Hoe gee jy?

2023-02-04
1 Korintiërs 16:2 NLV

Jesus het gesê: ‘En as jy onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel?’ (Lukas 16:11 NLV). Met ander woorde, as jy nie aan Hom getrou met jou finansies is nie, sal Hy jou nie met groter seëninge vertrou nie. Wat beteken dit om getrou in jou finansies te wees? Paulus skryf: ‘Op elke Dag van die Here moet elkeen van julle na vermoë tuis iets opsy sit en dit spaar sodat daar nie eers insamelings plaasvind wanneer ek kom nie.’

Dit beteken drie dinge: 1) Gereelde gawes. Let die woorde: ‘…elke Dag van die Here…’ op. Dis sistematiese gawes, nie sporadiese gawes nie. Dis nie: ‘Ek voel vandag goed, so ek gaan iets vir God gee,’ nie. As jy dit met jou verband probeer, sal jy gou sonder ‘n huis sit! Jy is nie veronderstel om te gee soos jy lus kry nie, maar deur toewyding om gehoorsaam aan God se Woord te wees.

2) Beplande gawes. ‘…moet elkeen van julle… iets opsy sit….’ As jy getroud is, moet julle saam sit en die bedrag wat julle voel God wil hê julle elke week of maand moet gee, bespreek. As jy dit nie beplan nie, sal jy dit nie op ‘n gereelde basis gee nie.

3) Proporsionele gawes. ‘…na vermoë…’ 10 persent moet die minimum of die beginpunt wees. As God jou finansieel seën, moet jy meer as 10 persent gee. Jy moet aan God ‘n persentasie gee van dit wat Hy jou in staat stel om te verdien. Wanneer jy dit doen, beloof Hy om jou ryklik te seën (sien Maleagi 3:10, 2 Korintiërs 9:6-10).

Sielskos: Gen 28:1-30:24; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32

Kinders grootmaak

2023-02-03
Spreuke 24:3 NLV

By ‘n konferensie vir onderwysers, het een kollega neerhalend vir ‘n ander een se vrou gevra: ‘En watse werk doen jy, skat?’ Die man het later geskryf: “My vrou het teruggekap: ‘Ek sosialiseer twee Homo sapiens in die dominante waardes van die Joods-Christelike tradisie sodat hulle die instrumente kan wees vir die transformasie van die sosiale orde in die soort eskatologiese utopie wat God van die begin van die skepping af wou hê.’ Toe het sy ewe gevra: ‘En watse werk doen jy?’ Die vrou het nederig geantwoord: ‘Ek…ek… gee klas in sosiologie.'”

Die Bybel sê: ‘Met wysheid word ‘n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou’ (vers 3 NLV). Wysheid is om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê. Insig is die vaardigheid om met begrip te reageer. As jy sukses in alles in die lewe behaal, maar by die huis misluk, sal geen van jou suksesse saak maak nie.

Een skrywer merk op: ‘Ons moet ons kinders met lig vul sodat hulle dit wat donker is kan onderskei. Ons moet hulle help om ‘n lewe van vrede te kultiveer sodat hulle onenigheid kan herken. Ons moet hulle leer wat reg is sodat dit wat verkeerd is, duidelik daarmee kontrasteer. Ons moet vir hulle die soet reuk van die waarheid aanbied sodat hulle ‘n leuen kan ruik. Ons moet hulle selfvertroue in Christus opbou sodat hulle nie maklik deur ander mense se opinies afgebreek sal word nie. Ons moet hulle fondasie op ‘n rots bou sodat hulle onstabiele grond sal herken. Ons moet hulle leer om vir wysheid te bid sodat hulle besef dat om slim te wees, nie genoeg is nie.’

As ouers, mag ons nie dadelik die opbrengs op ons beleggings sien nie, maar ‘…as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV).

Sielskos: Gen 25:19-27:46; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30

Jy verteenwoordig jou Vader

2023-02-02
Lukas 15:20 ABA

Toe die pa sy verlore seun gesien het, was hy ‘baie jammer vir hom.’ Jack Graham skryf: ‘Dis nie ‘n vader wat nie kan wag om sy sondige seun te straf en wat hom as waardeloos afgeskryf het nie. Dis ‘n liefdevolle, sorgsame vader wat nie kan wag om hom te omhels en te verwelkom nie. Hy hardloop die pad af om hom tegemoet te gaan. Wat jy sien is ‘n beeld van die Vader se liefde vir jou – gretig, buitensporig, toeganklik, oorvloedig.’ ‘…toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen’ (vers 20 NLV). Ons verwag gevoude arms, ‘n frons op die voorkop, ‘n onwillige handdruk, ‘n streng berisping. In plaas daarvan sê sy pa: ‘…Gou, bring die mooiste mantel… ‘n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete. En slag die kalf wat ons in die kraal vet maak…’ (verse 22-23 NVL).’

In daardie tyd het die vader se ring gedelegeerde gesag gesimboliseer. Die een wat dit gedra het, het besigheid in die naam van die een wat dit gegee het, gedoen. Sou jy hierdie verlore seun jou sake laat behartig het? Hom met jou kredietkaart vertrou het?

Toe jy na God toe gekom het, het jy die gesag om besigheid in sy Naam te doen, ontvang. Wanneer jy die waarheid praat, is jy sy ambassadeur (sien 2 Korintiërs 5:20). Jy is sy besigheidsbestuurder wanneer jy die finansies wat Hy aan jou toevertrou het, bestuur. Wanneer jy iemand vergewe, is jy sy priester. Hy het vir jou die voorreg gegee om vir ander te doen wat Hy vir jou doen. Spreek woorde wat ander mense versterk. Hoekom? Omdat jy jou Vader verteenwoordig.

Sielskos: GEN.24:1-25:18; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Skriftuurlike vaardighede

2023-02-01
1 Tessalonisense 5:16-18 NLV

Jy het goeie vaardighede nodig om sukses in die lewe te behaal. Die verkoopsman het ‘n kwota. Die akteur het repetisies. Die berader gesels met een depressiewe siel na die ander. Die vlieënier moet vir ure in die kajuit sit. Die pastoor is nooit gevrywaar van voorbereidng vir sy preke nie. Dan is daar die ma met klein kindertjies wat veertien uur per dag moet besluite neem, met sterk willetjies meeding en probeer om alles vir almal te wees. Hoe ontwikkel jy die vaardighede wat nodig is om die oorvloedige lewe wat Jesus belowe het, uit te leef? (sien Johannes 10:10).

Paulus sê vir ons: ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar…’ Verbly jouself in die dinge wat nooit kan verander nie, wat nie kan misluk nie en wat jou nie in die steek sal laat nie (soos God se beloftes!). Wanneer jy voel dat alles te veel word, bid. Sê met elke asemteug: ‘Ek vertrou U, Here; Ek gee dit aan U oor, want ek weet U het alles onder beheer.’

Moenie vergeet om dankie te sê nie. Onthou die ou gesegde: ‘Ek het gekla omdat ek nie skoene het nie, totdat ek ‘n man sonder voete ontmoet het.’ In plaas daarvan om te kla, begin jou seëninge tel. Kan jy onthou hoe die lewe was voor jy Jesus ontmoet het? Was daar nie dae gewees wat jy gedink het dat jy dit nie gaan maak nie? Kyk waar is jy nou! Toe die Israeliete aan die anderkant van die Rooi See gestaan en teruggekyk het, het hulle verklaar dat die Here hulle krag, hulle lied en hulle redding is (sien Eksodus 15:2). Is dit nie ook wat Hy vir jou is nie? Loof God!

Sielskos: Gen 20-23; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26

Vrede sal jou gedagtes oppas

2023-01-31
Filippense 4:7 NLV

Wyse mense maak nooit belangrike besluite terwyl hulle in ‘n verkeerde emosionele toestand is nie. Toe Elia uitgevind het dat koningin Isebel op sy spoor is, was hy gereed om sy rol as profeet op te gee en te sterf. Dus het God vir hom veertig dae van rus, gebed en herstel gegee. Toe was hy gereed om op die basis van sy geloof in God en nie as gevolg van sy vrees vir Isebel nie, besluite te neem. Sy besluit na veertig dae van rus was baie anders as wat dit voor sy rustydperk sou gewees het.

Jy het seker al gesien hoe mense vreeslike besluite, wat hulle nooit andersins sou geneem het nie, neem wanneer hulle gedreineer, moeg, ontmoedig en bang is. Oor die algemeen sal jy nie die regte plan van aksie kies wanneer jy in die verkeerde gemoedstoestand is nie. Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet maak, is die wysste ding wat jy kan doen om te wag totdat jy uitgerus is. ‘n Angstige gemoedstoestand in ‘n moeë liggaam kan tot ‘n baie verkeerde besluit lei.

Die Bybel sê: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Die vrede van God sal jou gedagtes oppas, sodat jy nie impulsief, selfsugtig of kwaadwillig sal optree nie. Dit sal jou oppas sodat jy nie op enige manier optree wat verlies eerder as wins en spyt eerder as vreugde tot gevolg sal hê nie.

Sielskos: Gen 17-19; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24

Sê dit soos dit is

2023-01-30
Efesiërs 4:15 ABA

Jon Walker sê: ‘Dis moeilik om te konfronteer, dis makliker om oppervlakkig te bly en met die eerste tekens van moeilikheid bande te verbreek en weg te hardloop. Die Bybel sê egter: ‘Eerlike antwoorde is soos ‘n soen op die mond’ (Spreuke 24:26 NLV); dit verdiep verhoudings sodat ons die waarheid met mekaar kan praat. Moenie lieg of voorgee nie. Vertel vir jou broer die waarheid. Onthou: ‘Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God’ (Efesiërs 4:25 DB).’

Die skrywer Anette Smith merk op: ‘Dis selfs vir nabye vriende moeilik om ongemaklike onderwerpe aan te roer. Vriende moet egter op mekaar kan staatmaak, nie net vir pret en bevestiging nie, maar ook vir onderrig en teregwysing. Wanneer ons onsself tot ‘n vriendskap verbind, beteken dit dat ons op ‘n diep intieme vlak omgee en dat ons die moed moet hê om te praat wanneer ‘n vriend moeilike woorde moet aanhoor. Ware vriendskap kom met vreugde en verantwoordelikheid. Om dit te vermy om eerlik oor ‘n situasie wat seer, gevaarlik, of buite God se wil is te praat, is om die vriendskap en die vriend oneer aan te doen. Voordat ons ‘n moeilike situasie aanspreek, moet ons egter eers selfondersoek doen en as daar enige eiegeregtigheid of die geringste begeerte om wraak te neem is, moet ons eerder stilbly. Wanneer dit by moeilike onderwerpe kom, moet dit met suiwer, liefdevolle beweegredes gepaard gaan.’

Die Bybel sê: ‘Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar. So word ons meer en meer soos Christus…’ As jou woorde nie met liefde deurdrenk is nie, sal dit seermaak eerder as wat dit genees.

Sielskos: Gen 13-16; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20