2023-03-12
Job 42:2 NLV
Job het sy rykdom, sy gesondheid en sy kinders verloor. Die boek wat hy geskryf het, is ‘n gesprek tussen homself en God. Aan die begin van die boek sê Job: ‘Luister na my klag…’ (Job 13:6 NLV). Hy vra: ‘Hoekom gebeur dit alles met my?’ Op hierdie punt is hy totaal en al op homself gefokus. Teen die middel van die boek het Job egter geestelik gegroei en volg hy nou ‘n ander benadering – hy besluit om op God se Woord te staan: ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar. Want ek het op sy paaie gebly en Hom gevolg sonder om weg te draai. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het. Wat Hy sê, het ek in my hart bewaar’ (Job 23:10-12 NLV).
Teen die laaste hoofstuk van sy boek, besluit Job om God volkome te vertrou: ‘Ek weet nou U kan enigiets doen, en niemand kan U keer nie… Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:2, 5 NLV). Job het uiteindelik by die plek uitgekom waar hy kon sê: ‘Ek vertrou op God, daar is geen rede om my te bekommer nie!’
Na nege maande se bekommernis, vrae en redenasies, besluit hy dat hy nie al die antwoorde op sy vrae nodig het nie, hy het net die wete dat God vir hom omgee, nodig. Sy verhaal eindig met hierdie woorde: ‘…die Here [het] hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het’ (vers 10 NLV). Daar het jy dit; die stappe om jou bekommernisse te oorkom!
Sielskos: Hand 2:1-21; Joël 2:23-32
2023-03-11
Psalm 23:5 NLV
Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, wat U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge’ (verse 4-5 NLV).
God het nie beloof dat jy nie met die dood, of vrees, of die bose, of vyande te doen sal kry nie. Hy het eenvoudig gesê dat ten spyte daarvan, of selfs soms te midde daarvan, jou beker vol seëninge sal wees. Paulus skryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Hy deurweek jou met vreugde en vrede, sodat ‘…julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Hy gee jou vreugde in oorvloed, sodat ‘…julle… die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde [kan] bring nie’ (1 Petrus 1:8 NLV). Hy gee jou oorvloedige vrede – Hy gee ‘…God se vrede… Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV).
Wanneer jy dus sukkel om met jou salaris uit te kom, of die toekoms vrees, kyk in die spieël en sê: ‘God is my bron; ek het meer as genoeg, my beker is vol seëninge.’ Moet dit ook nie net in tye van nood of krisis doen nie; maak dit ‘n gewoonte wat jy elke dag uitoefen.
Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20
2023-03-10
Psalm 23:5 NLV
Die volgende keer wat jy by die tafel aansit om ‘n heerlike maaltyd te geniet, stop en dink aan al die mense wat dit moontlik gemaak het. ‘n Boer het dit gekweek of grootgemaak; ‘n voedselverwerkingsmaatskappy het dit voorberei en verpak; ‘n vragmotormaatskappy het dit vervoer; ‘n kruidenierswinkel het dit verkoop; toe het iemand die prys betaal om dit te koop, dit gaar te maak en dit vir jou voorgesit om te eet.
Daar is baie skakels in hierdie ketting, maar die eerste skakel is God. Hy het die grond, die sade en die vee gemaak. Sonder Hom, sou jy verhonger het. Dis hoekom dit gepas is om elke keer wat jy by die tafel aansit, Hom te dank. Alles wat jy het, kom van God af (sien Jakobus 1:17). Miskien dink jy: ‘Maar ek het hard gewerk vir dit wat ek het.’ Dan moet jy vir jou werksetiek en jou moeite geloof word.
Dit is egter nie die einde van die storie nie: ‘Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet. Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in die goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel’ (1 Timoteus 6:17-18 NLV).
Wanneer God sê jy moet gereed en gewillig wees om te deel, sê Hy inderwaarheid: ‘Net soos Ek die voorsiener van al jou seëninge is, so moet jy uitgaan en daardie seëninge met ander deel.’
Sielskos: Eks 33-35; Luk 15:1-10; Ps 112; Spr 7:6-9
2023-03-09
Psalm 23:3 NLV
Die lewe is vol keuses, besluite en opsies. Dis ook vol mense met sterk opinies wat jou sal probeer vertel in watter rigting hulle dink jy moet gaan. As ons tyd kon terugdraai, sou amper almal van ons besluite in die verlede verander, omdat dit ons op die pad van ‘verkeerdheid’, eerder as die pad van ‘geregtigheid’, gebring het.
Skape sal na alles wat hulle instinkte aanspreek, soos ‘n bessiebos, aangetrek word, selfs al neem dit hulle van die kudde en die herder se beskermende sorg af weg. Hulle dink dat hulle weet wat die regte pad is, terwyl hulle eintlik nie ‘n idee het nie.
Vraag: Is jy besig om jou aptyte en eetlus, eerder as jou skaapwagter te volg? Jy sê: ‘Maar God het vir my ‘n brein gegee om te gebruik.’ Ja, maar jy moet dit ontwikkel. Dis beperk en sal jou net so ver neem. Die Heilige Gees wil jou graag verby daardie beperkinge neem. ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (Romeine 8:14 NLV).
Hoe lei God ons? Objektief deur sy Woord, en subjektief deur sy Gees. Soos jy sy Woord lees, hoor jy sy stem en wanneer jy rus (sien Psalm 23:2), druk Hy dit wat Hy wil hê jy moet doen, op jou hart. As jy op die verkeerde pad is, draai na God toe en Hy sal jou weer na die regte pad toe lei. Jy vra: ‘Sal God werklik met iemand soos ek praat?’ Ja: ‘…Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit, en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NVL). Laat God jou vandag lei!
Sielskos: Eks 30-32; Luk 14:25-35; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5
2023-03-08
Ps 106">Psalm 23:6 DB
Die Psalmdigter het nie woorde soos ‘miskien,’ of ‘dalk,’ of ‘moontlik,’ of ‘hopelik’ gebruik nie. Nee, hy sê: ‘sal,’ wat ‘n term van sekerheid is. ‘Sal’ beteken vir seker; sonder twyfel!
Daar is baie dinge in die lewe waarvan jy nie seker kan wees nie. Jy gaan vir ‘n doktersondersoek en ontdek dat jy ‘n kwaadaardige gewas het. Jy werk vir dieselfde maatskappy vir jare met die geloof dat jou werk veilig is, totdat hulle jou as gevolg van finansiële redes afdank. Jy bid vir jou kinders, leef voorbeeldig en leer hulle wat reg en verkeerd is, maar bevind jou dan een nag by die polisiestasie nadat hulle as gevolg van dronkbestuur of dwelms gearresteer is.
As verloste kind van God, is hier twee dinge waarvan jy seker kan wees: God se goedheid en genade. Wat is jou konsep van God? Dis ‘n baie belangrike vraag, dink dus daaroor na voor jy antwoord. Jou konsep van God sal jou vertroue in Hom bepaal. Dawid was ver van perfek af. Sommige van sy mannewales sou die voorblad van die skinderblaaie gehaal het. Hy het egter nooit aan God se goedheid en genade teenoor hom getwyfel nie: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis’ (Psalm 56:10 NLV). Jesus het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).
Sy goedheid waarborg dat daar aan elke behoefte voldoen kan word en sy genade waarborg dat elke sonde vergewe kan word. Net soos skaaphonde verlore skape terug na die trop toe dryf, so sal God se goedheid en genade jou elke keer terug na sy liefdevolle arms toe dryf.
Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2
2023-03-07
1 Petrus 4:10 NLV
Die Bybel sê: ‘…God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien… Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word…’ (verse 10-11 NLV).
Jy mag dalk nie bevoorreg genoeg wees om by ‘n plek te werk wat jou gawes gebruik nie, maar jy moet ten minste in daardie rigting beweeg. Paulus het as ‘n tentmaker gewerk om sy roeping as prediker te finansier. As jy dus weet dat jy ‘n kreatiewe persoon met ‘n aanleg vir ontwerp en visuele kunste is en jy met jou rekeningkundige beroep geïrriteerd is, mag dit dalk tyd wees om jou beroepsdoelwitte te heroorweeg. As jy daarvan hou om probleme op jou rekenaar op te los, maar jy tans as ‘n kok werk, is dit tyd om terug te staan en te heroorweeg.
Jy kan dalk nie op die oomblik ‘n bestaan uit jou passie maak nie, dus werk jy in ‘n onverwante veld. Dis in die haak vir nou. Jou visier moet egter daarop bly om God se roeping te volg. Moses het twee-derdes van sy lewe bestee om vir sy regte roeping gereed te maak – om die kinders van Israel na die Beloofde Land te lei. God mors nooit ervaring nie.
Dikwels sal die wysheid wat jy by ‘n werk wat jy nie wil hê nie, opdoen, jou help om in jou toekomstige werk; die een wat God vir jou gekies het, sukses te behaal. Hou dus aan groei en glo in God. Wanneer Hy dan die deur oopmaak, sal jy gereed wees om daardeur te loop.
Sielskos: Eks 25-27; Luk 14:1-14; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35