Skriftuurlike vaardighede

2023-02-01
1 Tessalonisense 5:16-18 NLV

Jy het goeie vaardighede nodig om sukses in die lewe te behaal. Die verkoopsman het ‘n kwota. Die akteur het repetisies. Die berader gesels met een depressiewe siel na die ander. Die vlieënier moet vir ure in die kajuit sit. Die pastoor is nooit gevrywaar van voorbereidng vir sy preke nie. Dan is daar die ma met klein kindertjies wat veertien uur per dag moet besluite neem, met sterk willetjies meeding en probeer om alles vir almal te wees. Hoe ontwikkel jy die vaardighede wat nodig is om die oorvloedige lewe wat Jesus belowe het, uit te leef? (sien Johannes 10:10).

Paulus sê vir ons: ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar…’ Verbly jouself in die dinge wat nooit kan verander nie, wat nie kan misluk nie en wat jou nie in die steek sal laat nie (soos God se beloftes!). Wanneer jy voel dat alles te veel word, bid. Sê met elke asemteug: ‘Ek vertrou U, Here; Ek gee dit aan U oor, want ek weet U het alles onder beheer.’

Moenie vergeet om dankie te sê nie. Onthou die ou gesegde: ‘Ek het gekla omdat ek nie skoene het nie, totdat ek ‘n man sonder voete ontmoet het.’ In plaas daarvan om te kla, begin jou seëninge tel. Kan jy onthou hoe die lewe was voor jy Jesus ontmoet het? Was daar nie dae gewees wat jy gedink het dat jy dit nie gaan maak nie? Kyk waar is jy nou! Toe die Israeliete aan die anderkant van die Rooi See gestaan en teruggekyk het, het hulle verklaar dat die Here hulle krag, hulle lied en hulle redding is (sien Eksodus 15:2). Is dit nie ook wat Hy vir jou is nie? Loof God!

Sielskos: Gen 20-23; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26

Vrede sal jou gedagtes oppas

2023-01-31
Filippense 4:7 NLV

Wyse mense maak nooit belangrike besluite terwyl hulle in ‘n verkeerde emosionele toestand is nie. Toe Elia uitgevind het dat koningin Isebel op sy spoor is, was hy gereed om sy rol as profeet op te gee en te sterf. Dus het God vir hom veertig dae van rus, gebed en herstel gegee. Toe was hy gereed om op die basis van sy geloof in God en nie as gevolg van sy vrees vir Isebel nie, besluite te neem. Sy besluit na veertig dae van rus was baie anders as wat dit voor sy rustydperk sou gewees het.

Jy het seker al gesien hoe mense vreeslike besluite, wat hulle nooit andersins sou geneem het nie, neem wanneer hulle gedreineer, moeg, ontmoedig en bang is. Oor die algemeen sal jy nie die regte plan van aksie kies wanneer jy in die verkeerde gemoedstoestand is nie. Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet maak, is die wysste ding wat jy kan doen om te wag totdat jy uitgerus is. ‘n Angstige gemoedstoestand in ‘n moeë liggaam kan tot ‘n baie verkeerde besluit lei.

Die Bybel sê: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Die vrede van God sal jou gedagtes oppas, sodat jy nie impulsief, selfsugtig of kwaadwillig sal optree nie. Dit sal jou oppas sodat jy nie op enige manier optree wat verlies eerder as wins en spyt eerder as vreugde tot gevolg sal hê nie.

Sielskos: Gen 17-19; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24

Sê dit soos dit is

2023-01-30
Efesiërs 4:15 ABA

Jon Walker sê: ‘Dis moeilik om te konfronteer, dis makliker om oppervlakkig te bly en met die eerste tekens van moeilikheid bande te verbreek en weg te hardloop. Die Bybel sê egter: ‘Eerlike antwoorde is soos ‘n soen op die mond’ (Spreuke 24:26 NLV); dit verdiep verhoudings sodat ons die waarheid met mekaar kan praat. Moenie lieg of voorgee nie. Vertel vir jou broer die waarheid. Onthou: ‘Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God’ (Efesiërs 4:25 DB).’

Die skrywer Anette Smith merk op: ‘Dis selfs vir nabye vriende moeilik om ongemaklike onderwerpe aan te roer. Vriende moet egter op mekaar kan staatmaak, nie net vir pret en bevestiging nie, maar ook vir onderrig en teregwysing. Wanneer ons onsself tot ‘n vriendskap verbind, beteken dit dat ons op ‘n diep intieme vlak omgee en dat ons die moed moet hê om te praat wanneer ‘n vriend moeilike woorde moet aanhoor. Ware vriendskap kom met vreugde en verantwoordelikheid. Om dit te vermy om eerlik oor ‘n situasie wat seer, gevaarlik, of buite God se wil is te praat, is om die vriendskap en die vriend oneer aan te doen. Voordat ons ‘n moeilike situasie aanspreek, moet ons egter eers selfondersoek doen en as daar enige eiegeregtigheid of die geringste begeerte om wraak te neem is, moet ons eerder stilbly. Wanneer dit by moeilike onderwerpe kom, moet dit met suiwer, liefdevolle beweegredes gepaard gaan.’

Die Bybel sê: ‘Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar. So word ons meer en meer soos Christus…’ As jou woorde nie met liefde deurdrenk is nie, sal dit seermaak eerder as wat dit genees.

Sielskos: Gen 13-16; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20

God gee om vir jou bekommernisse

2023-01-29
1 Petrus 5:7 NLV

Doug Coldiron skryf: “Ek is ‘n vragmotorbestuurder en my Jack Russel terrier, Dee Dee, ry orals saam met my. Ons was net buite Atlanta besig om bal te speel toe iets haar oog vang en sy die woud inhardloop. Ek het orals gesoek en haar naam geroep totdat dit pikdonker was, maar kon haar nie kry nie. Die volgende oggend moes ek weer in die pad val en toe ek my laptop oopmaak en na my Facebookblad gaan, was dit gevul met boodskappe: ‘Ons bid vir jou.’ ‘Hou moed.’ ‘Vertrou op God.’ Ek het vertroos gevoel; ander mense was ook besorg oor my hond. As ek net gou weer na Atlanta kon terugkeer! Ek het daaraan gedink om te bid: ‘Here, stuur my asseblief NOU op ‘n roete Atlanta toe!’ Ek het geweet dat dit weke kon neem, maar toe ek op my maatskappy se webblad ingaan om my volgende opdrag en roete te kry… was dit Atlanta! Het my gebed dan gewerk? Die volgende oggend het Russ, een van die maatskappy se toesighouers, my wakker gebel. ‘Ek het jou hond op pad werk toe gesien.’ Ek kon nie my ore glo nie! Ek moes dadelik daar uitkom! Russ het my geneem na waar hy vir Dee Dee gesien het. Nadat ek ure lank gesoek het, het ek oor my skouer gekyk – en daar het sy op die stoep van ‘n huis gesit. Sy het na my toe gehardloop en toe ek haar optel, het ek gebid: ‘Dankie Here.'”

Die Bybel sê: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ Coldiron voeg by: ‘Wie weet wat in ‘n hond se kop aangaan? Een ding wat ek egter verseker weet, is dat ons nooit alleen is nie. God beantwoord altyd gebede.’

Sielskos: Fil 2:1-13; Eks 14:5-31

Begin jou dag met God

2023-01-28
Psalm 5:4 NLV

Leer die gewoonte aan om elke dag met God te begin, Wanneer jy dit doen, sal jy ‘n bron hê waaruit jy die hele dag krag kan put. Sielkundiges sê dat dit tot drie weke neem om aan ‘n nuwe gewoonte gewoond te raak en nog drie weke voor die gewoonte gevestig word. Dit beteken dat jy die ses-week grens moet oorsteek. Doen dus die volgende:

1) Maak ‘n vasbeslote besluit. As jy halfhartig begin, sal jy nooit suksesvol wees nie. Die Bybel sê: ‘Julle moet mekaar van dag tot dag aanspoor…’ (Hebreërs 3:13 NLV). As dit jou sal help, vra iemand om jou aanspreeklik te hou. Vra hulle om jou aan te spoor en jou aan die belofte wat jy teenoor God gemaak het, te herinner.

2) Moenie uitsonderings toelaat nie. Vermy dit om ‘Net hierdie een keer,’ as verskoning aan te wend. Elke daad van ingewing verswak jou wil en veroorsaak dat jy grond verloor.

3) Gebruik elke geleentheid om jou nuwe gewoonte uit te oefen. Wanneer jy die kleinste drang kry om jou Bybel te lees en te bid, doen dit. Moenie wag nie; gebruik daardie oomblik om jou gewoonte in te oefen. Jy kan nie ‘n nuwe gewoonte aan die begin oordoen nie.

4) Maak op God se krag staat. Jy is besig met ‘n geestelike stryd en jy kan slegs met God se hulp oorwinning behaal. Vertrou op Hom om jou te help om die gewoonte tot sy verheerliking te ontwikkel.

Skryf die volgende woorde neer, teken jou naam aan die onderkant en hou dit konstant voor jou: ‘Here, ek wy myself daaraan toe om elke oggend met U te begin, maak nie saak wat die koste daarvan is nie. Ek maak op U staat om my te help om konsekwent te wees.’ Dis ‘n gebed wat Hy sal antwoord.

Sielskos: Gen 10-12; Luk 6:27-36; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18

Die seën waarop ons hoop

2023-01-27
Titus 2:13 NLV

Vertroue in Christus se spoedige wederkoms en ons uiteindelike oorwinning, is wat ons in hierdie dae van ontnugtering met sommige van ons nasionale leiers, die devaluasie van ons geld en die verwoesting van oorloë wat op verskeie kontinente gevoer word, sal dra. Jesus het gesê: ‘Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie’ (Matteus 24:42 NLV). Met ander woorde, wees op jou hoede, maar moenie bang wees nie.

Admiraal James Stockdale het agt uitmergelende jare in ‘n Vietnamese kamp vir krygsgevangenes deurgebring. Wat het hom gedra? Hy het gesê: ‘Ek het nooit geloof in die einde van die storie verloor nie. Ek het nooit daaraan getwyfel dat ek nie net huis toe sou gaan nie, maar ook dat ek op die ou einde sou oorwin en die ervaring in ‘n bepalende gebeurtenis in my lewe sou verander, wat ek in retrospeksie nie vir iets sou verruil nie.’ Toe hy gevra is: ‘Wie het dit nie gemaak nie?’ het Stockdale geantwoord: ‘Dis maklik. Dit was die ouens wat gesê het: ‘Ons gaan Kersfees by die huis wees.’ Kersfees sou kom en gaan. Dan sou hulle sê: ‘Ons gaan Paasfees by die huis wees.’ En Paasfees sou kom en gaan. Later sou dit weer Kersfees wees. Hulle is uiteindelik dood aan ‘n gebroke hart.’

Die moed om tussen die twee uiterstes van huidige moeilikheid en uiteindelike triomf te staan, word in hierdie woorde van die Skrif gevind: ‘ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (Hebreërs 12:2 NLV). Die Een by wie jy jou begin ontvang het, waarborg jou ‘n glorieryke oorwinning.

Sielskos: Gen 7-9; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12