Jy kan jou selfpersepsie verander

2023-02-16
1 Korintiërs 15:10 NLV

Die wedergeboorte begin ‘n transformerende proses oor hoe jy oor jouself dink. Dit moet egter elke dag volgehou word deur jou gedagtes te vernuwe. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).

Wanneer jou gedagtes dus deur God se Woord verander word, gebeur twee dinge: a) jy weet wat sy wil vir jou is, en b) jy weet dat Hy tevrede met jou is. Wanneer hierdie twee dinge gebeur verander jou selfpersepsie, aangesien jy nie meer aan die genade van ander mense se opinies of evaluering oorgelaat word nie.

Ons opinie van onsself word diep deur die menings van die gesagsfigure in ons vormingsjare, geraak. As ons ouers geneig was om ons af te skeep of te ignoreer, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat ons nie hulle tyd, aandag en liefde werd was nie, wat ons selfwaarde afgebreek het. Soos ons egter in God se Woord volwasse word, leer ons om in die lig van ons nuwe selfbeeld te wandel en verkry ons nuwe selfwaarde.

Ongeag waardeur jy in die lewe is of die foute wat jy gemaak het, sal God jou help om te besef wie jy is en wat Hy jou begenadig het om te doen. Voor Paulus vir Christus ontmoet het, het hy Christene doodgemaak. Nadat hy egter vir Christus ontmoet het, het hy geskryf: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie…’

Wanneer jy God se goedheid verstaan – sy onverdiende, onfeilbare guns teenoor jou – sal dit jou persepsie van jouself ingrypend verander.

Sielskos: Gen 50; Haggai 1-2; Luk 9:57-62; Ps 149; Spr 4:25-27

In plaas van bekommer, vertrou God

2023-02-15
Filippense 4:6 NLV

Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Bekommernis is soos ‘n wiegstoel. Dit hou jou besig, maar dit bring jou nêrens. As jy dit inderwaarheid te lank doen, maak dit jou net moeg! Een mediese kundige sê dat ons ongeveer dertigduisend gedagtes per dag het en deur ons ongekontroleerde gedagtegang, skep ons ‘n gunstige omgewing vir siekte; ons maak onsself siek! ‘n Ander mediese navorser skat dat 87 persent van siektes met verkeerde gedagtepatrone verbind kan word.

Die bron van bekommernis is eenvoudig; dis die versuim om God te vertrou om vir die verskillende situasies in jou lewe te sorg. Die meeste van ons probeer al ons hele lewe lank om vir onsself te sorg, dus neem dit tyd – en baie daarvan – om te leer om eerder op God te vertrou. Die enigste manier wat jy leer om dit te doen, is om dit eenvoudig te doen. Elke keer wat jy bid en die probleem aan God oorgee, ervaar jy sy getrouheid. Dit maak dit makliker om Hom volgende keer te vertrou.

Wanneer dit by probleme kom, sal daar altyd ‘n volgende een wees! Wanneer jy dus begin angstig voel, sê: ‘Ek vertrou God volkome; daar is geen rede om my te bekommer nie!’ Hoe meer jy oor hierdie waarheid dink, hoe meer sal jy vind dat jy vertroue bo bekommernis kies.

Sielskos: Gen 47-49; Luk 9:46-56; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24

Reageer op die regte manier

2023-02-14
Romeine 5:3 NLV

Viktor Frankl is tydens die Tweede Wêreldoorlog na ‘n Nazi konsentrasiekamp gestuur. Die wagte daar het hom van alles ontneem. Hulle het sy vrou, sy familie en sy klere weggevat. Hulle het selfs sy trouring gesteel. Hy het egter een ding gehad wat niemand by hom kon wegneem nie. Hy het geskryf: ‘Die laaste van menslike vryhede is die vermoë om ‘n mens se houding in ‘n gegewe stel omstandighede te kies.’ Die wagte kon nie Frankl se vryheid om sy houding te kies van hom wegneem nie.

Ons weet nie wat more, of selfs vandag, gaan gebeur nie. Ons kan nie ons omstandighede beheer nie, maar ons kan ons reaksie daarop beheer. Ons kan beheer of ‘n ervaring ons sterker of swakker gaan maak, ons geloof of ons vrees gaan vermeerder, of dit ons ‘n beter of ‘n bitter persoon gaan maak. Daar is ‘n gesegde wat sê: ‘Dieselfde sonskyn wat die botter laat smelt, verhard die klei.’ God wil hê dat ons moeilikhede ons moet versterk.

Paulus skryf: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (verse 3-5 NLV).

Hier is nog ‘n belangrike gedagte – die toetse en beproewings waardeur ons in hierdie lewe gaan, is wat ons bekwaam maak om in die volgende lewe saam met Christus te heers en te regeer. Hierdie wete sal jou help om op die regte manier te reageer!

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Jy kan vrede in jou gemoed hê

2023-02-13
Psalm 29:11 NLV

Almal wil vrede in hulle gemoed hê. Of jy nou ‘n sakeman is wat die druk van spertye ervaar, ‘n tuisteskepper wat die kinders in toom moet hou, of ‘n student wat graag deur die semester wil kom, almal wil gemoedsrus hê. Die meeste van ons ervaar egter meer stres as vrede. Hoe vertroud is jy met stres?

Een skrywer merk op: ‘Hier is ‘n klein vraelys. Voltooi elkeen van hierdie sinne met die toepaslike woord: ‘Ek is reg om die … in te gooi. Ek is … op. Ek is net ‘n bondel … My lewe is besig om … te val. Ek weet nie meer watter … toe nie.’ Hoe het jy gevaar? As jy ‘handdoek, raad, senuwees, uitmekaar en kant’ geantwoord het, gee vir jouself ‘n A+.’

Die meeste van ons het hierdie woorde al so gereeld gemompel dat dit amper tweede natuur is. Stres is ‘n betreurenswaardige feit van die lewe in ons hedendaagse wêreld. Verkope van kalmeermiddels is op ‘n hoogtepunt en boeke oor gemoedsrus word onmiddellik topverkopers. Ons word gewaarsku dat te veel stres ongesond is. Ons weet dit egter al vir eeue. Duisende jare gelede het Salomo geskryf: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid…’ (Spreuke 14:30 NLV).

Ons weet van stres, maar waar gaan jy om vrede in jou gemoed te kry? Na God toe! Neem ‘n oomblik om hierdie twee beloftes te lees: 1) ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede.’ 2) ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef…’ (Filippense 4:6-7 NLV).

Sielskos: Gen 44-46; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Jy word gesnoei (2)

2023-02-12
Psalm 119:71 NLV

God gebruik probleme, druk en mense om jou te snoei om meer vrugte te dra. Is jy van enige van hierdie drie dinge in jou lewe bewus? God kan alle situasies in jou lewe gebruik om jou te help groei, mits jy die regte houding het. Hy sal ‘n groot frustrasie, ‘n finansiële terugslag, ‘n skielike siekbed, ‘n gebroke huwelik, ‘n rebelse kind of selfs die dood van ‘n geliefde gebruik om jou aandag te kry.

Jy sê: ‘Maar dit maak so seer!’ Ja, om gesnoei te word is pynlik. Soms sal ‘n tuinier ‘n boom snoei totdat dit soos ‘n groot tandestokkie lyk. Dis nie ‘n mooi gesig nie. Die snoeiproses is egter positief. God is nie vir jou kwaad nie. ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV). God straf nie sy opregte kinders nie. Jesus het jou straf op Hom aan die kruis geneem. God se snoeiwerk is vir jou eie beswil, om meer vrugte in jou lewe te kan dra.Kan God se snoeiwerk geen resultate oplewer nie? Ja, indien jy nie saamwerk nie.

Hoe produseer God ‘…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV), in jou lewe? Hy produseer hierdie kwaliteite deur jou toe te laat om voor situasies en mense met presies die teenoorgestelde kwaliteite te staan te kom. Hy leer jou om lief te hê deur jou te midde van moeilike mense te plaas. Hy leer jou geduld deur toe te laat dat jy gefrustreer raak. Jy vra: ‘Hoe kan ek met God saamwerk?’ Die Bybel sê vir jou: ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag’ (1 Tessalonisense 5:16-18 NLV).

Sielskos: Matt 5:1-12; Jos 10:5-14

Jy word gesnoei (1)

2023-02-11
Hebreërs 12:10 ABA

Het jy geweet dat sommige tuiniers met hulle plante praat? Hoekom? Omdat dit hulle help groei! Verbeel jouself jy sê: ‘Jy is so ‘n goeie plant. Jy lyk pragtig vandag. Ek is so trots op jou!’ Verbeel jouself nou dat jy met die plant praat terwyl jy hom snoei en sê: ‘Hierdie maak my seerder as wat dit jou maak.’ Snip! ‘Jy sal my na die tyd hiervoor bedank.’ Snip! ‘Dis vir jou eie beswil.’ Snip! Nou dink jou in dat die plant terugpraat: ‘Jy het nie ‘n hart nie. Jy haat my. Ek het lank en hard gewerk om daardie rose te maak wat jy so pas afgesny het.’

Is dit nie ook wat ons vir God sê terwyl Hy ons snoei nie? ‘Is U nie lief vir my nie? Gee U nie vir my om nie? Kan U nie sien wat tans in my lewe aan die gebeur is nie?’ Ons dink dat God vir ons kwaad is. Nee, Hy is nie kwaad nie. Een van die groot foute wat ons maak is om snoei met straf te verwar. Moenie die twee gelykstel nie.

God sien jou as iemand wat meer vrugte kan dra, iemand met die potensiaal om groot dinge te bereik, iemand wat Hy op ‘n betekenisvolle manier kan gebruik. Hy wil hê jy moet soveel vrugte dra as wat jy moontlik kan, dus snoei Hy jou en sny selfs dinge in jou lewe af waarmee Hy jou geseën het.

Het jy ‘n werk waaroor jy mal was verloor? Of ‘n geliefde verhouding? God mag dalk iets beters in gedagte hê. Kan jy Hom vertrou? Glo jy dat Hy in jou lewe aan die werk is? Sy Woord sê: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).

Sielskos: Gen 42-43; Luk 9:28-36; Ps 141; Spr 4:18-19