2023-02-07
Lukas 16:10 NLV
Pastoor James Merritt het gesê: ‘Die ander dag het ek vir my pragtige vrou gevra of sy as gevolg van my aantreklike gesig met my getrou het. Sy het geantwoord: ‘Nee, ek het oor jou brein met jou getrou – dis die klein dingetjies wat saakmaak!’ Merrit het natuurlik gegrap. Wat regtig in die lewe saakmaak, is getrouheid in die klein dingetjies; dis hoe betroubaarheid begin, groei en volwasse word.
Longfellow het geskryf: ‘Die meeste mense sou sukses behaal het, as hulle nie met groot ambisie gemoeid was nie.’ Soms dink ons dat ons te groot vir klein dinge is; ons sal onsself eerder met dit wat ons as groter, belangriker sake sien, ophou. Hier is egter soos Jesus dit sien: ‘As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ‘n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie. En as jy onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel? En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?’ (verse 10-12 NLV).
As jy sukses in jou werk wil behaal, kom betyds by die werk aan; hou aan met die taak totdat dit klaar is; wanneer jy sien dat iets gedoen moet word, doen dit – selfs al is dit nie in jou posbeskrywing nie. Gee ‘n eerlike dag se werk vir ‘n eerlike dag se salaris; neem jou etensuur, nie ‘n drie-uur lange betaalde vakansie nie; rapporteer jou uitgawes eerlik; ondersteun die span en handhaaf die maatskappy se reputasie. Met ander woorde, wees betroubaar by die werk. ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (Prediker 9:10 NLV). Dis die soort betroubaarheid wat God eer.
Sielskos: Gen 32-34; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2
2023-02-06
1 Korintiërs 4:2 NLV
Betroubaarheid verg dat jy 100 persent inspanning 100 persent van die tyd moet gee. Die tydskrif Insight het ‘n artikel deur Gary Sheer getiteld: ‘Strive for Perfection… or Else!’ gepubliseer. Dit het ‘n paar onrusbare feite bevat! Die artikel het gesê dat indien 99.9 persent inspanning goed genoeg is, sou 103,260 belastingopgawes daardie jaar verkeerd geprosesseer word, 22 tjeks sou binne die volgende sestig minute van die verkeerde rekeninge afgetrek word, 12 babas sou elke dag vir die verkeerde ouers gegee word, 2 vliegtuiglandings sou elke dag by O’Hare Internasionale Lughawe onveilig gewees het, 18,322 posstukke sou binne die volgende uur verkeerd hanteer word, 291 operasies om pasaangeeërs in te sit sou daardie jaar verkeerd gedoen word. Ook sou 880,000 kredietkaarte in sirkulasie die verkeerde kaarthouer details op hulle magnetiese strook bevat het, 20,000 verkeerde mediese voorskrifte sou binne die volgende twaalf maande uitgeskryf word en 107 verkeerde mediese prosedures sou teen die einde van daardie dag uitgevoer word. Dis skokkende statistieke – veral as jy een van die persone is wie se lewe daardeur geaffekteer word!
Net jou beste moet in enige situasie goed genoeg wees. Enigiets minder as dit sal nooit goed genoeg wees nie, omdat dit jou mislukking om heeltemal getrou en betroubaar te wees, reflekteer. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.’ By God is betroubaarheid nie slegs ‘n konsep of ‘n voorstel nie; dis ‘n vereiste vir almal wat Hom dien – insluitend vir jou!
Sielskos: Gen 30:25-31:55; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35
2023-02-05
Spreuke 20:6 NLV
‘n Nuwe werknemer het een keer vir ‘n kollega gevra: ‘Hoe lank werk jy al vir die maatskappy?’ Hy het geantwoord: ‘Vandat die baas gedreig het om my af te dank!’ Werkgewers sukkel om werkers te kry wat betroubaar is en waarop hulle kan staat maak. Landsburgers smag na politici wat al hul veldtogbeloftes getrou sal uitvoer. Tydens die huwelikseremonie word pasgetroudes gevra om getrou aan die geloftes wat hulle aan mekaar maak, te wees.
Die waarheid is dat sonder betroubaarheid jou invloed beperk sal wees – of selfs uitgewis sal word. Sonder betroubaarheid, word die somtotaal van al jou ander wonderlike talente afgewater. Betroubaarheid verander die alledaagse in die wonderbaarlike en gewone individue in getroue presteerders. Die wyse koning Salomo het die volgende vraag gevra: ‘Baie mense sal voorgee dat hulle lojale vriende is, maar waar is daar iemand wat regtig betroubaar is?’
Daar is meer as 300 geisers in die Yellowstone Nasionale Park (ongeveer die helfte van die wêreld se geisers waarvan ons weet). Een staan egter bo die ander uit. Dis nie die grootste nie en sy waters bereik nie die hoogste hoogtes nie, maar dit is die populêrste een by verre. Sy populariteit is aan een ding alleenlik te wyte – sy betroubaarheid. Mense staan in lang toue in die warm son om dit te sien, want volgens ‘n presiese skedule skiet dit kokende water meer as 120 voet in die lug in. Jy kan amper jou horlosie daarby stel. Dis hoekom hierdie geiser ‘Old Faithful’ genoem word.
Mense word tot ons betroubaarheid aangetrek. God word deur ons betroubaarheid verheerlik. In alles wat jy dus vandag doen, oefen betroubaarheid uit.
Sielskos: Ps 23; Joh 6:1-15
2023-02-04
1 Korintiërs 16:2 NLV
Jesus het gesê: ‘En as jy onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel?’ (Lukas 16:11 NLV). Met ander woorde, as jy nie aan Hom getrou met jou finansies is nie, sal Hy jou nie met groter seëninge vertrou nie. Wat beteken dit om getrou in jou finansies te wees? Paulus skryf: ‘Op elke Dag van die Here moet elkeen van julle na vermoë tuis iets opsy sit en dit spaar sodat daar nie eers insamelings plaasvind wanneer ek kom nie.’
Dit beteken drie dinge: 1) Gereelde gawes. Let die woorde: ‘…elke Dag van die Here…’ op. Dis sistematiese gawes, nie sporadiese gawes nie. Dis nie: ‘Ek voel vandag goed, so ek gaan iets vir God gee,’ nie. As jy dit met jou verband probeer, sal jy gou sonder ‘n huis sit! Jy is nie veronderstel om te gee soos jy lus kry nie, maar deur toewyding om gehoorsaam aan God se Woord te wees.
2) Beplande gawes. ‘…moet elkeen van julle… iets opsy sit….’ As jy getroud is, moet julle saam sit en die bedrag wat julle voel God wil hê julle elke week of maand moet gee, bespreek. As jy dit nie beplan nie, sal jy dit nie op ‘n gereelde basis gee nie.
3) Proporsionele gawes. ‘…na vermoë…’ 10 persent moet die minimum of die beginpunt wees. As God jou finansieel seën, moet jy meer as 10 persent gee. Jy moet aan God ‘n persentasie gee van dit wat Hy jou in staat stel om te verdien. Wanneer jy dit doen, beloof Hy om jou ryklik te seën (sien Maleagi 3:10, 2 Korintiërs 9:6-10).
Sielskos: Gen 28:1-30:24; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32
2023-02-03
Spreuke 24:3 NLV
By ‘n konferensie vir onderwysers, het een kollega neerhalend vir ‘n ander een se vrou gevra: ‘En watse werk doen jy, skat?’ Die man het later geskryf: “My vrou het teruggekap: ‘Ek sosialiseer twee Homo sapiens in die dominante waardes van die Joods-Christelike tradisie sodat hulle die instrumente kan wees vir die transformasie van die sosiale orde in die soort eskatologiese utopie wat God van die begin van die skepping af wou hê.’ Toe het sy ewe gevra: ‘En watse werk doen jy?’ Die vrou het nederig geantwoord: ‘Ek…ek… gee klas in sosiologie.'”
Die Bybel sê: ‘Met wysheid word ‘n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou’ (vers 3 NLV). Wysheid is om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê. Insig is die vaardigheid om met begrip te reageer. As jy sukses in alles in die lewe behaal, maar by die huis misluk, sal geen van jou suksesse saak maak nie.
Een skrywer merk op: ‘Ons moet ons kinders met lig vul sodat hulle dit wat donker is kan onderskei. Ons moet hulle help om ‘n lewe van vrede te kultiveer sodat hulle onenigheid kan herken. Ons moet hulle leer wat reg is sodat dit wat verkeerd is, duidelik daarmee kontrasteer. Ons moet vir hulle die soet reuk van die waarheid aanbied sodat hulle ‘n leuen kan ruik. Ons moet hulle selfvertroue in Christus opbou sodat hulle nie maklik deur ander mense se opinies afgebreek sal word nie. Ons moet hulle fondasie op ‘n rots bou sodat hulle onstabiele grond sal herken. Ons moet hulle leer om vir wysheid te bid sodat hulle besef dat om slim te wees, nie genoeg is nie.’
As ouers, mag ons nie dadelik die opbrengs op ons beleggings sien nie, maar ‘…as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV).
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30
2023-02-02
Lukas 15:20 ABA
Toe die pa sy verlore seun gesien het, was hy ‘baie jammer vir hom.’ Jack Graham skryf: ‘Dis nie ‘n vader wat nie kan wag om sy sondige seun te straf en wat hom as waardeloos afgeskryf het nie. Dis ‘n liefdevolle, sorgsame vader wat nie kan wag om hom te omhels en te verwelkom nie. Hy hardloop die pad af om hom tegemoet te gaan. Wat jy sien is ‘n beeld van die Vader se liefde vir jou – gretig, buitensporig, toeganklik, oorvloedig.’ ‘…toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen’ (vers 20 NLV). Ons verwag gevoude arms, ‘n frons op die voorkop, ‘n onwillige handdruk, ‘n streng berisping. In plaas daarvan sê sy pa: ‘…Gou, bring die mooiste mantel… ‘n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete. En slag die kalf wat ons in die kraal vet maak…’ (verse 22-23 NVL).’
In daardie tyd het die vader se ring gedelegeerde gesag gesimboliseer. Die een wat dit gedra het, het besigheid in die naam van die een wat dit gegee het, gedoen. Sou jy hierdie verlore seun jou sake laat behartig het? Hom met jou kredietkaart vertrou het?
Toe jy na God toe gekom het, het jy die gesag om besigheid in sy Naam te doen, ontvang. Wanneer jy die waarheid praat, is jy sy ambassadeur (sien 2 Korintiërs 5:20). Jy is sy besigheidsbestuurder wanneer jy die finansies wat Hy aan jou toevertrou het, bestuur. Wanneer jy iemand vergewe, is jy sy priester. Hy het vir jou die voorreg gegee om vir ander te doen wat Hy vir jou doen. Spreek woorde wat ander mense versterk. Hoekom? Omdat jy jou Vader verteenwoordig.
Sielskos: GEN.24:1-25:18; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28