2023-01-20
Psalm 147:3 NLV
Wanneer jy van ‘n slegte verhouding herstel, is dit ‘n fout om te vinnig ‘n ander een aan te knoop. Ongestelde mense maak ongesonde keuses. Sommige wonde neem langer as ander om te genees, maar jy kan op hierdie belofte staatmaak: ‘Hy genees die gebroke hart, en verbind die wonde.’
Al wat God van jou vra, is dat jy Hom ‘n kans moet gee. Begin deur tyd te maak om sy Woord te deursoek vir hoe Hy oor jou voel. Sy opinie is die enigste betroubare fondasie waarop jy jou selfwaarde moet bou. As ‘n perfekte God met volle wete van jou moeilikhede en tekortkominge jou kan liefhê, moet jy nie so veroordelend teenoor jouself wees nie! Maak volgende keer seker dat jou keuses nie op die behoefte of die vrees om alleen te wees nie, gebaseer is nie.
Wees ook versigtig: Wanneer jy jouself nie waardeer nie, trek jy mense wat jou ook nie sal waardeer nie; mense wat jou vir hul eie doeleindes sal gebruik, aan. Jy verdien beter, so wees bedag daarop. Jy wys ander mense hoe om jou te behandel deur hoe jy jouself behandel.
Soos jy geestelik en emosioneel gesond word, sal jy ook begin sien hoe ongesond sommige van jou vorige keuses was. As sommige mense dan wegstap, is dit dan maar so. Soms moet jy iets prysgee om meer te kan hê. Die God wat gesê het dat dit nie goed is vir die mens om alleen te wees nie, het nuwe verhoudings vir jou in gedagte. Hy wag egter totdat jou waardes en selfpersepsie in lyn met syne beweeg. Neem dit dus tree vir tree, een dag op ‘n slag. Onthou ook om jouself te verbly – jou beste dae lê nog voor!
Sielskos: Jes 63-66; Luk 4:14-30; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22
2023-01-19
2 Korintiërs 13:11 NLV
The Brady Bunch was ‘n populêre televisieprogram waar ‘n ma en pa met ses kinders een groot gelukkige familie sonder konflik of wedywering, bymekaar gebring het. Die probleem is dat dit selde so gebeur. As jy dus van plan is om weer te trou, is hier drie uitdagings waarvoor jy God se hulp nodig sal hê:
1) Dis algemeen vir kinders om ‘n nuwe stiefouer as ‘n indringer te sien. Hul lojaliteit aan die nagedagtenis van hul ma of pa kan intens wees. Om ‘n nuweling te verwelkom voel vir hulle soos ‘n daad van verraad. Dit kan die stiefouer in ‘n moeilike situasie plaas.
2) Dit is algemeen dat een kind in die magsvakuum inbeweeg wat deur die vertrekkende ouer agtergelaat word en hulself as ‘n surrogaat-eggenoot sien. Die status en mag wat met hierdie ondersteunende rol gepaardgaan, is baie sterk en ‘n kind mag dalk nie bereid wees om dit prys te gee nie.
3) Elkeen van ons is irrasioneel tot ons eie vlees en bloed verbind. Wanneer konflik dus in die gesin ontstaan, is ouers byna altyd teenoor diegene wat hulle in die wêreld gebring het, partydig. Wanneer kinders hierdie spanning tussen ouers aanvoel, sal sommige van hulle dit tot hul voordeel probeer uitbuit. Daarom faal tweede en derde huwelike statisties meer as eerste huwelike. Daar is egter goeie nuus: ‘…Maar by God is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV).
Wat moet jy dus doen? Kry so vroeg as moontlik professionele berading. Ja, dis duur, maar ‘n egskeiding sal jou nog meer kos. Betrek God ook by die situasie; Hy kan vir jou die geduld, wysheid en liefde wat jy nodig het, gee. ‘…leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle bly!’ (2 Korintiërs 13:11 NLV).
Sielskos: Jes 58-62; Luk 4:1-13; Ps 89:1-14; Spr 2:20
2023-01-18
Lukas 4:13 NLV
Let die volgende op: 1) Versoeking kom wanneer jy alleen en sonder ondersteuning is. Net soos ‘n wolf op die uitkyk is vir ‘n skaap wat van sy trop afgedwaal het, verbly die Vyand hom wanneer jy jou Christelike gemeenskap verwaarloos en jouself van mede-gelowiges afsny. Jy sê: ‘Maar ek het die Here altyd by my.’ Ja, maar die Bybel leer ons om versoeking as volg te oorkom: ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:12 NLV). Ons is gebore, en wedergebore, om hierdie reis saam met ander aan te pak. Paulus skryf: “Ja, die liggaam bestaan nie net uit een lid nie, maar uit baie… Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: ‘Ek kan sonder julle klaarkom’ nie'” (1 Korintiërs 12:14, 21 NLV). Om in pas met ander gelowiges te loop, verhoog jou beskerming teen Satan.
2) Jou grootste wapen in die uur van versoeking, is kennis van God se Woord. Jesus het Satan se aanvalle afgeweer deur daaruit aan te haal. Satan is magteloos wanneer hy deur ‘n gelowige wat verklaar: ‘Dit staan geskryf!’ gekonfronteer word. Jy moet besluit om standpunt in te neem, maar dis jou vasstaan op God se Woord wat die Vyand laat vlug. Toe Satan nadergekom het, het Jesus nie eers na ‘n Bybel gaan soek nie; Hy het die Woord aangehaal wat Hy uit sy kop geken het. Dis jou sleutel tot oorwinning. Johannes het gesê: ‘…Ek skryf aan julle, jonges: Julle is kragtig en die woord van God is deel van julle bestaan en julle het as oorwinnaars oor die bose uit die stryd getree’ (1 Johannes 2:14 NLV).
Sielskos: Jes 53-57; Luk 3:21-38; Ps 84; Spr 2:16-19
2023-01-17
Lukas 4:2 NLV
Hier is ‘n paar praktiese riglyne van Jesus hoe om versoeking te hanteer: 1) Jou versoekings is soos die versoekings waarvoor Hy te staan gekom het. ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:15 NLV). Jy sê: ‘Maar jy verstaan nie hoe erg my versoekings is nie.’ Nee, maar Jesus verstaan dit. Hy was self daar, het die drang gevoel en verstaan jou kwesbaarheid eerstehands. Jy kan na Hom toe draai wanneer jy versoek word, met die vertroue dat Hy dieselfde pad gestap het en jou sal help.
2) Versoeking vind dikwels na geestelike oorwinning plaas. Jesus was pas gedoop, die Heilige Gees het op Hom neergedaal en God het sy behae in sy Seun uitgespreek, toe Satan met volle krag toeslaan (sien Matteus 3:16-17, 4:1-11). Groot geestelike oomblikke kan veroorsaak dat jou skanse verlaag word, wat jou vatbaar vir aanvalle maak. Paulus het gesê: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV).
3) Versoeking kom wanneer jy moeg is. Veertig dae sonder kos het Jesus fisies uitgeput gelaat. Wanneer jou hulpbronne uitgeput is, is jy ‘n teiken. Te min slaap, ‘n ongesonde dieet, geen oefening, angs en ontmoediging kan die deur tot versoeking oopmaak. Wanneer jy terneergedruk voel, vervaag jou fokus, jou bewustheid word afgestomp, jou geestelike voorsprong verklein en jy is nie op jou hoede teen die Vyand se benaderings en planne nie.
Die Bybel sê: ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV).
Sielskos: Jes 49-52; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15
2023-01-16
1 Petrus 5:6 NLV
Het jy al ooit op iemand neergesien omdat hulle nie dieselfde voordele wat jy in die lewe geniet, deel of het nie? Voel jy verhewe in enige ander aspek van jou lewe? Glo jy dat jy in ‘n spesiale klas is omdat jy aan ‘n sekere denominasie behoort? Miskien voel jy met jou geoefende liggaam meerderwaardig teenoor die oorgewig menigte. Wat daarvan as jy in jou gemeenskap bekend is? Dink jy dat jy altyd by openbare vergaderings na die voorste sitplekke begelei moet word? Indien dit die geval is, is dit tyd om jou houding aan die Heilige Gees te onderwerp.
Wanneer dit by meerderwaardigheid kom, is daar ook ‘n ander sy van die muntstuk. Dit is moontlik om ‘n persoon of ‘n groep as meerderwaardig te bestempel bloot omdat hulle ‘n bepaalde voordeel geniet wat jy intimiderend weens jou eie selftwyfel vind, of om jou beeld in ander se oë te probeer verbeter. Politici doen dit.
‘n Politieke kandidaat mag dalk sy teenstander van meerderwaardigheid beskuldig omdat hy of sy uit ‘n ryk familie kom, ‘n graad aan ‘n vooraanstaande universiteit verwerf het of invloedryke vriende het. Gevolglik beskuldig daardie teenstander dan die ander daarvan dat hy of sy na blouboordjiewerkers uitreik en oneerlik is oor hoe gewoon en plat op die aarde hy of sy is.
Op die ou einde is dit nie wat jy doen nie, maar wat jy glo wat bepaal of jy ‘n meerderwaardige houding het. Die waarheid is dat dit maklik is om trots in ander mense raak the sien, maar moeilik om dit in jouself raak te sien. Dis hoekom Petrus skryf: ‘Word daarom klein onder die kragtige hand van God: op sý tyd sal Hy julle groot maak.’
Sielskos: Jes 45-48; Luk 3:1-10; Ps 79; Spr 2:9-10
2023-01-15
1 Korintiërs 15:10 NLV
Wanneer jy minder van iemand dink omdat hulle nie lid van jou ras, denominasie, geslag of sosiale groep is nie, vertoon jy ‘n meerderwaardige houding. Meerderwaardigheid skiet in trots wortel: ‘God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV).
Hier is twee voorbeelde uit die Bybel van meerderwaardige houdings: 1) Toe God sy Gees op die sewentig leiers wat Israel moes lei uitgestort het, het hulle almal geprofeteer. Twee van hulle was nie teenwoordig toe dit gebeur het nie. Later het Josua hulle gesien waar hulle ook profeteer en dit aan Moses gerapporteer. “‘Meneer moet hulle stop!’ Moses het hom geantwoord: ‘Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die Here tog maar die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!'” (Numeri 11:28-29 NLV). Josua het geglo dat net ‘n uitgesoekte groep daarvoor gekwalifiseer het.
2) “Johannes sê toe vir Hom: ‘Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.’ ‘Moenie hom keer nie,’ het Jesus gesê, ‘want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie. Wie nie teen ons is nie, is vir ons'” (Markus 9:38-40 NLV).
As jy ander mense in enige aspek van die lewe uitsluit of meerderwaardig teenoor hulle voel, lees dan hierdie woorde van Paulus: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het.’
Sielskos: 1 Kor 13; Dan 6:1-24