Verbintenis begin met omgee

2023-01-24
1 Tessalonisense 3:12 NLV

Een van Amerika se suksesvolste telefoonmaatskappye het ‘n advertensie met die slagspreuk: ‘Kan jy my nou hoor?’ geskep. Dit het ‘n man uitgebeeld wat oor die foon praat, maar die persoon aan die ander kant kan hom nie hoor nie. Dus vra hy aanmekaar: ‘Kan jy my nou hoor?’ Die advertensie is ontwerp om die boodskap weer te gee dat hierdie spesifieke telefoonmaatskappy hoë-kwaliteit sein het.

Wat is jou onmiddellike reaksie wanneer jou foon sein verloor? Irritasie? Frustrasie? Woede? Dr John Maxwell skryf in sy boek Everyone Communicates, Few Connect, die volgende: ‘Wanneer ek met mense omgaan, weet ek dat ek ‘n verbinding gemaak het wanneer ek die volgende waarneem: Ekstra moeite – mense stap die ekstra myl; ongevraagde waardering – hulle sê positiewe dinge; onbewaakte openheid – hulle wys vertroue; verhoogde kommunikasie – hulle druk hulself makliker uit; aangename ervarings – hulle voel goed oor wat hulle doen; emosionele gebondenheid – hulle vertoon ‘n verbintenis op ‘n emosionele vlak; positiewe energie – hul emosionele ‘batterye’ word deur samesyn gelaai; onvoorwaardelike liefde – hulle aanvaar sonder voorbehoud. Ek weet dat ek met mense ‘n verbintenis het wanneer ek enige van hierdie tekens opmerk. Hoe gaan dit met jou wat verbintenis betref? Wanneer jy ‘n een-tot-een interaksie met iemand wat belangrik in jou lewe is het, sien jy hierdie tekens? Selfs al is jy nie goed daarmee om verbintenisse aan te knoop nie, kan jy leer hoe om dit te doen.’

Eerstens moet jy egter waarlik omgee vir die persoon waarmee jy ‘n verbintenis wil aanknoop. Dis hoekom Paulus skryf: ‘En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir ander mense… groot en oorvloedig maak…’

Sielskos: Pred 9-12; Luk 5:12-26; Ps 96; Spr 3:5-6

Hanteer verandering by die werk

2023-01-23
Prediker 3:1 NLV

Wanneer dinge by die werkplek verander, voel ons dikwels bedreig. Ons raak aan die persoonlikhede van ons kollegas en base gewoond en ons wil hê hulle moet dieselfde bly en niks meer van ons verwag as in die verlede nie. Uit ons begeerte na stabiliteit, sekuriteit en voorspelbaarheid misluk ons om vir onstabiliteit, onsekerheid en verrassings voor te berei. Hoe ironies is dit nie!

As ons bereid is om ons verwagtinge aan te pas en meer realisties te wees, sal ons nie so getraumatiseerd wees wanneer veranderinge plaasvind nie. Dinge kan oornag verander. Dit mag dalk die verlies van ‘n ouer, of ‘n werk, of jou gesondheid wees. Verandering is die lewe se enigste konstante. Dit het die potensiaal om jou na groter dinge te beweeg, of om jou soos ‘n stoomroller plat te vee. Die keuse is joune. ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles…’

Die waarheid is dat God jou enigste veilige anker in jou lewe is, so indien jy wys is, sal jy ‘n sterk verhouding met Hom bou. Hy sal jou nie toelaat om van enigiets behalwe Hom afhanklik te wees nie.

Hier is Elia se verhaal: ‘Die kraaie het soggens en saans vir hom brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. Na ‘n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar was geen reënval in die opvanggebied nie’ (1 Konings 17:6-7 NLV). Elia mag dalk paniekerig geraak het, maar God het nie. ‘Toe sê die Here vir Elia: ‘Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (vers 8 NLV). God het kraaie, ‘n spruit en ‘n arm weduwee gebruik om vir Elia te sorg.

Geniet dus jou werk, blink daarin uit, maar wees slegs van God afhanklik!

Sielskos: Pred 5-8; Luk 5:1-11; Ps 91; Spr 3:3-4

Kies die regte gedagtes

2023-01-22
Kolossense 3:2 NLV

Marcus Aurelius het gesê: ‘Ons lewe is wat ons gedagtes daarvan maak.’ Ongelukkig kan jy nie ophou om verkeerde gedagtes te dink deur net harder te probeer nie. Jy kan egter die volgende doen: Jy kan jou gedagtes beheer. Die mees basiese beheer wat ons ten opsigte van ons gedagtes het, is jou vermoë om te kies waaraan jy aandag gee. Op enige gegewe oomblik is dit binne jou kapasiteit om jou gedagtes in een rigting of ‘n ander te stuur. Dit help verduidelik hoe twee mense in presies dieselfde omstandighede heeltemal verskillende perspektiewe en ervarings kan hê.

Die volgende uittreksels uit ‘n hond en ‘n kat se dagboeke mag jou dalk laat glimlag. Hopelik sal dit jou egter ook laat dink aan die verskil wat jou houding kan maak. Hond se dagboek: 8:00. Het hondekos geëet. My gunsteling aktiwiteit! 9:00. Het in die kar gery. My gunsteling aktiwiteit! 9:40. Het in die parkie gestap. My gunsteling aktiwiteit! 10:30. Het ‘n vryfie agter die ore gekry. My gunsteling aktiwiteit! 12:00. Het middagete geëet. My gunsteling aktiwiteit! 13:00. Het in die gras gespeel. My gunsteling aktiwiteit! 15:00. Het my stert geswaai. My gunsteling aktiwiteit! 17:00. Het kos geëet. My gunsteling aktiwiteit! 19:00. Het met my bal gespeel. My gunsteling aktiwiteit! 20:00. Het saam met my mense televisie gekyk. My gunsteling aktiwiteit! 23:00. Het op die bed geslaap. My gunsteling aktiwiteit! Kom ons kyk nou na die kat. Kat se dagboek: Dag 983 van my gevangenskap. My ontvoerders hou aan om my met bisarre hangende voorwerpe te tart. Die een ding wat my help deurdruk, is my droom om te ontsnap.

Twee skepsels… soortgelyke situasies… totaal verskillende ervarings. Wat maak die verskil? Een het die regte gedagtes gekies; die ander een het nie.

Sielskos: Gal 5:13-26; 1 Sam 17:4-51

Dis opleiding vir beter dinge

2023-01-21
Romeine 8:28 NLV

Toe Josef in die tronk gegooi is, was dit vir hom moeilik om te sien hoe hierdie pad tot die vervulling van sy droom kon lei, maar dit het, omdat God ‘n plan vir sy lewe gehad het. Hy het ook ‘n plan vir jou lewe! Jou huidige werk mag dalk slegs voorbereiding wees vir die werk wat God regtig vir jou in gedagte het. Miskien nie vandag of more nie, maar as jy getrou bly, sal daar ‘n tyd kom wat jy terugkyk en besef hoe God jou treë gerig het (sien Psalm 37:23).

Weier dat ‘n gevoel van slagofferskap jou vrede steel. Jou werk, ten spyte die probleme, sou die droom van sommige van jou voorgeslag gewees het. Het jy nie vir hierdie werk waaroor jy nou so kla, gebid nie? So moeilik soos dit dalk mag wees om te aanvaar, jy is waar jy is vir ‘n rede – en vir ‘n seisoen. Studeer dus, doen die huiswerk, skryf die toetse, behaal die graad en beweeg aan na dit wat God volgende vir jou beplan.

Daar is sekere kwaliteite wat jy van jou huidige posisie na jou volgende een moet neem, dinge soos vaardighede en karakterontwikkeling. Jy mag dalk rekenaar- en sosiale mediavaardighede moet aanleer – plus geduld en dankbaarheid. Jy mag dalk moet leer hoe om ‘n kantoor te bestuur – en hoe om jou buie te beheer.

Wanneer jy deur God gelei word, word geen ervaring gemors nie, want: ‘…ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). God weet wat Hy doen, vertrou Hom dus; Hy gebruik elke ervaring om sy wil te laat geskied en ons blydskap te vervul.

Sielskos: Pred 1-4; Luk 4:31-44; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2

Vorm gesonde verhoudings

2023-01-20
Psalm 147:3 NLV

Wanneer jy van ‘n slegte verhouding herstel, is dit ‘n fout om te vinnig ‘n ander een aan te knoop. Ongestelde mense maak ongesonde keuses. Sommige wonde neem langer as ander om te genees, maar jy kan op hierdie belofte staatmaak: ‘Hy genees die gebroke hart, en verbind die wonde.’

Al wat God van jou vra, is dat jy Hom ‘n kans moet gee. Begin deur tyd te maak om sy Woord te deursoek vir hoe Hy oor jou voel. Sy opinie is die enigste betroubare fondasie waarop jy jou selfwaarde moet bou. As ‘n perfekte God met volle wete van jou moeilikhede en tekortkominge jou kan liefhê, moet jy nie so veroordelend teenoor jouself wees nie! Maak volgende keer seker dat jou keuses nie op die behoefte of die vrees om alleen te wees nie, gebaseer is nie.

Wees ook versigtig: Wanneer jy jouself nie waardeer nie, trek jy mense wat jou ook nie sal waardeer nie; mense wat jou vir hul eie doeleindes sal gebruik, aan. Jy verdien beter, so wees bedag daarop. Jy wys ander mense hoe om jou te behandel deur hoe jy jouself behandel.

Soos jy geestelik en emosioneel gesond word, sal jy ook begin sien hoe ongesond sommige van jou vorige keuses was. As sommige mense dan wegstap, is dit dan maar so. Soms moet jy iets prysgee om meer te kan hê. Die God wat gesê het dat dit nie goed is vir die mens om alleen te wees nie, het nuwe verhoudings vir jou in gedagte. Hy wag egter totdat jou waardes en selfpersepsie in lyn met syne beweeg. Neem dit dus tree vir tree, een dag op ‘n slag. Onthou ook om jouself te verbly – jou beste dae lê nog voor!

Sielskos: Jes 63-66; Luk 4:14-30; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22

Samevoeging van twee gesinne

2023-01-19
2 Korintiërs 13:11 NLV

The Brady Bunch was ‘n populêre televisieprogram waar ‘n ma en pa met ses kinders een groot gelukkige familie sonder konflik of wedywering, bymekaar gebring het. Die probleem is dat dit selde so gebeur. As jy dus van plan is om weer te trou, is hier drie uitdagings waarvoor jy God se hulp nodig sal hê:

1) Dis algemeen vir kinders om ‘n nuwe stiefouer as ‘n indringer te sien. Hul lojaliteit aan die nagedagtenis van hul ma of pa kan intens wees. Om ‘n nuweling te verwelkom voel vir hulle soos ‘n daad van verraad. Dit kan die stiefouer in ‘n moeilike situasie plaas.

2) Dit is algemeen dat een kind in die magsvakuum inbeweeg wat deur die vertrekkende ouer agtergelaat word en hulself as ‘n surrogaat-eggenoot sien. Die status en mag wat met hierdie ondersteunende rol gepaardgaan, is baie sterk en ‘n kind mag dalk nie bereid wees om dit prys te gee nie.

3) Elkeen van ons is irrasioneel tot ons eie vlees en bloed verbind. Wanneer konflik dus in die gesin ontstaan, is ouers byna altyd teenoor diegene wat hulle in die wêreld gebring het, partydig. Wanneer kinders hierdie spanning tussen ouers aanvoel, sal sommige van hulle dit tot hul voordeel probeer uitbuit. Daarom faal tweede en derde huwelike statisties meer as eerste huwelike. Daar is egter goeie nuus: ‘…Maar by God is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV).

Wat moet jy dus doen? Kry so vroeg as moontlik professionele berading. Ja, dis duur, maar ‘n egskeiding sal jou nog meer kos. Betrek God ook by die situasie; Hy kan vir jou die geduld, wysheid en liefde wat jy nodig het, gee. ‘…leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle bly!’ (2 Korintiërs 13:11 NLV).

Sielskos: Jes 58-62; Luk 4:1-13; Ps 89:1-14; Spr 2:20