Geniet elke dag van hierdie Nuwe Jaar (2)

2023-01-02
Johannes 15:11 NLV

Jy moet ter wille van Christus elke dag van jou lewe geniet, want Hy het ‘n baie hoë prys betaal sodat jy dit kan doen. Hy het gesê: ‘…Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (Johannes 10:10 NLV). Hy het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV). Hy het gesê: ‘Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:24 NLV).

Jesus het gebid dat jy blydskap moet ervaar: ‘Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind’ (Johannes 17:13 NLV). Met Jesus self wat sulke kragtige woorde bid oor sy begeerte dat jy vreugde moet hê, hoe kan jy ooit twyfel dat God wil hê dat jy gelukkig moet wees en jou lewe geniet?

As verloste kind van God, is jy ‘n lopende advertensiebord vir Christenskap! Moenie rondgaan en ernstig, streng of suur lyk in ‘n poging om ‘geestelik’ voor te kom nie. Nee, dit sit nie-Christene af! Jy het ‘n nuwe ingesteldheid nodig; ‘n Skriftuurlike een wat jou in staat sal stel om die lewe te geniet en jou ‘n lekkerder mens te maak om by te wees.

Sielskos: Jes 1; Luk 1:1-4; Ps 1; Spr 1:1-2

Geniet elke dag van hierdie Nuwe Jaar (1)

2023-01-01
Psalm 118:24 NLV

Elke dag is ‘n gawe van God. Naas jou verlossing, is vandag die kosbaarste geskenk wat jy ooit sal ontvang. Wat doen jy wanneer jy ‘n geskenk ontvang? Jy bedank die gewer, maak dit oop en geniet dit.

Een Bybelonderwyser skryf: ‘Ek doen moeite om op elke oomblik van my lewe te fokus en dit te geniet, maar dit was ‘n lang en moeilike reis om by hierdie punt uit te kom. Ek is ‘n beplanner en as ek nie versigtig is nie, begin ek al die volgende ding beplan terwyl ek nog met die huidige een besig is. Ek raak maklik so gefokus op my werk dat ek nie die wonder van die oomblik geniet nie. Ek het byvoorbeeld gewoonlik gewerk terwyl my kinders klein was en het dit moeilik gevind om selfs ‘n oomblik te neem om die oulike dingetjies wat hulle gesê of gedoen het te geniet. Ek het baie van daardie oomblikke misgeloop en sal dit nooit terugkry nie. Ons moet die lewe en die mense wat God op ons pad geplaas het, vier. Die lewe is daar om geniet te word, nie om gevrees te word of oor spyt te wees nie.

Salomo het geskryf: ‘Daar is vir die mens niks goeds behalwe dat hy kan eet en drink en ten spyte van sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het besef dit is ‘n gawe wat uit God se hand kom’ (Prediker 2:24 NLV). Let die volgende twee frases op: 1) ‘uit God se hand.’ Dit beteken dat dit God se wil vir jou is om elke dag te geniet. 2) ‘die goeie kan geniet.’ Dit beteken dat jy elke dag op die uitkyk moet wees vir dinge om te vier. Begin dit vandag doen!

Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14

Vyf voornemens om aan te werk

2022-12-31
Hebreërs 12:1 NLV

Susan Alexander Yates stel vyf voornemens voor om aan te werk: ‘1) Reik uit na iemand wat Christus nie ken nie. God beveel ons om sout en lig te wees (sien Matteus 5:13-16), maar dit sal nie gebeur as ons al ons tyd saam met gelowiges deurbring nie.

2) Wees dankbaar. Ek het altyd wakker geword en gedink aan al die dinge wat ek moet doen en die mense wat my nodig het. Ek het depressief geraak nog voor ek uit die bed geklim het! Dus het ek op God se karaktereienskappe begin mediteer en begin dink hoe wonderbaarlik God is. My perspektief het verander.

3) Bestee kwaliteittyd saam met jou eggenoot. Ek het voorheen ‘n framboosbos gehad. Aan die begin het ek dit versorg en dit het vrugbare oeste opgelewer. Toe het ek besig geraak en onkruid het die bos oorgeneem. Dit kan ook met ‘n huwelik gebeur. Ons dink dat ons tyd saam sal bestee wanneer die lewe rustiger raak. Die probleem is dat dit nooit gebeur nie. Moenie toelaat dat onkruid julle huwelik verwurg nie.

4) Sê vir iets ‘nee.’ Volwassenheid beteken dat jy iets wat jy graag wil doen uitstel om op iets belangrikers te fokus. Wat sal oor tien jaar die meeste beteken – dat jy jou kind vir nog ‘n aktiwiteit ingeskryf het, of dat jy ‘nee’ gesê het en saam as familie in die aande geëet het?

5) Jaag Christus met nuwe krag na. Dawid het gebid: ‘Gee my tog weer die vreugde van u redding…’ (Psalm 51:14). Verander jou roetine. Kies ‘n nuwe onderwerp vir Bybelstudie. Begin ‘n dagboek hou. As jy steeds sonder energie voel, vra God om vir jou die rede daaragter te wys.’

‘…Kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag… Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê’ (Hebreërs 12:1 NLV).

Sielskos: Jes 43:9-21; Joh 21:15-25; Ps 139:13-24; Spr 31:28-31

Moenie terugkyk nie (2)

2022-12-30
Jesaja 43:18-19 NLV

Ellen Vaughn gaan voort: ‘3) Ons moet ook ons suksesse vergeet. Dit beteken nie noodwendig dat ons die groot projekte wat ons voltooi het, moet vergeet nie. Ons moet met uitnemendheid vir God werk en lewe en Hy verlustig Homself in ons suksesse soos dit tot sy eer aangebied word. Ons moet egter suksesse in die verlede vergeet, indien dit ons identiteit gedefinieer het of veroorsaak het dat ons selfvoldaan, selftevrede en selfgenoegsaam geword het. (Net so moet ons seker maak dat ons verhale van God se werk en genade in ons lewens nie almal oud is nie. As ons net gevalle van God se getrouheid van vyf jaar gelede kan uitwys, maar geen hierdie week nie, is ons verbintenis met Christus nie baie deurlopend nie).

Paulus waarsku die mense in Filippi teen diegene wat hul vertroue in menslike kriteria en prestasies stel. ‘…As iemand meen om op menslike dinge te vertrou, ek nog méér!’ (Filippense 3:4 NLV), het hy gesê, met verwysing na sy agtergrond en al sy prestasies. Sy fokus was egter nie op die verlede nie. ‘Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ‘n wins beskou het, beskou ek hulle, in die lig van wat Christus vir my gedoen het, nou as ‘n verlies… maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (Filippense 3:7, 13-14 NLV).’

Die goeie nuus is dat God nie jou verlede analiseer om jou toekoms te bepaal nie. Hy sê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’ Leer uit die verlede, laat dit agter en moenie terugkyk nie!

Sielskos: Maleagi 1-2; Joh 21:1-14; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27

Moenie terugkyk nie (1)

2022-12-29
Jesaja 43:18-19 NLV

In die woorde van die legendariese bofbalspeler Satchel Paige: ‘Moenie terugkyk nie. Iemand mag dalk besig wees om jou in te haal.’ Dis goeie raad! Paulus stel dit as volg: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).

Ellen Vaughn skryf: ‘Voor ons geestelike lewenskrag werklik kan vloei, moet ons drie dinge vergeet. [Ons kyk vandag na twee daarvan]. 1) Ons moet ons sondes vergeet. Natuurlik moet ons ons sondes onthou sodat ons hulle kan bely. Nadat ons dit egter gedoen het, moet ons hulle laat gaan. Die rekord van ons sonde word by God uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie. Satan wil ons graag verlei om met skuld en vrees te lewe. Hy herinner ons aan ons ergste sondes en laat dit oor en oor in ons gedagtes afspeel. Ons moet baie duidelik hier wees, anders sal ons die bevrydende punt misloop. Dit is nie asof vergifnis slegs werklik is as ons een of ander soort heilige geheueverlies ervaar nie. Dit hang nie van ons af nie. Dit hang van God af en die Skrif sê dat God ons sondes vergeet (sien Hebreërs 8:12).

2) Ons moet ons skaamte vergeet. Paulus kon ‘n uitstekende kandidaat vir skaamte gewees het. Hy het die teistering, tronkstraf, marteling en moord op onskuldige mense gelei. God se genade is egter sterker as ons skaamte. Skaamte het sy byt verloor toe Jesus gesterf het en weer opgestaan het. Ons kan ons skaamte vergeet, want Jesus het dit op Homself geneem. Hy het dit geminag, verslaan en gebreek. Ons hoef dit nie terug te neem nie.’

Die woord vir jou vandag is dus: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’

Sielskos: Sag 10-14; Spr 31:22-24

Wat ‘sien’ jy? (2)

2022-12-28
Jesaja 43:19 NLV

Die lewe sal dit wat jy deurlopend voor jou hou, manifesteer. Paulus sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV), en kreatiwiteit en visie is deel van die pakket. Jy sê: ‘Maar ek het probleme. Ek verdrink in die skuld. Ek is eensaam.’ Moenie dat daardie beeld wortel skiet nie. Skilder ‘n nuwe prentjie. Sien jouself waar jy sterker en gesonder is, hoër uitstyg en jou drome bewaarheid word. Laat die beeld van oorwinning ‘n houvas op jou kry.

Herinner jouself aan die volgende Skriftuurlike waarhede: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het…’ (Psalm 118:24 NLV). ‘Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus…’ (Romeine 8:37 NLV). ‘Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons één is met Christus, altyd saamneem in sy triomftog…’ (2 Korintiërs 2:14 NLV). ‘Want U seën die vromes, Here, u genade is vir hulle soos ‘n skild’ (Psalm 5:13 NLV). ‘U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe…’ (Psalm 23:6 NLV).

In Bybelse tye is wyn in leersakke gestoor, maar soos hulle verouder het, het die sakke hul buigsaamheid verloor. Nuwe wyn het altyd nuwe leersakke geverg. Net soos jy nie nuwe wyn in ou leersakke kan gooi nie (sien Matteus 9:17), kan God nie vir jou ‘n nuwe visie gee totdat jy die ou beelde en houdings wat jy in jou gedagtes ronddra, verander nie. God sê: ‘Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie?..’ Hy is gereed om vandag iets nuuts in jou lewe te doen. Is jy gereed om jou ou denkwyse te verander en plek daarvoor te maak?

Sielskos: Sag 6-9; Joh 20:10-18; Ps 117; Spr 31:18-21