Agter wat kruip jy weg?

2023-03-06
1 Samuel 10:22 NLV

Toe Samuel Israel se eerste koning aan die mense wou voorstel, het hulle Saul gekry waar hy ‘agter die mense se reisgoed,’ wegkruip. Die Hebreeuse woord vir reisgoed of bagasie simboliseer die self-opgelegde beperkings wat jou verhinder om die taak wat God jou opgelê het, te doen.

Dinge soos: 1) Gevoelens van ontoereikenheid. Saul se eerste reaksie toe hy gehoor het dat hy tot koning verkies is, was: ‘…Ek is maar net ‘n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste…’ (1 Samuel 9:21 NLV). Wanneer jy nie vir God in die vergelyking bring nie, sal jy altyd minderwaardig voel. In plaas daarvan om op jou eie swakhede en onvermoë te fokus, konsentreer eerder op ‘…hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo…’ (Efesiërs 1:19 NLV).

2) Vrees oor wat ander mense mag dink. Die skrywer van Spreuke sê vir ons: ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Saul het kop-eerste in hierdie slagyster geval! Toe Samuel hom konfronteer oor hoekom hy nie die Amalekiete uitgewis het nie, het hy geantwoord: ‘…want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee’ (1 Samuel 15:24 NLV).

3) Deur te pragmaties te wees. Die Bybel sê: ‘Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:8 NLV). Dit was Saul uitgeknip! Toe hy nie van God gehoor het nie, het hy sake self aangepak en ‘n towenares geraadpleeg. Nadat hy beloof het om Dawid nie seer te maak nie, het hy aanhoudend jag op hom gemaak. Aanpasbaarheid is prysenswaardig, maar God vereis konsekwentheid en toewyding.

Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31