Gehoorsaam God, ongeag (3)

2022-11-21
Deuteronomium 5:29 NLV

God sal jou die genade gee om te doen wat Hy jou beveel om te doen. Dit beteken egter nie dat dit maklik sal wees nie. Die koning het beveel dat Sadrag, Mesag en Abednego lewend verbrand moet word omdat hulle geweier het om sy goue beeld te aanbid.

Let hulle geloofsbelydenis op: 1) ‘Die God wat ons aanbid kán ons uit die vuur red…’ (Daniël 3:17 NLV). Hulle het nooit God se vermoë betwyfel nie.
2) ‘Hy sal ons uit u hand bevry…’ (vers 17 NLV). Hulle het nooit God se gewilligheid betwyfel nie.
3) ‘En selfs al red Hy ons nie… sal ons… nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie’ (vers 18 NLV).

Hulle het nie vir een oomblik ongehoorsaamheid oorweeg nie! Hoe het hulle verhaal uitgedraai? ‘Koning Nebukadneser was egter verstom. Hy het… gevra: ‘Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?’ ‘Ja, beslis, U Majesteit,’ het hulle vir hom gesê. Hy sê toe vir hulle: ‘Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ‘n bo-aardse wese’ (verse 24-25 NLV).

Wanneer God jou vra om iets te doen wat jy nie wil doen nie, of voel dat jy dit nie kan doen nie, het Hy jou beste belange op die hart. Wanneer jou kinders sê: ‘Ek kan dit nie doen nie, dis te moeilik,’ laat jy hulle maar begaan? Nee, jy dring daarop aan omdat dit vir hulle eie beswil is. Dis hoe God oor jou voel: ‘Ag, as hulle maar altyd sulke harte sal hê dat hulle My sal vrees en al my gebooie sal gehoorsaam! As hulle dit doen, sal hulle en hulle nageslag vir altyd voorspoedig wees’ (Deuteronomium 5:29 NLV).

Sielskos: 1 Kron 23:21-26:19; Joh 10:22-33; Ps 81; Spr 27:1-3

Gehoorsaam God, ongeag (2)

2022-11-20
2 Korintiërs 1:8 NLV

Job beskryf die belonings van gehoorsaamheid: ‘As hulle luister en Hom gehoorsaam, word hulle geseën met voorspoed deur hulle hele lewe’ (Job 36:11 NLV). Johannes voeg by: ‘Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:22 NLV).

Paulus beskryf egter die prys van gehoorsaamheid: ‘Ons wil nie hê dat julle… oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting. Hy sal ons altyd weer red’ (2 Korintiërs 1:8-10 NLV).

Let op die woorde: ‘Hy het ons gered… Hy sal ons weer red… Hy sal ons altyd weer red.’ God het nie Paulus uit sy probleme gered nie, Hy het saam met hom daarin gestap en hom daardeur gebring. Jy sê: ‘Maar ek het God gevra om my te help om hierdie situasie te verstaan en Hy het nie.’ God skuld ons nie ‘n verduideliking nie, maar Hy beloof ‘n uitweg. ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – gehoorsaam God, ongeag wat.

Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:1-42

Gehoorsaam God, ongeag (1)

2022-11-19
Hebreërs 5:8 NLV

Die beloning vir gehoorsaamheid is wonderlik, maar soms is die proses pynlik. ‘Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. Op hierdie manier is Hy bekwaam gemaak…’ (verse 8-9 NLV).

Voor God jou tot ‘n posisie van bruikbaarheid in sy diens bevorder, rus Hy jou toe. Ons bewonder Abraham, wat sy seun Isak na Moria toe geneem en hom op ‘n altaar neergelê het, se geloof. Die verhaal maak egter nie sin totdat jy die eerste vers in die hoofstuk lees nie: ‘Na ‘n tyd wou God Abraham se geloof en gehoorsaamheid toets…’ (Genesis 22:1 NLV). Wat het God getoets? Sy geloof! Sy gehoorsaamheid! Toe hy die toets geslaag het, het God vir hom gesê: ‘…Ek [sal] jou oorvloedig seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ‘n ontelbare menigte…’ (Genesis 22:17 NLV).

Jy moet die volgende verstaan: Wanneer jy bid en God vir sukses vra, nooi jy Hom uit om jou geloof en gehoorsaamheid te toets. God sal jou heel waarskynlik nie op dieselfde vlak as Jesus en Abraham toets nie. Dis egter die kleiner toetse wat jou voorberei om die groter opdragte in God se koninkryk te hanteer.

In The Screwtape Letters, praat C.S. Lewis se senior duiwel met sy neef, Wormwood, oor hul gemeenskaplike vyand, die Here. ‘Do not be deceived, Wormwood. Our cause is never more in danger than when a human, no longer desiring, but still intending to do our Enemy’s will, looks round upon a universe from which every trace of Him seems to have vanished, and asks why he has been forsaken, and still obey.’ Die gehoorsaamheid wat God vandag van jou verwag, is ‘n gehoorsaamheid wat bo jou gevoelens en omstandighede uitstyg en ‘Ja, Here!’ sê.

Sielskos: 1 Kron 19:1-23:20; Joh 10:11-21; Ps 50; Spr 26:27-28

Ontmoet Jesus by die Nagmaaltafel

2022-11-18
Lukas 24:30 NLV

Net voor Jesus na die kruis gegaan het, het Hy die nagmaal ingestel. Hy het gesê dat die beker sy bloed wat vergiet is en die brood sy gebroke liggaam, verteenwoordig. Hy het die nagmaal afgesluit deur te sê: ‘…Gebruik dit ter herinnering aan My’ (Lukas 22:19 NLV).

Dink nou aan die huis van Kleopas en sy metgesel, nadat Jesus uit die dood opgestaan het. Jesus het saam met hulle op die Emmauspad geloop en gesels en aan hulle verduidelik dat alles wat gebeur het, die vervulling van ‘n profesie was. ‘Maar hulle het by Hom aangedring: ‘Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.’ Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly. Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee. Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken…’ (Lukas 24:29-31 NLV). Hierdie was ook in ‘n sekere sin ‘n nagmaaldiens. Let egter op wat met die mense gebeur het wat dit bygewoon het.

1) Jesus het hulle daar ontmoet.
2) Hulle oë het oopgegaan en hulle het Hom op ‘n manier herken soos nooit tevore nie.
3) Hulle was diep ontroer. ‘…Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat… het nie?’ (vers 32 NLV).
4) Toe het hulle uitgegaan en ander daarvan vertel. ‘Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle, wat die nuus vertel: ‘Die Here is regtig opgewek…’ (verse 33-34 NLV).

As jy ooit gewonder het wat jy veronderstel is om te voel en dink terwyl jy nagmaal gebruik, weet jy nou.

Sielskos: 1 Kron 16-18; Joh 10:1-10; Ps 105:1-15; Spr 26:23-26

Lasarus se verhaal en joune (2)

2022-11-17
Johannes 11:21-22 NLV

Hier is nog drie dinge wat ons uit die verhaal van Lasarus kan leer:

1) God kan dit wat jy verloor het, herstel. Een van die grootste beloftes in die Skrif is dat God die jare wat die lewe by jou gesteel het, kan herstel (sien Joël 2:25). Eis hierdie belofte op; neem dit terug na die tyd waar jy so baie verloor het en vra God om dit te vervang, te herstel en te vernuwe. Hy sal dit doen.

2) Waaraan jy ook al gebonde is, God kan jou vry maak. “…Hy [het] met ‘n kragtige stem uitgeroep: ‘Lasarus, kom uit!’ Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ‘n kopdoek. Jesus sê vir hulle: ‘Maak die doeke los en laat hom gaan'” (Johannes 11:43-44 NLV). God se krag is groter as enige gewoonte, kwessie of omstandighede wat jou gebonde hou. Bid saam met die Psalmdigter: ‘Gee vir my insig dat ek kan leef volgens u gebooie, en dit van harte gehoorsaam. Laat my wandel volgens u gebooie, want dis waarin ek vreugde vind’ (Psalm 119:34-35 NLV). Wanneer jy hierdie gebed bid, sal jou geloof groei en omstandighede wat tans vir jou onmoontlik lyk, sal deur God se krag verander word.

3) Maak nie saak hoe sleg jy voel nie, God verstaan. By Lasarus se begrafnis, het “Jesus [toe] begin huil. Die Jode sê toe: ‘Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!'” (Johannes 11:35-36 NLV). Hierdie verhaal bewys dat ons ‘n God dien wat nie net dit wat jy verloor het kan teruggee nie, maar wat omgee oor dit waardeur jy gaan (sien Hebreërs 4:15).

As jy dus vandag seer ervaar, draai na Hom toe en laat Hom toe om jou te help.

Sielskos: 1 Kron 12:23-15:29; Joh 9:24-41; Ps 8; Spr 26:17-22

Lasarus se verhaal en joune (1)

2022-11-16
Johannes 11:4 NLV

Neem waar: 1) God het ‘n plan in gedagte wat jy nie kan sien nie. Hoekom het Jesus vier dae gewag om die familie te gaan besoek nadat Hy gehoor het dat Lasarus gesterf het? God wag vir twee redes: a) Sodat jou geloof versterk kan word. Jesus het gesê: ‘…maar ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle kan glo…’ (vers 15 NLV). Jou volgende krisis sal anders as jou laaste een wees, maar jou geloof moet sterk bly. b) Dat God verheerlik kan word. Die Fariseërs het geglo dat jou siel op die vierde dag jou lyk verlaat. As Jesus vroeër ingegryp het, kon hulle gesê het: ‘Hy was nie regtig dood nie.’ Dus het Jesus gesê: ‘Hierdie siekte… vind plaas om die heerlikheid van God sigbaar te maak…’ Dis wanneer jy terugkyk, wat jy God se wysheid en wil in die situasie sien werk.

2) God sal jou dwing om kwessies wat jy probeer begrawe het, te hanteer. “Jesus sê toe: ‘Rol die klip weg.’ Maar Marta… sê vir Jesus: ‘Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag'” (vers 39 NLV). Bid jy vir ‘n antwoord in een area terwyl God vir jou sê om die klip in ‘n ander area weg te rol en daardie kwessie te hanteer? Wanneer jou hart reg is met God, sal jou gebede beantwoord word (sien 1 Johannes 3:21-22).

3) God sal jou ‘n voorbeeld van sy genade maak. Dink aan Lasarus na sy opstanding. Sonder om ‘n woord te spreek, het sy lewe aan almal verklaar dat Jesus die Here is. Dieselfde kan waar wees van jou. God het jou verlos en opgehef om ‘n getuienis van sy genade te wees.

Sielskos: 1 Kron 10:1-12:22; Joh 9:13-23; Ps 83:9-18; Spr 26:13-16