2022-12-31
Hebreërs 12:1 NLV
Susan Alexander Yates stel vyf voornemens voor om aan te werk: ‘1) Reik uit na iemand wat Christus nie ken nie. God beveel ons om sout en lig te wees (sien Matteus 5:13-16), maar dit sal nie gebeur as ons al ons tyd saam met gelowiges deurbring nie.
2) Wees dankbaar. Ek het altyd wakker geword en gedink aan al die dinge wat ek moet doen en die mense wat my nodig het. Ek het depressief geraak nog voor ek uit die bed geklim het! Dus het ek op God se karaktereienskappe begin mediteer en begin dink hoe wonderbaarlik God is. My perspektief het verander.
3) Bestee kwaliteittyd saam met jou eggenoot. Ek het voorheen ‘n framboosbos gehad. Aan die begin het ek dit versorg en dit het vrugbare oeste opgelewer. Toe het ek besig geraak en onkruid het die bos oorgeneem. Dit kan ook met ‘n huwelik gebeur. Ons dink dat ons tyd saam sal bestee wanneer die lewe rustiger raak. Die probleem is dat dit nooit gebeur nie. Moenie toelaat dat onkruid julle huwelik verwurg nie.
4) Sê vir iets ‘nee.’ Volwassenheid beteken dat jy iets wat jy graag wil doen uitstel om op iets belangrikers te fokus. Wat sal oor tien jaar die meeste beteken – dat jy jou kind vir nog ‘n aktiwiteit ingeskryf het, of dat jy ‘nee’ gesê het en saam as familie in die aande geëet het?
5) Jaag Christus met nuwe krag na. Dawid het gebid: ‘Gee my tog weer die vreugde van u redding…’ (Psalm 51:14). Verander jou roetine. Kies ‘n nuwe onderwerp vir Bybelstudie. Begin ‘n dagboek hou. As jy steeds sonder energie voel, vra God om vir jou die rede daaragter te wys.’
‘…Kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag… Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê’ (Hebreërs 12:1 NLV).
Sielskos: Jes 43:9-21; Joh 21:15-25; Ps 139:13-24; Spr 31:28-31
2022-12-30
Jesaja 43:18-19 NLV
Ellen Vaughn gaan voort: ‘3) Ons moet ook ons suksesse vergeet. Dit beteken nie noodwendig dat ons die groot projekte wat ons voltooi het, moet vergeet nie. Ons moet met uitnemendheid vir God werk en lewe en Hy verlustig Homself in ons suksesse soos dit tot sy eer aangebied word. Ons moet egter suksesse in die verlede vergeet, indien dit ons identiteit gedefinieer het of veroorsaak het dat ons selfvoldaan, selftevrede en selfgenoegsaam geword het. (Net so moet ons seker maak dat ons verhale van God se werk en genade in ons lewens nie almal oud is nie. As ons net gevalle van God se getrouheid van vyf jaar gelede kan uitwys, maar geen hierdie week nie, is ons verbintenis met Christus nie baie deurlopend nie).
Paulus waarsku die mense in Filippi teen diegene wat hul vertroue in menslike kriteria en prestasies stel. ‘…As iemand meen om op menslike dinge te vertrou, ek nog méér!’ (Filippense 3:4 NLV), het hy gesê, met verwysing na sy agtergrond en al sy prestasies. Sy fokus was egter nie op die verlede nie. ‘Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ‘n wins beskou het, beskou ek hulle, in die lig van wat Christus vir my gedoen het, nou as ‘n verlies… maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (Filippense 3:7, 13-14 NLV).’
Die goeie nuus is dat God nie jou verlede analiseer om jou toekoms te bepaal nie. Hy sê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’ Leer uit die verlede, laat dit agter en moenie terugkyk nie!
Sielskos: Maleagi 1-2; Joh 21:1-14; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27
2022-12-29
Jesaja 43:18-19 NLV
In die woorde van die legendariese bofbalspeler Satchel Paige: ‘Moenie terugkyk nie. Iemand mag dalk besig wees om jou in te haal.’ Dis goeie raad! Paulus stel dit as volg: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).
Ellen Vaughn skryf: ‘Voor ons geestelike lewenskrag werklik kan vloei, moet ons drie dinge vergeet. [Ons kyk vandag na twee daarvan]. 1) Ons moet ons sondes vergeet. Natuurlik moet ons ons sondes onthou sodat ons hulle kan bely. Nadat ons dit egter gedoen het, moet ons hulle laat gaan. Die rekord van ons sonde word by God uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie. Satan wil ons graag verlei om met skuld en vrees te lewe. Hy herinner ons aan ons ergste sondes en laat dit oor en oor in ons gedagtes afspeel. Ons moet baie duidelik hier wees, anders sal ons die bevrydende punt misloop. Dit is nie asof vergifnis slegs werklik is as ons een of ander soort heilige geheueverlies ervaar nie. Dit hang nie van ons af nie. Dit hang van God af en die Skrif sê dat God ons sondes vergeet (sien Hebreërs 8:12).
2) Ons moet ons skaamte vergeet. Paulus kon ‘n uitstekende kandidaat vir skaamte gewees het. Hy het die teistering, tronkstraf, marteling en moord op onskuldige mense gelei. God se genade is egter sterker as ons skaamte. Skaamte het sy byt verloor toe Jesus gesterf het en weer opgestaan het. Ons kan ons skaamte vergeet, want Jesus het dit op Homself geneem. Hy het dit geminag, verslaan en gebreek. Ons hoef dit nie terug te neem nie.’
Die woord vir jou vandag is dus: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’
Sielskos: Sag 10-14; Spr 31:22-24
2022-12-28
Jesaja 43:19 NLV
Die lewe sal dit wat jy deurlopend voor jou hou, manifesteer. Paulus sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV), en kreatiwiteit en visie is deel van die pakket. Jy sê: ‘Maar ek het probleme. Ek verdrink in die skuld. Ek is eensaam.’ Moenie dat daardie beeld wortel skiet nie. Skilder ‘n nuwe prentjie. Sien jouself waar jy sterker en gesonder is, hoër uitstyg en jou drome bewaarheid word. Laat die beeld van oorwinning ‘n houvas op jou kry.
Herinner jouself aan die volgende Skriftuurlike waarhede: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het…’ (Psalm 118:24 NLV). ‘Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus…’ (Romeine 8:37 NLV). ‘Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons één is met Christus, altyd saamneem in sy triomftog…’ (2 Korintiërs 2:14 NLV). ‘Want U seën die vromes, Here, u genade is vir hulle soos ‘n skild’ (Psalm 5:13 NLV). ‘U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe…’ (Psalm 23:6 NLV).
In Bybelse tye is wyn in leersakke gestoor, maar soos hulle verouder het, het die sakke hul buigsaamheid verloor. Nuwe wyn het altyd nuwe leersakke geverg. Net soos jy nie nuwe wyn in ou leersakke kan gooi nie (sien Matteus 9:17), kan God nie vir jou ‘n nuwe visie gee totdat jy die ou beelde en houdings wat jy in jou gedagtes ronddra, verander nie. God sê: ‘Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie?..’ Hy is gereed om vandag iets nuuts in jou lewe te doen. Is jy gereed om jou ou denkwyse te verander en plek daarvoor te maak?
Sielskos: Sag 6-9; Joh 20:10-18; Ps 117; Spr 31:18-21
2022-12-27
Genesis 15:5 NLV
Visie is die Godgegewe vermoë om die onsigbare te sien. Daarsonder word mense koersloos (sien Spreuke 29:18). Toe God vir Abraham gesê het dat hy die vader van baie nasies sou wees, was hy en Sara oud en kinderloos. Natuurlik gesproke, het dit onmoontlik gelyk. “Daarom neem die Here Abram na buite toe onder die naghemel en sê: ‘Kyk op en tel die sterre. Kan jy? So sal jou nageslag wees – te veel om te tel!'” Dit was nie genoeg om te hoor wat God gesê het nie, Abraham moes dit ook in sy geestesoog sien. Alhoewel die belofte eers na twintig jaar vervul is, was die sterre elke aand wanneer Abraham na die hemel opgekyk het, ‘n konstante herinnering aan God se getrouheid.
Om geboorte aan iets te gee, moet jy dit eers verwek deur dit deur die oë van geloof te sien en die beeld daarvan op jou gedagtes in te brand. Jesus het gesê: “‘n Suiwer oog laat die lig na binne stroom sodat jy daarbinne geheel en al lig word. Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker…” (Matteus 6:22-23 NLV).
Volgens die legende het die eienaar van ‘n stuk marmer vir Michelangelo gesê dat dit waardeloos is. Michelangelo het egter geantwoord: ‘Dis onskatbaar vir my. Daar is ‘n engel daar binne opgesluit en ek moet hom bevry.’ Wat jy ‘sien’ sal die rigting van jou lewe verander. Dit sal bepaal hoe hoog jy uitstyg of hoe laag jy val. Die goeie nuus is egter, maak nie saak hoe donker dinge aan die buitekant lyk nie, God kan vandag vir jou ‘n vars visie en ‘n nuwe toekoms gee.
Sielskos: Sag 1-5; Joh 20:1-9; Ps 113; Spr 31:14-17
2022-12-26
Spreuke 11:24 NLV
Nie alle armoede is finansieel van aard nie; daar is ook geestelike armoede wat ontstaan wanneer ons nie na mekaar uitreik nie.
Pastoor Allen White sê: ‘Soms maak dit sin om jou groep klein te hou, maar nie vir die volgende redes nie:
1) ‘Ons waardeer nabyheid.’ Te veel nabyheid kan veroorsaak dat jou groep ineenstort. Wat eens op ‘n tyd wonderlik was, veroorsaak die dood van die groep. Lede trek weg, skedules is in konflik met mekaar, die groep begin rondom die twee-jaar merk afneem en dit raak moeiliker om nuwe lede te kry. Daar is te veel geskiedenis aan die groep.
2) ‘Buitestaanders kan ons ritme versteur.’ Mense raak gemaklik met bekende patrone. Hulle sit op dieselfde plek en maak dieselfde grappies, maar die gemaksone kan vinnig in ‘n groef verval. Nuwe mense verstaan nie die grappies nie, hulle ken nie die roetine nie en wat erger is, hulle sit op jou plek!
3) ‘Vertroulikheid.’ Wanneer nuwe lede aansluit, word die grondreëls neergelê. Die gesprek mag dalk as volg gaan: ‘Aangesien verskeie nuwe mense aangesluit het, laat ons ‘n oomblik neem om die grondreëls te hersien. Ons waardeer vertroulikheid en enigiets wat hier gesê word, moet binne die groep bly.’
4) ‘As ons te groot raak, sal ons moet opdeel.’ Wanneer dit by die ideale grootte van ‘n groep kom, lyk dit of agt tot twaalf lede goed werk. Getalle is egter nie naastenby so belangrik soos wat binne die groep gebeur nie. Wanneer die getalle styg, neem persoonlike sorg soms af.’
Hou dus jou groep gesond.
Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 19:31-42; Ps 128; Spr 31:10-13