2023-03-29
Spreuke 19:11 NLV
Jy moet die volgende oor woede weet: Dis nie ‘n sielkundige afwyking nie; almal word kwaad. Dis ook nie noodwendig ‘n sonde nie. Soos ‘n rivier wat vinnig vloei, kan dit konstruktiewe of destruktiewe energie genereer wat negatief gebruik of positief ingespan word. Woede word gewoonlik verkeerdelik verstaan as iets wat deur ander mense of deur omstandighede aan ons gedoen word. Ons sê: ‘Ek kon dit nie help nie; hulle het al my verkeerde knoppies gedruk!’ Dit klink soos Adam in die tuin van Eden: ‘Die vrou het my daarvan laat eet!’
Sedert die sondeval maak ons daarop aanspraak dat ons slagoffers van mense, die duiwel en omstandighede buite ons beheer is – ‘n geloof wat ‘n selfvervullende profesie word, wat veroorsaak dat ons hulpeloos en aan die genade van eksterne magte oorgelewer voel.
Wat sê God se Woord oor ons woede? “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang…” Dit beteken dat wanneer verstandige mense kwaad word, hulle hul emosies beheer. Maak nie saak wat die eksterne sneller is nie, die antwoord is altyd ‘n interne reaksie.
‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV). Die sleutel tot selfbeheersing is om deur God se Gees gevul te bly. In plaas daarvan om jou woede aan te blaas deur vir jouself te sê ‘Jy kan nie wegkom daarmee om my so te behandel nie!’ probeer eerder dink: ‘Maak nie saak wat jy doen of sê nie, God se Gees lewe in my en ek het selfbeheersing.’ Die Bybel sê: ‘Die liefdevolle goedheid van God… voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, met opregtheid en toewyding aan God, in die huidige tyd te leef’ (Titus 2:11-12 NLV).
Leer dus om jou woede te beheer.
Sielskos: Job 35-37; Luk 22:1-23; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31
2023-03-28
Openbaring 21:4 NLV
Soms beskryf ons die dood as ‘om die Jordaan oor te steek,’ omdat die Jordaanrivier in die Dooie See uitloop. Daar word ‘n verhaal van ‘n bejaarde Christelike dame wat besig was om te sterf, vertel. Vir die meeste van haar lewe was sy aan haar bed of haar rolstoel vasgekluister. Die familie het bymekaargekom om van haar afskeid te neem. Terwyl hy haar hand vashou, het een van haar kleinseuns gevra: ‘Ouma, is Ouma bang om dood te gaan?’ Met trane van vreugde het sy geantwoord: ‘Nee, ek is nie bang vir die dood nie, want my Vader besit aan beide kante van die rivier land.’
Wat ‘n antwoord! In die hemel sal daar nie siekte, depressie, pyn, eensaamheid, vrees, smart of enige van die dinge wat die lewe op aarde so moeilik maak, wees nie. God se Woord sê: ‘Maar die Son van Geregtigheid, met genesing in sy vlerke, sal opkom vir hulle wat eerbied en respek vir My het…’ (Maleagi 4:2 NLV). Jesaja skryf: ‘Dié wat die Here bevry het, sal terugkeer na Sion. Hulle sal sing van blydskap, hulle sal vol vreugde wees, ellende en smart sal verdwyn’ (Jesaja 35:10 NLV).
Wanneer ons ‘n geliefde aan die dood afstaan, wonder ons of ons hulle in die hemel sal sien en sal herken. Ja! Jy sal nie minder in die hemel weet as wat jy op aarde geweet het nie. Paulus skryf: ‘Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan’ (1 Korintiërs 13:12 NLV). Die hemel sal die grootste familiereünie van alle tye wees. Die beste deel daarvan: Ons sal nooit weer van mekaar geskei word nie.
Sielskos: Job 32-34; Luk 21:25-38; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2023-03-27
Openbaring 21:16 NLV
Die volgende keer wat jy ingeperk voel, lees die volgende: ‘Die stad is vierkantig uitgelê, sy lengte dieselfde as sy breedte. [Die engel] het toe die stad met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en ook die hoogte daarvan is dieselfde – meer as 2 200 kilometer’ (vers 16 NLV). Dit is meer as vier miljoen vierkante kilometer – wat die nuwe Jerusalem groter as Texas maak. Dis amper vier keer groter as Alaska en meer as helfte die grootte van die hele Amerika! So ‘n groot stad sal allesbehalwe oorvol en ongemaklik wees. Nog wonderbaarliker as dit: Die stad sal 2 200 kilometer hoog wees! Daar sal nie ‘n beperking aan spasie wees nie. Dit bevestig wat Jesus oor die hemel gesê het: ‘In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers… Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak’ (Johannes 14:2 NLV).
Aangesien dieselfde God wat die aarde geskep het ook die hemel ontwerp het en aangesien Paulus gesê het dat die hemel ‘…verreweg die beste…’ (Filippense 1:23 NLV) sal wees, dink aan die mooiste plek wat jy al ooit besoek het en vermenigvuldig daardie beeld met ‘n oneindige getal. Johannes het die hemel as volg beskryf: ‘Die stad… het gestraal, net soos ‘n baie kosbare steen, soos ‘n kristalhelder jaspis’ (Openbaring 21:12 NLV). Een nag het ‘n klein seuntjie saam met sy pa na die sterre gekyk en gevra: ‘As die verkeerde kant van die hemel so mooi is, hoe moet die regte kant dan lyk?’
Jesus het gesterf sodat jy hemel toe kan gaan. Jy gaan egter nie per ongeluk soontoe nie, maar deur ‘n keuse wat jy moet maak. Het jy dus al jou vertroue in Christus geplaas om jou Redder te wees? As jy het, sien jou daar!
Sielskos: Job 29-31; Luk 21:12-24; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2023-03-26
Filippense 3:20 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n pastoor wat vir sy gemeente gevra het: ‘Wie van julle wil hemel toe gaan?’ Almal, behalwe een klein seuntjie, het hulle hande opgesteek. Die pastoor het gesê: ‘Seun, wil jy nie hemel toe gaan nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, maar ek dog jy maak ‘n groep bymekaar om nou dadelik te gaan!’
Kom ons wees eerlik, totdat ‘n geliefde sterf of ons oud word en voel dat ons ons opdrag hier op aarde voltooi het, dink of praat ons nie baie oor die hemel nie. Dan voel ons hoe die hemel ons begin aantrek. Ons moet so voel. Ons sal gemiddeld so sewentig of tagtig jaar hier deurbring, terwyl ons die ewigheid in die hemel sal deurbring. ‘Daarna sal ons… vir altyd by Hom… wees’ (1 Tessalonisense 4:17 NLV).
Hier op aarde kry ons ‘n gemengde telkaart; soms doen ons goed, ander kere nie so goed nie. In die hemel sal ons egter net soos Jesus wees. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie…’ (Filippense 3:20-21 NLV).
C.S. Lewis het geskryf dat in die hemel sal elkeen van ons “‘n skitterende, stralende, onsterflike skepsel, wat deurgaans pols met sulke energie en vreugde en wysheid en liefde as wat ons ons nie nou kan voorstel nie,” wees. Al die patriarge, profete en predikers in die Bybel het na die hemel verlang. Sagaria het dit as volg beskryf: ‘…Hulle sal ook soos ‘n juweel in ‘n koning se kroon wees. Hulle sal blink en skitter in sy land’ (Sagaria 9:16-17 DB).
As jy vandag sou sterf, sal jy hemel toe gaan? Jy kan, deur jou vertroue in Jesus Christus te plaas.
Sielskos: 1 Kon 17:1-24; 1 Kor 12
2023-03-25
Lukas 6:37 NLV
Hier is nog drie stappe na vergifnis: 1) Aanvaar mense soos hulle is en moet hulle nie probeer verander nie. Dit hou jou net aan hulle vasgeketting, terwyl jy jouself kwel oor wat hulle gedoen het en eis dat hulle op maniere wat jy goedkeur, moet optree. Niks maak mense minder gewillig om te verander as wanneer jy hulle probeer beheer en eis dat hulle aan jou vereistes moet voldoen nie. Om mense te verander is nie jou werk nie – dis God s’n! Jou werk is om te kies om te vergewe en die uitkoms in God se hande te los.
2) Sien jou oortreder as God se instrument vir jou groei. Dis makliker om iemand te vergewe wanneer jy ophou om hulle as Satan se agent wat gestuur is om jou te vernietig te sien en hulle as God se instrument om jou te ontwikkel, begin sien. Josef se lewe is ‘n sprekende bewys van hierdie beginsel. Die pad wat hom van die put tot die paleis geneem het, was met onreg, teleurstelling en verraad geteer. God het egter elke pynlike gebeurtenis gebruik om hom by sy lotsbestemming uit te bring. God kan dieselfde vir jou doen.
3) Probeer om met jou oortreder te versoen. Versoening is in God se aard. ‘Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is…’ (Romeine 5:10 AFR83). Wat God vir jou gedoen het, wil Hy hê moet jy aan die een wat teenoor jou oortree het, doen. Jesus het versoening ‘n hoofprioriteit gemaak deur te sê: ‘los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede… Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:24 NLV). Ja, dit sal onbaatsugtigheid en nederigheid van jou kant af verg, maar die opbrengs is die belegging werd!
Sielskos: Job 24-28; Luk 21:1-11; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2023-03-24
Kolossense 3:13 NLV
Die ellende om met onvergifnis in jou hart te lewe, duur altyd langer as die pyn van die oortreding. Altyd! Wanneer jy aan wrokkigheid vashou, maak jy die deur vir depressie en fisiese siektetoestande oop. Vergifnis genees jou wonde en herstel jou vreugde. Hier is twee stappe om jou te help om te vergewe:
1) Onthou dat jy onvoorwaardelik vergewe is. Onthou God se genade teenoor jou en die prys wat vir jou vergifnis betaal is. Wanneer jy weier om genade te betoon, is jy soos die man wat Jesus gesê het van ‘n enorme skuld kwytgestel is, maar geweier het om ‘n ander man se skamele skuld aan hom te vergewe (sien Matteus 18:23-34). Die genade wat God aan jou bewys het, laat jou met geen rede om te weier om die persoon wat jou seergemaak het, te vergewe nie.
2) Bevry die oortreder van die skuld wat hulle aan jou verskuldig is. Jy mag dalk heeltemal geregtig wees om te sê: ‘Hulle skuld my vir dit wat hulle gedoen het!’ Jou vriende mag dalk saamstem. Die wet mag dalk saamstem en jy mag dalk dink dat die enigste manier hoe jou oortreder gaan leer om te doen wat reg is, is wanneer hulle vir hulle fout boet. Solank as wat jy egter aan jou ‘regte’ vashou, word jy aan die verlede vasgeketting. Jou toekoms word deur die verlede gyselaar gehou.
Jou oortreder se sonde teen jou is deur dieselfde opofferende liefde wat jou sondeskuld gekanselleer het betaal, dus het hulle dieselfde behoefte en reg tot vergifnis as wat jy het. Vergifnis is ook nie net tot hulle voordeel nie, maar tot joune ook: ‘…As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (Lukas 6:37 NLV).
Sielskos: Job 21-23; Luk 20:27-47; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21