2023-01-12
Numeri 12:11 NLV
As jy dink dat jy ander kan kritiseer omdat jy net jou reg op vryheid van spraak uitoefen, stop en oorweeg hierdie vier dinge: 1) God het dit as sonde gesien toe Aäron en Mirjam vir Moses gekritiseer het omdat hy met ‘n Kussitiese vrou getrou het. Die Here het Mirjam met melaatsheid getref en Aäron was gou om berou te kry: ‘…moet ons asseblief nie straf vir die dom ding wat ons gedoen het nie.’
2) ‘n Kritiese houding sal jou verhoudings skade aandoen. ‘Die Here sê toe vir Moses: ‘…Verban haar nou vir sewe dae lank uit die kamp uit. Eers daarna mag sy terugkom’ (vers 14 NLV). Melaatsheid was aansteeklik en diegene wat dit onder lede gehad het, moes hulself afsonder. Wanneer jy daarvoor bekend word dat jy krities is, sal mense hulle van jou distansieer en jou vermy. Dis ‘n kwessie van vertroue; hulle weet dat as jy ander mense met hulle bespreek, sal jy hulle ook met ander mense bespreek.
3) ‘n Kritiese houding hinder almal se vooruitgang. ‘Mirjam moes toe sewe dae lank buite die kamp bly. Die volk het nie verder getrek voordat Mirjam weer terug was by hulle nie’ (vers 15 NLV). Was jy al ooit deel van ‘n groep waar een mens so baie fout gevind het dat dit die effektiwiteit en vooruitgang van die hele groep verhinder het?
4) ‘n Kritiese houding maak jou verhouding met God seer. ‘Here, wie mag dit waag in u teenwoordigheid? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat onberispelik lewe en doen wat reg is, met ‘n opregte hart die waarheid praat; wat nie sy medemens belaster, hom benadeel, of van hom kwaadpraat nie… Só ‘n mens sal vir altyd stewig staan’ (Psalm 15:1-3, 5 NLV).
Sielskos: Jes 34-37; Luk 2:21-33; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5
2023-01-11
Psalm 19:9 NLV
‘Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag. Die bepalings van die Here is betroubaar; dit maak die eenvoudige verstandig. Die Here se bevele is reg, dit bring vreugde vir die hart. Die opdragte van die Here is duidelik; dit gee insig vir die lewe. Die gebooie van die Here is suiwer, dit bly vir altyd staan. Die Here se voorskrifte is reg; elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud… Hulle is soeter as heuning… Dis ‘n waarskuwing vir u dienaar, en ‘n groot beloning vir dié wat dit gehoorsaam. Wie kan sy eie oortredings herken? Spreek my vry oor verborge sondes, en bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek vry wees van skuld, en onskuldig aan groot oortredings. Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (verse 8-15 NLV).
Hierdie gebed wys dat die Psalmdigter meditasie as ‘n absolute noodsaaklikheid vir sy geestelike lewe geag het. As dit vir hom in sy dag waar was, hoeveel te meer is dit nie vandag vir jou noodsaaklik nie! Jy moet jou gedagtes elke dag in die waters van God se Woord reinig sodat jou woorde en gedagtes vir God aanneemlik mag wees.
Gebruik jou tyd – die begin van die dag, jou teetyd, terwyl jy huis toe bestuur, voor jy in die aand aan die slaap raak – om oor die waarheid van God se Woord na te dink. Die grootste verandering in jou lewe sal deur die proses van meditasie oor die Skrif meegebring word – deur die Woord van God toe te laat om deur jou gedagtes te filter en in jou lewe te perkoleer.
Sielskos: Jes 30-33; Luk 2:8-20; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2
2023-01-10
Psalm 119:97 NLV
Bybelse meditasie is anders as meditasie soos die samelewing dit ken. Die Oosterse filosofieë leer mens dat jy jou gedagtes moet leegmaak. Dis presies die teenoorgestelde wat die Skrif sê! Bybelse meditasie beteken dat jy jou gedagtes met die waarheid wat God geopenbaar het, vul. Dawid was ‘n koning. Dink jou net die druk en probleme, eise en besluite waarvoor hy elke dag te staan gekom het, in. Tog het hy gesê: ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag.’
Het jy al opgemerk dat ons vreeslik baie tyd aan alledaagse dinge soos op die foon wees, in rye wag en bestuur, bestee? In groot stede neem dit mense dikwels ‘n uur of meer om by die werk te kom en dieselfde om weer by die huis te kom. Dis tien ure ‘n week. Veertig ure ‘n maand. Vier-honderd-en-tagtig ure ‘n jaar. Dis ‘n ongelooflike hoeveelheid tyd!
Die vraag is: wat doen jy met jou gedagtes gedurende hierdie tyd? Ry jy net voort met jou gedagtes in neutraal? Of luister jy na die radio of musiek? Of raak jy kwaad vir die bestuurders rondom jou? Wat ‘n goeie tyd om jou gedagtes in rat te sit! Wat ‘n geleentheid om geestelik te groei! Wat oefening vir jou liggaam doen, doen meditasie vir jou siel. Die Bybel sê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53). ‘n Plakkaat op iemand se kantoormuur het gelees: ‘Jy is nie wat jy dink jy is nie. Maar wat jy dink – is jy!’
As jy wil hê dat jou lewe anders moet wees, moet jy ander gedagtes begin dink; mediteer dus op God se Woord!
Sielskos: Jes 26-29; Luk 2:1-7; Ps 46; Spr 1:32-33
2023-01-09
Josua 1:8 NLV
Bybelmeditasie het in onguns verval, omdat ons in ‘n onmiddellike en besige samelewing leef. Ons het so baie dinge van televisies, selfone, e-posse, sms’e, satellietskakels, nuusberigte en potgooie wat ons aandag verg, dat ons skaars ‘n oomblik het om te reageer, wat nog te sê daaroor te reflekteer. Jy kan egter nie geestelike volwassenheid ‘aflaai’ deur ‘n paar knoppies op die sleutelbord van ‘n rekenaar te druk nie. Dis hoekom die Skrif so dikwels oor meditasie praat.
God, die outeur van die Bybel, het vir Josua die formule gegee om sukses in jou beroep te behaal en voorspoed vir alles wat jy aanpak, te verkry: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (vers 8 NLV). Om sukses in die lewe te behaal, moet jy iets doen. Wat? Jy moet oor God se Woord mediteer! Hoe gereeld? ‘Dag en nag.’
Watter gedeelte van die Skrif het jy oor nagedink vanoggend toe jy jou dag begin het? Of toe jy werk toe bestuur het? Wanneer laas het jy bewustelik oor enige Bybelse waarheid of beginsel gereflekteer?
As jy nie kan onthou nie, moet jy dadelik begin om veranderinge aan te bring. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (1 Timoteus 4:15 NLV). Dis nog steeds die reël!
Sielskos: Jes 22-25; Luk 1:67-80; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31
2023-01-08
Jesaja 28:13 NLV
Kom ons neem hierdie mediteer-perkoleer idee ‘n stap verder. Miskien sal dit jou help om stadigaan te begin mediteer sonder om oorweldig te voel deur die gedagte dat jy nie die tyd of dissipline het om dit te doen nie. Dis nie ‘n alles-of-niks uitdaging nie. Neem klein treetjies. As jy slegs tien minute het, gebruik dit ten volle. Jy hoef nie tien hoofstukke in jou Bybel te lees nie. Jy is nie besig om ‘n opstel vir skool te skryf nie en jy gaan nie ‘n toets daaroor skryf nie.
Lees hierdie vers wat jou sal help: ‘Daarom gaan die Here weer met hulle praat. Hy gaan sê: Maak sus en maak so, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie en daar ‘n bietjie!..’ (vers 13 NLV). God se Woord is so ryk aan waarhede dat jy een frase of idee kan neem en dit in jou gedagtes kan laat perkoleer, of jy nou tien minute of twee ure het.
In plaas daarvan om televisie te kyk of aanhoudend te kyk of jy boodskappe op jou selfoon het, sit eenvoudig net stil, drink jou koffie of tee en laat God se inwonende Gees toe om sy Woord te interpreteer, te vergroot en te verryk soos dit oor en oor in jou gedagtes maal. Dink daaroor terwyl jy bestuur, of tydens jou middagete of teetyd.
Sommige dae sal dit voel of jy geestelik gesproke die boerpot gewen het; ander dae sal jy voel dat jy net ‘n klein bietjie tot jou basiese kennis van die Bybel toegevoeg het. Konsekwentheid is die sleutel. Doen dit ‘n jaar lank en jy sal 365 Skriftuurlike insigte hê om jou te help soos nodig. Kan jy insien hoe dit jou lewe ten goede kan verander?
Sielskos: Pred 11:7-12:1; Hand 9:1-25
2023-01-07
Kolossense 3:16 NLV
Om oor die Skrif te mediteer is een van die grootste sleutels tot geestelike groei. Dawid skryf in Psalm 1: ‘…en sy voorskrifte dag en nag oordink’ (Psalm 1:2 NLV). Die woord ‘meditasie’ beteken egter nie soos ons dit deesdae voorstel nie. Ons dink aan monnike wat tydens sonsopkoms op hulle knieë dreunsing as ons die woord ‘meditasie’ hoor, wat ons in ‘n ander rigting in wil laat hardloop. Ons bewonder sulke mense, maar hoop dat God ons nie roep om so iets te doen nie. Of ons dink dat meditasie ‘n dissipline is wat ure se ononderbroke tyd verg en tyd is een ding waarvan ons nie genoeg het nie. Wat is die gevolg?
Ons lewe besige, maar geestelik onvrugbare lewens. Sommige van ons glo dat meditasie ‘n goeie ding is, maar dat daar te veel ander areas van geestelike groei en karakterontwikkeling is waaraan ons eers moet werk.
Wat is die probleem? Ons verstaan nie wat dit beteken om te mediteer of die ryk voordele wat dit ons sal gee, nie. ‘n Teelepel kitskoffie smaak lekker as jy net die basiese smaak van koffie wil hê. As jy egter meer wil hê – as jy die geur van die koffie in al sy rykheid wil geniet – moet jy dit laat perkoleer. Ons kan dus die Skrif as volg parafraseer: ‘en sy voorskrifte dag en nag laat perkoleer.’ Dis wat Paulus hiermee bedoel het: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’
Geniet vandag die aroma, proe die geur en ervaar die krag.
Sielskos: Jes 17-21; Luk 1:57-66; Ps 42:1-5; Spr 1:20-27