Vlug, veg, of vergewe

2022-12-15
Johannes 13:1 NLV

Ons hanteer ons verhoudingsprobleme op een van drie maniere: vlug, veg, of vergewe. Sommige kies om te vlug. Hulle verlaat die verhouding en begin êrens anders oor, alhoewel hulle dikwels verras is wanneer dieselfde kwessies weer kop uitsteek. Ander mense veg. Gevolglik word hulle verhoudings gevegsones en stres word ‘n lewenswyse.

As jy wys is, sal jy Christus se manier kies: ‘…Jesus was lief vir sy eie mense… Hy het hulle enduit liefgehad.’ Vir meer as drie jaar het Jesus dieselfde span gehad. Hy het dieselfde twaalf of so gesigte rondom die tafel gesien. Hoe het Hy dus so toegewyd aan sy dissipels gebly? Was dit moeilik vir Jesus om Petrus lief te hê, met die wete dat hy Hom eendag sou verraai? Was dit moeilik om Tomas te vertrou, met die wete dat hy eendag sy opstanding sou bevraagteken? Hoe het Jesus die drang weerstaan om ‘n nuwe groep volgelinge te werf?

Johannes wou een vyand vernietig en Petrus het die oor van ‘n ander een afgesny. Net dae voor Jesus se dood, het sy dissipels baklei oor wie van hulle die beste was! Hoe was Hy in staat om mense lief te hê, as dit moeilik was om van hulle te hou?

Hier is die antwoord: Jesus het hulle nie aan hulle voorkoms, IK, talente, besittings of persoonlikhede gemeet nie; nee, Hy het hulle aan hul potensiaal gemeet. Op die ou einde het hulle verander en aan sy verwagtinge voldoen. Nie in alle dinge of die hele tyd nie. Jesus het hulle egter vergewe en hulle geleer dat liefde ‘n verbintenis is wat ons eers met onsself, en dan met ander mense sluit.

Sielskos: Kol 1-2; Joh 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9

Glo in wat jy doen

2022-12-14
Daniël 1:4 DB

Toe Daniël in Babel aangekom het, was hy ‘n slaaf. Hy het egter die boonste vlak as gevolg van die volgende kwalifikasies bereik: ‘Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis.’ As jy in enige werk bevordering wil kry, moet jy jouself eers bewys. Die Bybel sê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV). Tensy jy glo in wat jy doen, sal jy jouself nie ten volle daaraan oorgee nie; dus het jy dan geen reg om te verwag om sukses te behaal nie.

Het jy al ooit in ‘n vertrek ingestap en liefde, energie en opwinding gevoel? Jou gedagtes het ‘n teenwoordigheid; hulle is soos getye wat deur die lug beweeg, in staat om mense na jou toe aan te trek of weg te dryf. Jou houding word altyd aangevoel. Dis hoekom jy moet glo in wat jy doen om sukses te behaal. As jy nie doen nie – bid en vra dat God jou iewers anders plaas waaraan jy jou hele hart kan wy.

Jesus het geheel en al in sy produk geglo. Hy het vir die vrou by die put gesê: ‘…Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word…’ (Johannes 4:13-14 NLV). Jesus het tyd in gebed deurgebring om sodoende sy begrip van sy doel te vernuwe. Die woord vir jou vandag is dus – bid en glo in wat jy doen!

Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:12-18; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4

Bou vandag ander mense op

2022-12-13
Spreuke 10:32 NLV

Hoe voel jy wanneer iemand anders jou probeer afkraak? Moet dit dan nie aan ander mense doen nie! ‘Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde ontstel mense’ (Spreuke 15:4 NLV). Jy kan iemand met wat jy sê verpletter, wees dus versigtig. Sommige van die mense wat jy elke dag ontmoet, het ‘n emosionele opheffing nodig, moedig hulle dus aan. ‘Die regverdige weet wat die gepaste dinge is om te sê. Wat die goddelose sê, bring moeilikheid’ (Spreuke 10:32 NLV).

Moenie die tipe persoon wees wat toeslaan op iemand anders se swakpunt nie. Dalk doen jy dit grappenderwys, maar jy doen dit en jy geniet dit om dit te doen. In ‘n strokiesprent, praat Charlie Brown oor die foon met ‘n meisie wat sê: ‘Raai waarvoor het ek in aanmerking gekom? Om as die Mei-koningin by my skool gekroon te word.’ Charlie Brown sê: ‘Dis interessant. Lucy word altyd by ons skool daarvoor gekies.’ Die meisie op die foon antwoord: ‘Jou skool se standaarde is nogal laag Chuck, nie waar nie?’ Nadat Charlie Brown die foon neergesit het, kyk hy vir Lucy en sê: ‘Sy sê geluk!’ Dis nou diplomaties! Dis ook ondersteunend.

Hoe ondersteunend is jy? As God jou ‘n rand gegee het vir elke vriendelike woord wat jy gesê het en ‘n rand weggeneem het vir elke nare woord uit jou mond, sou jy ryk of arm gewees het? Toe die broers wat Josef verraai het voor hom in die farao se paleis gekniel het, het hy die mag oor lewe of dood oor hulle gehad. Hy het hulle egter vergewe, was genadig teenoor hulle en het belowe om vir hulle te sorg. Ondersteunende woorde kan ‘n brug in ‘n gespanne verhouding bou. Die woord vir jou vandag is dus – bou ander mense op.

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:1-11; Ps 150; Spr 29:22-27

Wees sensitief teenoor ander mense

2022-12-12
Filippense 2:4 NLV

Dikwels in die huwelik is ons onbewus van ons maat se behoeftes. Ons word gevoelloos. Ons hou op luister. Ons is onbewus van die druk waaronder hulle verkeer. Eenvoudig gestel, is die wortel van baie huweliksprobleme ‘n gebrek aan sensitiwiteit.

Elke mens wat jy teëkom het goedhartigheid nodig. Ons vind ‘n wonderlike voorbeeld van sensitiwiteit in koning Dawid se lewe. Dawid se vriend, Jonatan – Saul se seun – is vermoor. Veilig op die troon al vir etlike jare, het Dawid ‘n seldsame versoek gerig. Hy het gevra of daar enigiemand van Saul se familie oor was wat hy kon help. Hy het Saul se kleinseun – Jonatan se seun – Mefiboset, wat kreupel aan beide voete was, gevind. Toe Dawid hom ontbied het, het Mefiboset seker gedink: ‘Ek gaan vermoor word, omdat ek ‘n lid van die vyand se familie, die voormalige vorstehuis, is.’

Let egter Dawid se woorde op: ‘…Moenie bang wees nie! Ek sal aan jou goeddoen ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet’ (2 Samuel 9:7 NLV). Mefiboset se reaksie is interessant: ‘…Wat is u dienaar dat u so goed is vir ‘n dooie hond soos ek?..’ (vers 8 NLV). Hy het soos ‘n hond gevoel en het verwag om soos een behandel te word. Die punt wat jy egter moet insien is die volgende: Dawid het die tyd geneem, moeite gedoen en was sensitief teenoor Mefiboset se behoeftes.

Een van die gevare van sukses is dat die druk wat daarmee saamgaan, jou onsensitief teenoor ander kan maak. Die vraag is: Teenoor wie moet jy vandag meer sensitief wees?

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 15:18-27; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21

Wees vandag vriendelik teenoor ander

2022-12-11
Kolossense 3:12 NLV

Wanneer jy in die oggend opstaan, moet jy jouself nie net fisies nie, maar ook geestelik en emosioneel aantrek. Jy moet vir jouself vra: ‘Watter tipe houding gaan ek vandag dra? Sal ek oorheersend wees of saamwerk? Positief of negatief? Bemoedigend of krities? Selfsugtig of dienend?’ Jy sê: ‘Maar wanneer ek vriendelik is, maak mense misbruik van my.’ Ja, soms sal dit gebeur.

Ten spyte van die risiko’s, is daar egter twee redes om vriendelik te wees: 1) ‘Dit is mos [God se] onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het…’ (Efesiërs 2:8 NLV). Genade en vriendelikheid loop altyd hand aan hand! Die digter Robert Burns het gesê dat die vriendelike hart die meeste na God aard.

2) Omdat jy wil hê dat mense vriendelik teenoor jou moet wees en jou goed moet behandel. ‘Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen…’ (Matteus 7:12 NLV). As jy ongeskik is, sal mense ongeskik teenoor jou wees. As jy egter vriendelik is, sal die meeste mense op dieselfde manier reageer. ‘Iemand wat hom beywer vir reg en liefde, ervaar ‘n vol lewe, geregtigheid en eer’ (Spreuke 21:21 NLV).

Hier is nog ‘n rede om vriendelik te wees: “‘n Mens wat vrygewig is, baat self daarby. ‘n Wrede mens vernietig homself” (Spreuke 11:17 NLV). Wanneer jy dus vriendelik teenoor ander mense is, doen jy jouself eintlik ‘n guns. Kom ons lees dit weer: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld’ (Kolossense 3:12 NLV).

Gaan dus uit en probeer om een hele dag so te lewe.

Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3

Onmiddellike bevrediging lei tot langtermyn ellende

2022-12-10
Filippense 4:19 NLV

God het belowe om aan jou behoeftes te voldoen, nie aan elke gier nie. Wanneer jy skuld maak om dinge te koop wat jy nie moet nie, moet jy nie van Hom verwag om jou daaruit te red nie. Geen verantwoordelike ouer sal dit doen nie en God is ‘n verantwoordelike ouer. Hy gee vir jou keuses en wys die nagevolge aan jou uit. Hy het vir Adam en Eva gesê om nie die verbode vrugte te eet nie. Toe het Satan verbygekom en gesê: ‘God bedoel dit nie regtig nie, jy kan doen wat jy wil en niks slegs sal gebeur nie.’ Dis tyd vir jou om uit skuld te kom, nie om jouself dieper daarin te grawe nie. Die Bybel sê vir jou hoe om dit te doen.

1) Moenie gierig vir die dinge van hierdie lewe wees nie, want: ‘…julle [moet] die volgende wêreldse dinge afsterf …gierigheid, wat van geld ‘n god maak’ (Kolossense 3:5 NLV). In plaas daarvan om die dinge wat jy nie het nie te begeer, geniet die dinge wat jy het.

2) As jy nie jou tiende gee nie, begin nou! Jy sal van die wêreld se wankelende ekonomie na God se mislukking-veilige ekonomie oorskakel. Wanneer jy jou tiende gee, beloof Hy om jou belange te beskerm en jou te seën. ‘…Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (sien Maleagi 3:8-12 NLV).

3) Voor jy gaan inkopies doen, probeer bid. Vra God wat jy ‘nodig’ het en wag dan vir Hom om te reageer.

4) Begin om van jou besittings weg te gee. ‘Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer… Mense wat ‘n ander iets gun, het self altyd oorvloed…’ (Spreuke 11:24-25 NLV).

Gehoorsaam God. Wees geduldig en kyk wat gebeur.

Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:5-17; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15