Hanteer versoeking op Christus se manier (2)

2023-01-18
Lukas 4:13 NLV

Let die volgende op: 1) Versoeking kom wanneer jy alleen en sonder ondersteuning is. Net soos ‘n wolf op die uitkyk is vir ‘n skaap wat van sy trop afgedwaal het, verbly die Vyand hom wanneer jy jou Christelike gemeenskap verwaarloos en jouself van mede-gelowiges afsny. Jy sê: ‘Maar ek het die Here altyd by my.’ Ja, maar die Bybel leer ons om versoeking as volg te oorkom: ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:12 NLV). Ons is gebore, en wedergebore, om hierdie reis saam met ander aan te pak. Paulus skryf: “Ja, die liggaam bestaan nie net uit een lid nie, maar uit baie… Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: ‘Ek kan sonder julle klaarkom’ nie'” (1 Korintiërs 12:14, 21 NLV). Om in pas met ander gelowiges te loop, verhoog jou beskerming teen Satan.

2) Jou grootste wapen in die uur van versoeking, is kennis van God se Woord. Jesus het Satan se aanvalle afgeweer deur daaruit aan te haal. Satan is magteloos wanneer hy deur ‘n gelowige wat verklaar: ‘Dit staan geskryf!’ gekonfronteer word. Jy moet besluit om standpunt in te neem, maar dis jou vasstaan op God se Woord wat die Vyand laat vlug. Toe Satan nadergekom het, het Jesus nie eers na ‘n Bybel gaan soek nie; Hy het die Woord aangehaal wat Hy uit sy kop geken het. Dis jou sleutel tot oorwinning. Johannes het gesê: ‘…Ek skryf aan julle, jonges: Julle is kragtig en die woord van God is deel van julle bestaan en julle het as oorwinnaars oor die bose uit die stryd getree’ (1 Johannes 2:14 NLV).

Sielskos: Jes 53-57; Luk 3:21-38; Ps 84; Spr 2:16-19

Hanteer versoeking op Christus se manier (1)

2023-01-17
Lukas 4:2 NLV

Hier is ‘n paar praktiese riglyne van Jesus hoe om versoeking te hanteer: 1) Jou versoekings is soos die versoekings waarvoor Hy te staan gekom het. ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:15 NLV). Jy sê: ‘Maar jy verstaan nie hoe erg my versoekings is nie.’ Nee, maar Jesus verstaan dit. Hy was self daar, het die drang gevoel en verstaan jou kwesbaarheid eerstehands. Jy kan na Hom toe draai wanneer jy versoek word, met die vertroue dat Hy dieselfde pad gestap het en jou sal help.

2) Versoeking vind dikwels na geestelike oorwinning plaas. Jesus was pas gedoop, die Heilige Gees het op Hom neergedaal en God het sy behae in sy Seun uitgespreek, toe Satan met volle krag toeslaan (sien Matteus 3:16-17, 4:1-11). Groot geestelike oomblikke kan veroorsaak dat jou skanse verlaag word, wat jou vatbaar vir aanvalle maak. Paulus het gesê: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV).

3) Versoeking kom wanneer jy moeg is. Veertig dae sonder kos het Jesus fisies uitgeput gelaat. Wanneer jou hulpbronne uitgeput is, is jy ‘n teiken. Te min slaap, ‘n ongesonde dieet, geen oefening, angs en ontmoediging kan die deur tot versoeking oopmaak. Wanneer jy terneergedruk voel, vervaag jou fokus, jou bewustheid word afgestomp, jou geestelike voorsprong verklein en jy is nie op jou hoede teen die Vyand se benaderings en planne nie.

Die Bybel sê: ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV).

Sielskos: Jes 49-52; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15

Pasop om ‘n meerderwaardige houding te hê (3)

2023-01-16
1 Petrus 5:6 NLV

Het jy al ooit op iemand neergesien omdat hulle nie dieselfde voordele wat jy in die lewe geniet, deel of het nie? Voel jy verhewe in enige ander aspek van jou lewe? Glo jy dat jy in ‘n spesiale klas is omdat jy aan ‘n sekere denominasie behoort? Miskien voel jy met jou geoefende liggaam meerderwaardig teenoor die oorgewig menigte. Wat daarvan as jy in jou gemeenskap bekend is? Dink jy dat jy altyd by openbare vergaderings na die voorste sitplekke begelei moet word? Indien dit die geval is, is dit tyd om jou houding aan die Heilige Gees te onderwerp.

Wanneer dit by meerderwaardigheid kom, is daar ook ‘n ander sy van die muntstuk. Dit is moontlik om ‘n persoon of ‘n groep as meerderwaardig te bestempel bloot omdat hulle ‘n bepaalde voordeel geniet wat jy intimiderend weens jou eie selftwyfel vind, of om jou beeld in ander se oë te probeer verbeter. Politici doen dit.

‘n Politieke kandidaat mag dalk sy teenstander van meerderwaardigheid beskuldig omdat hy of sy uit ‘n ryk familie kom, ‘n graad aan ‘n vooraanstaande universiteit verwerf het of invloedryke vriende het. Gevolglik beskuldig daardie teenstander dan die ander daarvan dat hy of sy na blouboordjiewerkers uitreik en oneerlik is oor hoe gewoon en plat op die aarde hy of sy is.

Op die ou einde is dit nie wat jy doen nie, maar wat jy glo wat bepaal of jy ‘n meerderwaardige houding het. Die waarheid is dat dit maklik is om trots in ander mense raak the sien, maar moeilik om dit in jouself raak te sien. Dis hoekom Petrus skryf: ‘Word daarom klein onder die kragtige hand van God: op sý tyd sal Hy julle groot maak.’

Sielskos: Jes 45-48; Luk 3:1-10; Ps 79; Spr 2:9-10

Pasop om ‘n meerderwaardige houding te hê (2)

2023-01-15
1 Korintiërs 15:10 NLV

Wanneer jy minder van iemand dink omdat hulle nie lid van jou ras, denominasie, geslag of sosiale groep is nie, vertoon jy ‘n meerderwaardige houding. Meerderwaardigheid skiet in trots wortel: ‘God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV).

Hier is twee voorbeelde uit die Bybel van meerderwaardige houdings: 1) Toe God sy Gees op die sewentig leiers wat Israel moes lei uitgestort het, het hulle almal geprofeteer. Twee van hulle was nie teenwoordig toe dit gebeur het nie. Later het Josua hulle gesien waar hulle ook profeteer en dit aan Moses gerapporteer. “‘Meneer moet hulle stop!’ Moses het hom geantwoord: ‘Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die Here tog maar die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!'” (Numeri 11:28-29 NLV). Josua het geglo dat net ‘n uitgesoekte groep daarvoor gekwalifiseer het.

2) “Johannes sê toe vir Hom: ‘Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.’ ‘Moenie hom keer nie,’ het Jesus gesê, ‘want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie. Wie nie teen ons is nie, is vir ons'” (Markus 9:38-40 NLV).

As jy ander mense in enige aspek van die lewe uitsluit of meerderwaardig teenoor hulle voel, lees dan hierdie woorde van Paulus: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het.’

Sielskos: 1 Kor 13; Dan 6:1-24

Pasop om ‘n meerderwaardige houding te hê (1)

2023-01-14
Romeine 12:3 ABA

Paulus skryf: ‘Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles. Julle moet onthou dit is God wat vir julle elkeen sê hoe julle Hom moet dien. Ons is soos ‘n mens se liggaam. ‘n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele, en elke deel doen iets anders… Ons is baie mense, maar ons behoort aan Christus en daarom is ons soos een liggaam… God het genadegawes vir ons gegee, maar God het nie dieselfde genadegawes vir ons almal gegee nie… (verse 3-6 ABA).

Paulus leer ons hier ‘n belangrike beginsel: Moenie ‘n meerderwaardige houding hê nie. As jy meerderwaardig is, moet jy besef dat elke voordeel of guns wat jy geniet, ‘n gawe van God is (sien 1 Korintiërs 4:7). Selfs as jy dink dat jy dit op eie houtjie bereik het, lees die volgende woorde en neem dit ter harte: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees: Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan wat Hom toekom nie, maar Hy het dit prysgegee: Hy het ‘n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mens geleef het, het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe! Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam’ (Filippense 2:3-9 NLV).

Sielskos: Jes 42-44; Luk 2:41-52; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8

Moenie eiegeregtig wees nie

2023-01-13
Romeine 12:3 NLV

‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. Die Fariseër het stelling ingeneem en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien!’ Die tollenaar het op ‘n afstand stelling ingeneem en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my as sondaar genadig!’ Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word’ (Lukas 18:10-14 NLV).

God het meer geduld met ‘n eerlike sondaar as met ‘n selfvoldane Christen. Toe die Fariseër homself gelukgewens het met die sondes wat hy nie gepleeg het nie – kullery, owerspel ens – was hy skuldig aan die sonde van geestelike trots. Watter goeie gedrag is vir jou ‘n bron van trots? Oordeel jy ander volgens jou optrede?

Die enigste optrede wat enigeen van ons voor God aanvaarbaar maak, is op Christus se optrede aan die kruis gebaseer. ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Die geregtigheid wat ons red, word toegereken – nie verdien nie. Moet dus nie eiegeregtig wees nie!

Sielskos: Jes 38-41; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6