2023-01-14
Romeine 12:3 ABA
Paulus skryf: ‘Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles. Julle moet onthou dit is God wat vir julle elkeen sê hoe julle Hom moet dien. Ons is soos ‘n mens se liggaam. ‘n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele, en elke deel doen iets anders… Ons is baie mense, maar ons behoort aan Christus en daarom is ons soos een liggaam… God het genadegawes vir ons gegee, maar God het nie dieselfde genadegawes vir ons almal gegee nie… (verse 3-6 ABA).
Paulus leer ons hier ‘n belangrike beginsel: Moenie ‘n meerderwaardige houding hê nie. As jy meerderwaardig is, moet jy besef dat elke voordeel of guns wat jy geniet, ‘n gawe van God is (sien 1 Korintiërs 4:7). Selfs as jy dink dat jy dit op eie houtjie bereik het, lees die volgende woorde en neem dit ter harte: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees: Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan wat Hom toekom nie, maar Hy het dit prysgegee: Hy het ‘n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mens geleef het, het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe! Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam’ (Filippense 2:3-9 NLV).
Sielskos: Jes 42-44; Luk 2:41-52; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8
2023-01-13
Romeine 12:3 NLV
‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. Die Fariseër het stelling ingeneem en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien!’ Die tollenaar het op ‘n afstand stelling ingeneem en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my as sondaar genadig!’ Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word’ (Lukas 18:10-14 NLV).
God het meer geduld met ‘n eerlike sondaar as met ‘n selfvoldane Christen. Toe die Fariseër homself gelukgewens het met die sondes wat hy nie gepleeg het nie – kullery, owerspel ens – was hy skuldig aan die sonde van geestelike trots. Watter goeie gedrag is vir jou ‘n bron van trots? Oordeel jy ander volgens jou optrede?
Die enigste optrede wat enigeen van ons voor God aanvaarbaar maak, is op Christus se optrede aan die kruis gebaseer. ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Die geregtigheid wat ons red, word toegereken – nie verdien nie. Moet dus nie eiegeregtig wees nie!
Sielskos: Jes 38-41; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6
2023-01-12
Numeri 12:11 NLV
As jy dink dat jy ander kan kritiseer omdat jy net jou reg op vryheid van spraak uitoefen, stop en oorweeg hierdie vier dinge: 1) God het dit as sonde gesien toe Aäron en Mirjam vir Moses gekritiseer het omdat hy met ‘n Kussitiese vrou getrou het. Die Here het Mirjam met melaatsheid getref en Aäron was gou om berou te kry: ‘…moet ons asseblief nie straf vir die dom ding wat ons gedoen het nie.’
2) ‘n Kritiese houding sal jou verhoudings skade aandoen. ‘Die Here sê toe vir Moses: ‘…Verban haar nou vir sewe dae lank uit die kamp uit. Eers daarna mag sy terugkom’ (vers 14 NLV). Melaatsheid was aansteeklik en diegene wat dit onder lede gehad het, moes hulself afsonder. Wanneer jy daarvoor bekend word dat jy krities is, sal mense hulle van jou distansieer en jou vermy. Dis ‘n kwessie van vertroue; hulle weet dat as jy ander mense met hulle bespreek, sal jy hulle ook met ander mense bespreek.
3) ‘n Kritiese houding hinder almal se vooruitgang. ‘Mirjam moes toe sewe dae lank buite die kamp bly. Die volk het nie verder getrek voordat Mirjam weer terug was by hulle nie’ (vers 15 NLV). Was jy al ooit deel van ‘n groep waar een mens so baie fout gevind het dat dit die effektiwiteit en vooruitgang van die hele groep verhinder het?
4) ‘n Kritiese houding maak jou verhouding met God seer. ‘Here, wie mag dit waag in u teenwoordigheid? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat onberispelik lewe en doen wat reg is, met ‘n opregte hart die waarheid praat; wat nie sy medemens belaster, hom benadeel, of van hom kwaadpraat nie… Só ‘n mens sal vir altyd stewig staan’ (Psalm 15:1-3, 5 NLV).
Sielskos: Jes 34-37; Luk 2:21-33; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5
2023-01-11
Psalm 19:9 NLV
‘Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag. Die bepalings van die Here is betroubaar; dit maak die eenvoudige verstandig. Die Here se bevele is reg, dit bring vreugde vir die hart. Die opdragte van die Here is duidelik; dit gee insig vir die lewe. Die gebooie van die Here is suiwer, dit bly vir altyd staan. Die Here se voorskrifte is reg; elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud… Hulle is soeter as heuning… Dis ‘n waarskuwing vir u dienaar, en ‘n groot beloning vir dié wat dit gehoorsaam. Wie kan sy eie oortredings herken? Spreek my vry oor verborge sondes, en bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek vry wees van skuld, en onskuldig aan groot oortredings. Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (verse 8-15 NLV).
Hierdie gebed wys dat die Psalmdigter meditasie as ‘n absolute noodsaaklikheid vir sy geestelike lewe geag het. As dit vir hom in sy dag waar was, hoeveel te meer is dit nie vandag vir jou noodsaaklik nie! Jy moet jou gedagtes elke dag in die waters van God se Woord reinig sodat jou woorde en gedagtes vir God aanneemlik mag wees.
Gebruik jou tyd – die begin van die dag, jou teetyd, terwyl jy huis toe bestuur, voor jy in die aand aan die slaap raak – om oor die waarheid van God se Woord na te dink. Die grootste verandering in jou lewe sal deur die proses van meditasie oor die Skrif meegebring word – deur die Woord van God toe te laat om deur jou gedagtes te filter en in jou lewe te perkoleer.
Sielskos: Jes 30-33; Luk 2:8-20; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2
2023-01-10
Psalm 119:97 NLV
Bybelse meditasie is anders as meditasie soos die samelewing dit ken. Die Oosterse filosofieë leer mens dat jy jou gedagtes moet leegmaak. Dis presies die teenoorgestelde wat die Skrif sê! Bybelse meditasie beteken dat jy jou gedagtes met die waarheid wat God geopenbaar het, vul. Dawid was ‘n koning. Dink jou net die druk en probleme, eise en besluite waarvoor hy elke dag te staan gekom het, in. Tog het hy gesê: ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag.’
Het jy al opgemerk dat ons vreeslik baie tyd aan alledaagse dinge soos op die foon wees, in rye wag en bestuur, bestee? In groot stede neem dit mense dikwels ‘n uur of meer om by die werk te kom en dieselfde om weer by die huis te kom. Dis tien ure ‘n week. Veertig ure ‘n maand. Vier-honderd-en-tagtig ure ‘n jaar. Dis ‘n ongelooflike hoeveelheid tyd!
Die vraag is: wat doen jy met jou gedagtes gedurende hierdie tyd? Ry jy net voort met jou gedagtes in neutraal? Of luister jy na die radio of musiek? Of raak jy kwaad vir die bestuurders rondom jou? Wat ‘n goeie tyd om jou gedagtes in rat te sit! Wat ‘n geleentheid om geestelik te groei! Wat oefening vir jou liggaam doen, doen meditasie vir jou siel. Die Bybel sê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53). ‘n Plakkaat op iemand se kantoormuur het gelees: ‘Jy is nie wat jy dink jy is nie. Maar wat jy dink – is jy!’
As jy wil hê dat jou lewe anders moet wees, moet jy ander gedagtes begin dink; mediteer dus op God se Woord!
Sielskos: Jes 26-29; Luk 2:1-7; Ps 46; Spr 1:32-33
2023-01-09
Josua 1:8 NLV
Bybelmeditasie het in onguns verval, omdat ons in ‘n onmiddellike en besige samelewing leef. Ons het so baie dinge van televisies, selfone, e-posse, sms’e, satellietskakels, nuusberigte en potgooie wat ons aandag verg, dat ons skaars ‘n oomblik het om te reageer, wat nog te sê daaroor te reflekteer. Jy kan egter nie geestelike volwassenheid ‘aflaai’ deur ‘n paar knoppies op die sleutelbord van ‘n rekenaar te druk nie. Dis hoekom die Skrif so dikwels oor meditasie praat.
God, die outeur van die Bybel, het vir Josua die formule gegee om sukses in jou beroep te behaal en voorspoed vir alles wat jy aanpak, te verkry: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (vers 8 NLV). Om sukses in die lewe te behaal, moet jy iets doen. Wat? Jy moet oor God se Woord mediteer! Hoe gereeld? ‘Dag en nag.’
Watter gedeelte van die Skrif het jy oor nagedink vanoggend toe jy jou dag begin het? Of toe jy werk toe bestuur het? Wanneer laas het jy bewustelik oor enige Bybelse waarheid of beginsel gereflekteer?
As jy nie kan onthou nie, moet jy dadelik begin om veranderinge aan te bring. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (1 Timoteus 4:15 NLV). Dis nog steeds die reël!
Sielskos: Jes 22-25; Luk 1:67-80; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31