2022-12-03
Kolossense 3:2 NLV
Wat is tans jou grootste uitdaging? Om ‘n slegte gewoonte te verbreek, of ‘n nuwe een in plek te stel? Om ‘n nuwe besigheid te begin, of ‘n ou een weer reg te ruk? Om van ‘n slegte huwelik te herstel, of ‘n goeie een beter te maak? Om uit ‘n depressiewe gat te kom, of om te keer dat jy in een verval? Paulus gee ons twee kragtige sleutels: 1) Stel jou gedagtes in die regte rigting. 2) Hou jou gedagtes gestel in die regte rigting. Om jou gedagtes in die regte rigting te stel is die maklike deel, om dit in die regte rigting te hou verg daaglikse toewyding.
Enigiemand kan ‘n begin maak, maar min steek die wenstreep oor. ‘ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie’ (Hebreërs 12:2-3 NLV).
Raak jy as gevolg van jou gedagtes en emosies moeg en moedeloos? Wat is die dryfveer in jou lewe? Jou gevoelens? Jou impulse? Jou buie? Hier is twee lewensveranderende Skrifgedeeltes: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). ‘Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).
Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Joh 13:1-17; Ps 14; Spr 28:13-16
2022-12-02
Prediker 3:1 NLV
Wanneer God vir jou ‘n visie gee moet jy voorbereid wees om ‘n paar trane te stort, omdat elke visie teen ‘n prys kom. Die pad na oorwinning is vol toetse en beproewings. Niemand word daarvan kwytgeskeld nie. God het egter belowe dat daar ‘n oes sal wees: ‘Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak dra, sal sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra’ (Psalm 126:5-6 NLV).
Die Skrif leer ons twee dinge: 1) Daar is ‘n tyd om te huil. Dit is nie ‘n verskoning vir passiwiteit, of ‘n houding van swakheid wat jou tot trane reduseer omdat die lewe nie regverdig is en dinge moeilik is, nie. Nehemia is tot trane deur die puinhoop van Jerusalem gedryf. Toe het hy egter ‘n plan ontwikkel, ‘n span bymekaar gekry en dit herbou. Waaroor voel jy passievol? Wat dryf jou?
2) Daar is ‘n tyd om te oes. Alles in die lewe het ‘n rede en ‘n seisoen (sien Prediker 3:1-8). Wanneer jy die rede verstaan en die meeste uit die seisoen put, word jy ‘…soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd…’ (Psalm 1:3 NLV). Let die woorde: ‘op die regte tyd,’. Vrugte sal nie voor hul tyd groei nie. Dis hoekom jy onderskeid tussen jou lewe se veranderende seisoene moet tref en by hulle moet aanpas.
Dis veral waar wanneer dit oestyd is. Jy moet weet wanneer jy moet ophou huil en begin oes; anders sal jy die oes misloop. Trane is vir die saaier, maar vreugde is vir die maaier. Wanneer jou seisoen dus begin verander, oes jou lande met vreugde. Jy het jou ledegeld betaal; nou is dit tyd om dit wat God vir jou beloof het, te geniet.
Sielskos: 2 Kron 32-34; Joh 12:37-50; Ps 146; Spr 28:9-12
2022-12-01
Galasiërs 5:22-23 NLV
Is jy selfbeheersd, of ‘n beheerder? Kom ons vind uit: Beheerders blameer dinge soos die duiwel, mense en omstandighede vir hulle probleme en reageer deur te blameer, wrokkig te wees of frustrasie te projekteer. Hulle manipuleer mense en omstandighede tot hul eie voordeel. Dit werk egter nie; hulle pogings verskerp hulle pyn en verander hulle verhoudings in ‘n magstryd. Hoe meer hulle probeer beheer, hoe slegter voel hulle; en hoe slegter hulle voel, hoe meer probeer hulle beheer. God wil nie hê dat jy so moet lewe nie.
Die selfbeheersde verstaan dat die duiwel niks sonder jou samewerking kan doen nie en dat jy dit nie hoef te gee nie (sien Lukas 10:17). Hulle verstaan dat mense en omstandighede ook nie die probleem is nie – hoe ons dit hanteer is egter wel. Hulle reageer dus deur hulself aan drie dinge te herinner:
1) Die persoon wat ek moet beheer, is myself.
2) Soms moet ek mense en omstandighede aan God oorgee en Hom toelaat om hulle te hanteer.
3) Ek moet daagliks krag uit die Heilige Gees put sodat ek my reaksies kan beheer en die Skrif se beginsels toe te pas om in beheer van my lewe te bly (sien 2 Timoteus 1:7).
Gevolglik vermy die selfbeheersdes dit om by blaamspeletjies en selftoegediende pyn betrokke te raak en om verhoudings in gevegsones te verander. Deur te weet dat as ‘die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…,’ verstaan hulle dat die Gees hulle nie sal beheer, of hulle sal help om ander te beheer nie, maar dat Hy hulle sal bemagtig om hulself te beheer. Mense wat deur die Gees bemagtig word, word vry van die probleem en word deel van die oplossing.
Sielskos: 2 Kron 29-31; Joh 12:20-36; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8
2022-11-30
Lukas 17:14 NLV
‘…tien melaatse mans [het] Hom teëgekom… Hulle het hard na Hom geroep: ‘Jesus, Here, kry ons tog jammer!’ Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: ‘Gaan wys julleself aan die priesters.’ Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword. Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ‘n harde stem vir God geloof’ (verse 12-15 NLV).
Daar is ‘n geestelike vergelyking wat tussen melaatsheid en die lewe getref kan word; beide kan jou verteer. Is dit wat vandag met jou gebeur? Indien dit die geval is: 1) Neem jou probleem na Jesus toe. Hy kan dit wat jy verloor het herstel en vir jou jou vrede en vreugde teruggee. Roep uit na Hom. ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV).
2) Doen wat Hy vir jou sê om te doen! Moenie voorwaardes aan God stel nie. Moet ook nie ‘n ervaring wat identies is aan iemand anders s’n, verwag nie. Jesus het vir die tien melaatse mans gesê om hulle aan die priesters te gaan wys. Hoekom het Hy hulle nie daar en dan gesond gemaak het nie? Geloof vereis nie verduidelikings nie!
3) Wees voorbereid om ‘n pad te stap. ‘…Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword…’ Soms wanneer God jou die antwoord gee, moet jy in geloof die pad stap, met elke tree wat jou nader aan jou uitkoms bring. Niks gebeur egter totdat jy nie daardie eerste tree geneem het nie.
4) Moenie vergeet om Hom te bedank nie. Net een van die tien melaatse mans het omgedraai om dankie te sê, en Jesus het dit opgemerk. Jy kan met vrymoedigheid vir jou volgende antwoord na Hom toe gaan, wanneer jy onthou om Hom vir jou vorige antwoord te bedank.
Sielskos: 2 Kron 25-28; Joh 12:12-19; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4
2022-11-29
Jakobus 1:5 NLV
Salomo het gesê: ‘Soek na wysheid en goeie oordeel. Moenie my woorde vergeet nie. Moenie dit laat los nie. Moet nooit afstand doen van die wysheid nie. Dit sal jou beskerm. As jy wysheid liefhet, sal dit jou beveilig. Die verstandigste ding om te doen, is om eers wysheid te bekom. Wy jou daaraan toe om onderskeidingsvermoë te verkry. Stel wysheid voorop, dan sal dit vir jou aansien gee. Stel dit hoog op die prys en dit sal aan jou eer gee’ (Spreuke 4:5-8 NLV).
Daar is baie maniere om wysheid te verkry: 1) Ontleen dit uit die kollektiewe kennis van ander. ‘Selfvoldaanheid lei altyd tot rusies. Julle wat na ander luister, het wysheid’ (Spreuke 13:10 NLV).
2) Dink buite die boks. Uitsprake soos: ‘Dis die manier hoe ons nog altyd dinge hier rond gedoen het,’ regverdig ondersoek wanneer dit gebruik word om maniere wat nie meer werk nie, te verdedig.
3) Skryf neer en dink na oor dit wat jy deur ervaring geleer het.
4) Moenie jaag om klaar te maak nie. Die vermoë om gefokus en vervul met geloof te midde van verandering te bly, is die kenteken van groei en volwassenheid.
Die uiteindelike bron van wysheid is egter God se Woord! ‘Dis tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:6 NLV). ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg’ (Jakobus 3:17 NLV). ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV). Weier om ‘n ontoegewyde lewe te lei. Weier om ‘n rigtinglose lewe te lei. Vra vandag vir God vir wysheid.
Sielskos: 2 Kron 21-24; Joh 12:1-11; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27
2022-11-28
Hebreërs 2:1 NLV
Ons moet aanhoudend ons Skriftuurlike fondasies herbevestig. Wat is hierdie grondwaarhede waarop die kerk van Jesus Christus gebou is? Die onfeilbaarheid van die Bybel; Christus se maagdelike geboorte; sy sondelose lewe; sy versoeningsdood; sy liggaamlike opstanding en bemiddelingswerk namens ons; ons behoefte om gered, gedoop en met die Heilige Gees vervul te word; en die opdrag om die evangelie na die vier uithoeke van die aarde uit te dra en die spoedige wederkoms van ons Here Jesus Christus om te heers, aan te kondig. Hierdie waarhede is ononderhandelbaar!
Jy sê: ‘Maar gaan dit ons nie bekrompe laat lyk nie?’ Nee, Paulus sê: ‘Vervloek is elkeen wat ‘n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of ‘n boodskapper uit die hemel wees’ (Galasiërs 1:8 NLV). Kanker begin in een ongeïdentifiseerde sel, maar dit kan die hele liggaam vernietig. Dis hoekom Judas skryf: ‘…Maar nou voel ek verplig om… julle aan te spoor om aan te hou stry vir die geloofsbelydenis wat eenmalig oorgelewer is aan God se mense. Want sekere mense het hulle in julle geledere ingewurm, goddelose mense wat reeds lank tevore vir die oordeel bestem was. Hulle verwring die onverdiende goedheid van ons God tot roekeloosheid en misken ons enigste Meester en Here, Jesus Christus’ (Judas verse 3-4 NLV).
Let die woorde: ‘eenmalig oorgelewer aan God se mense,’ op. Ons metodes om die wêreld te bereik mag dalk verander, maar ons boodskap mag nooit verander nie. Jy vra: ‘Maar is ons nie veronderstel om almal lief te hê nie?’ Ja, en dis hoekom ons nooit God se Woord moet verwring nie.
Sielskos: 2 Kron 18-20; Joh 11:45-57; Ps 114; Spr 27:20-22