Gee vandag jou probleem vir God

2023-03-23
Psalm 55:23 NLV

As jy in moeilike tye grootgeword het, doen jy outomaties een van die volgende twee dinge: 1) Vertrou meer op God omdat jy sy getrouheid al ervaar het. 2) Dink, bekommer en praat aanhoudend oor die ‘wat as’ in die lewe.

Daar is baie om oor te dink, want die toekoms rus in God se hande, nie joune nie. Dis moontlik vir iets om baie groter as wat dit waarlik is, vir jou voor te kom. Dis die kern van bekommernis. Dis soos ‘n sneeubal; dit begin klein, maar soos jy dit oor en oor in jou gedagtes rol, word dit groter en groter totdat dit die potensiaal het om jou te begrawe.

Wat is dus die antwoord? ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Vul jou hart met God se Woord. Ontwikkel dan die gewoonte om dit wat in jou hart is, meer werklik vir jou te laat word as dit wat jy sien, dink of voel. Jy kan kies om aan dit wat God kan doen, in plaas van dit wat jy nie kan doen nie, te dink.

As jy aanhou om oor die ingewikkeldheid van jou situasie obsessief te wees, sal jy in wanhoop opeindig. Met ander woorde, jy sal vasgevang voel. Wanneer dit gebeur, is dit maklik om paniekerig te raak en irrasionele dinge te doen wat net die probleem vererger.

In stede daarvan, ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie.’ Die Here sal jou versterk, ondersteun en jou staande hou. God mag jou nie onmiddellik uit die situasie neem nie, maar sy onderhoudende genade sal jou daardeur bring. Gee vandag jou probleem vir God.

Sielskos: Job 18-20; Luk 20:9-26; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18

Wanneer jou beste nie goed genoeg is nie

2023-03-22
Lukas 5:5 NLV

Jy sê: ‘Wat het geword van die vers in Galasiërs 6 wat belowe wat jy saai, sal jy ook oes? Ek het my beste gedoen. Ek het vertrou, opgeoffer, die regte dinge gedoen, maar niks geoes nie.’ Dit is ontmoedigend en wil jou laat tou opgooi wanneer jy ‘n gebrek in jou finansies, werk, huwelik, kinders of bediening ervaar.

Die dissipels was ervare vissermanne. Hulle het egter heelnag op die see deurgebring en niks gevang nie, dus was hulle moedeloos. Dis toe Jesus opdaag! Toe hulle dink dat daar niks meer is wat hulle kan doen nie, het Hy in hulle boot geklim. Hy werk steeds op hierdie manier.

Jesus weet dat jy self sal aanhou probeer wanneer jy dink dat jy die situasie self kan hanteer. Dus wag Hy tot jou hulpbronne uitgeput is en jy erken dat jy uit opsies uit is en raak dan betrokke. Hy het vir Petrus gesê: ‘… Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang’ (Lukas 5:4 NLV). Petrus het geantwoord: ‘…ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie…’ (Lukas 5:5 NLV). Miskien het Petrus gedink: ‘Here, U is die prediker, maar ek is ‘n professionele visserman. As daar enigiets in die water was, sou ek dit gevang het!’ Dis toe dat die wonderwerk gebeur. Petrus het Jesus gehoorsaam, ongeag wat hy gevoel of gedink het.

Wanneer jy moedeloos en hulpeloos is, wanneer jy dink daar is nie ‘n weg uit die gemors nie, moet jy stil raak en luister en Jesus sal vir jou sê wat om te doen. Wanneer Hy dit doen, moet jy, selfs al het jy vrae, sê: ‘…Maar as u so sê, sal ons weer probeer.’ Berei jouself dan vir die resultate wat net God kan gee, voor.

Sielskos: Job 15-17; Luk 19:41-20:8; Ps 13; Spr 8:14-16

Wees by die werk getrou aan God

2023-03-21
Kolossense 3:22 NLV

As jy verantwoordelik was om mense by die werk in diens te neem, waarvoor sou jy uitgekyk het? Vaardigheid, toewyding, stiptelikheid, betroubaarheid, geduld, vriendelikheid en konsekwentheid? Jesus het gesê: ‘As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees…’ (Lukas 16:10 NLV). Die lewe bestaan meestal uit klein sake, as jy dus onbetroubaar in die klein dinge is, sal jy in meeste dinge van die lewe onbetroubaar wees.

Het jy ‘n stapel items by die werk waaroor jy skuldig voel omdat jy nie daarby uitkom nie? Betroubaarheid sluit jou hantering daarvan in. Dit mag dalk nie vir jou saakmaak dat iemand vir jou ‘n e-pos of ‘n brief gestuur het nie, maar daardie persoon verwag ‘n antwoord. Hulle wêreld mag dalk daarvan afhang. Hoe hanteer jy die klein dingetjies in die lewe? Jesus het gesê: ‘En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?’ (vers 12 NLV).

As jy die besigheid waarvoor jy werk besit het, sou jy al daardie ekstra pouses vir koffie geneem het? Sou jy die huurmotor wat jy so pas vir ‘n week lank onverskillig mee gery het, gekoop het? Hoe jy dinge wat nie aan jou behoort nie hanteer, is ‘n toets van jou getrouheid aan God.

Betroubaarheid is in alle areas van die lewe belangrik. God sê dat jy vir jou betroubaarheid beloon sal word, dus moet jy jou beste by die werk gee. ‘Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie’ (Kolossense 3:23 NLV). As ‘n volgeling van Christus, moet jy ‘n reputasie as die betroubaarste mens by die werk hê. Hoekom? Omdat jy weet wie jou ware baas is!

Sielskos: Job 11-14; Luk 19:22-40; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13

Herstel van uitbranding

2023-03-20
Spreuke 30:1 AFR53

Dr Richard Swenson sê: ‘Jy kan in die woud ingaan, ‘n boompie van tien voet kies, dit oorbuig en wanneer jy dit loslaat, sal dit na sy normale hoogte terugskiet. As jy dit egter verder en verder buig, sal dit geboë bly. Met stres buig jy eers en dan herstel jy. Met uitbranding buig jy eers en dan breek jy – en jy bly gebroke. Wanneer die skrywer van Spreuke sê: ‘…Ek het my moeg gemaak, o God…,’ verwys hy nie na ‘n versinsel van sy verbeelding of ‘n sensasionele diagnose deur sielkundiges nie. Uitbranding is werklik, dit is algemeen en dit is gevaarlik; dit lei tot prikkelbaarheid, woede, paranoia, hoofpyne, maagsere, depressie en selfdood. Uitbranding veroorsaak dat iets binne-in jou breek; jy gee nie om wie jou sien of hoor nie, jy wil net wegkom. Die goeie nuus is dat jy jou passie, entoesiasme, produktiwiteit en uitnemendheid kan herstel, maar dit neem egter tyd en die genesingsproses veroorsaak dikwels littekens. Uitbranding is algemeen onder geestelikgesinde mense wat sensitief is. Hulle sien pyn en internaliseer dit. Hulle wil die gewondes help, maar hulle besef nie dat hulle nooit ontwerp is om die wêreld op hul skouers te dra nie.’

Wat is dus die oplossing? ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Om Psalm 91 se voordele te ontvang, moet jy egter aan sy voorwaardes voldoen deur God jou skuilplek te maak, in Hom te bly en jouself aan sy gesag te onderwerp. ‘Ek sal vir die Here sê: ‘U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou’ (Psalm 91:2 NLV). Lees dus vandag God se Woord, internaliseer, verpersoonlik en verbaliseer dit, en jou lewe sal ‘n opwaartse wending neem.

Sielskos: 1 Kor 10-11; Matt 2:13-18; Ps 130; Spr 10:12

Geloof wat resultate meebring


Hebreërs 11:6 NLV

Hier is drie waarhede uit die Skrif wat jou geloof meer effektief sal maak: Eerstens, glo dat Hy werklik dáár is. Die krag van die taal wat hier gebruik word, is baie meer as net ‘n vae erkenning van God se bestaan. Hy is die enigste ware God! Hierdie Skrifgedeelte sê Hy is uniek, opreg en permanent teenwoordig en aktief.

Tweedens, glo dat God in staat is. Toe twee blinde mans Jesus genader het sodat Hy hulle gesond kon maak, het Hy vir hulle gevra: “…’Glo julle regtig Ek kan julle gesond maak?’ Hulle sê vir Hom, ‘Ja, Here, ons glo U kan dit doen.’ Hy raak toe hulle oë aan en sê: ‘Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur'” (Matteus 9:28-29 NLV). Onmiddellik kon hulle sien. Jesus het geweet dat Hy in staat is om hulle gesond te maak, maar Hy wou hê hulle moes glo dat Hy dit kon doen. Totdat jy nie in God se vermoë om aan jou behoefte te voldoen glo nie, het jy geen basis om jou vertroue en gebede op te baseer nie.

Derdens, glo dat God gewillig is. As jy weet dat Hy in staat is, moet jy ‘n tree in geloof neem. ‘n Melaatse man het Jesus genader en gesê: ‘…’Here, as U wil, kan U my gesond maak.’ Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ En dadelik het sy melaatsheid verdwyn’ (Matteus 8:2-3 NLV). Is God gewillig? Hy sê dat Hy ‘dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.’ Dit laat geen plek vir twyfel nie. God is vandag nie net in staat nie, maar ook gewillig om aan jou behoefte te voldoen.

Sielskos: Job 8-10; Luk 19:1-21; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9

Maak jy jou kinders alleen groot?

2023-03-19
Psalm 30:6 NLV

Een huwelikskenner vertel dat ‘n enkelma hom ‘n verhaal gestuur het wat gehelp het om die eensaamheid en stres om kinders alleen groot te maak, te verduidelik. Sy sê dat sy een reënerige dag by haar venster uitgekyk het en ‘n rooiborsie en haar kuikens in hul nes gesien het. Soos die reën geval het, het die rooiborsie haar kuikens met haar uitgestrekte vlerke bedek. Toe het dit begin hael. In plaas daarvan om haar kop veilig in die nes te druk, het die rooiborsie haar kop opwaarts gestrek en die houe gevat om haar kuikens te beskerm. Al die kuikens het dit veilig deur die storm gemaak. Wat ‘n grafiese illustrasie van die uitdagings van enkelouerskap!

Die verantwoordelikheid om kinders alleen groot te maak is meedoënloos en vereis van ‘n ma of pa om geld te verdien, te kook, skoon te maak, toesig te hou oor huiswerk, vir siek kinders te sorg, ensovoorts. Tussendeur hierdie daaglikse verpligtinge, moet hulle ook uitpluis hoe om aan hulle eie persoonlike en geestelike behoeftes te voldoen. In konteks geneem, mag dit dalk een van die moeilikste opdragte op aarde wees.

Enkelouers, hetsy nou moeders of vaders, het ons voortdurende ondersteuning en gebede nodig. Aan diegene wat die houe namens hulle kinders neem, wees verseker dat daar beter dae aan die kom is. Die storm waarin jy jou tans bevind, sal nie vir ewig duur nie. ‘n Pragtige reënboog sal binnekort te voorskyn kom. Wanneer die werk voltooi is en die kroos gesonde klein voëltjies groot is, sal daar soete voordele vir die ouers wat nie wegvlieg nie, wees. God se Woord beloof: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.’

Sielskos: Jes 40:1-31; Joh 9:1-39