Moenie jou geloof afskeep nie

2022-12-09
Romeine 12:3 NLV

Jy kan nie terugsit, niks doen en glo dat God alles vir jou sal doen nie. Jy het ‘n rol om te speel. Paulus sê dat God vir elkeen van ons ‘geestelike toerusting’ gegee het. Judas sê dat jy geestelik ontwikkel deur jouself ‘…op te bou op die fondament van die allerheiligste geloof…’ (Judas vers 20 NLV). Dis in die strydperke van die lewe waar jy ontdek of jy geloof gekoester of verwaarloos het.

In die Bybelse tyd het ‘n Romeinse soldaat se skild hom van sy kop tot by sy tone beskerm. Dit was van yster gemaak, met dik lae materiaal oorgetrek, en hy het dit in water geweek voordat hy die stryd betree het. Gevolglik is die vlammende pyle van die vyand geblus sodra dit daarmee kontak gemaak het. Nou verstaan jy wat Paulus bedoel het met: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (Efesiërs 6:16 NLV).

Satan se pyle kan nie jou hart binnedring wanneer dit suiwer, deurweek met die Skrif en versterk deur geloof is nie. Dis hoekom Jesus vir Petrus gesê het: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (Lukas 22:31-32 NLV). Dis jou geloof wat aangeval word! Dis jou geloof wat gevoed moet word! Dis jou geloof wat jou in die lewe se strydperke onderhou!

Jesus het vir ons gesê: ‘…Julle moet geloof hê in God’ (Markus 11:22 NLV). Dis die tyd wat jy met die Skrif en in gebed met God bestee, wat jou geloof versterk om die lewe se strydperke te oorwin.

Sielskos: Jos 11-13; Joh 14:26-15:4; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10

Die belangrikheid van slaap

2022-12-08
Jeremia 31:26 NLV

Soms is die mees ‘geestelike’ ding wat jy kan doen om vroeg bed toe te gaan en verfris wakker te word, sodat jy gereed is om God se doelwitte vir die dag te vervul. Wanneer jou battery konstant laag is, word dit in jou houding, jou verhoudings, jou optrede en jou gesondheid, weerspieël.

Dis hoekom die Bybel oor die belangrikheid van slaap praat:
1) ‘Tevergeefs werk jy so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
2) ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).

Slaap is ‘n vertrouensdaad: Wanneer jy gaan slaap, erken jy dat die wêreld in God se hande, nie joune nie, is. Wanneer jy môreoggend wakker word, net soos God vir Israel vars manna gegee het, sal Hy vir jou gee wat jy vir die dag nodig het. Jeremia het gesê: ‘Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.’

Het jy al ooit probeer bid as jy nie genoeg geslaap het nie? Dis moeilik. Voor Elia in staat was om langdurige tye in gebed deur te bring, het die engel van die Here hom gedwing om nie net een nie, maar twee lang slapies te vat. Kontrasteer dit met die dissipels in Getsemane wat nie kon bid nie, omdat hulle aanhoudend aan die slaap geraak het. Dis moeilik om soos Jesus te dink, te voel en op te tree wanneer jy slaap kort. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5

Sewe Skrifgedeeltes waarop jy moet staan

2022-12-07
Psalm 118:2 NLV

Doen jouself ‘n guns – lees Psalm 118! 1) ‘In my nood het ek tot die Here gebid. Die Here het my geantwoord en my bevry’ (vers 5 NLV). Waarmee sukkel jy vandag? ‘n Destruktiewe gewoonte? ‘n Gevoel van waardeloosheid? God wil jou daarvan bevry. 2)
‘Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie…’ (vers 6 NLV). Jou toekoms rus nie in die hande van mense nie, maar in God; ‘n goeie God wat goeie planne vir jou het.
3) ‘Die Here is by my. Hy help my. Ek sal neersien op my haters’ (vers 7 NLV). Wanneer mense jou probeer afkraak, sal God jou ophef. Wanneer hulle van jou weerhou, sal Hy in al jou behoeftes voorsien.
4) ‘Ek sal nie sterf nie, maar lewe, en van die Here se werke vertel (vers 17 NLV). Ons almal sal eendag sterf; maar jy hoef nie te sterf voordat jou taak voltooi is en jy God verheerlik het nie.
5) ‘Die Here het my swaar gestraf, maar nie aan die dood oorgegee nie’ (vers 18 NLV). Korrigeer God jou? Verbly jouself; sy korreksie is nie verwerping nie. Dis beskerming teen toekomstige foute.
6) ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees’ (vers 24 NLV). Of gister nou ‘n triomf of ‘n tragedie was, God gee vir jou ‘n nuwe dag. Gryp dit aan! Verbly jouself daarin!
7) ‘Wees dankbaar teenoor die Here, want Hy is goed! Sy goedheid duur vir altyd!’ (vers 29 NLV). Jy mag dae sonder genoeg geld ervaar, maar jy sal nooit ‘n dag sonder God se genade gaan nie.

Hierdie sewe Skrifgedeeltes is vir jou, staan dus vandag daarop.

Sielskos: Jos 5:1-8:29; Joh 14:1-14; Ps 2; Spr 28:25-28

Moet nooit diegene wat jou gehelp het, vergeet nie

2022-12-06
Filippense 1:3 NLV

Paulus het dikwels diegene wat hom gehelp het, erken. ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God… omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra’ (verse 3-5 NLV). ‘Julle, Filippense… geen gemeente behalwe julle [het] my finansieel ondersteun nie. Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help’ (Filippense 4:15-16 NLV). Hy skryf aan die gelowiges in Tessalonika: ‘…dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sal sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter! Gevolglik vertel ons self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur’ (2 Tessalonisense 1:3-4 NLV).

Die skrywer Barbara Glanz vertel van ‘n man wat ‘n brief vir sy graad agt letterkunde-onderwyseres geskryf en die volgende antwoord ontvang het: ‘Jy sal nooit weet hoeveel jou brief vir my beteken het nie. Ek is 83 jaar oud en bly stoksielalleen. My vriende en familie het almal heengegaan. Ek het vir 50 jaar skoolgehou en jou brief is die eerste ‘dankie sê’ brief wat ek ooit ontvang het. Soms wonder ek wat ek met my lewe gedoen het. Ek sal jou brief oor en oor lees totdat die dag wat ek doodgaan.’ Ironies genoeg was sy die onderwyseres waaroor die studente die meeste by die skoolreünies gepraat het, maar niemand het haar ooit daarvan gesê nie.

Om waardering te wys kos so min in terme van tyd en geld, maar kan die wêreld vir iemand beteken. Teenoor wie moet jy vandag jou waardering bewys?

Sielskos: Jos 1-4; Joh 13:31-38; Ps 130; Spr 28:21-24

Kry die regte ingesteldheid (3)

2022-12-05
Spreuke 23:7 AFR53

Elke familie het generasie-‘kwessies’ waarmee hulle sukkel. Dis dinge soos verslawing, misbruik, woede, wellus, vrees, ensovoorts wat ons ouers en grootouers aan ons oorgedra het. Dikwels sê ons: ‘Dit loop in my familie, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.’ Ja, daar is! Jy mag dalk nie iets aan jou familie se verlede kan doen nie, maar deur God se genade kan jy die toekoms vir jouself en jou kinders verander.

Die Bybel sê: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Let op die woorde: ‘één is met Christus,’. Jy kan nie self jou familie se disfunksie verander nie, maar in Christus kan jy die krag ontvang wat nodig is om in ‘n nuwe rigting te beweeg. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NKV).

Jy vra: ‘Hoe vernuwe ek my denkpatrone?’ Deur dit met die Skrif te deurweek! Net soos jy sweet en vuilheid van jou liggaam verwyder deur dit in water te week, so reinig en korrigeer die Skrif jou denke wanneer jy jou gedagtes daarin week. Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Let op jou gedagtes, want dit word jou woorde. Let op jou woorde, want dit word jou dade. Let op jou dade, want dit word jou gewoontes. Hou jou gewoontes dop, want dit word jou karakter. Hou jou karakter dop, want dit word jou lot.’

God het vir Gideon gesê: ‘…Breek jou pa se altaar vir Baäl af…’ (Rigters 6:25 NLV). In die plek daarvan het Gideon ‘n nuwe altaar vir die Here gebou en sy lewe en die van sy familie vir ewig verander. Deur jou gedagtes met God se Woord te programmeer, kan jy dieselfde doen!

Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:18-30;
Ps 65; Spr 28:17-20

Kry die regte ingesteldheid (2)

2022-12-04
2 Korintiërs 10:5 NLV

Hoe sal jy jouself beskryf? Is jy van nature positief, of negatief? Word jou besluite deur geloof in God, of deur die vrees vir mislukking, verwerping of tekort gedryf? Voel jy goed oor jouself, of kraak jy jouself af en voel soos ‘n verloorder? Wat jou antwoord ook al mag wees, die volgende is seker: Die patrone en houdings wat jou lewe regeer is nie oornag gevorm nie – so moenie verwag om dit oornag te oorkom nie. Jy kan egter ‘n begin maak deur die volgende Skrifgedeelte te gehoorsaam: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge…’ (Kolossense 3:2 NLV).

Die Bybel verwys na die Christelike lewe as ‘n wandelpad. ‘…Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het’ (Efesiërs 4:1 AFR83). ‘Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie’ (2 Korintiërs 5:7 AFR53). ‘As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel’ (Galasiërs 5:25 AFR53). ‘…wandel in liefde…’ (Efesiërs 5:2 AFR53). Om te wandel is die stadigste vorm van beweging! God nooi jou nie uit om saam met Hom te vlieg nie, maar om saam met Hom te stap. Sit net een voet voor die ander en hou dag na dag aan loop.

Wanneer is ons die meeste geneig om te gly en te val? 1) Wanneer ons leer loop. 2) Wanneer ons in omstandighede is wat ons nie geskep het nie en waaroor ons geen beheer het nie, soos ys en sneeu. 3) Wanneer ons gedreineer, moeg en swak voel. 4) Wanneer ons agtelosig raak, nie ons oë oophou nie en ophou fokus. Jou uitdaging is tweevoudig: om die regte ingesteldheid te kry en dit dan te onderhou. As jy God getrou soek, sal Hy jou help om beide hierdie dinge suksesvol te doen.

Sielskos: 1 Kon 17:17-24; Mark 5:21-43; Joh 11:1-45