“Onbeskryflik!”

2022-12-25
2 Korintiërs 9:15 NLV

Paulus sê dat die geskenk wat God aan elkeen van ons daardie eerste Kersfees gegee het, ‘onbeskryflik’ is. Jesaja sê vir ons: ‘Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee…’ (Jesaja 9:5 NLV). Jesus was beide God en mens. As kind is Hy gebore, maar as die Seun van God kon Hy net vir ons gegee word, omdat Hy nog altyd bestaan het. Hy is dus die perfekte oplossing vir ons sondeprobleem, omdat Hy beide die aansprake van goddelikheid en die stryd van die mensdom verstaan. Kom ons ondersoek vandag hierdie ‘onbeskryflike gawe.’

Jesus is ons bemiddelaar. Job het gesê: ‘As daar net iemand was om tussen ons te bemiddel en ons bymekaar te bring!..’ (Job 9:33 NLV). Jesus is daardie bemiddelaar. Hy hou een hand op jou en sy ander hand op God, sodat die konneksie nooit gebreek word nie. Jesus is ook ons voorbidder. Die Bybel sê: ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV).

As jy elke liewe een van jou sondes moes onthou en bely, sou jy nooit geslaap het nie; jy sou op jou knieë gelewe het. Christus se dood oorkom egter al die verkeerde dinge wat jy al gedoen het en sy lewe bedek al die goeie wat jy ongedaan gelaat het. Hy is dus ten volle gekwalifiseerd om jou voor die troon van God te verteenwoordig. Daar is net een woord wat by so ‘n Kersgeskenk pas: ‘Onbeskryflik!’

Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 2:1-20

Jou voorsiening is oppad!

2022-12-24
Matteus 2:11 NLV

Die Bybel sê vir ons: ‘Jesus is in die dorp Betlehem in Judea gebore… sterrekundiges [het] uit die ooste in Jerusalem opgedaag. Hulle doen toe navraag: ‘Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid’… En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste gesien het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was… Toe hulle by die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle skatkiste oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre’ (verse 1-2, 9,11 NLV).

Een Bybelonderwyser sê: ‘Ons onthou almal die Kersverhaal: Hoe Wyse Manne uit die ooste gekom het en ‘n ster gevolg het wat hulle na die Heilige Kind gelei het, hoe hulle Hom aanbid het en kosbare geskenke vir Hom gegee het. Maria en Josef het nie uitgegaan en vir geskenke gevra nie. Alhoewel hulle geforseer was om die nag in ‘n koue, donker stal te bestee, het hulle nie geskenke verwag nie. Omdat hulle egter in die middel van God se wil was, het Hy Wyse Manne op kamele gestuur, gelaai met voorraad. As ons binne die wil van God is, sal Hy ook vir ons voorsien. Die kamele sal na elkeen van ons toe kom as ons in die wil van God bly. Die enigste manier waarop ons egter hierdie soort voorsiening kan verwag, is deur getrou te bly waar God ons geplaas het. Wanneer ons dit begin glo, is ons vry om ons sorge aan Hom oor te gee. Ons hoef nie heelnag wakker te lê en ons te bekommer nie.’

Sielskos: Jes 9:1-7; Miga 5:2-5a

Wanneer dit nie soos Kersfees ‘voel’ nie

2022-12-23
Jesaja 61:1 NLV

Hierdie tyd van die jaar is dit maklik om by die mite in te koop dat almal anders ‘n prentjiemooi Kersfees geniet. Die waarheid is dat daar duisende mense daar buite is wie se lewens vir altyd deur die dood, skeisake, siekte en finansiële probleme verander is.

Tammy Hanson Maltby skryf: ‘Dit was 20 Desember. Daar was geen teken van Kersfees in ons huis nie. Gewoonlik is ons kersboom al einde November opgeslaan en kersmusiek en lieflike geure het die lug gevul. Nie hierdie jaar nie. My huwelik van 20 jaar was pas verby. My begroting was in sy kanon in en my gees was gespanne. Sommige dae kon ek skaars uit die bed klim. Al vier my kinders was tuis vir die vakansie. Steeds was daar geen boom nie. ‘Dis regtig depressief,’ het ek een van my kinders hoor grom en my hart het weer gebreek. ‘Ek sal môre ‘n boom kry,’ het ek weer belowe. Selfs ek het nie my eie woorde geglo nie. Daardie aand het ek stemme in die woonkamer gehoor. Daar, naby die klavier het ‘n kunsmatige klein kersboompie gestaan wat ek jare gelede gekoop het om die kinders se ornamente wat hulle by die skool gemaak het – ornamente wat net nie reg op my majestueuse, versierde, regte kersboom gelyk het nie – te hang. Die kinders het dit opgeslaan en met liggies en die ornamente wat van hulle kleintyd oorgebly het, versier. Dit was pragtig, ek was bly en verskriklik dankbaar dat hulle dit saam vir my gedoen het.’

As jy ‘n moeilike Kerstyd het, moenie te hard op jouself wees nie. Onthou, jy kan deur enigiets vir een dag kom (sien Deuteronomium 33:25). Jesus verstaan. Hy het gekom ‘…om dié wat hartseer is, te troos…,’ draai dus na Hom toe hierdie Kersfees en vra Hom om jou vrede en vreugde te herstel.

Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:17-30; Ps 47; Spr 31:6-9

Hy het sy kosbaarste besitting gegee

2022-12-22
2 Korintiërs 9:15 NLV

Een middag het ‘n dogtertjie buite Pete Richardson se antiekwinkel gestaan en die skatte in die venster bestudeer. Toe het sy ingegaan en gevra om ‘n string blou krale te sien. Toe Pete dit op die toonbank neersit, het sy gesê: ‘Dis perfek. Sal Oom dit asseblief toedraai? Dis vir my suster. Sy sorg vir my. Dit sal ons eerste Kersfees wees vandat Mamma oorlede is en ek soek al lank na die perfekte geskenk vir haar.’ ‘Hoeveel geld het jy?’ het Pete versigtig gevra. Sy het ‘n klomp munte op die toonbank uitgegooi en gesê: ‘Ek het my spaarvarkie leeggemaak.’ Pete het die halssnoer opgetel, met die prys na hom toe gedraai. ‘Wat is jou naam?’ het hy gevra. ‘Jean Grace,’ het sy geantwoord. Pete het die krale mooi toegedraai, die dogtertjie het hom bedank en sy winkel verlaat.

Op Oukersaand, toe die laaste klant weg is en hy besig was om die winkel te sluit, het ‘n jong vrou die winkel binnegehardloop en ‘n bekende pakkie vir hom gegee. ‘Kan jy onthou aan wie jy hierdie verkoop het?’ het sy gevra. “‘n Dogtertjie genaamd Jean het dit vir haar ousus gekoop.” ‘Hoeveel is die halssnoer werd?’ het sy gevra. ‘Die prys,’ het Pete geantwoord, ‘is altyd vertroulik tussen die verkoper en sy kliënt.’ Haar suster het gevra: ‘Maar hoe het sy daarvoor betaal?’ Pete het die pakkie versigtig weer toegemaak, vir haar teruggegee en gesê: ‘Sy het die grootste prys wat mens kan betaal, gegee. Sy het alles wat sy het, gegee.’

Toe God sy Seun gestuur het om ons te verlos (sien Galasiërs 4:4 NLV), het Hy alles gegee wat Hy gehad het. ‘Dank aan God vir sy onbeskryflike gawe!’

Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:1-16; Ps 12; Spr 31:1-5

Praat met die Vyand

2022-12-21
Efesiërs 6:12 NLV

In sy boek, War on the Saints, skryf Jessie Penn-Lewis: ‘Die hoof oorsaak vir die werking van bose geeste in mense, afgesien van sonde, is passiwiteit.’ Dis hoekom die apostel Petrus ons aanmoedig: ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV). Het jy al ooit gesien hoe ‘n honger leeu sy prooi verslind? Dis wat Satan aan jou wil doen. Hy sal dinge soos plesier, mag, druk, besittings, passies en mense gebruik om dit te doen. Paulus sê vir ons om te pasop: ‘Die bedoeling is dat ons nie deur die Satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!’ (2 Korintiërs 2:11 NLV).

Hoe kan jy jouself verdedig? Neil Anderson sê: Ons verdediging teen direkte aanvalle van die bose is om God se waarheid hardop te spreek.’ Hoekom moet jy hardop met Satan praat? Omdat God die gedagtes en bedoelings van jou hart ken – maar Satan doen nie (sien Jeremia 17:9-10 en Psalm 139:1, 23-24). Wanneer jy onder Satan se kruisvuur kom, onthou Jakobus 4:7: ‘Wys dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (NLV).

Neem hierdie twee kragtige stappe: Praat eerstens met God voordat jy die Vyand betrek. ‘Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer’ (Psalm 50:15 NLV). Tweedens, praat met die Vyand. Hou dit kort en gesaghebbend! ‘Satan, in die onweerstaanbare naam van Jesus, staak nou alle aktiwiteite teen my. Gaan weg en moenie terugkeer nie!’ Sal hy gehoorsaam? Jy het jouself afhanklik van God gemaak en die duiwel weerstaan – hy het nie ‘n ander opsie nie.

Sielskos: Neh 11-13; Joh 18:25-40; Ps 67; Spr 30:29-33

Laat God dit vir jou uitklaar

2022-12-20
Romeine 12:19 NLV

Wanneer iemand jou seermaak of verraai, gaan dit teen jou grein in om die instink vir weerwraak te weerstaan – veral wanneer daar ‘n geleentheid is om die telling te vereffen en jou vriende jou aanspoor om daaruit munt te slaan. Hulle sê vir jou: ‘Dis net reg en regverdig.’

Voor jy besluit, oorweeg die verhaal in 1 Samuel 24. Koning Saul, wat deur jaloesie verteer was, het elke geleentheid gebruik om Dawid, sy opvolger wat deur God gesalf was, te probeer vernietig. Saul het drieduisend manskappe geneem om hom te probeer vind en dood te maak. Deur goddelike ingryping het Saul gestop om in ‘n groot grot, waar Dawid en sy manne weggekruip het, te rus. Dawid se manne het gesê: ‘Nou is die perfekte geleentheid om hom dood te maak en sy troon in te neem.’ Dawid het egter net ‘n stukkie van Saul se mantel afgesny en dit later vir hom gewys as bewys dat hy die koning se lewe gespaar het. Dawid se manne het sekerlik sy strategie as belaglik beskou, maar Dawid het volgens ‘n ander kode gelewe – God se Woord! Hy het vir sy manne gesê: ‘…Moenie hom doodmaak nie. Hoe kan iemand die gesalfde van die Here aantas en nog onskuldig wees?’ (1 Samuel 26:9 NLV).

Die Bybel sê dat ons onsself nie moet wreek nie. Dis God se gebied – bly daaruit! (sien Romeine 12:17-21). Wat moet jy dus doen? Wees voorbereid om strydig met jou instinkte op te tree! Die Bybel sê: ‘…As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors… deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:20-21 NLV). Sal dit die vyand verander? Miskien, miskien nie. Dit sal egter jou houding verander en God sal jou daarvoor seën.

Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:12-24; Ps 57; Spr 30:24-28