Fokus op jou Godgegewe visie

2023-03-13
Handelinge 26:19 NLV

Wanneer God jou ‘n visie gee van wat Hy wil hê jy moet doen, sal jy teen die stroom van die wêreld moet skop. Die samelewing wil jou in ‘n boks hou. Die meeste mense is geestelik aan die status quo getrou. Hulle wil hê wat was, nie wat kan wees nie. Hulle soek veiligheid en eenvoudige antwoorde. Jy moet jouself dus toestemming gee om ‘n ander rigting in te slaan en nuwe grond te ontdek.

Paulus het gesê: ‘…ek [was] nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam… nie.’ Dit was sy verterende passie en die sentrale fokus van sy lewe. Hy het elke oggend opgestaan en daaraan gedink en elke aand met dit in sy gedagtes gaan slaap. Aan die einde van sy lewe, kon hy sê: ‘…ek het die wedloop voltooi… En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid…’ (2 Timoteus 4:7-8 NLV). Of jou visie nou is om ‘n groot familie, ‘n groot kerk, ‘n groot besigheid, of ‘n groot ‘enigiets’ op te bou, jy sal daarop moet fokus.

Die skrywer Harry A. Overstreet het opgemerk: ‘Die onvolwasse verstand spring van een ding na die volgende; die volwasse verstand wil graag volhard.’ Verdien elke area van jou lewe gefokusde dinktyd? Nee. Wees selektief in jou denke. Wat het God jou geroep om te doen? Wat is jou rol daarin? Watter vaardighede moet jy opskerp? Watter kennis moet jy opdoen? Watter verhoudings moet jy bou?

Die eerste vraag wat Paulus gevra het toe God vir hom sy visie gegee het, was: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). Dis die vraag wat jy ook vandag vir God moet vra.

Sielskos: Eks 39-40; Luk 16:1-18; Ps 135; Spr 7:21-23