Wat ‘sien’ jy? (1)

2022-12-27
Genesis 15:5 NLV

Visie is die Godgegewe vermoë om die onsigbare te sien. Daarsonder word mense koersloos (sien Spreuke 29:18). Toe God vir Abraham gesê het dat hy die vader van baie nasies sou wees, was hy en Sara oud en kinderloos. Natuurlik gesproke, het dit onmoontlik gelyk. “Daarom neem die Here Abram na buite toe onder die naghemel en sê: ‘Kyk op en tel die sterre. Kan jy? So sal jou nageslag wees – te veel om te tel!'” Dit was nie genoeg om te hoor wat God gesê het nie, Abraham moes dit ook in sy geestesoog sien. Alhoewel die belofte eers na twintig jaar vervul is, was die sterre elke aand wanneer Abraham na die hemel opgekyk het, ‘n konstante herinnering aan God se getrouheid.

Om geboorte aan iets te gee, moet jy dit eers verwek deur dit deur die oë van geloof te sien en die beeld daarvan op jou gedagtes in te brand. Jesus het gesê: “‘n Suiwer oog laat die lig na binne stroom sodat jy daarbinne geheel en al lig word. Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker…” (Matteus 6:22-23 NLV).

Volgens die legende het die eienaar van ‘n stuk marmer vir Michelangelo gesê dat dit waardeloos is. Michelangelo het egter geantwoord: ‘Dis onskatbaar vir my. Daar is ‘n engel daar binne opgesluit en ek moet hom bevry.’ Wat jy ‘sien’ sal die rigting van jou lewe verander. Dit sal bepaal hoe hoog jy uitstyg of hoe laag jy val. Die goeie nuus is egter, maak nie saak hoe donker dinge aan die buitekant lyk nie, God kan vandag vir jou ‘n vars visie en ‘n nuwe toekoms gee.

Sielskos: Sag 1-5; Joh 20:1-9; Ps 113; Spr 31:14-17

Hou jou groep gesond

2022-12-26
Spreuke 11:24 NLV

Nie alle armoede is finansieel van aard nie; daar is ook geestelike armoede wat ontstaan wanneer ons nie na mekaar uitreik nie.

Pastoor Allen White sê: ‘Soms maak dit sin om jou groep klein te hou, maar nie vir die volgende redes nie:
1) ‘Ons waardeer nabyheid.’ Te veel nabyheid kan veroorsaak dat jou groep ineenstort. Wat eens op ‘n tyd wonderlik was, veroorsaak die dood van die groep. Lede trek weg, skedules is in konflik met mekaar, die groep begin rondom die twee-jaar merk afneem en dit raak moeiliker om nuwe lede te kry. Daar is te veel geskiedenis aan die groep.
2) ‘Buitestaanders kan ons ritme versteur.’ Mense raak gemaklik met bekende patrone. Hulle sit op dieselfde plek en maak dieselfde grappies, maar die gemaksone kan vinnig in ‘n groef verval. Nuwe mense verstaan nie die grappies nie, hulle ken nie die roetine nie en wat erger is, hulle sit op jou plek!
3) ‘Vertroulikheid.’ Wanneer nuwe lede aansluit, word die grondreëls neergelê. Die gesprek mag dalk as volg gaan: ‘Aangesien verskeie nuwe mense aangesluit het, laat ons ‘n oomblik neem om die grondreëls te hersien. Ons waardeer vertroulikheid en enigiets wat hier gesê word, moet binne die groep bly.’
4) ‘As ons te groot raak, sal ons moet opdeel.’ Wanneer dit by die ideale grootte van ‘n groep kom, lyk dit of agt tot twaalf lede goed werk. Getalle is egter nie naastenby so belangrik soos wat binne die groep gebeur nie. Wanneer die getalle styg, neem persoonlike sorg soms af.’

Hou dus jou groep gesond.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 19:31-42; Ps 128; Spr 31:10-13

“Onbeskryflik!”

2022-12-25
2 Korintiërs 9:15 NLV

Paulus sê dat die geskenk wat God aan elkeen van ons daardie eerste Kersfees gegee het, ‘onbeskryflik’ is. Jesaja sê vir ons: ‘Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee…’ (Jesaja 9:5 NLV). Jesus was beide God en mens. As kind is Hy gebore, maar as die Seun van God kon Hy net vir ons gegee word, omdat Hy nog altyd bestaan het. Hy is dus die perfekte oplossing vir ons sondeprobleem, omdat Hy beide die aansprake van goddelikheid en die stryd van die mensdom verstaan. Kom ons ondersoek vandag hierdie ‘onbeskryflike gawe.’

Jesus is ons bemiddelaar. Job het gesê: ‘As daar net iemand was om tussen ons te bemiddel en ons bymekaar te bring!..’ (Job 9:33 NLV). Jesus is daardie bemiddelaar. Hy hou een hand op jou en sy ander hand op God, sodat die konneksie nooit gebreek word nie. Jesus is ook ons voorbidder. Die Bybel sê: ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV).

As jy elke liewe een van jou sondes moes onthou en bely, sou jy nooit geslaap het nie; jy sou op jou knieë gelewe het. Christus se dood oorkom egter al die verkeerde dinge wat jy al gedoen het en sy lewe bedek al die goeie wat jy ongedaan gelaat het. Hy is dus ten volle gekwalifiseerd om jou voor die troon van God te verteenwoordig. Daar is net een woord wat by so ‘n Kersgeskenk pas: ‘Onbeskryflik!’

Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 2:1-20

Jou voorsiening is oppad!

2022-12-24
Matteus 2:11 NLV

Die Bybel sê vir ons: ‘Jesus is in die dorp Betlehem in Judea gebore… sterrekundiges [het] uit die ooste in Jerusalem opgedaag. Hulle doen toe navraag: ‘Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid’… En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste gesien het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was… Toe hulle by die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle skatkiste oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre’ (verse 1-2, 9,11 NLV).

Een Bybelonderwyser sê: ‘Ons onthou almal die Kersverhaal: Hoe Wyse Manne uit die ooste gekom het en ‘n ster gevolg het wat hulle na die Heilige Kind gelei het, hoe hulle Hom aanbid het en kosbare geskenke vir Hom gegee het. Maria en Josef het nie uitgegaan en vir geskenke gevra nie. Alhoewel hulle geforseer was om die nag in ‘n koue, donker stal te bestee, het hulle nie geskenke verwag nie. Omdat hulle egter in die middel van God se wil was, het Hy Wyse Manne op kamele gestuur, gelaai met voorraad. As ons binne die wil van God is, sal Hy ook vir ons voorsien. Die kamele sal na elkeen van ons toe kom as ons in die wil van God bly. Die enigste manier waarop ons egter hierdie soort voorsiening kan verwag, is deur getrou te bly waar God ons geplaas het. Wanneer ons dit begin glo, is ons vry om ons sorge aan Hom oor te gee. Ons hoef nie heelnag wakker te lê en ons te bekommer nie.’

Sielskos: Jes 9:1-7; Miga 5:2-5a

Wanneer dit nie soos Kersfees ‘voel’ nie

2022-12-23
Jesaja 61:1 NLV

Hierdie tyd van die jaar is dit maklik om by die mite in te koop dat almal anders ‘n prentjiemooi Kersfees geniet. Die waarheid is dat daar duisende mense daar buite is wie se lewens vir altyd deur die dood, skeisake, siekte en finansiële probleme verander is.

Tammy Hanson Maltby skryf: ‘Dit was 20 Desember. Daar was geen teken van Kersfees in ons huis nie. Gewoonlik is ons kersboom al einde November opgeslaan en kersmusiek en lieflike geure het die lug gevul. Nie hierdie jaar nie. My huwelik van 20 jaar was pas verby. My begroting was in sy kanon in en my gees was gespanne. Sommige dae kon ek skaars uit die bed klim. Al vier my kinders was tuis vir die vakansie. Steeds was daar geen boom nie. ‘Dis regtig depressief,’ het ek een van my kinders hoor grom en my hart het weer gebreek. ‘Ek sal môre ‘n boom kry,’ het ek weer belowe. Selfs ek het nie my eie woorde geglo nie. Daardie aand het ek stemme in die woonkamer gehoor. Daar, naby die klavier het ‘n kunsmatige klein kersboompie gestaan wat ek jare gelede gekoop het om die kinders se ornamente wat hulle by die skool gemaak het – ornamente wat net nie reg op my majestueuse, versierde, regte kersboom gelyk het nie – te hang. Die kinders het dit opgeslaan en met liggies en die ornamente wat van hulle kleintyd oorgebly het, versier. Dit was pragtig, ek was bly en verskriklik dankbaar dat hulle dit saam vir my gedoen het.’

As jy ‘n moeilike Kerstyd het, moenie te hard op jouself wees nie. Onthou, jy kan deur enigiets vir een dag kom (sien Deuteronomium 33:25). Jesus verstaan. Hy het gekom ‘…om dié wat hartseer is, te troos…,’ draai dus na Hom toe hierdie Kersfees en vra Hom om jou vrede en vreugde te herstel.

Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:17-30; Ps 47; Spr 31:6-9

Hy het sy kosbaarste besitting gegee

2022-12-22
2 Korintiërs 9:15 NLV

Een middag het ‘n dogtertjie buite Pete Richardson se antiekwinkel gestaan en die skatte in die venster bestudeer. Toe het sy ingegaan en gevra om ‘n string blou krale te sien. Toe Pete dit op die toonbank neersit, het sy gesê: ‘Dis perfek. Sal Oom dit asseblief toedraai? Dis vir my suster. Sy sorg vir my. Dit sal ons eerste Kersfees wees vandat Mamma oorlede is en ek soek al lank na die perfekte geskenk vir haar.’ ‘Hoeveel geld het jy?’ het Pete versigtig gevra. Sy het ‘n klomp munte op die toonbank uitgegooi en gesê: ‘Ek het my spaarvarkie leeggemaak.’ Pete het die halssnoer opgetel, met die prys na hom toe gedraai. ‘Wat is jou naam?’ het hy gevra. ‘Jean Grace,’ het sy geantwoord. Pete het die krale mooi toegedraai, die dogtertjie het hom bedank en sy winkel verlaat.

Op Oukersaand, toe die laaste klant weg is en hy besig was om die winkel te sluit, het ‘n jong vrou die winkel binnegehardloop en ‘n bekende pakkie vir hom gegee. ‘Kan jy onthou aan wie jy hierdie verkoop het?’ het sy gevra. “‘n Dogtertjie genaamd Jean het dit vir haar ousus gekoop.” ‘Hoeveel is die halssnoer werd?’ het sy gevra. ‘Die prys,’ het Pete geantwoord, ‘is altyd vertroulik tussen die verkoper en sy kliënt.’ Haar suster het gevra: ‘Maar hoe het sy daarvoor betaal?’ Pete het die pakkie versigtig weer toegemaak, vir haar teruggegee en gesê: ‘Sy het die grootste prys wat mens kan betaal, gegee. Sy het alles wat sy het, gegee.’

Toe God sy Seun gestuur het om ons te verlos (sien Galasiërs 4:4 NLV), het Hy alles gegee wat Hy gehad het. ‘Dank aan God vir sy onbeskryflike gawe!’

Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:1-16; Ps 12; Spr 31:1-5