2022-11-27
Lukas 23:34 NLV
Wat moet jy doen as jy in ‘n verhouding is waar jy misbruik word?
1) Bid vir hulle. Jesus het gesê: ‘…Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak’ (Lukas 6:27-28 NLV). Daar word gesê dat 90 persent van diegene wat ander mishandel, self mishandel is. Dikwels reageer hulle as gevolg van wonde wat nie genees het nie en kwessies wat nie opgelos is nie. Terwyl dit glad nie ‘n verskoning vir hulle optrede is nie, gee dit jou insig oor hoe om vir hulle te bid. Satan hou daarvan om dinge soos alkohol, dwelms, woede, pornografie en ander vervalsings te gebruik om verhoudings te vernietig. Bid dus dat hulle die persoon sal word wat God in gedagte vir hulle het. ‘Hy sal roep, en Ek sal antwoord. In nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:15 NLV).
2) Kry hulp. Salomo het gesê: ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:12 NLV). As jy ondersteuning van ‘n groep of ‘n bemiddelaar nodig het om in te gryp, neem aksie – nou.
3) Beëindig die verhouding indien nodig. Dis nie jou werk om die ander persoon te verander nie. Dis ook nie jou mislukking as hulle nie verander wanneer hulle met God se liefde en die waarheid gekonfronteer word nie. Hier is ‘n belofte waarop jy kan staan: “…’Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV).
Sielskos: 1 Kon 17:1-7; 1 Kon 18:41-46; Mark 4:35-41
2022-11-26
1 Samuel 17:47 NLV
Om reuse soos verslawing, wrokkigheid, vrees, wellus, afguns, trots en woede te oorwin, moet jy hierdie drie Skrifgedeeltes verstaan:
1) ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Goliat is as baba gebore, maar hy het ‘n reus geword. Ons reuse is dikwels klein sondes wat ons miskyk en toelaat, totdat hulle ‘n lewe van hul eie aanneem en terugkom om by ons te kom spook. Soos jy egter begin om nee vir klein impulse te sê, sal jy die krag kry om dit vir groter impulse te sê.
2) ‘Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan’ (1 Samuel 17:48 NLV). Dawid het Goliat reg van voor in die gesig gestaar. Jy moet jou reus in die lig dwing en hom nie in jou lewe teruglaat nie. Stel grense! Indien nodig, maak jouself teenoor iemand wat jou kan versterk en aanmoedig, aanspreeklik. Bly uit die verkeerde geselskap uit. Bowenal, moenie God in die lig van jou probleem beskou nie, sien jou probleem in die lig van God.
3) ‘…Die oorlog is die Here s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!’ Jy is nie alleen in die geveg nie. God wil jou help om ou gewoontes te oorkom en nuwe gedrag te vestig. Wanneer jy jou bekeer, wat beteken om ‘n ommeswaai te maak en jouself voor te neem om saam met God te wandel, sal Hy jou die krag gee om die reus wat jy in die gesig staar, te oorwin. God het nog nooit ‘n stryd verloor nie en wanneer jy Hom nooi om by jou aan te sluit, sal jy wen.
Sielskos: 2 Kron 13-17; Joh 11:38-44; Ps 95; Spr 27:17-19
2022-11-25
Openbaring 2:4 NLV
Jesus het vir die kerk in Efese drie dinge gesê: 1) Dink terug. ‘Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het…’ (vers 5 NLV). Dink aan die hoogtes wat jy eens op ‘n tyd geken het. Nie die slegte tye nie, maar die beste tye. Onthou toe dit die hoogtepunt van jou dag was om tyd in gebed en met die Skrif te bestee? Wat het jy toe gedoen wat jy nie nou meer doen nie?
2) Bekeer jouself. Dit beteken dat jy jou gedagtes, jou rigting en jou optrede verander. Jy kan nie ‘n probleem met dieselfde denke en optrede wat dit veroorsaak het, oplos nie. Toe die Verlore Seun by die varkhok gekom het, het hy besef dat hy sy laagste punt bereik het. Dis toe dat hy gesê het: ‘Ek sal huis toe gaan na my pa toe en sê: Pa, ek het gesondig teen sowel die hemel as teen Pa’ (Lukas 15:18 NLV). Sy pa het hom vergewe en hom herstel. Hoe het sy verhaal geëindig? Hy het weer sy regmatige plek by die familietafel ingeneem. Dit kan ook met jou gebeur.
3) Herhaal. ‘…doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (Openbaring 2:5 NLV). Maak ‘n lys van die dinge wat jy gedoen het toe jou verhouding met die Here wonderlik was en wy jouself dan met gebed daaraan toe om dit weer elke dag te doen. Doen dit totdat die vreugde van jou eerste liefde weer aan die brand gesteek is.
Betwyfel jy dat God genadig teenoor jou sal wees? Lees dan die volgende: ‘…Maar U is ‘n God wat vergewe, genadig en vol deernis… U is liefdevol en getrou. U het hulle nie in die steek gelaat nie’ (Nehemia 9:17 NLV).
Sielskos: 2 Kron 9-12; Joh 11:28-37; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16
2022-11-24
Efesiërs 2:10 NLV
Toe God vir Moses geroep het om Israel uit Egipte te red, het Moses dit eers op sy eie manier probeer doen. Nadat hy ‘n Egiptenaar doodgemaak het om ‘n Israeliet se lewe te red, was hy vir vyf-en-veertig jaar voortvlugtig. Nadat hy in die woestyn geleef en sy les geleer het, het hy teruggekeer om God se wil – op God se manier – te doen. Almal van ons word geroep om God se wil op God se manier te doen. Jy vra: ‘Maar hoe kan ek weet wat my roeping is?’
Jy begin deur die volgende vrae te beantwoord: 1) Wat is jou geestelike gawes? ‘…God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee…’ (1 Petrus 4:10 NLV). Laat God jou, deur middel van jou diepste begeertes, daardie kernbevoegdhede wys waarmee jy die beste geskik is om Hom te dien.
2) Is daar iemand wat jou kan mentor en opbou? Dis deel van jou pastoor se werk: ‘om God se mense toe te rus vir die werk wat hulle in sy diens moet doen. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou’ (Efesiërs 4:12 NLV). Jy het hulp nodig; jy kan nie alleen daar kom nie!
3) Is jy by jou plaaslike kerk betrokke? ‘Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig’ (Romeine 12:4-5 NLV).
4) Is jy gewillig om daar waar ‘n behoefte is, te dien? ‘…Met hierdie gawes moet julle mekaar dien…’ (1 Petrus 4:10 NLV). As jy wil weet wat jou roeping is, begin dien en God sal dit aan jou openbaar.
Sielskos: 2 Kron 6-8; Joh 11:17-27; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12
2022-11-23
Spreuke 29:18 NLV
God het ‘n plan vir jou lewe; een wat jou sal help sien wat waarlik belangrik is. Dit word “‘n visie” genoem. Daarsonder, weet jy nie waarheen jy veronderstel is om te gaan nie. Atlete fokus slegs op een ding: om te wen! Om dit te doen, offer hulle verhoudings, ontspanningstyd en plesiere op. Die Boodskap stel dit so: ‘Waar die woord nie gehoor word nie, doen mense net wat hulle wil. Wie die wil van die Here ernstig opneem, is ‘n gelukkige mens’ (vers 18 DB).
Wanneer God jou ‘n visie gee, begin jy dinge sien soos Hy hulle sien. Moses het die Beloofde Land ‘gesien,’ terwyl almal rondom hom net woestyn gesien het, wou tou opgooi en na Egipte toe terugkeer (sien Hebreërs 11:24-27). Hy het ook verstaan dat hy die Beloofde Land op God se skedule, volgens God se plan, een tree op ‘n slag, sou bereik. Soms kan jou visie oorweldigend voel. Dis wanneer jy dit in klein stappe moet opbreek en jouself visualiseer waar jy die volgende stap neem. Jy sal verras wees oor jou vooruitgang. Tot jy egter die eerste stap neem, is ‘n visie net ‘n dagdroom.
‘n Britse predikant genaamd Frederick Langbridge het geskryf: ‘Two men looked out from prison bars. One saw mud, the other stars.’ Wat sien jy in jou toekoms? Dink jy dat God sukses net in jou skoot sal laat val? Nee, jy moet jou visie deur geloof energie gee en dit deur harde werk momentum gee. Nadat hulle die hele nag gewerk het en geen visse gevang het nie, het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘…Vaar nou dieper in…’ (Lukas 5:4 NLV). Toe hulle dit doen, het hulle hul grootste vangs ooit gevang. Die wêreld beheer nie jou voorraad nie – God doen!
Sielskos: 2 Kron 1-5; Joh 11:1-16; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9
2022-11-22
Deuteronomium 14:22 NLV
Hoekom het God sy mense beveel om die eerste tiende van hulle inkomste vir Hom te gee? Hy sê vir ons: ‘…Dan sal die Here jou God jou seën in al jou werk’ (vers 29 NLV). Wanneer jy vir God die eerste tiende van jou inkomste gee, beloof Hy om jou ‘in al jou werk,’ te seën. Die vraag is dus nie of die kerk jou tiende nodig het nie, maar of jy God se seën nodig het? God se werk sal nie bankrot speel as jy nie jou tiende gee nie, maar hoe goed sal jy vaar as jy Hom ongehoorsaam is? Paulus skryf: ‘Op elke Dag van die Here moet elkeen van julle na vermoë iets opsy sit en dit spaar…’ (1 Korintiërs 16:2 NLV).
Jy sê: ‘Ek dog dit was net in die Ou Testament wat mense tiendes moes gee. Het die Nuwe Testament se Christene dit ook gedoen?’ Aangesien die enigste ‘Bybel’ wat die gelowiges in die Nuwe Testament gehad het die Ou Testament was, hoeveel dink jy het hulle gespaar? Verseker nie minder as ‘n tiende nie.
Jesus het vir die Fariseërs gesê: ‘Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners… Want julle gee noukeurig tiendes… maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om deernis te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie’ (Matteus 23:23 NLV).
Sal jy vir God minder onder genade gee as wat jy onder die wet sou gee? Die tiende is die minimum, maar slegs jou liefde vir God en sy koninkryk kan die maksimum bepaal.
Sielskos: 1 Kron 26:20-29:30; Joh 10:34-42; Ps 76; Spr 27:4-6