Mediteer-perkoleer (2)

2023-01-08
Jesaja 28:13 NLV

Kom ons neem hierdie mediteer-perkoleer idee ‘n stap verder. Miskien sal dit jou help om stadigaan te begin mediteer sonder om oorweldig te voel deur die gedagte dat jy nie die tyd of dissipline het om dit te doen nie. Dis nie ‘n alles-of-niks uitdaging nie. Neem klein treetjies. As jy slegs tien minute het, gebruik dit ten volle. Jy hoef nie tien hoofstukke in jou Bybel te lees nie. Jy is nie besig om ‘n opstel vir skool te skryf nie en jy gaan nie ‘n toets daaroor skryf nie.

Lees hierdie vers wat jou sal help: ‘Daarom gaan die Here weer met hulle praat. Hy gaan sê: Maak sus en maak so, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie en daar ‘n bietjie!..’ (vers 13 NLV). God se Woord is so ryk aan waarhede dat jy een frase of idee kan neem en dit in jou gedagtes kan laat perkoleer, of jy nou tien minute of twee ure het.

In plaas daarvan om televisie te kyk of aanhoudend te kyk of jy boodskappe op jou selfoon het, sit eenvoudig net stil, drink jou koffie of tee en laat God se inwonende Gees toe om sy Woord te interpreteer, te vergroot en te verryk soos dit oor en oor in jou gedagtes maal. Dink daaroor terwyl jy bestuur, of tydens jou middagete of teetyd.

Sommige dae sal dit voel of jy geestelik gesproke die boerpot gewen het; ander dae sal jy voel dat jy net ‘n klein bietjie tot jou basiese kennis van die Bybel toegevoeg het. Konsekwentheid is die sleutel. Doen dit ‘n jaar lank en jy sal 365 Skriftuurlike insigte hê om jou te help soos nodig. Kan jy insien hoe dit jou lewe ten goede kan verander?

Sielskos: Pred 11:7-12:1; Hand 9:1-25

Mediteer-perkoleer (1)

2023-01-07
Kolossense 3:16 NLV

Om oor die Skrif te mediteer is een van die grootste sleutels tot geestelike groei. Dawid skryf in Psalm 1: ‘…en sy voorskrifte dag en nag oordink’ (Psalm 1:2 NLV). Die woord ‘meditasie’ beteken egter nie soos ons dit deesdae voorstel nie. Ons dink aan monnike wat tydens sonsopkoms op hulle knieë dreunsing as ons die woord ‘meditasie’ hoor, wat ons in ‘n ander rigting in wil laat hardloop. Ons bewonder sulke mense, maar hoop dat God ons nie roep om so iets te doen nie. Of ons dink dat meditasie ‘n dissipline is wat ure se ononderbroke tyd verg en tyd is een ding waarvan ons nie genoeg het nie. Wat is die gevolg?

Ons lewe besige, maar geestelik onvrugbare lewens. Sommige van ons glo dat meditasie ‘n goeie ding is, maar dat daar te veel ander areas van geestelike groei en karakterontwikkeling is waaraan ons eers moet werk.

Wat is die probleem? Ons verstaan nie wat dit beteken om te mediteer of die ryk voordele wat dit ons sal gee, nie. ‘n Teelepel kitskoffie smaak lekker as jy net die basiese smaak van koffie wil hê. As jy egter meer wil hê – as jy die geur van die koffie in al sy rykheid wil geniet – moet jy dit laat perkoleer. Ons kan dus die Skrif as volg parafraseer: ‘en sy voorskrifte dag en nag laat perkoleer.’ Dis wat Paulus hiermee bedoel het: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’

Geniet vandag die aroma, proe die geur en ervaar die krag.

Sielskos: Jes 17-21; Luk 1:57-66; Ps 42:1-5; Spr 1:20-27

Leer om jou emosies te beheer

2023-01-06
Genesis 50:21 NLV

Wanneer jy die verhaal van Josef lees, besef jy dat hy alle rede gehad het om woedend, bitter en wraaksugtig te wees oor die veragtelike manier waarop sy broers hom behandel het. Wat doen hy egter? Hy raak nie kwaad nie en neem nie eens wraak nie. Hy help die hele Egipte, die land wat hom ‘n slaaf gemaak het en hom onskuldig in die tronk gestop het, om hongersnood te oorleef. Hy help sy familie wanneer hulle kos kom bedel. Hy vergewe en sodoende word hy van sy negatiewe emosies bevry.

Hy het die kwessies van die verlede agtergelaat, nie toegelaat dat dit hom van sy lotsbestemming weerhou nie en in God se guns gebly. As tweede-in-bevel van die hele Egipte, het Josef die mag van lewe en dood oor diegene wat hom seergemaak het, gehad. Tog het hy vir hulle gesê: “‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het my gebring tot in hierdie hoë pos wat ek beklee sodat ek die lewens van baie mense kon red. Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.’ So het hy vriendelik met hulle gepraat en hulle gerusgestel” (verse 20-21 NLV).

Die probleem is nie die woede of teleurstelling nie – behalwe wanneer jy deur jou emosies beheer word. Elke keer wat woede veroorsaak dat jy die dinge wat God in jou sorg geplaas het verniel, word jou emosies wanbestuur. Jy staan grond aan die duiwel af wanneer jy nie jou woede beheer nie. ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus – leer om jou emosies te beheer.

Sielskos: Jes 12-16; Luk 1:39-56; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19

Dink hierdie jaar: ‘Dis moontlik’ (3)

2023-01-05
Genesis 37:9 NLV

Josef het twee drome gehad, waarvan die tweede een groter as die eerste een was. Sy eerste droom was ‘n landery vol gerwe; die tweede droom was ‘n hemelruim vol sterre. Die woord vir jou vandag is dus: Droom een maat groter! Henry Curtis het gesê: ‘Maak jou planne so fantasties as wat jy wil, want oor vyf-en-twintig jaar van nou af sal dit middelmatig lyk. Maak jou planne tien keer so groot as wat jy eers beplan het en vyf-en-twintig jaar van nou af sal jy wonder hoekom jy dit nie vyftig keer so groot gemaak het nie.’

Daar is net een manier om aan te hou groei: stel jou doelwit een tree verder as dit waarmee jy gemaklik is. Dit sal jou forseer om aan te hou groei! Dit sal jou ook instel om God vir groter dinge te glo. Die meeste mense wil hê hul lewens moet aanhou verbeter, maar tog waardeer hulle terselfdertyd vrede en stabiliteit. Hulle vergeet dat jy nie kan verbeter en steeds dieselfde bly nie. Groei beteken verandering en dit beteken dat jy die status quo moet uitdaag. Daar sal altyd mense rondom jou wees wat wil hê dat jy jou droom moet opgee en die status quo moet aanvaar. Wees lief vir hulle, maar moenie deur hulle gelei word nie.

Soos jy God vir groter dinge begin glo en ander mense probeer om koue water op jou idees te gooi, moet jy onthou dat op hierdie oomblik, terwyl jy hierdie bladsy lees, ander mense regoor die wêreld besig is om medisyne teen kanker uit te vind, nuwe energiebronne te ontwikkel, mense wat honger is te voed, mense se lewenskwaliteit te verbeter en hele nasies vir Christus te wen. Hulle daag die status quo uit – jy moet ook.

Sielskos: Jes 8-11; Luk 1:26-38; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16

Dink hierdie jaar: ‘Dis moontlik’ (2)

2023-01-04
Hebreërs 11:6 NLV

Die Bybel sê: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV).

Twaalf spioene het die Beloofde Land gaan verken, maar net twee het teruggekom en gesê: ‘…Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat’ (Numeri 13:30 NLV). God het dit aan hulle beloof, maar die oorgrote meerderheid het gedink dat dit nie gedoen kan word nie.

Mense wat dink: ‘Dis moontlik,’ skep nie net vooruitskouende, optimistiese prentjies van die toekoms in hul eie gedagtes nie, maar ook in die gedagtes van ander. Die teenoorgestelde is ook waar. Sam Ewing het gesê: ‘Niks is so ‘n groot verleentheid as om te kyk hoe iemand iets doen wat jy gesê het nie gedoen kan word nie.’

Hoe benader jy die lewe? Wanneer jy voor die onbekende, die ongedane of die onbeproefde te staan kom, fokus jy op al die dinge wat verkeerd kan gaan, of op al die dinge wat reg kan gaan? Die ballistiese vuurpyl baanbreker, Wernher von Braun, het gesê: ‘Ek het geleer om die woord ‘onmoontlik’ met die grootste omsigtigheid te gebruik.’ Jy vra: ‘Wie was hy?’ Die wetenskaplike wat dit moontlik gemaak het vir die eerste man om op die maan te loop!

John Andrew Holmes het gesê: ‘Moet nooit vir ‘n jongmens sê dat iets nie gedoen kan word nie. God het dalk eeue gewag vir iemand wat onkundig genoeg oor die onmoontlike is om daardie einste ding te doen.’ As jy iets wil bereik, laat jouself toe om te glo dat dit moontlik is – en vertrou op God vir jou sukses daarin.

Sielskos: Jes 4-7; Luk 1:11-25; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9

Dink hierdie jaar: ‘Dis moontlik’ (1)

2023-01-03
Matteus 19:26 NLV

Lees die volgende twee Skrifgedeeltes: ‘…Maar by God is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV). ‘As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke verrig’ (Matteus 13:58 NLV).

Hierdie twee verse beteken die volgende: Baie dinge wat moontlik is word as gevolg van twyfel en ongeloof nooit ‘n realiteit nie. As God se Woord sê dat jy sukses kan behaal, maar jy is besig om te misluk, mag dit dalk die volgende beteken: Jy glo nie regtig wat Hy sê nie, of jy is nie gewillig om jou deel te doen nie. Wanneer jy dink: ‘Dis moontlik,’ verhoog dit jou energievlak. Niemand pak ‘n saak aan wat hulle weet reeds verlore is nie. Jy belê slegs in dit wat jy glo kan slaag. Wanneer jy dus dink: ‘Dis moontlik,’ en God vir sukses vertrou, word jou geloof die krag wat jou energie gee.

Sommige mense dink dis naïef of dwaas om so te wees. As jy een van hulle is, antwoord dan die volgende vraag: Hoeveel hoogs suksesvolle mense ken jy wat voortdurend negatief is en glo dat die meeste dinge onmoontlik is? Geen! Die eerste stap om te dink ‘Dis moontlik,’ is om jouself daarvan te weerhou om dit wat verkeerd is in elke situasie te soek en daaroor te tob.

Mense met die uitgangspunt dat dit nie moontlik is nie het twee keuses: hulle kan die ergste verwag en dit aanhoudend ervaar, of hulle kan hulle denke verander. Jy kan dit doen deur eerstens die negatiewe denke wat jy in jou gedagtes hoor nog voor jy jou mond oopgemaak het, te elimineer. ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Om ‘Dis moontlik’ te dink, moet jy dit ook glo en spreek.

Sielskos: Jes 2-3; Luk 1:5-10; Ps 90:1-6; Spr 1:3-4