2022-11-15
Hebreërs 10:14 AFR83
Hou op om jouself af te takel deur te sê: ‘Ek hou aan misluk, so ek is nikswerd. Ek doen nooit iets reg nie.’ As jy jouself dit aanhou vertel, sal jy uiteindelik bewyse daarvan kry.
Een berader sê: ‘Deur jouself af te takel, versterk jy jou onvolmaaktheid eerder as om dit te korrigeer, omdat jy onnodige aandag en energie aan alles wat verkeerd met jou is, bestee, eerder as aan dit wat reg is. Hoekom sal jy dit doen as jy weet dat die enigste moontlike resultaat ‘n negatiewe uitkyk, nog negatiewe gevoelens en minder waardering vir die gawe van lewe is? Almal het aspekte van hulself wat hulle graag sal wil verbeter, maar dit beteken nie dat jy jouself moet aftakel nie.’ Die Bybel sê: ‘Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig.’
Max Lucado skryf: ‘Onderstreep die woord volmaak. Let op dat die woord nie beter is nie. Nie verbeter nie. Nie lyk beter nie. God verbeter nie net nie; Hy vervolmaak. Hy maak nie beter nie; Hy voltooi. Ek weet dat ons nie volmaak is nie. Ons maak steeds foute. Ons doen steeds presies wat ons nie wil doen nie, wat ons so hard probeer om nie te doen nie. Daardie deel van ons is die deel wat God sê ‘geheilig’ word. Wat ons plek voor God betref, is ons volmaak. As Hy ons elkeen sien, sien Hy een wat vervolmaak is deur die Een wat volmaak is – Jesus Christus.’
Ja, jy moet aanhou werk daaraan om jouself te verbeter, maar wees geduldig; stop dikwels en herinner jouself dat jy ‘…só verander en nuut gemaak [word] om al meer soos die Skepper te lyk’ (Kolossense 3:10 NLV).
Sielskos: 1 Kron 7:20-9:44; Joh 9:1-12; Ps 83:1-8; Spr 26:7-12
2022-11-14
2 Kronieke 32:7-8 NLV
Het jy jou sin van vrede verloor? Word jou gedagtes met bekommernisse beleër? Indien dit die geval is, begin om jou gedagtes met hierdie Bybelse beloftes te herprogrammeer – skryf hulle neer, dra hulle met jou saam en lees hulle gereeld:
1) ‘Die Here waak self oor jou. Die Here is jou beskermer… Die Here hou wag oor jou, of jy kom of gaan, nou en vir altyd’ (Psalm 121: 5-8 NLV).
2) ‘Dié wat u Naam bely, vertrou op U, want niemand wat U soek, laat U in die steek nie, Here’ (Psalm 9:11 NLV).
3) ‘…nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie… Ja hoegenaamd niks… sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:38-39 NLV).
4) ‘…Hulle sal teen jou veg, maar sal jou nie oorwin nie. Ek sal jou beskerm en jou red…’ (Jeremia 15:20 NLV).
5) ‘Jy sal vol moed wees omdat jy hoop sal hê. Jy sal beskerm wees en rus in veiligheid’ (Job 11:18 NLV).
6)’Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).
7) ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).
8) ‘…Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees… nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n’ (2 Kronieke 20:15 NLV).
9)’…Moenie bang wees nie… Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie…’ (Jesaja 43:1-2 NLV).
10) ‘Dan sal Ek jou red, sê die Here. Hulle sal jou nie oorlewer in die mag van dié mense vir wie jy so bang is nie’ (Jeremia 39:17 NLV).
Sielskos: 1 Kron 6:1-7:19; Joh 8:42-59; Ps 133; Spr 26:1-6
2022-11-13
Jeremia 30:17 NLV
Hoekom het Johannes geskryf: ‘… ek hou aan bid… dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes vers 2)? Omdat jou liggaam in verhouding tot hoe goed jy geestelik vaar, floreer. Te veel stres verlaag jou immuunstelsel, verhoog jou bloeddruk en veroorsaak cholesterol wat jou are blokkeer. Dit veroorsaak die presiese toestand waarvoor jy bang is. Job het gesê: ‘Dit waarvoor ek gevrees het, het oor my gekom…’ (Job 3:25 NLV). ‘n Sekere hoeveelheid stres is nodig om adrenalien aan die gang te kry, maar te veel daarvan sal jou laat ineenstort.
As Satan jou nie sover kan kry om jou aan slegte dinge oor te gee nie, sal hy jou aan goeie dinge laat oorgee. Jou onkunde oor sy planne wat stres veroorsaak, stel hom in staat om ‘n vastrapplek in jou denke te kry. As jy vandag angstig oor jou gesondheid is, staan op God se Woord:
1) ‘…Spits jou ore vir my woorde! Moet dit nooit uit die oog verloor nie. Hou dit altyd in gedagte. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam…’ (Spreuke 4:20-22 NLV).
2) “‘Ek sal jou gesond maak en jou wonde genees,’ sê die Here…” (Jeremia 30:17 NLV).
3) ‘Julle mag niemand anders as die Here julle God aanbid nie. Ek sal julle met kos en water en gesondheid seën… Ek sal julle lank en gelukkig laat lewe’ (Eksodus 23:25-26 NLV).
4)’Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV).
God se Woord is jou voorskrif vir gesondheid en genesing, neem dit dus daagliks in.
Sielskos: Deut 9:13-29; Luk 4:1-13; Dan 1:3-21
2022-11-12
Markus 6:31 NLV
Is dit nie interessant dat vir die mees hoë-tegnologie generasie in die geskiedenis ook die meeste medisyne voorgeskryf word nie? Die Bybel het dit voorspel. God het vir Daniël gesê dat in die laaste dae ‘Baie hiernatoe en daarnatoe [sal] gaan om meer te wete te kom’ (Daniël 12:4 NLV). Dis ons! Een navorser sê dat ons ons brein opgelei het om: ‘gedurig deur die heelal van boodskappe en inligting te sweef op soek na kort trefslae van opgewondenheid. Ons grawe nooit te diep voordat ons aanbeweeg na die volgende afleiding nie en dit verhoog ons stresvlakke op maniere wat ons nou eers effens begin verstaan.’
Wanneer was die laaste keer wat jy ononderbroke tyd bestee het om te ontspan, sonder om skuldig of onproduktief te voel? Jy moet die volgende doen om nie uit te brand nie:
1) Herken die tekens. As jy heeldag lank vir mense boodskappe stuur en steeds eensaam voel, mag tegnologie jou lewe domineer.
2) Doen iets daaraan. Maak jouself vir kort tydperke onbeskikbaar en kyk wat gebeur. Die wêreld sal nie tot ‘n einde kom nie, belowe!
3) Besef dat jy ‘n keuse het. Mense wat dink dat hulle vier-en-twintig uur ‘n dag beskikbaar moet wees, oordryf hulle eie belangrikheid.
4) Stel grense vas. Hou die e-posse en teksboodskappe in toom. Het jy regtig al daardie inligting oor dieselfde ding nodig?
5) Sê vir mense, tensy dit werklik dringend is, beantwoord jy e-posse slegs op aangewese tye deur die dag.
6) Stel ‘n skedule op en bly daarby. Na ‘n paar minute se rondsnuffel op die web, vra jouself af: ‘Is dit wat ek nou veronderstel is om te doen?’
Jesus het gesê: ‘…Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Hoekom? Want as jy dit nie doen nie, val jy uitmekaar uit!
Sielskos: 1 Kron 3-5; Joh 8:31-41; Ps 99; Spr 25:26-28
2022-11-11
Psalm 16:8 NLV
Wanneer dit voel of gebed nie die antwoord bring nie, begin jy vra: ‘Hoe kom ek deur dit?’ Die Bybel spreek hierdie vraag aan deur vir ons te sê dat Jesus, ‘…ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur [het]…’ (Hebreërs 12:2 NLV). Dan word die volgende bygevoeg: ‘Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie’ (vers 3 NLV).
Die rede hoekom Jesus kon verduur, is omdat Hy gefokus was op dit wat later sou gebeur; die blydskap dat Hy die Vader behaag het, die bou van die kerk en die evangelie wat die wêreld uitgestuur is. Hier is hoe Dawid deur moeilike tye gekom het. ‘Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof, en rus in veiligheid’ (Psalm 16:8-9 NLV).
In plaas daarvan om die werklikheid te ontken of jou pad daardeur te probeer oopstoei, besef dat die Here by jou is en put die krag wat jy nodig het uit Hom uit. Dit is moeilik om swaarkry te verduur, maar as jy nie verstaan hoekom nie, kan dit frustrerend wees. Dus, wanneer jy nie ‘n antwoord in sy Woord of deur gebed en die raad van ander kan vind nie, bly jy wonder. Jy sal ook nie die eerste een wees wat wonder nie. Dawid vra herhaaldelik ‘Hoekom?’ in die Psalms en steeds het God hom ‘…’n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê’ (Handelinge 13:22 NLV), genoem. Skep dus moed; jy sal deur dit kom!
Sielskos: 1 Kron 1-2; Joh 8:21-30; Ps 115; Spr 25:23-25
2022-11-10
Handelinge 4:34 NLV
Wanneer ons aan die kerk in die Nuwe Testament dink, is ons geneig om op hulle groei en krag te fokus. Petrus preek in Handelinge 2 en drieduisend mense word vir Christus gewen. In Handelinge 3 word ‘n verlamde man wat by die tempelpoort gebedel het, deur Petrus en Johannes se bediening genees. In Handelinge 4 lees ons die volgende: ‘Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000…’ (vers 4 NLV). Preke! Wonderwerke! Groei! Opwindende dinge.
Hier is egter ‘n deel van hulle verhaal wat jy nie moet miskyk nie: ‘Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het. Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee. Nie een van hulle het ‘n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam Levi, en is op Siprus gebore. Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het’ (verse 32-37 NLV).
Ja, ons hoofprioriteit moet wees om mense vir Christus te wen en hulle te help om geestelik volwasse te word. As ons egter in die spore van die kerk in die Nuwe Testament wil volg, moet ons onthou dat ons ook geroep is om vir mekaar te sorg.
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 8:12-20; Ps 15; Spr 25:21-22