Word jy gesif?

2023-02-22
Lukas 22:31-32 NLV

Jon Walker sê: ‘Toe Jesus vir Petrus gesê het: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif…’ wonder ons hoekom die Here daartoe ingestem het. ‘n Goeie sifting verheerlik God, soos Job wat aangehou het om sy Maker te loof toe dinge verlore gelyk het. Dit ondersoek jou swakhede. Waar jy nog steeds dink, ‘Ek kan’, sal ‘n goeie, vinnige sifting jou noop om te sê: ‘Ek kan nie, maar God kan.’ Dit laat God toe om die afleidings wat jou kan verhinder om sy doel in jou lewe te verwesenlik, weg te krap.

Petrus se sifting het al sy stamp-en-snork-geblaas weggeskraap en ‘n hart wat leerbaar en gewillig was om Kornelius en sy nie-Joodse gesin in die familie van God te verwelkom, geopenbaar. Let op, Jesus het nie gesê: ‘Maak jouself vir ‘n warrelwind van seer gereed, Petrus. Ek weet jy gaan My in die steek laat!’ nie. In plaas daarvan het Hy na die toekoms verwys.

Petrus sou die sifting oorleef; hy sou nederig, maar sterker terugkom, met die doelwit om sy broers en susters te versterk. Die Here het vir die sifting ja gesê om Petrus van ‘n leier wat dien, na ‘n dienskneg wat lei te verander. Dit is ‘n beduidende verskuiwing van die denke van mense na die denke van God.

Jy mag dalk dae hê wanneer jy wonder of God besig is om toe te laat dat Satan jou sif. Jy kan ‘n God-siening daarvan inneem, met die wete dat Hy altyd in beheer is. ‘Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV).’

Sielskos: Rom 12-14; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23

Wanneer jy gedreineerd voel

2023-02-21
Psalm 23:2 NLV

Selfs wanneer jy reg lewe en al die regte dinge doen, kan die lewe jou steeds gedreineerd laat voel. Soms voel jy gedreineerd, nie omdat jy enigiets verkeerd gedoen het nie, maar net omdat jy in die wêreld woon. Die kombinasie van die wêreld, die vlees en die duiwel sal jou geestelike lewenskrag by jou steel as jy dit toelaat.

Jy probeer bid, maar die woorde kom nie. Jy weet dat jy jou Bybel behoort te lees, maar wanneer jy probeer om dit te doen, raak die letters deurmekaar en niks maak sin nie. Jy is nie lus om na geestelike mense, veral die van hulle wat jy vermoed hulle positiewe standpunte veins, te luister nie. Jy gaan net deur die geestelike bewegings, knik jou kop en sê amen; maar in jou siel voel jy leeg.

Dawid, wat eers ‘n skaapwagter was, het gesê dat God ons laat rus. Hoekom? Omdat ons net soos skape sal aanhou ronddwaal en onsself uitput.

Let op die twee dinge wat Dawid sê: 1) ‘Hy laat my rus in groen weivelde…’ Die woord ‘groen’ beteken ‘vars.’ Jy het elke dag deur gebed en ‘n nuwe inname van sy Woord, ‘n vars ontmoeting met God nodig. Brood is nie die enigste ding wat oud kan raak nie; jou geestelike lewe kan ook.

2) ‘…Hy bring my by waters waar daar vrede is’ (vers 2 AFR83). Jy het tyd vir stilte en introspeksie nodig. ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Die enigste manier om God intiem te leer ken, sy leiding aan te voel en krag uit sy mag te put, is om stil te wees.

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20

Gebreekte pyle

2023-02-20
Psalm 127:3-4 NLV

Ons kinders is soos pyle; hulle moet in die regte rigting gerig word. Wanneer hulle in die verkeerde rigting gerig word, kan hulle in geweld, dwelms en vernietigende leefstyle opeindig. Solank ons hulle bespot of oordeel, sal hulle nooit gemaklik voel om vir hulp na ons te draai nie. Gebreekte pyle kom in alle kleure en vorms voor: swart, wit, ryk, arm. Pyn bevooroordeel nie; dit spaar geen ouderdoms- of sosiale groep nie.

Wat is die antwoord? Laat die sterkes die laste van die swakkes dra (sien Romeine 15:1). ‘Jesus… het ‘n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak’ (Matteus 14:14 NLV). Toe die dissipels gedink het dat hulle in die storm gaan sterf, het hulle nie Christus se krag uitgedaag nie, maar sy deernis: ‘…Leermeester, skeel dit U niks dat ons besig is om te vergaan nie?’ (Markus 4:38 NLV).

Waar daar nie deernis is nie, sal daar nie ‘n wonderwerk wees nie. Eers wanneer jy deur iemand se pyn geroer word, eerder as om deur hulle simptome afgesit te word, kan jy hulle genesing meebring. Een skrywer merk op: ‘Ons kan soveel kerke bou soos ons wil. As mense egter nie ‘n liefdevolle stem in ons heilige sale kan vind nie, sal hulle onaangeraak deur ons clichés en godsdienstige retoriek beweeg. Kerk is nie ‘n klub vir welgesteldes nie, maar ‘n hospitaal vir diegene wat genees en bevry moet word. Jy hoef nie van alles te hou van die mense wie jy geroep is om te dien nie, maar jy moet hulle liefhê omdat God dit doen.’

Ons is geroep om diegene wat die wêreld weggegooi het bymekaar te maak, omdat hulle vir God saakmaak: “Die magtige Here sê: ‘Die dag as Ek ingryp, sal hulle my kosbare besitting wees…'” (Maleagi 3:17 NLV).

Sielskos: Rom 7:1-9:16; Luk 10:25-37; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Jy dors na God

2023-02-19
Johannes 4:15 NLV

Hierdie Samaritaanse vrou het die leegheid in haar lewe met verskeie verhoudings probeer vul. Dit het egter nie gewerk nie. Wanneer jy dit wat slegs in Christus gevind kan word in enigiemand anders soek, plaas jy soveel stres op die verhouding dat dit onder die gewig daarvan sal breek.

Hoekom het Jesus gesê: ‘Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie…” (vers 18 NLV)? Omdat jy die patroon om ander mense as ‘n narkotiese middel te gebruik om die pyn in jou innerlike leemte te verdoof, moet verbreek. Hoe meer jy die simptome medisinaal probeer behandel, hoe minder kans is daar dat jy God sal toelaat om die oorsaak te behandel.

Die ander disfunksionele neiging is dat jy aanhou om die dosis te verhoog. Wanneer jy al hoe meer van ander mense, in plaas van God, afhanklik raak om ‘n gevoel van heelheid in jou lewe te skep, misbruik jy jou verhoudings. Om aan mense vas te klou is baie anders as om hulle lief te hê. Dis nie soseer ‘n liefdesverklaring as ‘n uitroep van jou behoefte aan hulle nie. Soos wellus, is dit uiters selfsugtig. Jy neem, eerder as om te gee.

Jesus het hierdie Samaritaanse vrou se dors met sy Woord geles deur te sê: ‘Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ‘n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel’ (vers 14 NLV). Luister na haar getuienis: ‘Kom kyk self – ‘n man het my alles vertel…’ (vers 29 NLV). Wat Jesus vir haar gedoen het, sal Hy vandag vir jou doen.

Sielskos: 2 Kron 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8

Jesus wil jou vry maak

2023-02-18
Lukas 13:12 NLV

Die Bybel sê: “[Jesus het] ‘n vrou gesien wat deur ‘n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: ‘Vrou, jy is van jou kwaal genees!'” (verse 11-12 NLV).

Let vier dinge in hierdie verhaal op: die persoon, die probleem, die Groot Geneser en die voorskrif. Elke persoon, insluitend jy, sal ‘n probleem hê. Belangriker as dit is egter dat die Groot Geneser vir elke probleem, insluitend joune, ‘n voorskrif het. Jesus se openingsverklaring oor die probleem in hierdie vrou se lewe is ‘n uitdagende opdrag: ‘…jy is van jou kwaal genees!’

Nadat jy jou toestand ontleed het en die oorsprong daarvan verstaan, sal dit die gesag van God se Woord verg om die verlede agter jou te sit. Hierdie vrou het as gevolg van iets wat haar agtien jaar terug aangeval het gely, maar tog was haar trauma nog so vars soos die dag wat dit plaasgevind het. Haar probleem was in die verlede gewortel, maar die voorskrif daarvoor kon net in die huidige Woord van God gevind word.

Jesus, wat die Lewende Woord is, ‘…bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV). Dit wil sê dat die woord wat jy vandag hoor, in staat is om jou gisters te genees! Jesus het gesê: ‘Vrou, jy is van jou kwaal genees.’ Hoekom het Jesus haar nie op haar naam genoem nie? Omdat sy belofte op ons almal van toepassing is.

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Luke 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6

Jy sal deur dit kom

2023-02-17
Prediker 3:1-4 NLV

Smart kom in baie vorms na ons toe. Jy kan jou werk, jou huis of jou gesondheid verloor. Niks maak egter seerder as wanneer jy iemand vir wie jy baie lief is, verloor nie. Golwe van rou sal oor jou spoel soos die oseaan sy golwe op die strand neergooi. Wat jy ook al doen, moenie verdrink nie. Moenie daar stilstaan en toelaat dat die gety jou intrek nie. Laat jouself toe om die smart te voel sonder om dit om jou nek te bind. Laat die gewig daarvan toe om jou te help om deur jou gedagtes, jou vrese en indien nodig, jou trane te werk. Om te rou verlig die siel, soos die uitasem van koolstofdioksied jou liggaam verlig.

Daar kom egter ‘n tyd wat jy moet opstaan en aangaan. Die vlakke van rou waardeur jy beweeg is skok, ontkenning, bedinging, dan smart en uiteindelik aanvaarding. Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my’ (Psalm 23:4 NLV). Wanneer jy aan die ander kant van hierdie vallei uitkom, sal jy in staat wees om met meer dankbaarheid en minder smart, daarop terug te kyk.

In plaas daarvan om op dit wat jy verloor het te fokus, sal jy dankbaar wees vir dit wat jy oor het. Moet ook nie bang wees om daardie seldsame oomblikke van lag wat selfs in die aangesig van hartseer voorkom, te geniet nie. Lag laaf die siel en verlig die spanning van daardie tye; dit verg van ons om buite ons huidige pyn te tree en pas ons fokus aan. Dit op sigself is ‘n helende balsem. “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne…” (Spreuke 17:22 NLV).

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Luk 10:1-12; Ps 5; Spr 5:1-2