God gee om vir jou bekommernisse

2023-01-29
1 Petrus 5:7 NLV

Doug Coldiron skryf: “Ek is ‘n vragmotorbestuurder en my Jack Russel terrier, Dee Dee, ry orals saam met my. Ons was net buite Atlanta besig om bal te speel toe iets haar oog vang en sy die woud inhardloop. Ek het orals gesoek en haar naam geroep totdat dit pikdonker was, maar kon haar nie kry nie. Die volgende oggend moes ek weer in die pad val en toe ek my laptop oopmaak en na my Facebookblad gaan, was dit gevul met boodskappe: ‘Ons bid vir jou.’ ‘Hou moed.’ ‘Vertrou op God.’ Ek het vertroos gevoel; ander mense was ook besorg oor my hond. As ek net gou weer na Atlanta kon terugkeer! Ek het daaraan gedink om te bid: ‘Here, stuur my asseblief NOU op ‘n roete Atlanta toe!’ Ek het geweet dat dit weke kon neem, maar toe ek op my maatskappy se webblad ingaan om my volgende opdrag en roete te kry… was dit Atlanta! Het my gebed dan gewerk? Die volgende oggend het Russ, een van die maatskappy se toesighouers, my wakker gebel. ‘Ek het jou hond op pad werk toe gesien.’ Ek kon nie my ore glo nie! Ek moes dadelik daar uitkom! Russ het my geneem na waar hy vir Dee Dee gesien het. Nadat ek ure lank gesoek het, het ek oor my skouer gekyk – en daar het sy op die stoep van ‘n huis gesit. Sy het na my toe gehardloop en toe ek haar optel, het ek gebid: ‘Dankie Here.'”

Die Bybel sê: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ Coldiron voeg by: ‘Wie weet wat in ‘n hond se kop aangaan? Een ding wat ek egter verseker weet, is dat ons nooit alleen is nie. God beantwoord altyd gebede.’

Sielskos: Fil 2:1-13; Eks 14:5-31

Begin jou dag met God

2023-01-28
Psalm 5:4 NLV

Leer die gewoonte aan om elke dag met God te begin, Wanneer jy dit doen, sal jy ‘n bron hê waaruit jy die hele dag krag kan put. Sielkundiges sê dat dit tot drie weke neem om aan ‘n nuwe gewoonte gewoond te raak en nog drie weke voor die gewoonte gevestig word. Dit beteken dat jy die ses-week grens moet oorsteek. Doen dus die volgende:

1) Maak ‘n vasbeslote besluit. As jy halfhartig begin, sal jy nooit suksesvol wees nie. Die Bybel sê: ‘Julle moet mekaar van dag tot dag aanspoor…’ (Hebreërs 3:13 NLV). As dit jou sal help, vra iemand om jou aanspreeklik te hou. Vra hulle om jou aan te spoor en jou aan die belofte wat jy teenoor God gemaak het, te herinner.

2) Moenie uitsonderings toelaat nie. Vermy dit om ‘Net hierdie een keer,’ as verskoning aan te wend. Elke daad van ingewing verswak jou wil en veroorsaak dat jy grond verloor.

3) Gebruik elke geleentheid om jou nuwe gewoonte uit te oefen. Wanneer jy die kleinste drang kry om jou Bybel te lees en te bid, doen dit. Moenie wag nie; gebruik daardie oomblik om jou gewoonte in te oefen. Jy kan nie ‘n nuwe gewoonte aan die begin oordoen nie.

4) Maak op God se krag staat. Jy is besig met ‘n geestelike stryd en jy kan slegs met God se hulp oorwinning behaal. Vertrou op Hom om jou te help om die gewoonte tot sy verheerliking te ontwikkel.

Skryf die volgende woorde neer, teken jou naam aan die onderkant en hou dit konstant voor jou: ‘Here, ek wy myself daaraan toe om elke oggend met U te begin, maak nie saak wat die koste daarvan is nie. Ek maak op U staat om my te help om konsekwent te wees.’ Dis ‘n gebed wat Hy sal antwoord.

Sielskos: Gen 10-12; Luk 6:27-36; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18

Die seën waarop ons hoop

2023-01-27
Titus 2:13 NLV

Vertroue in Christus se spoedige wederkoms en ons uiteindelike oorwinning, is wat ons in hierdie dae van ontnugtering met sommige van ons nasionale leiers, die devaluasie van ons geld en die verwoesting van oorloë wat op verskeie kontinente gevoer word, sal dra. Jesus het gesê: ‘Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie’ (Matteus 24:42 NLV). Met ander woorde, wees op jou hoede, maar moenie bang wees nie.

Admiraal James Stockdale het agt uitmergelende jare in ‘n Vietnamese kamp vir krygsgevangenes deurgebring. Wat het hom gedra? Hy het gesê: ‘Ek het nooit geloof in die einde van die storie verloor nie. Ek het nooit daaraan getwyfel dat ek nie net huis toe sou gaan nie, maar ook dat ek op die ou einde sou oorwin en die ervaring in ‘n bepalende gebeurtenis in my lewe sou verander, wat ek in retrospeksie nie vir iets sou verruil nie.’ Toe hy gevra is: ‘Wie het dit nie gemaak nie?’ het Stockdale geantwoord: ‘Dis maklik. Dit was die ouens wat gesê het: ‘Ons gaan Kersfees by die huis wees.’ Kersfees sou kom en gaan. Dan sou hulle sê: ‘Ons gaan Paasfees by die huis wees.’ En Paasfees sou kom en gaan. Later sou dit weer Kersfees wees. Hulle is uiteindelik dood aan ‘n gebroke hart.’

Die moed om tussen die twee uiterstes van huidige moeilikheid en uiteindelike triomf te staan, word in hierdie woorde van die Skrif gevind: ‘ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (Hebreërs 12:2 NLV). Die Een by wie jy jou begin ontvang het, waarborg jou ‘n glorieryke oorwinning.

Sielskos: Gen 7-9; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12

Hulp vir jou huwelik

2023-01-26
Spreuke 18:13 NLV

Iemand het gesê: ‘Om te trou is soos om iets te koop wat jy al vir jare in die winkelvenster bewonder. Jy is mal daaroor – maar wanneer jy by die huis kom, pas dit nie by alles nie!’ Die Bybel sê: ‘Mag God… julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe…’ (Romeine 15:5 NLV). Dit beteken dat jy die volgende drie dinge moet doen om ‘n gelukkige huwelik te bou:

1) Hê ‘n oop gemoed. Die Bybel sê: ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom.’ Moet dus nie jou antwoord formuleer terwyl jou man of vrou nog praat nie. Om te luister, beteken dat jy jouself tot die gesprek verbind en die ander persoon se standpunt erken. ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:3-4 NLV).

2) Leer om vir jouself te lag. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal. Hartseer maak ‘n mens terneergedruk’ (Spreuke 15:13 NLV). Wanneer jy finansiële druk, familieprobleme, siekte of net gewone uitputting ervaar, kan humor die spanning verlig en jou perspektief help herstel.

3) Vee die ‘E’ woord uit jou woordeskat uit. Alhoewel God egskeiding onder sekere omstandighede toelaat, is dit nooit sy ideaal nie. Soos een paartjie wat deur hulle huweliksprobleme gewerk het, gesê het: ‘Ons is bly dat ons nie gedurende die moeilike jare tou opgegooi het nie. Ons het lank genoeg uitgehou om te besef dat dit met tyd regtig beter kan begin gaan.’

Wanneer jy jouself daaraan toewy om aan jou verhoudig te werk, maak nie saak hoe dinge uitwerk nie, sal jy nooit oor jou pogings spyt wees nie.

Sielskos: Gen 4-6; Luk 6:1-16; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10

Raad oor romantiese afsprake

2023-01-25
Amos 3:3 NLV

Daar is geen toets wat kan voorspel hoe ‘n romantiese afspraak uiteindelik sal uitdraai nie, maar hier is vyf vrae wat jy altyd jouself moet afvra: 1) Wat is my eerste indruk van hierdie persoon? Byvoorbeeld, met wie hang hulle uit? Watter tipe geleenthede geniet hulle? Lieg hulle? Steel? Vloek? Gebruik hulle dwelms? Dis die tipe inligting wat jou ongekende hartseer in die toekoms kan spaar. Jy moenie mense op hulle baadjie takseer nie, maar totdat jy regtig iemand leer ken, is dit die inligting wat jy tot jou beskikking het.

2) Hoe goed ken ek hulle? Is dit nie wyser om met iemand wat jy al ‘n rukkie ken, in plaas van ‘n vreemdeling, ‘n verhouding aan te knoop nie?

3) Betoon hulle genade teenoor ander mense? Daar is niks erger as ‘n man wat met sy vorige verowerings spog, of ‘n vrou wat gedurig haar eks kritiseer nie. Sal jy so ‘n soort persoon met jou reputasie en jou hart vertrou?

4) Deel ons dieselfde waardes? Die Bybel sê: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ Jy moet weet dat jou moontlike maat ‘n toegewyde Christen is wat volgens sy of haar beginsels leef. Watter tipe standaarde het hulle oor dinge soos geld, sedes en rolprente?

5) Kan ek hulle vertrou om hulle woord te hou? Was hulle lojaal in vorige verhoudings, of het hulle geflankeer of hul maat verkul? Iemand wat hulle woord verbreek, word uiteindelik ook iemand wat harte breek.

Hier is goeie raad wanneer jy ‘n verhouding wil aanknoop: ‘Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:6 NLV).

Sielskos: Gen 1-3; Luk 5:27-39; Ps 100; Spr 3:7-8

Verbintenis begin met omgee

2023-01-24
1 Tessalonisense 3:12 NLV

Een van Amerika se suksesvolste telefoonmaatskappye het ‘n advertensie met die slagspreuk: ‘Kan jy my nou hoor?’ geskep. Dit het ‘n man uitgebeeld wat oor die foon praat, maar die persoon aan die ander kant kan hom nie hoor nie. Dus vra hy aanmekaar: ‘Kan jy my nou hoor?’ Die advertensie is ontwerp om die boodskap weer te gee dat hierdie spesifieke telefoonmaatskappy hoë-kwaliteit sein het.

Wat is jou onmiddellike reaksie wanneer jou foon sein verloor? Irritasie? Frustrasie? Woede? Dr John Maxwell skryf in sy boek Everyone Communicates, Few Connect, die volgende: ‘Wanneer ek met mense omgaan, weet ek dat ek ‘n verbinding gemaak het wanneer ek die volgende waarneem: Ekstra moeite – mense stap die ekstra myl; ongevraagde waardering – hulle sê positiewe dinge; onbewaakte openheid – hulle wys vertroue; verhoogde kommunikasie – hulle druk hulself makliker uit; aangename ervarings – hulle voel goed oor wat hulle doen; emosionele gebondenheid – hulle vertoon ‘n verbintenis op ‘n emosionele vlak; positiewe energie – hul emosionele ‘batterye’ word deur samesyn gelaai; onvoorwaardelike liefde – hulle aanvaar sonder voorbehoud. Ek weet dat ek met mense ‘n verbintenis het wanneer ek enige van hierdie tekens opmerk. Hoe gaan dit met jou wat verbintenis betref? Wanneer jy ‘n een-tot-een interaksie met iemand wat belangrik in jou lewe is het, sien jy hierdie tekens? Selfs al is jy nie goed daarmee om verbintenisse aan te knoop nie, kan jy leer hoe om dit te doen.’

Eerstens moet jy egter waarlik omgee vir die persoon waarmee jy ‘n verbintenis wil aanknoop. Dis hoekom Paulus skryf: ‘En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir ander mense… groot en oorvloedig maak…’

Sielskos: Pred 9-12; Luk 5:12-26; Ps 96; Spr 3:5-6