2023-02-10
1 Petrus 3:15-16 NLV
Die Bybel sê: ‘… As… iemand julle [uitvra] oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Maar doen dit taktvol en eerbiedig…’ Die twee maniere om ‘n eier uit sy dop te kry, is: 1) om dit oop te breek, of 2) om dit in ‘n warm, liefdevolle omgewing te plaas en dit toe te laat om te inkubeer en uit te broei. Die tweede manier bewaar die kuiken, terwyl die eerste een hom doodmaak.
Soortgelyk, is die twee maniere om die goeie nuus van die evangelie aan mense oor te dra: 1) om hulle oor die kop daarmee te slaan, of 2) om hulle tot in God se familie lief te hê. Het jy opgelet dat baie evangelisasie net ‘n dun bedekte belediging is? ‘Jy het nodig wat ek het, want jy is so aaklig.’ Mense het die goeie nuus nodig, maar jou ingesteldheid kan hulle daarvan weerhou om dit te ontvang.
Respekteer ongelowiges; moenie hulle verneder nie. Om iemand te respekteer, beteken dat jy hulle aanvaar. Dit beteken nie dat jy hulle lewenstyl goedkeur nie. Aanvaarding en goedkeuring is twee verskillende dinge. Almal het egter die reg om met respek behandel te word. Die beste manier om die evangelie met ongelowiges te deel, is om hulle met liefde en aanvaarding te omring terwyl jy dit met hulle deel. Wees respekvol, sensitief en gee vir hulle om.
Die teoloog D.T. Niles het gesê: ‘Evangelisasie is net een bedelaar wat vir ‘n ander vertel waar om brood te kry.’ Versprei God se Woord! Doen jy die verspreiding daarvan en God sal die redding doen. Sodra jy die saad van God se Woord in iemand se hart geplant het, kan jy hulle liefhê, laat gaan en op God vertrou om sy deel te doen.
Sielskos: Gen 40-41; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17
2023-02-09
Romeine 12:5 NLV
Die Bybel beskryf die Christelike lewe in oorlogsterme: veg, oorwinning, strydperk, oorlog, triomfeer, sege. Jy is in ‘n geestelike stryd betrokke, of jy dit nou besef of nie en jy het ondersteuning en hulp nodig. Wanneer jy ‘n Christen word, word jy deel van God se weermag.
Stel jou voor jy gaan na ‘n werwingskantoor om by die weermag aan te sluit. Hulle sê: ‘Wonderlik, teken hier.’ Jy sê: ‘Wag! Ek het een voorwaarde. Ek wil nie aan enige spesifieke peloton toegewys word nie. Ek wil kan kom en gaan soos ek wil. Ek sal deel van die weermag wees, maar ek wil nie aan ‘n sekere groep soldate toegewyd wees nie. As die stryd te warm word in een gebied, sal ek na ‘n ander gebied beweeg en by ‘n ander peloton aansluit. En as ek nie van een peloton se leierskap hou nie, sal ek by ‘n ander een aansluit.’ Sal jy wil hê dat so ‘n persoon langs jou in die geveg moet staan? Natuurlik nie!
Dis egter hoe baie Christene deesdae God se weermag benader. Hulle spring van kerk tot kerk met min of geen toewyding aan enige spesifieke groep Christene – so terwyl die stryd geveg word, is hulle nêrens te sien nie. Die verskil tussen slegs kerk bywoon en ‘n lidmaat word, is soos die verskil om te trou of net saam te bly. Die verskil is toewyding.
Die Griekse woord vir gemeenskap is koinonia, wat beteken om aan mekaar toegewyd te wees. Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Jy kan nie liefde betoon wanneer jy afwesig is nie. Wees dus toegewyd en verbonde.
Sielskos: Gen 37-39; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13
2023-02-08
Klaagliedere 3:23 DB
Betroubaarheid kan die nederigste werk in ‘n uiters belangrike een verander. Dink byvoorbeeld aan hoe afhanklik ons van iets kleins soos ‘n posseël is. Dis altyd gereed vir diens. Dit gaan waar dit gestuur word. Dit doen wat daarvan gevra word. Dit hou aan met die taak tot dit voltooi is. Dit bly op datum. Geen taak is te klein daarvoor nie.
Ons is nie almal met dieselfde talente gebore nie; sommige van ons is in sekere areas meer talentvol as ander. Elkeen van ons is egter met dieselfde verantwoordelikheid om ons vermoëns ten volle aan te wend, gebore. Dis die minste wat enigeen van ons kan doen – en dis wat God, wat ons talente vir ons gegee het, van ons verwag.
Tweehonderd jaar gelede toe die Amerikaanse vloot gestig is, het amptenare lank oor ‘n geskikte leuse gedink. Uiteindelik het hulle op die Latynse frase: Semper fidelis, besluit, ‘n frase wat deesdae in elke seesoldaat se gedagtes gegraveer is. Wat beteken dit? ‘Altyd betroubaar’! Beide is belangrike woorde, maar die belangrikste is die eerste woord: altyd. Hoekom? Omdat ‘n seesoldaat dit nie kan bekostig om slegs betroubaar te wees wanneer dit gemaklik of gerieflik is, of wanneer hy lus is, of wanneer dit hom gelukkig maak nie. Semper fidelis beteken dat jy altyd betroubaar moet wees – ten spyte van die koste daaraan verbonde.
God wil dieselfde van jou sê as wat van Hom gesê word: “‘n Mens kan altyd op U vertrou…” Of jy dus nou ‘n baas, ‘n werknemer, ‘n ma of pa, ‘n man of vrou, ‘n vriend, spanmaat of ‘n seesoldaat is, die woord vir jou vandag is: Wees altyd betroubaar.
Sielskos: Gen 35-36; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4
2023-02-07
Lukas 16:10 NLV
Pastoor James Merritt het gesê: ‘Die ander dag het ek vir my pragtige vrou gevra of sy as gevolg van my aantreklike gesig met my getrou het. Sy het geantwoord: ‘Nee, ek het oor jou brein met jou getrou – dis die klein dingetjies wat saakmaak!’ Merrit het natuurlik gegrap. Wat regtig in die lewe saakmaak, is getrouheid in die klein dingetjies; dis hoe betroubaarheid begin, groei en volwasse word.
Longfellow het geskryf: ‘Die meeste mense sou sukses behaal het, as hulle nie met groot ambisie gemoeid was nie.’ Soms dink ons dat ons te groot vir klein dinge is; ons sal onsself eerder met dit wat ons as groter, belangriker sake sien, ophou. Hier is egter soos Jesus dit sien: ‘As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ‘n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie. En as jy onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel? En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?’ (verse 10-12 NLV).
As jy sukses in jou werk wil behaal, kom betyds by die werk aan; hou aan met die taak totdat dit klaar is; wanneer jy sien dat iets gedoen moet word, doen dit – selfs al is dit nie in jou posbeskrywing nie. Gee ‘n eerlike dag se werk vir ‘n eerlike dag se salaris; neem jou etensuur, nie ‘n drie-uur lange betaalde vakansie nie; rapporteer jou uitgawes eerlik; ondersteun die span en handhaaf die maatskappy se reputasie. Met ander woorde, wees betroubaar by die werk. ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (Prediker 9:10 NLV). Dis die soort betroubaarheid wat God eer.
Sielskos: Gen 32-34; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2
2023-02-06
1 Korintiërs 4:2 NLV
Betroubaarheid verg dat jy 100 persent inspanning 100 persent van die tyd moet gee. Die tydskrif Insight het ‘n artikel deur Gary Sheer getiteld: ‘Strive for Perfection… or Else!’ gepubliseer. Dit het ‘n paar onrusbare feite bevat! Die artikel het gesê dat indien 99.9 persent inspanning goed genoeg is, sou 103,260 belastingopgawes daardie jaar verkeerd geprosesseer word, 22 tjeks sou binne die volgende sestig minute van die verkeerde rekeninge afgetrek word, 12 babas sou elke dag vir die verkeerde ouers gegee word, 2 vliegtuiglandings sou elke dag by O’Hare Internasionale Lughawe onveilig gewees het, 18,322 posstukke sou binne die volgende uur verkeerd hanteer word, 291 operasies om pasaangeeërs in te sit sou daardie jaar verkeerd gedoen word. Ook sou 880,000 kredietkaarte in sirkulasie die verkeerde kaarthouer details op hulle magnetiese strook bevat het, 20,000 verkeerde mediese voorskrifte sou binne die volgende twaalf maande uitgeskryf word en 107 verkeerde mediese prosedures sou teen die einde van daardie dag uitgevoer word. Dis skokkende statistieke – veral as jy een van die persone is wie se lewe daardeur geaffekteer word!
Net jou beste moet in enige situasie goed genoeg wees. Enigiets minder as dit sal nooit goed genoeg wees nie, omdat dit jou mislukking om heeltemal getrou en betroubaar te wees, reflekteer. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.’ By God is betroubaarheid nie slegs ‘n konsep of ‘n voorstel nie; dis ‘n vereiste vir almal wat Hom dien – insluitend vir jou!
Sielskos: Gen 30:25-31:55; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35
2023-02-05
Spreuke 20:6 NLV
‘n Nuwe werknemer het een keer vir ‘n kollega gevra: ‘Hoe lank werk jy al vir die maatskappy?’ Hy het geantwoord: ‘Vandat die baas gedreig het om my af te dank!’ Werkgewers sukkel om werkers te kry wat betroubaar is en waarop hulle kan staat maak. Landsburgers smag na politici wat al hul veldtogbeloftes getrou sal uitvoer. Tydens die huwelikseremonie word pasgetroudes gevra om getrou aan die geloftes wat hulle aan mekaar maak, te wees.
Die waarheid is dat sonder betroubaarheid jou invloed beperk sal wees – of selfs uitgewis sal word. Sonder betroubaarheid, word die somtotaal van al jou ander wonderlike talente afgewater. Betroubaarheid verander die alledaagse in die wonderbaarlike en gewone individue in getroue presteerders. Die wyse koning Salomo het die volgende vraag gevra: ‘Baie mense sal voorgee dat hulle lojale vriende is, maar waar is daar iemand wat regtig betroubaar is?’
Daar is meer as 300 geisers in die Yellowstone Nasionale Park (ongeveer die helfte van die wêreld se geisers waarvan ons weet). Een staan egter bo die ander uit. Dis nie die grootste nie en sy waters bereik nie die hoogste hoogtes nie, maar dit is die populêrste een by verre. Sy populariteit is aan een ding alleenlik te wyte – sy betroubaarheid. Mense staan in lang toue in die warm son om dit te sien, want volgens ‘n presiese skedule skiet dit kokende water meer as 120 voet in die lug in. Jy kan amper jou horlosie daarby stel. Dis hoekom hierdie geiser ‘Old Faithful’ genoem word.
Mense word tot ons betroubaarheid aangetrek. God word deur ons betroubaarheid verheerlik. In alles wat jy dus vandag doen, oefen betroubaarheid uit.
Sielskos: Ps 23; Joh 6:1-15