Oos, wes, tuis, bes!

2023-02-28
Psalm 23:6 NLV

Die liefde van God voel vir sommige van ons nie werklik nie. Hoekom doen dit nie? Omdat ons probeer om hierdie aarde ons tuiste te maak. Gevolglik lewe ons met bekommernis en frustrasie. Eers wanneer jy die regte siening van daar het, sal jy die regte siening van hier hê. Wanneer jy jou ware tuiste verstaan, is die dood nooit ‘n punt nie; dis eerder ‘n voegwoord.

Minder as een sekonde nadat jy sterf, sal jy na God se teenwoordigheid vergesel word. Jy sal nie eers lank genoeg dood wees om te weet dat jy gesterf het nie. Vinniger as wat jy jou oë kan knip, beweeg jy van een dimensie na die ander. Jy gaan van lewe in hierdie tyd na om te ‘…bly in die huis van die Here so lank as wat [jy] lewe.’

Die meeste van ons sal nie skielik aan ‘n hartaanval, ‘n beroerte of in ‘n motorongeluk sterf nie. Vir die meeste van ons, sal die dood geleidelik kom soos ons oor tyd verouder. Jy sal voel hoe jou liggaam versleg en wegkwyn en jy sal weet dat die dood naderkom. Dan sal God jou in die oorgangsfase plaas. Hy sal die hemel baie meer aanloklik as die aarde laat lyk sodat jy dink: ‘Ek wens God wil gou maak en my huis toe neem.’ Hy mag dalk selfs vir jou ‘n klein voorskou van die heerlikheid gee en jou die Redder wat wag om jou te verwelkom, laat sien. Wanneer jy daardie wye oop arms sien, sal jy wil hê dat jou reis gou moet plaasvind. Jy sal soos Dawid sê: ‘Maar omdat ek reg gedoen het, sal ek U sien. Wanneer ek wakker word, sal ek tevrede wees in u teenwoordigheid’ (Psalm 17:15 NLV). Oos, wes, tuis, bes!

Sielskos: Eks 7-9; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19

Wat ‘n versekeringspolis!

2023-02-27
Psalm 23:6 NLV

Die meeste versekeringsmaatskappye is betroubaar. Hulle sal vir jou dekking deur die meeste seisoene en teëspoed in die lewe bied. Nie alle versekeringsmaatskappye is egter so nie. In sommige gevalle, verhoog hulle óf jou premies óf kanselleer jou polis die oomblik wanneer jy ‘n eis indien.

Die versekeringspolis wat jy met God het is egter wonderlik. Daar is verskillende soorte versekering wat dinge soos vuur, eiendom, misdaad, gesondheid, motors en die dood dek. Die enigste versekeringspolis wat jou egter na die dood kan dek, is die een wat God aanbied. Jy hoef ook nie daaroor bekommerd te wees om die ‘fynskrif’ te lees nie, want Hy sal dit nie kanselleer nie.

Paulus verduidelik dit so: ‘Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry?.. Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het. Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie. Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:35, 37-38 NLV).

Het jy jou sondes bely? Het jy jou vertroue in Christus geplaas om jou Redder te wees? Dan is jy vir alle tye en vir ewig gedek. ‘Through many dangers, toils, and snares, I have already come; ’tis grace hath brought me safe thus far, and grace will lead me home.’

Sielskos: Eks 4-6; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15

Navigeer verliese in die lewe (4)

2023-02-26
Prediker 3:6 NLV

Wat het ons kinders nog van ons nodig wanneer hulle treur?

1) Ons eerlikheid. Hulle het nodig om te weet dat ons ook seer het. Wanneer hulle jou sien huil, maar jy sê vir hulle: ‘Ek is doodreg,’ maak dit hulle deurmekaar. Hulle dink dat jy nie regtig seer het nie, of dat trane niks beteken nie, of dat jy nie eerlik met hulle is nie. Hulle moet weet dat jy eerlik met hulle is, sodat hulle eerlik met jou kan wees en jou met hulle seer kan vertrou.

2) Ons moet bewus wees van hulle gevoelens sonder om hulle te veel te beskerm. Vir hulle, soos vir jou, is daar “‘n tyd om te huil… ‘n tyd om te verloor…” (verse 4, 6 NLV). Moenie hulle hartseer, woede en depressie onderdruk of ongeldig verklaar nie. Dis deel van hulle Godgegewe menslikheid en sal hulle help om gebalanseerde, deernisvolle volwassenes te word.

3) Luister op ‘n sensitiewe manier. Kinders leer en groei deur verlies wanneer hulle ‘n oop en begrypende luisteraar het. Luister en herhaal dan hulle gevoelens. ‘Dit klink of jy kwaad is. Wil jy daaroor praat?’ Moenie analiseer nie, vra! Luister met jou oë en ore. ‘Jou woorde sê dat jy reg is, maar jou oë lyk of hulle hartseer is.’

4) Toestemming om negatiewe emosies uit te druk. Woede en wrokkigheid teenoor dokters, die sisteem, familielede, jouself of selfs God, is normaal! Moenie sê: ‘Moenie sulke goed sê nie.’ Sê eerder: ‘Dit klink soos ‘n ware, eerlike uitdrukking van pyn en teleurstelling. Wil jy daaroor praat?’ Uitdrukking van negatiewe emosies haal die angel daaruit.

5) Insluiting by ons hartseer rituele. Sluit hulle by gesinsbyeenkomste, begrafnisbeplanning en dienste in, en hulle sal vertroosting in die bekragtiging, afsluiting en genesing wat hierdie tye bring, vind!

Sielskos: Matt 14:22-33; 1 Kon 3:4-28

Navigeer verliese in die lewe (3)

2023-02-25
Prediker 3:6 NLV

Hoe kan ons ons kinders help om die lewe se verliese te navigeer?

1) Moenie hulle kapasiteit vir droefheid onderskat nie. Kinders is dikwels die ‘vergete’ bedroefdes. Hulle pyn is waarlik en intens; erken en verklaar dit dus geldig.

2) Moenie dit vermy om oor die verlies te praat wanneer hulle teenwoordig is nie. Deur hulle van volwassenes wat rou weg te hou, ontneem jy hulle die geleentheid om ondersteuning te ontvang en hulle verlies beter te verstaan. Sluit hulle by die familie se ervaring van rou in.

3) Moedig hulle aan om hulle gevoelens oor die verlies te deel. Leer hulle dat hulle nie hoef ‘sterk’ te wees nie en bevestig dat hulle gevoelens saakmaak. Baie jong kinders het ‘n beperkte begrip van die betekenis, permanensie en onomkeerbaarheid van die dood. Hulle kan net baie kort en konkreet daaroor praat. Ouer kinders verstaan die betekenis daarvan en moet aangemoedig word om daaroor te praat.

4) Maak voorsiening vir elke kind se persoonlikheid. Kinders wat introverte is mag dalk hulle eie spasie nodig hê; terwyl ekstroverte dit mag nodig hê om daaroor te praat en te sosialiseer. Afhanklike kinders het sterk volwassenes rondom hulle nodig; onafhanklike kinders kan baie dinge self hanteer.

5) Kommunikeer op ‘n realistiese manier met hulle. Volwassenes gebruik dikwels woorde wat kinders verwar. ‘Jou pa het huis toe gegaan… vir ewig aan die slaap geraak… is die ewige rus in’ ens. Om die dood as die einde van hierdie fisiese lewe te beskryf is Bybels, verduidelik die betekenis van verlies en laat kinders toe om vrae wat vir hulle saakmaak, te vra. Jou kinders kan verlies hanteer en verstaan dat die ewige lewe God se wonderlike oplossing is; dat ons eendag by ons geliefdes in die hemel gaan aansluit (sien Johannes 14:2-3).

Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11

Navigeer verliese in die lewe (2)

2023-02-24
Prediker 3:2 NLV

Navorsers by die Colorado Instituut vir Leed bied die volgende nuttige vlakke na herstel aan.

Vlak 1 – Skok. Ons eerste reaksie is een van ontkenning en ongeloof. ‘Ek kan nie glo dit gebeur nie – dis nie waar nie!’ Daar is ‘n verdowing van ons sintuie, ‘n God-ontwerpte natuurlike ‘narkose’ wat die eerste slag buffer en ons tyd gee om ons hanteringsmeganismes bymekaar te maak.

Vlak twee – Protes. Ons voel woede en wrokkigheid teenoor God, tog voel ons skuldig omdat ons Hom blameer. Ons blameer onsself, die dokters, die pasiënt en bevraagteken God se liefde en getrouheid – ons onderhandel selfs met Hom. ‘As U net ‘n wonderwerk sal doen en hulle terugbring, sal ek…’

Vlak drie – Wanorde. Alles val uitmekaar. Die leefstyl wat ons geken en liefgehad het, rafel uit. Die drome wat ons gekoester het, verdamp. Ons voel hopeloos, magteloos en verlore in ‘n vreemde, leë heelal. Sekondêre verliese kan opduik: finansiële onsekerheid, sosiale ontwrigting, depressie, verlies aan konsentrasie, ens. Ons is oortuig dat die lewe nooit weer normaal sal wees nie. Ons oorleef van oomblik tot oomblik, te bang om oor die pad vorentoe te dink.

Vlak vier – Herorganisasie. Onverbiddelike hartseer maak plek vir golwe van hartseer wat in frekwensie en intensiteit wissel. Ons begin om ons verlies te akkommodeer en te aanvaar. Die energie wat ons aan ons hartseer bestee het, kan weer begin gebruik word om aan die eise en geleenthede van ons nuwe leefstyl te voldoen. Stadig kom ons weer op die been en neem weer die leisels oor. Die proses sal baie maande neem en volle herstel selfs jare. God beloof egter dat dit sal gebeur! Daar sal ‘n tyd wees om ‘…gesond te maak… ‘n tyd om op te bou… te lag… te dans’ (Prediker 3:3-4 NLV).

Sielskos: 1 Tess 1-5; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8

Navigeer verliese in die lewe (1)

2023-02-23
Prediker 3:6 NLV

God se Woord ignoreer of verklein nie die pynlike realiteite van die lewe nie. Ons en ons geliefdes sal onvermydelik verliese in die lewe ervaar: siekte, oud word, dood, egskeiding, liggaamsgebrek, verlies van onafhanklikheid, werkloosheid, finansiële druk, ens. Groot verliese plaas ons in onbekende situasies. Dus moet ons die dinamika van ons verlies verstaan sodat ons daardeur kan beweeg en weer begin lewe.

Lewensveranderende verliese begin met die pynlike gevoel dat iets of iemand wat onontbeerlik vir ons was, weggeneem is, wat ons ontredderd laat voel. Dan kom die droefheid – brandende emosies van oorweldigende hartseer wat dikwels met woede, benoudheid, verwarring en hulpeloosheid gepaard gaan. Vervolgens beweeg ons aan na die rou fase toe – en ons begin om ons leed en verlies uit te druk. Dis die fase van harde werk – trane, herinneringe en hartverskeurende huil wat ons tot in ons diepste wese skud. Ons voel skuldig en spyt oor dit wat ons gedoen of gesê het, of nie gedoen en gesê het nie.

Ons hartseer gee diegene rondom ons die geleentheid om te reageer en om die vertroosting en gerusstelling wat ons nodig het om te begin genees, aan te bied. Dit is God se protokol om gebroke harte te genees. Die Israeliete se geliefde leier is op 120 jaar oorlede en het ‘n bedroefde nasie agtergelaat (sien Deuteronomium 34). God het hulle toegelaat om vir dertig dae oor hulle verlies te rou en mekaar te vertroos, voordat hulle weer hul dagtake hervat het.

Neem dus die tyd wat jy nodig het om die werk te doen om oor jou verlies te treur, want Jesus het gesê: ‘Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee’ (Matteus 5:4 NLV).

Sielskos: Rom 15-16; Luk 11:14-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5