2023-03-06
1 Samuel 10:22 NLV
Toe Samuel Israel se eerste koning aan die mense wou voorstel, het hulle Saul gekry waar hy ‘agter die mense se reisgoed,’ wegkruip. Die Hebreeuse woord vir reisgoed of bagasie simboliseer die self-opgelegde beperkings wat jou verhinder om die taak wat God jou opgelê het, te doen.
Dinge soos: 1) Gevoelens van ontoereikenheid. Saul se eerste reaksie toe hy gehoor het dat hy tot koning verkies is, was: ‘…Ek is maar net ‘n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste…’ (1 Samuel 9:21 NLV). Wanneer jy nie vir God in die vergelyking bring nie, sal jy altyd minderwaardig voel. In plaas daarvan om op jou eie swakhede en onvermoë te fokus, konsentreer eerder op ‘…hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo…’ (Efesiërs 1:19 NLV).
2) Vrees oor wat ander mense mag dink. Die skrywer van Spreuke sê vir ons: ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Saul het kop-eerste in hierdie slagyster geval! Toe Samuel hom konfronteer oor hoekom hy nie die Amalekiete uitgewis het nie, het hy geantwoord: ‘…want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee’ (1 Samuel 15:24 NLV).
3) Deur te pragmaties te wees. Die Bybel sê: ‘Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:8 NLV). Dit was Saul uitgeknip! Toe hy nie van God gehoor het nie, het hy sake self aangepak en ‘n towenares geraadpleeg. Nadat hy beloof het om Dawid nie seer te maak nie, het hy aanhoudend jag op hom gemaak. Aanpasbaarheid is prysenswaardig, maar God vereis konsekwentheid en toewyding.
Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31
2023-03-05
2 Korintiërs 4:8 DB
Ons gee as gevolg van verskeie redes op: 1) Ons vrees mislukking. Ons het almal dinge in ons verlede wat ons eerder sal wil vergeet. Sit hulle agter jou. Paulus skryf: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).
2) Ons is bekommerd oor wat mense gaan sê. ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Hoe jy teenoor kritiek reageer, is een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal maak. Daar sal altyd mense wees wat nie van jou hou of jou verstaan nie.
3) Ons luister na die verkeerde stemme. Satan is die Vader van die Leuen en hy sal alles in sy vermoë doen om jou te ontmoedig. Paulus sê: ‘…Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:4-5 NLV). As ‘n gedagte van God af kom, aanvaar dit; as dit van Satan af kom, ‘vernietig’ dit.
4) Ons verloor fokus. As gelowiges, lewe ons deur te glo en nie deur te sien nie (sien 2 Korintiërs 5:7). Dit beteken dat jy elke besluit moet maak op grond van wat God sê en nie volgens wat jou natuurlike oë kan sien nie.
5) Ons verloor kontak met ander gelowiges. Toe die apostels uit die tronk gekom het, het hulle ‘…dadelik die ander gelowiges opgesoek…’ (Handelinge 4:23 NLV). Om sterk te bly, het jy gemeenskap met ander Christene nodig. Te veel mense gee op die kruin van sukses op; moenie een van hulle wees nie. Daar is net een graad verskil tussen warm water en stoom – hou dus aan en moenie eers daaraan dink om op te gee nie!
Sielskos: Matt 6:19-34; 1 Kon 8:17-40
2023-03-04
Openbaring 3:7 DB
Hier is nog twee maniere om God se wil vir jou lewe te ken: 1) Voorsienende omstandighede. Wanneer God leiding neem, sal die pad vir jou oopgaan. Wanneer Hy jou stuur, gaan Hy voor jou uit (sien Johannes 10:4). Sy Woord sê: ‘…Waar Hy toesluit, kan niemand oopmaak nie en waar Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie.’ Wie sluit die regte deure oop? God. Wie sluit die verkeerde deure toe? God. Die regte deure kan tot seën lei, maar die verkeerde deure lei tot pyn en verlies. Niks behalwe ongeloof kan ‘n deur toehou wanneer God dit beveel om oop te maak nie. Die enigste hulp wat God van jou wil hê, is as volg: ‘…Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die Here julle vandag red…’ (Eksodus 14:13 NLV).
2) Innerlike ‘verkeersligte.’ Jy is ‘n nuwe skepping met ‘n nuwe geestelike aard wat lewendig in God is, toegerus om aan te voel wanneer God in jou beweeg (sien Romeine 6:11 NLV). Die raad van wyse en volwasse Christene kan help, maar die laaste woord moet in jou eie hart gespreek word. ‘Dis mos God wat julle gewillig maak… en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). As jou wil aan God oorgegee is, is Hy besig om te werk om jou wil en gedrag te rig. Glo dit, want Hy verklaar dit so! Hy sal vir jou die ‘rooi lig’ gee wanneer Hy wil hê jy moet stop en die ‘groen lig’ wanneer Hy wil hê jy moet voortgaan. Moenie op rooi beweeg nie! Moenie op groen stop nie!
Sielskos: Eks 18-21; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29
2023-03-03
Johannes 16:13 NLV
Doen altyd die volgende twee dinge: 1) Erken God se Woord as die finale gesag rakende sy wil (sien Jesaja 8:20). Die Bybel praat duidelik oor die lewe se belangrike kwessies. Elke ander bron van leiding moet daarmee saamstem. Jy het ook nie ‘n teologiese graad nodig nie; laat God net toe om deur sy Woord met jou te praat voor jy enigiemand anders se opinie opsoek.
Dis byvoorbeeld onaanvaarbaar om ‘n leuen te vertel, want God sê: ‘…Moenie lieg nie’ (Levitikus 19:11 NLV). Soortgelyk, is dit verkeerd om ‘n buite-egtelike verhouding aan te knoop, want die Bybel sê duidelik: ‘Moenie egbreuk pleeg nie’ (Eksodus 20:14 NLV). Punt. Geen ander opinie is nodig wanneer God se Woord duidelik is nie.
‘n Woord van waarskuwing egter: Wanneer jy geïsoleerde Bybelverse uitkies, lei dit tot verwarring, nie duidelikheid nie. Byvoorbeeld: ‘…Alles is immers julle s’n’ (1 Korintiërs 3:21 NLV), is nie toestemming om te neem wat jy wil nie! Wat as jy egter die Bybel deursoek en nie beginsels vind om jou kwessie aan te spreek nie?
Oorweeg dan die volgende stap: 2) Erken die innerlike indrukke van die Heilige Gees. Hoe kan jy weet dat jou indrukke van die Heilige Gees af kom? Deur die wete dat jy jou wil ten op sigte van die kwessie ten volle aan God onderwerp het. Jou ‘indrukke’ moet ook nie in teenstelling met ander Bybelse beginsels wees nie. Hier is die Heilige Gees se opdrag: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid… Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV). Moenie haastig wees nie. As dit van God se Gees af kom, sal dit met tyd en gebed sterker en duideliker word. Indien nie, sal dit verdwyn. Wag dus in gebed!
Sielskos: Eks 16-18; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28
2023-03-02
Filippense 2:13 NLV
Onthou jy die kinderspeletjie ‘Steek Vas die Donkie se Stert’? Om daardie speletjie te wen was net ‘n ‘skoot in die donker’. Baie van God se kinders gebruik ‘n soortgelyke metode om God se wil en doel vir hulle lewe te ontdek. Dit hoef egter nie so te wees nie. Hier is ‘n paar Skriftuurlike stappe wat jy kan neem om die raaiwerk uit die proses te neem:
1) Wy jouself daaraan toe om God se wil te gehoorsaam. Dis onmoontlik om God se wil te verstaan totdat jy jouself daaraan toewy om dit onvoorwaardelik te gehoorsaam. Enige begeerte om jou eie wil te behou, maak jou blind vir sy wil. Vertrou dat God lief is vir jou, die beste vir jou wil hê en dat wanneer jy jouself aan Hom onderwerp, jy ‘…goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).
2) Luister na die Skaapwagter se stem en plaas jou vertroue daarop. Jesus los jou nie alleen om uit te pluis wat sy wil vir jou lewe is nie. Hy is ons Goeie Skaapwagter en ‘…die skape luister fyn na sy stem… en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NLV). Met tyd en ervaring, sal jy ook leer om God se stem te ken.
Soos Abraham homself aan God se wil onderwerp het sonder om te weet waarheen hy gelei sou word, so word jy geroep om jou wil oor te gee sonder om te weet waarheen Hy jou lei. God beloof wysheid, insig en begrip – nie aan mense wat geestelik slim is nie, maar aan enige persoon wat wysheid kort (sien Jakobus 1:5-6). Glo dus dat sy wysheid joune is!
Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25
2023-03-01
Spreuke 14:17 NLV
Jy het verslaap, die motor wou nie vat nie, jy was laat vir werk en jou rekenaar het ingegee! Hierdie dinge kan jou kwaad maak, maar slegs as jy dit toelaat. Salomo het gesê: ‘Iemand wat kort van draad is, doen dom dinge…’, wanneer jy dus van woede wil opstyg, moet jy ‘n rowwe landing verwag! Die Bybel sê: ‘Dis beter om geduldig te wees as dapper. Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem’ (Spreuke 16:32 NLV).
Dawid het gesê: ‘…Soggens bring ek my versoeke vol verwagting na U toe’ (Psalm 5:4 NLV). Begin om jou dag aan God te offer en jy sal minder geneig wees om in woede te reageer wanneer dinge verkeerd gaan.
Een pastoor skryf: “Ons tyd hier is kort. Wat ‘n jammerte om toe te laat dat iets wat twintig jaar of twintig minute gelede gebeur het, jou dag verwoes. Ek het besluit om elke dag ten volle te geniet. Ek mag dalk foute maak; dinge mag dalk nie volgens plan verloop nie. Ek mag dalk teleurgestel word, maar ek gaan my lewe op ‘n gelukkige manier leef. Ek gaan nie toelaat dat dit wat gebeur, of nie gebeur nie, my vreugde steel nie. Elke oggend sê ek: ‘Vader, dit gaan ‘n wonderlike dag wees. Ek dank U dat ek dissipline en selfbeheersing het; dat ek goeie besluite maak. Ek mag dalk nie alles gister gedoen het wat ek kon nie, maar daardie dag is verby. Vandag gaan ek beter doen.'”
Het jy al ooit gewonder hoekom ‘n motor se voorruit so groot en sy truspieëltjie so klein is? Omdat dit wat agter jou is, nie naastenby so belangrik is soos dit wat voor jou lê nie. Hou dus aan vorentoe kyk en maak nie saak wat vandag gebeur nie, moenie jou vrede verloor nie.
Sielskos: Eks 10-12; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22