2023-01-26
Spreuke 18:13 NLV
Iemand het gesê: ‘Om te trou is soos om iets te koop wat jy al vir jare in die winkelvenster bewonder. Jy is mal daaroor – maar wanneer jy by die huis kom, pas dit nie by alles nie!’ Die Bybel sê: ‘Mag God… julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe…’ (Romeine 15:5 NLV). Dit beteken dat jy die volgende drie dinge moet doen om ‘n gelukkige huwelik te bou:
1) Hê ‘n oop gemoed. Die Bybel sê: ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom.’ Moet dus nie jou antwoord formuleer terwyl jou man of vrou nog praat nie. Om te luister, beteken dat jy jouself tot die gesprek verbind en die ander persoon se standpunt erken. ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:3-4 NLV).
2) Leer om vir jouself te lag. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal. Hartseer maak ‘n mens terneergedruk’ (Spreuke 15:13 NLV). Wanneer jy finansiële druk, familieprobleme, siekte of net gewone uitputting ervaar, kan humor die spanning verlig en jou perspektief help herstel.
3) Vee die ‘E’ woord uit jou woordeskat uit. Alhoewel God egskeiding onder sekere omstandighede toelaat, is dit nooit sy ideaal nie. Soos een paartjie wat deur hulle huweliksprobleme gewerk het, gesê het: ‘Ons is bly dat ons nie gedurende die moeilike jare tou opgegooi het nie. Ons het lank genoeg uitgehou om te besef dat dit met tyd regtig beter kan begin gaan.’
Wanneer jy jouself daaraan toewy om aan jou verhoudig te werk, maak nie saak hoe dinge uitwerk nie, sal jy nooit oor jou pogings spyt wees nie.
Sielskos: Gen 4-6; Luk 6:1-16; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10
2023-01-25
Amos 3:3 NLV
Daar is geen toets wat kan voorspel hoe ‘n romantiese afspraak uiteindelik sal uitdraai nie, maar hier is vyf vrae wat jy altyd jouself moet afvra: 1) Wat is my eerste indruk van hierdie persoon? Byvoorbeeld, met wie hang hulle uit? Watter tipe geleenthede geniet hulle? Lieg hulle? Steel? Vloek? Gebruik hulle dwelms? Dis die tipe inligting wat jou ongekende hartseer in die toekoms kan spaar. Jy moenie mense op hulle baadjie takseer nie, maar totdat jy regtig iemand leer ken, is dit die inligting wat jy tot jou beskikking het.
2) Hoe goed ken ek hulle? Is dit nie wyser om met iemand wat jy al ‘n rukkie ken, in plaas van ‘n vreemdeling, ‘n verhouding aan te knoop nie?
3) Betoon hulle genade teenoor ander mense? Daar is niks erger as ‘n man wat met sy vorige verowerings spog, of ‘n vrou wat gedurig haar eks kritiseer nie. Sal jy so ‘n soort persoon met jou reputasie en jou hart vertrou?
4) Deel ons dieselfde waardes? Die Bybel sê: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ Jy moet weet dat jou moontlike maat ‘n toegewyde Christen is wat volgens sy of haar beginsels leef. Watter tipe standaarde het hulle oor dinge soos geld, sedes en rolprente?
5) Kan ek hulle vertrou om hulle woord te hou? Was hulle lojaal in vorige verhoudings, of het hulle geflankeer of hul maat verkul? Iemand wat hulle woord verbreek, word uiteindelik ook iemand wat harte breek.
Hier is goeie raad wanneer jy ‘n verhouding wil aanknoop: ‘Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:6 NLV).
Sielskos: Gen 1-3; Luk 5:27-39; Ps 100; Spr 3:7-8
2023-01-24
1 Tessalonisense 3:12 NLV
Een van Amerika se suksesvolste telefoonmaatskappye het ‘n advertensie met die slagspreuk: ‘Kan jy my nou hoor?’ geskep. Dit het ‘n man uitgebeeld wat oor die foon praat, maar die persoon aan die ander kant kan hom nie hoor nie. Dus vra hy aanmekaar: ‘Kan jy my nou hoor?’ Die advertensie is ontwerp om die boodskap weer te gee dat hierdie spesifieke telefoonmaatskappy hoë-kwaliteit sein het.
Wat is jou onmiddellike reaksie wanneer jou foon sein verloor? Irritasie? Frustrasie? Woede? Dr John Maxwell skryf in sy boek Everyone Communicates, Few Connect, die volgende: ‘Wanneer ek met mense omgaan, weet ek dat ek ‘n verbinding gemaak het wanneer ek die volgende waarneem: Ekstra moeite – mense stap die ekstra myl; ongevraagde waardering – hulle sê positiewe dinge; onbewaakte openheid – hulle wys vertroue; verhoogde kommunikasie – hulle druk hulself makliker uit; aangename ervarings – hulle voel goed oor wat hulle doen; emosionele gebondenheid – hulle vertoon ‘n verbintenis op ‘n emosionele vlak; positiewe energie – hul emosionele ‘batterye’ word deur samesyn gelaai; onvoorwaardelike liefde – hulle aanvaar sonder voorbehoud. Ek weet dat ek met mense ‘n verbintenis het wanneer ek enige van hierdie tekens opmerk. Hoe gaan dit met jou wat verbintenis betref? Wanneer jy ‘n een-tot-een interaksie met iemand wat belangrik in jou lewe is het, sien jy hierdie tekens? Selfs al is jy nie goed daarmee om verbintenisse aan te knoop nie, kan jy leer hoe om dit te doen.’
Eerstens moet jy egter waarlik omgee vir die persoon waarmee jy ‘n verbintenis wil aanknoop. Dis hoekom Paulus skryf: ‘En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir ander mense… groot en oorvloedig maak…’
Sielskos: Pred 9-12; Luk 5:12-26; Ps 96; Spr 3:5-6
2023-01-23
Prediker 3:1 NLV
Wanneer dinge by die werkplek verander, voel ons dikwels bedreig. Ons raak aan die persoonlikhede van ons kollegas en base gewoond en ons wil hê hulle moet dieselfde bly en niks meer van ons verwag as in die verlede nie. Uit ons begeerte na stabiliteit, sekuriteit en voorspelbaarheid misluk ons om vir onstabiliteit, onsekerheid en verrassings voor te berei. Hoe ironies is dit nie!
As ons bereid is om ons verwagtinge aan te pas en meer realisties te wees, sal ons nie so getraumatiseerd wees wanneer veranderinge plaasvind nie. Dinge kan oornag verander. Dit mag dalk die verlies van ‘n ouer, of ‘n werk, of jou gesondheid wees. Verandering is die lewe se enigste konstante. Dit het die potensiaal om jou na groter dinge te beweeg, of om jou soos ‘n stoomroller plat te vee. Die keuse is joune. ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles…’
Die waarheid is dat God jou enigste veilige anker in jou lewe is, so indien jy wys is, sal jy ‘n sterk verhouding met Hom bou. Hy sal jou nie toelaat om van enigiets behalwe Hom afhanklik te wees nie.
Hier is Elia se verhaal: ‘Die kraaie het soggens en saans vir hom brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. Na ‘n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar was geen reënval in die opvanggebied nie’ (1 Konings 17:6-7 NLV). Elia mag dalk paniekerig geraak het, maar God het nie. ‘Toe sê die Here vir Elia: ‘Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (vers 8 NLV). God het kraaie, ‘n spruit en ‘n arm weduwee gebruik om vir Elia te sorg.
Geniet dus jou werk, blink daarin uit, maar wees slegs van God afhanklik!
Sielskos: Pred 5-8; Luk 5:1-11; Ps 91; Spr 3:3-4
2023-01-22
Kolossense 3:2 NLV
Marcus Aurelius het gesê: ‘Ons lewe is wat ons gedagtes daarvan maak.’ Ongelukkig kan jy nie ophou om verkeerde gedagtes te dink deur net harder te probeer nie. Jy kan egter die volgende doen: Jy kan jou gedagtes beheer. Die mees basiese beheer wat ons ten opsigte van ons gedagtes het, is jou vermoë om te kies waaraan jy aandag gee. Op enige gegewe oomblik is dit binne jou kapasiteit om jou gedagtes in een rigting of ‘n ander te stuur. Dit help verduidelik hoe twee mense in presies dieselfde omstandighede heeltemal verskillende perspektiewe en ervarings kan hê.
Die volgende uittreksels uit ‘n hond en ‘n kat se dagboeke mag jou dalk laat glimlag. Hopelik sal dit jou egter ook laat dink aan die verskil wat jou houding kan maak. Hond se dagboek: 8:00. Het hondekos geëet. My gunsteling aktiwiteit! 9:00. Het in die kar gery. My gunsteling aktiwiteit! 9:40. Het in die parkie gestap. My gunsteling aktiwiteit! 10:30. Het ‘n vryfie agter die ore gekry. My gunsteling aktiwiteit! 12:00. Het middagete geëet. My gunsteling aktiwiteit! 13:00. Het in die gras gespeel. My gunsteling aktiwiteit! 15:00. Het my stert geswaai. My gunsteling aktiwiteit! 17:00. Het kos geëet. My gunsteling aktiwiteit! 19:00. Het met my bal gespeel. My gunsteling aktiwiteit! 20:00. Het saam met my mense televisie gekyk. My gunsteling aktiwiteit! 23:00. Het op die bed geslaap. My gunsteling aktiwiteit! Kom ons kyk nou na die kat. Kat se dagboek: Dag 983 van my gevangenskap. My ontvoerders hou aan om my met bisarre hangende voorwerpe te tart. Die een ding wat my help deurdruk, is my droom om te ontsnap.
Twee skepsels… soortgelyke situasies… totaal verskillende ervarings. Wat maak die verskil? Een het die regte gedagtes gekies; die ander een het nie.
Sielskos: Gal 5:13-26; 1 Sam 17:4-51
2023-01-21
Romeine 8:28 NLV
Toe Josef in die tronk gegooi is, was dit vir hom moeilik om te sien hoe hierdie pad tot die vervulling van sy droom kon lei, maar dit het, omdat God ‘n plan vir sy lewe gehad het. Hy het ook ‘n plan vir jou lewe! Jou huidige werk mag dalk slegs voorbereiding wees vir die werk wat God regtig vir jou in gedagte het. Miskien nie vandag of more nie, maar as jy getrou bly, sal daar ‘n tyd kom wat jy terugkyk en besef hoe God jou treë gerig het (sien Psalm 37:23).
Weier dat ‘n gevoel van slagofferskap jou vrede steel. Jou werk, ten spyte die probleme, sou die droom van sommige van jou voorgeslag gewees het. Het jy nie vir hierdie werk waaroor jy nou so kla, gebid nie? So moeilik soos dit dalk mag wees om te aanvaar, jy is waar jy is vir ‘n rede – en vir ‘n seisoen. Studeer dus, doen die huiswerk, skryf die toetse, behaal die graad en beweeg aan na dit wat God volgende vir jou beplan.
Daar is sekere kwaliteite wat jy van jou huidige posisie na jou volgende een moet neem, dinge soos vaardighede en karakterontwikkeling. Jy mag dalk rekenaar- en sosiale mediavaardighede moet aanleer – plus geduld en dankbaarheid. Jy mag dalk moet leer hoe om ‘n kantoor te bestuur – en hoe om jou buie te beheer.
Wanneer jy deur God gelei word, word geen ervaring gemors nie, want: ‘…ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). God weet wat Hy doen, vertrou Hom dus; Hy gebruik elke ervaring om sy wil te laat geskied en ons blydskap te vervul.
Sielskos: Pred 1-4; Luk 4:31-44; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2