig ‘n Christen onder konstruksie. Die wete hiervan neem ‘n kragtige wapen uit Satan se hande uit.
Sielskos: Sef 1-3; Joh 7:1-13; Ps 104:24-35; Spr 24:28-29
2022-11-02
Matteus 27:22 NLV
Wanneer dit by Jesus kom, het ons drie keuses. Kom ons kyk daarna: 1) Verwerp Hom. Dis wat die Fariseërs gedoen het. “‘Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,’ het Pilatus gevra, ‘wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?’ Hulle roep almal: ‘Hy moet gekruisig word!'” (vers 22 NLV). Hoekom? Omdat sy genade en krag hulle gebrek daaraan geopenbaar het. Sy waarheid het hulle foute blootgestel. Wanneer jy nie van die boodskap hou nie, verwerp jy die boodskapper.
2) Vermy Hom. Dis wat Pilatus se vrou gedoen het. “Terwyl Pilatus daar op die regbank sit, laat sy vrou hom weet: ‘Los daardie onskuldige man uit. Ek het laas nag ‘n aaklige nagmerrie oor hom gehad'” (Matteus 27:19 NLV). Hoekom vermy mense Jesus? Omdat Hy ‘n reaksie in hulle harte veroorsaak. Hy roep jou om die keuse te maak om vir jouself of vir Hom te lewe. Die leierpriesters het gesê: ‘…Hy hits deur sy onderrig die volk aan…’ (Lukas 23:5 NLV). Hulle was reg! Voor Jesus jou verlos, sal Hy jou versteur. Sommige van ons wil nie gesteur word nie.
3) Aanvaar Hom. Dis wat Paulus gedoen het: ‘Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf’ (Galasiërs 2:20 NLV). Pilates het probeer om te vermy om ‘n besluit oor Jesus te maak. Dit kan egter nie gedoen word nie. Jesus het gesê: ‘Wie nie aan my kant is nie, is teen My…’ (Matteus 12:30 NLV). As jy dus nog nie Christus as jou Verlosser aanvaar het nie, moet jy hierdie vraag antwoord: ‘…wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?..’
Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 6:60-71; Ps 104:1-23; Spr 24:26-27
2022-11-01
1 Johannes 2:17 NLV
Dit wat die meeste vir jou moet saak maak, is om God se wil uit te voer. God se wil is die enigste wat vir ewig sal duur. God het ‘n plan vir jou lewe en daardie plan maak sy ‘wil’ vir jou uit. Hoe kan jy dus weet wat God se wil is? Probeer aan die volgende twee dinge dink:
1) ‘n Polaroid foto. Onthou jy hulle? Aan die begin is die beeld nie duidelik nie, maar met tyd het die beeld duideliker geword. Dis hoe God se wil ook is. ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek. Die pad van die goddeloses is soos stikdonker. Hulle weet nie eers waaroor hulle geval het nie. My seun, luister baie goed na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my woorde! Moet dit nooit uit die oog verloor nie. Hou dit altyd in gedagte. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam van die een wat hulle betekenis ken’ (Spreuke 4:18-22 NLV).
2) ‘n Boekrol. As God vir jou op een slag sy hele wil vir jou lewe gewys het, sou jy oorweldig gewees het. Deur dit egter soos ‘n outydse boekrol af te rol, openbaar Hy sy wil vir jou stukkie vir stukkie soos jy volwasse word en in staat is om dit te hanteer. Omdat dit God se wil is, het jy sy krag nodig om dit te vervul. Jy het ook die versekering van sy teenwoordigheid binne-in jou nodig. Hy beloof dit in sy Woord: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV).
Sielskos: 1 Kron 16:8-36; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2022-10-31
Galasiërs 3:28 NLV
Die definisie van ‘n kliek is om sekere mense uit te sluit. Om uitgesluit te voel maak diep seer. Dawid het dit ervaar: ‘My beste vriend… selfs hy het sy rug op my gedraai’ (Psalm 41:10 NLV). Klieks bestaan uit swak mense wat bang is om anders te wees. Hulle dink dat solank hulle saam met ander mense is wat dieselfde as hulle dink en optree, sal hulle nie verras word of gedwing word om te verander nie. Dit mag dalk menslike natuur wees om na hierdie tipe konsekwentheid te smag, maar dis gevaarlik.
Klieks in die werkplek skep onenigheid, wat ‘n ellendige atmosfeer vir ander tot gevolg het. Mense word nie meer as individue nie, maar as ‘aan hierdie persoon se kant’ of ‘in daardie persoon se hoek,’ beskou. Sulke klieks word niks meer as die spil van skinderpraatjies, rugstekery, buite-egtelike verhoudings en elke denkbare gemors wat mense hulself op die hals kan haal, nie. Satan verlei ons met die sekuriteit van ‘die groep’ om ons te verhoed om ons individuele gawes en doelwitte te ontdek en God se wil te doen.
As jy in ‘n kliek is, maak jou so vinnig as moontlik los daarvan! Verwerp die druk om aan groepsdenke te voldoen. Hierdie mentaliteit kan jou onverwags dinge laat doen wat jy nooit gedink het jy sou doen nie – of dit nou is om jou beginsels te verlaag of stil te bly terwyl die groep iemand kritiseer.
Klieks fasiliteer rassisme, seksisme, ouderdomsdiskriminasie en die bevooroordeelde gedrag wat daarmee gepaard gaan. Hulle verkry hul mag deur diegene wat anders is, uit te sluit. Maak nie saak hoe mooi jy dit stel nie, dis blote vooroordeling! Jy is God se kind – net soos jou kollegas en ander gemeentelede – en jy moet hulle reg behandel.
Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34
2022-10-30
1 Petrus 3:11 NLV
Lees die volgende Skrifgedeeltes: ‘Doen julle bes om in vrede met almal te lewe…’ (Hebreërs 12:14 NLV). ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam… Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (Jakobus 3:17-18 NLV). ‘As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat en jou lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is. Soek vrede, ja, jaag dit na!’ (1 Petrus 3:10-11 NLV).
Om ‘n gesonde middeweg te kry beteken nie dat jy dit wat jy waarlik glo of wie jy waarlik is, moet prysgee nie. Dit beteken nie dat jy kortpaaie moet neem of met tweede-beste tevrede moet wees omdat jy ongeduldig of vreesbevange is nie. Nee, ‘n gesonde middeweg gaan daaroor om ‘n wen-wen situasie vir beide partye te onderhandel. Dit beteken dat jy probeer om die situasie of probleem deur die ander persoon se oë te sien.
Om ‘n gesonde middeweg te probeer kry, is die karaktereienskap van gesonde verhoudings. Dit is aanloklik om iemand as ‘verkeerd’ of ‘selfsugtig’ af te skryf en te weier om enige ander perspektief behalwe jou eie te sien. Dis egter dan wat dit noodsaaklik is om jou trots agter te laat, uit die rol wat jy speel te tree en te probeer verstaan waar die ander persoon vandaan kom.
Was daar nie al tye wat jyself geduld, liefde en begrip nodig gehad het nie? Ja? Dan moet jy gewillig wees om dieselfde genade aan ander mense te bewys. Soms is ‘n bietjie gee-en-neem al wat nodig is om die verhouding te laat werk en dinge vir almal betrokke beter te laat uitdraai.
Sielskos: 2 Kon 6:1-7; Matt 14:22-33
2022-10-29
Spreuke 20:13 NLV
Zig Ziegler het gesê: ‘Wanneer jy doen wat jy moet doen wanneer jy dit moet doen, dan kan jy doen wat jy wil doen wanneer jy dit wil doen.’ Jy sal egter nooit doen wat jy moet doen as jy nie jou alarm stel, opstaan, en gaan werk nie. Salomo waarsku ons oor die tipe slaap wat die grens tussen rus en luiheid oorsteek.
1) Te veel slaap veroorsaak dofheid. “‘n Luiaard draai om en om op sy bed, soos ‘n deur heen en weer swaai op sy skarnier” (Spreuke 26:14 NLV).
2) Te veel slaap vernietig ambisie. ‘Luiheid laat jou diep slaap. ‘n Lui mens ly honger’ (Spreuke 19:15 NLV).
3) Te veel slaap veroorsaak armoede. ‘Moenie lief wees vir slaap nie; jy kan in armoede verval…’ (Spreuke 20:13 NLV).
4) Te veel slaap stel God teleur. ‘Jou luiaard, hoe lank gaan jy nog lê en slaap? Wanneer gaan jy eendag opstaan, jou luiaard?’ (Spreuke 6:9 NLV).
5) Te veel slaap verkwis gulde geleenthede. ‘Die verstandige mens samel sy oes in wanneer dit ryp is. Hy wat in die oestyd slaap, bring skande oor homself’ (Spreuke 10:5 NLV).
Een ou is deur ‘n potensiële werkgewer gevra: ‘Pla harde werk jou?’ Hy het geantwoord: ‘Nee, harde werk pla my nie die minste nie. Ek kan langsaan gaan lê en dadelik aan die slaap raak.’ Die Bybel noem so ‘n persoon “‘n luiaard.” Sy god is sluimer, sy bed is sy altaar en sy liggaam is die offer wat hy geredelik bring. Tensy jy bereid is om hard te werk, sal jou gebede vir sukses nie hoër as die dak styg nie.
Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 6:52-59; Ps 114; Spr 24:23-25