2023-03-18
Psalm 77:3 NLV
Hier is twee belangrike gebedsbeginsels: 1) Praat met God te midde van moeilikheid. Dit is die moeilike tye wat jou op jou knieë dwing – ‘n slegte mediese verslag, ‘n kind wat verslaaf is aan dwelms, ‘n verlore werk of ‘n moeilike huwelik. Dis hoekom God moeilike tye toelaat! Hy laat toe dat moeilikheid ons teister – nie om ons ellendig te laat voel nie, maar om ons na Hom toe te bring. Hosea die profeet het gesê: ‘…Sodra hulle moeilikheid het, dán sal julle My soek’ (Hosea 5:15 NLV). God se vaderlike hart wil hê dat ons in Hom bly en Hom vertrou. Hy is lief genoeg vir ons om moeilikheid in ons lewens toe te laat om ons sodoende nader aan Hom te bring. Wanneer ons na Hom in moeilike tye draai, vind ons uit dat Hy ‘…ons toevlug en ons krag [is]; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:2 NLV).
2) Praat ten alle tye met God. In sy bekende boek: The Practice of the Presence of God, verwys broer Lawrence na gebed as ‘n voortdurende gesprek met God – ‘n gebruik vir alle tye, plekke en omstandighede. Gesprekke met God terwyl hy kook of skottelgoed was, het hy net so bevredigend soos in sy toegewese gebedstye gevind. Hy raai ons aan om voortdurend te bid: ‘Sodat ons onsself aan ‘n voortdurende gesprek in eenvoud met Hom gewoond kan maak. Dat ons net hoef te erken dat God intiem by ons teenwoordig is en ons onsself elke oomblik tot Hom moet rig.’ Dit klink soos Paulus se instruksies oor die onderwerp: ‘Doen alles deur gebed en smeking… en bid vir almal wat aan God behoort’ (Efesiërs 6:18 NLV).
Sielskos: Job 5-7; Luk 18:18-43; Ps 19; Spr 8:6-7
2023-03-17
Psalm 51:9 NLV
Onthou jy toe die meeste restaurante vasgestelde ure gehad het? Hulle skedule het bepaal of jy honger moes gaan, al dan nie. Nie meer nie: nou kan jy enige tyd wanneer jy honger raak, by baie van jou gunsteling eetplekke inhardloop. Dis hoe God werk; Hy is 24/7 beskikbaar. Alhoewel gebed nie tot sekere tye beperk word nie, is daar sekere tye wat dit noodsaaklik is om met God te praat. Hier is twee van daardie tye:
1) Wanneer jy gesondig het. Jou emosies van skuld en skande, plus Satan ‘die aanklaer,’ sal jou aansê om God te vermy. Die enigste oplossing vir sonde is egter om na Hom toe te draai. Belas deur owerspel, misleiding en moord, het Dawid besef dat hy sy sonde aan God moet bely. ‘Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees… Skep vir my ‘n rein hart, o God. Gee vir my ‘n nuwe, standvastige gees’ (verse 9, 12 NLV). Johannes het gesê God ‘…is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). Het jy gesondig? ‘n Nuwe begin is net ‘n gebed weg.
2) Wanneer jy bekommerd en bang is. Jy hoef nie ver te kyk om dinge te kry om oor bekommerd te wees nie. Bekommernisse oor finansies, werk, gesondheid en familie kan jou gestres en angstig maak. Waarnatoe moet jy draai? Gebed is God se antwoord op vrees en angs. ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles… As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).
Sielskos: Job 1-4; Luk 18:1-17; Ps 11; Spr 8:4-5
2023-03-16
Johannes 8:11 NLV
“Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op die daad van owerspel betrap is… Hulle sê vir Hom: ‘Leermeester… Moses het in die wet aan ons die opdrag gegee om sulke vroue te stenig, maar wat sê u daaroor?’… Jesus het egter afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: ‘Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi’… Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: ‘Dame, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?’ Sy het geantwoord: ‘Niemand nie, Meneer.’ Jesus sê toe vir haar: ‘Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie'” (verse 3-7 10-11 NLV).
Daardie dag het Jesus drie dinge gedemonstreer: 1) Die skynheiligheid van ‘n dubbele standaard. Aangesien hierdie vrou op heterdaad betrap is, het hulle seker geweet wie die man ook was. Daar is steeds vandag ‘n dubbele standaard wat neerkyk op ‘n vrou as gevolg van haar verlede, terwyl die man verskoon word. Die Fariseërs het klippe gebruik, ons gebruik woorde, maar die slagoffer word ongeag gewond.
2) Wie mag veroordeel. ‘Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi.’ Wie was die enigste sondelose daardie dag tussen hulle? Jesus! Dus is Hy alleen gekwalifiseerd om te oordeel.
3) Jy kan bo jou verlede uitstyg. ‘Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.’ Hierdie woorde kan as volg geparafraseer word: ‘Gaan, en omdat jy ‘n ontmoeting met Jesus gehad het, kan jy bo jou verlede uitstyg.’
Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 17:20-37; Ps 115; Spr 8:1-3
2023-03-15
Psalm 119:105 NLV
Die woorde: ‘U woord is ‘n lamp vir my voete,’ beteken dat jy veronderstel is om volgens God se wil te loop, nie volgens jou eie gedagtes, wense of begeertes nie. Die woorde: ‘en ‘n lig op my pad,’ beteken dat jy nie sommer enige rigting kan inslaan nie; jy moet die pad wat God vir jou beplan het, volg.
Jy sal nooit verkeerd gaan wanneer jy die Skrif vir leiding raadpleeg nie, maar jy moet seker maak dat jy die Skrif in konteks lees. Moenie die ‘oop venster metode’ gebruik nie, waar jy die wind toelaat om oor die bladsye in jou Bybel te waai, dan jou oë toeknyp, na ‘n vers wys en sê: ‘Dit is God se leiding oor hierdie saak.’ As jy dit doen, kan jy dalk met die volgende vers as jou vers vir die dag opeindig: ‘Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op’ (Matteus 27:5 NLV).
Sal jy na ‘n dokter toe wil gaan wat sonder om jou te ondersoek, sê: ‘Dis jou galblaas’? Jy sal vra: ‘Hoe weet jy?’ En hy sal antwoord: “Wel, ‘n paar oomblikke gelede het ek by die venster gesit en God gevra om die bladsye van my anatomieboek tot by jou probleem te waai – en die onderwerp op die bladsy was toe ‘galblaas.'” Jy sal baie gou uit sy spreekkamer hardloop!
Sommige mense oefen hierdie soort teologiese toordery uit, beland dan in die moeilikheid en sê: ‘Wel, God het my gelei,’ terwyl God egter niks met hulle keuses te doen gehad het nie. Wanneer jy ‘n vers lees wat sê: ‘Dit is God se wil,’ kan jy seker weet dat dit sy wil is. As jy ongehoorsaam is aan Hom, sal jy ly en as jy Hom gehoorsaam, sal jy geseën word.
Sielskos: Est 5-10; Luk 17:1-19; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27
2023-03-14
1 Petrus 1:25 NLV
Daar was nie een Engelse kopie van die Bybel in die veertiende eeu nie! Dit was slegs in Latyn, die taal van die geestelikes, beskikbaar en was aan die podiums van die katedrale vasgeketting. Toe het ‘n prominente professor in teologie aan die Oxford Universiteit gesê: ‘Dis nie reg nie. Mense moet die Bybel in hulle eie taal kan lees.’ Kerkleiers het hom as ‘n ketter en ‘n instrument van die duiwel gebrandmerk.
Soos Noag wat spykers in die ark geslaan het terwyl mense hom gespot en geminag het, so het John Wycliffe begin om die Skrif te vertaal terwyl ‘n vloed van vervolging rondom hom ontstaan het. Toe hy uiteindelik sy vertaling van die Skrif voltooi het, het hy die volgende op die binneblad van die eerste kopie van die Engelse Skrif geskryf: ‘Hierdie Bybel is vertaal en sal ‘n regering van die mense, deur die mense en vir die mense, moontlik maak.’ Vyfhonderd jaar later het president Abraham Lincoln hierdie verklaring vir sy beroemde toespraak by Gettysburg geleen.
Dertig jaar nadat Wycliffe gesterf het, is hy weer as ‘n ketter verklaar. Gevolglik is sy liggaam opgegrawe, sy bene is tot stof verbrand en sy as is in ‘n rivier gegooi. ‘n Hedendaagse historikus beskryf die toneel as volg: ‘Thus this brook hath conveyed his ashes into (the river) Avon, Avon into Severn, Severn into the narrow seas, they into the ocean. And thus ashes… are the emblem of his doctrine… now… dispersed the world over.’
Daarom skryf Petrus: “‘Maar die woord van die Here hou vir ewig.’ En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.”
Sielskos: Est 1-4; Luk 16:19-31; Ps 24; Spr 7:24-27
2023-03-13
Handelinge 26:19 NLV
Wanneer God jou ‘n visie gee van wat Hy wil hê jy moet doen, sal jy teen die stroom van die wêreld moet skop. Die samelewing wil jou in ‘n boks hou. Die meeste mense is geestelik aan die status quo getrou. Hulle wil hê wat was, nie wat kan wees nie. Hulle soek veiligheid en eenvoudige antwoorde. Jy moet jouself dus toestemming gee om ‘n ander rigting in te slaan en nuwe grond te ontdek.
Paulus het gesê: ‘…ek [was] nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam… nie.’ Dit was sy verterende passie en die sentrale fokus van sy lewe. Hy het elke oggend opgestaan en daaraan gedink en elke aand met dit in sy gedagtes gaan slaap. Aan die einde van sy lewe, kon hy sê: ‘…ek het die wedloop voltooi… En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid…’ (2 Timoteus 4:7-8 NLV). Of jou visie nou is om ‘n groot familie, ‘n groot kerk, ‘n groot besigheid, of ‘n groot ‘enigiets’ op te bou, jy sal daarop moet fokus.
Die skrywer Harry A. Overstreet het opgemerk: ‘Die onvolwasse verstand spring van een ding na die volgende; die volwasse verstand wil graag volhard.’ Verdien elke area van jou lewe gefokusde dinktyd? Nee. Wees selektief in jou denke. Wat het God jou geroep om te doen? Wat is jou rol daarin? Watter vaardighede moet jy opskerp? Watter kennis moet jy opdoen? Watter verhoudings moet jy bou?
Die eerste vraag wat Paulus gevra het toe God vir hom sy visie gegee het, was: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). Dis die vraag wat jy ook vandag vir God moet vra.
Sielskos: Eks 39-40; Luk 16:1-18; Ps 135; Spr 7:21-23