Praat met die Vyand

2022-12-21
Efesiërs 6:12 NLV

In sy boek, War on the Saints, skryf Jessie Penn-Lewis: ‘Die hoof oorsaak vir die werking van bose geeste in mense, afgesien van sonde, is passiwiteit.’ Dis hoekom die apostel Petrus ons aanmoedig: ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV). Het jy al ooit gesien hoe ‘n honger leeu sy prooi verslind? Dis wat Satan aan jou wil doen. Hy sal dinge soos plesier, mag, druk, besittings, passies en mense gebruik om dit te doen. Paulus sê vir ons om te pasop: ‘Die bedoeling is dat ons nie deur die Satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!’ (2 Korintiërs 2:11 NLV).

Hoe kan jy jouself verdedig? Neil Anderson sê: Ons verdediging teen direkte aanvalle van die bose is om God se waarheid hardop te spreek.’ Hoekom moet jy hardop met Satan praat? Omdat God die gedagtes en bedoelings van jou hart ken – maar Satan doen nie (sien Jeremia 17:9-10 en Psalm 139:1, 23-24). Wanneer jy onder Satan se kruisvuur kom, onthou Jakobus 4:7: ‘Wys dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (NLV).

Neem hierdie twee kragtige stappe: Praat eerstens met God voordat jy die Vyand betrek. ‘Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer’ (Psalm 50:15 NLV). Tweedens, praat met die Vyand. Hou dit kort en gesaghebbend! ‘Satan, in die onweerstaanbare naam van Jesus, staak nou alle aktiwiteite teen my. Gaan weg en moenie terugkeer nie!’ Sal hy gehoorsaam? Jy het jouself afhanklik van God gemaak en die duiwel weerstaan – hy het nie ‘n ander opsie nie.

Sielskos: Neh 11-13; Joh 18:25-40; Ps 67; Spr 30:29-33

Laat God dit vir jou uitklaar

2022-12-20
Romeine 12:19 NLV

Wanneer iemand jou seermaak of verraai, gaan dit teen jou grein in om die instink vir weerwraak te weerstaan – veral wanneer daar ‘n geleentheid is om die telling te vereffen en jou vriende jou aanspoor om daaruit munt te slaan. Hulle sê vir jou: ‘Dis net reg en regverdig.’

Voor jy besluit, oorweeg die verhaal in 1 Samuel 24. Koning Saul, wat deur jaloesie verteer was, het elke geleentheid gebruik om Dawid, sy opvolger wat deur God gesalf was, te probeer vernietig. Saul het drieduisend manskappe geneem om hom te probeer vind en dood te maak. Deur goddelike ingryping het Saul gestop om in ‘n groot grot, waar Dawid en sy manne weggekruip het, te rus. Dawid se manne het gesê: ‘Nou is die perfekte geleentheid om hom dood te maak en sy troon in te neem.’ Dawid het egter net ‘n stukkie van Saul se mantel afgesny en dit later vir hom gewys as bewys dat hy die koning se lewe gespaar het. Dawid se manne het sekerlik sy strategie as belaglik beskou, maar Dawid het volgens ‘n ander kode gelewe – God se Woord! Hy het vir sy manne gesê: ‘…Moenie hom doodmaak nie. Hoe kan iemand die gesalfde van die Here aantas en nog onskuldig wees?’ (1 Samuel 26:9 NLV).

Die Bybel sê dat ons onsself nie moet wreek nie. Dis God se gebied – bly daaruit! (sien Romeine 12:17-21). Wat moet jy dus doen? Wees voorbereid om strydig met jou instinkte op te tree! Die Bybel sê: ‘…As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors… deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:20-21 NLV). Sal dit die vyand verander? Miskien, miskien nie. Dit sal egter jou houding verander en God sal jou daarvoor seën.

Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:12-24; Ps 57; Spr 30:24-28

“Daar is God”

2022-12-19
Romeine 8:32 ABA

Hou jy daarvan om Skriftuurlike beloftes vir uitdagende tye bymekaar te maak? Wanneer jou versameling onvoldoende lyk, dink jy: ‘Ek het nog net nie die regte belofte gevind nie’? Om die belofte op te eis sonder om die algenoegsaamheid van die Een wat die beloftes maak te verstaan, kan jou teleurstel. Omdat daar geen gebrek in God is nie, is Hy al wat jy nodig het. Hy is al wat jy ooit nodig sal hê! Die Bybel sê Hy kan ‘…oneindig meer… doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV).

Op soek na verligting gedurende ‘n moeilike tyd in haar lewe, het die skrywer Hannah Whitall Smith ‘n gerespekteerde Bybelonderwyser besoek in die hoop om ‘n antwoord te vind. Nadat hy aandagtig geluister het, het die onderwyser vir haar gesê: ‘Ja, alles wat jy sê mag dalk baie waar wees, maar dan, ten spyte van dit alles, daar is God.’ Gefrustreerd het Hannah geantwoord: ‘Jy het sekerlik nie begryp hoe ernstig my moeilikhede is nie.’ ‘Ja, ek het, maar dan, soos ek vir jou gesê het, daar is God.’ Verskeie teleurstellende besoeke later, nadat sy dieselfde reaksie gekry het, het dit uiteindelik by haar ingesink. Sy het besef dat sy die antwoord wat sy nodig gehad het, ontvang het; God alleenlik was genoeg vir al haar behoeftes!

Sy skryf: ‘Die algenoegsaamheid van God behoort vir ons te wees soos die algenoegsaamheid van ‘n moeder teenoor haar kind. Haar teenwoordigheid en liefde laat alle vrese verdwyn. Sy hoef nie enige beloftes te maak of verduidelikings te gee nie; sy alleen is al wat die kind nodig het.’ Paulus herinner jou: ‘…Alles behoort aan julle! Maar julle behoort weer aan Christus, en Christus aan God’ (1 Korintiërs 3:22-23 NLV). Jy sal dit wat jy nodig het ontvang, omdat jy sy verloste kind is.

Sielskos: Neh 5-7; Joh 18:1-11; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23

Alles wat jy ooit sal nodig hê

2022-12-18
Psalm 62:9 NLV

Die lewe kan oorweldigend voel wanneer jy vir verband- en huurpaaiemente, mediese rekeninge, klere vir die familie, toenemende kos- en petroluitgawes, skoolgelde en boonop nog voorsiening vir jou pensioen, verantwoordelik is! Die druk is nog groter as jy werkloos is. Na wie toe kan jy draai? Toe Dawid deur vyande omring was, het hy na God toe gedraai: ‘Net by God kan ek rustig wag, want van Hom kom al my hoop. Net Hy is my rots en my redding, my vesting waar ek stewig staan’ (Psalm 62:6-7 NLV).

Waar lê jou verwagting? In die hoop op ‘n beter ekonomie of arbeidsmark? Op die belofte van beter tye wat gaan kom? Dawid se hoop was meer seker: Hy het verwag dat die antwoord in die onveranderende karakter en getrouheid van God gevind kan word.

Wanneer ons angstig raak, fokus ons op ons vrese, voel onvoldoende en raak wanhopig. Om bewus te wees van jou behoeftes is verantwoordelik, maar om deur hulle oorweldig te word is ‘n bewys dat jy op die verkeerde plek na antwoorde soek. George MacDonald het gesê: ‘Ons beskou God as ons laaste en swakste hulpbron. Ons gaan net na Hom toe wanneer ons nêrens anders het om heen te gaan nie. Eers dan leer ons dat die storms van die lewe ons nie op die rotse gedryf het nie, maar na die gewenste hawe toe.’

Soos Dawid gesê het: ‘Net by God kan ek rustig wag, want van Hom kom al my hoop…’ Net by Hom, want God is jou voldoende bron. Omdat Hy sy Seun aan ons gegee het, het jy al die bewyse wat jy nodig het dat Hy ook ‘…alle ander goeie dinge aan ons sal skenk…’ (Romeine 8:32 NLV).

Sielskos: Ps 103:8-18; Joh 3:16-18; Hand 2:38-41

Wie gee jou raad? (2)

2022-12-17
Spreuke 15:22 NLV

‘n Goeie raadgewer doen drie dinge: hulle neem jou waar, onderrig jou en motiveer jou. Aan die begin mag die gedagte aan iemand wat jou evalueer intimiderend wees. Dink egter so daaraan; mense hou jou in elk geval dop. Hier is ‘n lys van areas waar jy dit mag oorweeg om ‘n raadgewer uit te nooi om jou te evalueer: geestelike groei, persoonlike dissipline, familieverhoudings, besluitneming, die hantering van finansies, konflikoplossing, om die regte mense te kies, om verkeerde gewoontes te verbreek en regte gewoontes daar te stel, doelwitstelling en toekomsbeplanning.

As jy ernstig daaroor is om sukses te behaal, kyk uit vir ‘n omgewing waar jy nie net ‘n salaris sal verdien nie, maar ook gementor sal word. Aan die begin is wat jy leer belangriker as wat jy verdien, omdat dit wat jy vroeg leer dit wat jy later verdien, sal bepaal. Dit wat jy nie weet nie, kan jou seermaak en ‘n demper op jou potensiaal plaas. Om deure van evaluasie oop te maak is iets wat jy jouself en diegene wat op jou staatmaak, skuld.

Moet dit ook nie by jou laat eindig nie. Gee dit wat aan jou gegee is, weer vir iemand anders aan. Jesus het gesê: ‘…Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet’ (Matteus 10:8 AFR83). ‘Maar ek is te jonk, niemand gaan my ernstig opneem nie,’ sê jy. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ‘n voorbeeld vir alle gelowiges…’ (1 Timoteus 4:12 NLV). Dit is nie jou verantwoordelikheid om alles te weet nie; jy is slegs verantwoordelik daarvoor om dit wat jy wel weet, met ander te deel. Vra dus vir God vir ‘n goeie raadgewer en word ook een vir iemand anders.

Sielskos: Neh 1-4; Joh 17:13-26; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19

Wie gee jou raad? (1)

2022-12-16
Spreuke 13:10 NLV

Om in die lewe te wen, moet jy lewenslank ‘n leerder wees. Om te leer verg onderdanigheid; ‘n karaktereienskap wat sommige van ons dink nie van toepassing op ons is nie. Ons dink dat onderdanigheid net vir die mense wat gelei moet word, toepaslik is. Dis veral waar in ons jonger jare wanneer ons seker is dat ons alles weet en elke geleentheid gebruik om dit te bewys. Om na ‘n goeie raadgewer uit te reik, verg nederigheid.

Die waarheid is dat indien jy nie onderrigbaar is nie, is jou toekoms reeds besluit! Hoe meer jy dink jy weet, hoe minder geneig is jy om jouself onder die invloed van diegene wat waarlik weet en jou kan help, te plaas. Dis veral waar as jy jouself as meer bekwaam, passievol en talentvol as die ander mense rondom jou, ag.

Wyse mense soek altyd raad. As jy wys is, sal jy jou beperkinge erken; slegs ‘n dwaas glo dat hy of sy geen swakpunte het nie. Net die naïewe is dwaas genoeg om met die veronderstelling te lewe dat hulle al die regte besluite sonder goeie insette kan maak. Hulle kan egter nie.

Hier is drie Skrifgedeeltes uit die boek Spreuke wat jy vandag oor moet nadink:
1) ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV).
2) ‘Sonder beraadslaging loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers’ (Spreuke 15:22 NLV).
3) ‘Luister na raad. Wees bereid om tereggewys te word sodat jy uiteindelik daardeur wysheid kan hê’ (Spreuke 19:20 NLV).

Dis nie net wat jou raadgewer weet nie, maar ook wat hulle sien wat hulle waardevol maak. Hulle is ‘n ekstra paar oë en ore. Hoekom sal jy sonder hulle wil lewe?

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:1-12; Ps 105:16-22;
Spr 30:10-14