Jy kan vrede in jou gemoed hê

2023-02-13
Psalm 29:11 NLV

Almal wil vrede in hulle gemoed hê. Of jy nou ‘n sakeman is wat die druk van spertye ervaar, ‘n tuisteskepper wat die kinders in toom moet hou, of ‘n student wat graag deur die semester wil kom, almal wil gemoedsrus hê. Die meeste van ons ervaar egter meer stres as vrede. Hoe vertroud is jy met stres?

Een skrywer merk op: ‘Hier is ‘n klein vraelys. Voltooi elkeen van hierdie sinne met die toepaslike woord: ‘Ek is reg om die … in te gooi. Ek is … op. Ek is net ‘n bondel … My lewe is besig om … te val. Ek weet nie meer watter … toe nie.’ Hoe het jy gevaar? As jy ‘handdoek, raad, senuwees, uitmekaar en kant’ geantwoord het, gee vir jouself ‘n A+.’

Die meeste van ons het hierdie woorde al so gereeld gemompel dat dit amper tweede natuur is. Stres is ‘n betreurenswaardige feit van die lewe in ons hedendaagse wêreld. Verkope van kalmeermiddels is op ‘n hoogtepunt en boeke oor gemoedsrus word onmiddellik topverkopers. Ons word gewaarsku dat te veel stres ongesond is. Ons weet dit egter al vir eeue. Duisende jare gelede het Salomo geskryf: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid…’ (Spreuke 14:30 NLV).

Ons weet van stres, maar waar gaan jy om vrede in jou gemoed te kry? Na God toe! Neem ‘n oomblik om hierdie twee beloftes te lees: 1) ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede.’ 2) ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef…’ (Filippense 4:6-7 NLV).

Sielskos: Gen 44-46; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Jy word gesnoei (2)

2023-02-12
Psalm 119:71 NLV

God gebruik probleme, druk en mense om jou te snoei om meer vrugte te dra. Is jy van enige van hierdie drie dinge in jou lewe bewus? God kan alle situasies in jou lewe gebruik om jou te help groei, mits jy die regte houding het. Hy sal ‘n groot frustrasie, ‘n finansiële terugslag, ‘n skielike siekbed, ‘n gebroke huwelik, ‘n rebelse kind of selfs die dood van ‘n geliefde gebruik om jou aandag te kry.

Jy sê: ‘Maar dit maak so seer!’ Ja, om gesnoei te word is pynlik. Soms sal ‘n tuinier ‘n boom snoei totdat dit soos ‘n groot tandestokkie lyk. Dis nie ‘n mooi gesig nie. Die snoeiproses is egter positief. God is nie vir jou kwaad nie. ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV). God straf nie sy opregte kinders nie. Jesus het jou straf op Hom aan die kruis geneem. God se snoeiwerk is vir jou eie beswil, om meer vrugte in jou lewe te kan dra.Kan God se snoeiwerk geen resultate oplewer nie? Ja, indien jy nie saamwerk nie.

Hoe produseer God ‘…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV), in jou lewe? Hy produseer hierdie kwaliteite deur jou toe te laat om voor situasies en mense met presies die teenoorgestelde kwaliteite te staan te kom. Hy leer jou om lief te hê deur jou te midde van moeilike mense te plaas. Hy leer jou geduld deur toe te laat dat jy gefrustreer raak. Jy vra: ‘Hoe kan ek met God saamwerk?’ Die Bybel sê vir jou: ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag’ (1 Tessalonisense 5:16-18 NLV).

Sielskos: Matt 5:1-12; Jos 10:5-14

Jy word gesnoei (1)

2023-02-11
Hebreërs 12:10 ABA

Het jy geweet dat sommige tuiniers met hulle plante praat? Hoekom? Omdat dit hulle help groei! Verbeel jouself jy sê: ‘Jy is so ‘n goeie plant. Jy lyk pragtig vandag. Ek is so trots op jou!’ Verbeel jouself nou dat jy met die plant praat terwyl jy hom snoei en sê: ‘Hierdie maak my seerder as wat dit jou maak.’ Snip! ‘Jy sal my na die tyd hiervoor bedank.’ Snip! ‘Dis vir jou eie beswil.’ Snip! Nou dink jou in dat die plant terugpraat: ‘Jy het nie ‘n hart nie. Jy haat my. Ek het lank en hard gewerk om daardie rose te maak wat jy so pas afgesny het.’

Is dit nie ook wat ons vir God sê terwyl Hy ons snoei nie? ‘Is U nie lief vir my nie? Gee U nie vir my om nie? Kan U nie sien wat tans in my lewe aan die gebeur is nie?’ Ons dink dat God vir ons kwaad is. Nee, Hy is nie kwaad nie. Een van die groot foute wat ons maak is om snoei met straf te verwar. Moenie die twee gelykstel nie.

God sien jou as iemand wat meer vrugte kan dra, iemand met die potensiaal om groot dinge te bereik, iemand wat Hy op ‘n betekenisvolle manier kan gebruik. Hy wil hê jy moet soveel vrugte dra as wat jy moontlik kan, dus snoei Hy jou en sny selfs dinge in jou lewe af waarmee Hy jou geseën het.

Het jy ‘n werk waaroor jy mal was verloor? Of ‘n geliefde verhouding? God mag dalk iets beters in gedagte hê. Kan jy Hom vertrou? Glo jy dat Hy in jou lewe aan die werk is? Sy Woord sê: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).

Sielskos: Gen 42-43; Luk 9:28-36; Ps 141; Spr 4:18-19

Behandel mense altyd met respek

2023-02-10
1 Petrus 3:15-16 NLV

Die Bybel sê: ‘… As… iemand julle [uitvra] oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Maar doen dit taktvol en eerbiedig…’ Die twee maniere om ‘n eier uit sy dop te kry, is: 1) om dit oop te breek, of 2) om dit in ‘n warm, liefdevolle omgewing te plaas en dit toe te laat om te inkubeer en uit te broei. Die tweede manier bewaar die kuiken, terwyl die eerste een hom doodmaak.

Soortgelyk, is die twee maniere om die goeie nuus van die evangelie aan mense oor te dra: 1) om hulle oor die kop daarmee te slaan, of 2) om hulle tot in God se familie lief te hê. Het jy opgelet dat baie evangelisasie net ‘n dun bedekte belediging is? ‘Jy het nodig wat ek het, want jy is so aaklig.’ Mense het die goeie nuus nodig, maar jou ingesteldheid kan hulle daarvan weerhou om dit te ontvang.

Respekteer ongelowiges; moenie hulle verneder nie. Om iemand te respekteer, beteken dat jy hulle aanvaar. Dit beteken nie dat jy hulle lewenstyl goedkeur nie. Aanvaarding en goedkeuring is twee verskillende dinge. Almal het egter die reg om met respek behandel te word. Die beste manier om die evangelie met ongelowiges te deel, is om hulle met liefde en aanvaarding te omring terwyl jy dit met hulle deel. Wees respekvol, sensitief en gee vir hulle om.

Die teoloog D.T. Niles het gesê: ‘Evangelisasie is net een bedelaar wat vir ‘n ander vertel waar om brood te kry.’ Versprei God se Woord! Doen jy die verspreiding daarvan en God sal die redding doen. Sodra jy die saad van God se Woord in iemand se hart geplant het, kan jy hulle liefhê, laat gaan en op God vertrou om sy deel te doen.

Sielskos: Gen 40-41; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17

Toegewyd en verbonde

2023-02-09
Romeine 12:5 NLV

Die Bybel beskryf die Christelike lewe in oorlogsterme: veg, oorwinning, strydperk, oorlog, triomfeer, sege. Jy is in ‘n geestelike stryd betrokke, of jy dit nou besef of nie en jy het ondersteuning en hulp nodig. Wanneer jy ‘n Christen word, word jy deel van God se weermag.

Stel jou voor jy gaan na ‘n werwingskantoor om by die weermag aan te sluit. Hulle sê: ‘Wonderlik, teken hier.’ Jy sê: ‘Wag! Ek het een voorwaarde. Ek wil nie aan enige spesifieke peloton toegewys word nie. Ek wil kan kom en gaan soos ek wil. Ek sal deel van die weermag wees, maar ek wil nie aan ‘n sekere groep soldate toegewyd wees nie. As die stryd te warm word in een gebied, sal ek na ‘n ander gebied beweeg en by ‘n ander peloton aansluit. En as ek nie van een peloton se leierskap hou nie, sal ek by ‘n ander een aansluit.’ Sal jy wil hê dat so ‘n persoon langs jou in die geveg moet staan? Natuurlik nie!

Dis egter hoe baie Christene deesdae God se weermag benader. Hulle spring van kerk tot kerk met min of geen toewyding aan enige spesifieke groep Christene – so terwyl die stryd geveg word, is hulle nêrens te sien nie. Die verskil tussen slegs kerk bywoon en ‘n lidmaat word, is soos die verskil om te trou of net saam te bly. Die verskil is toewyding.

Die Griekse woord vir gemeenskap is koinonia, wat beteken om aan mekaar toegewyd te wees. Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Jy kan nie liefde betoon wanneer jy afwesig is nie. Wees dus toegewyd en verbonde.

Sielskos: Gen 37-39; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13

Betroubaarheid (4)

2023-02-08
Klaagliedere 3:23 DB

Betroubaarheid kan die nederigste werk in ‘n uiters belangrike een verander. Dink byvoorbeeld aan hoe afhanklik ons van iets kleins soos ‘n posseël is. Dis altyd gereed vir diens. Dit gaan waar dit gestuur word. Dit doen wat daarvan gevra word. Dit hou aan met die taak tot dit voltooi is. Dit bly op datum. Geen taak is te klein daarvoor nie.

Ons is nie almal met dieselfde talente gebore nie; sommige van ons is in sekere areas meer talentvol as ander. Elkeen van ons is egter met dieselfde verantwoordelikheid om ons vermoëns ten volle aan te wend, gebore. Dis die minste wat enigeen van ons kan doen – en dis wat God, wat ons talente vir ons gegee het, van ons verwag.

Tweehonderd jaar gelede toe die Amerikaanse vloot gestig is, het amptenare lank oor ‘n geskikte leuse gedink. Uiteindelik het hulle op die Latynse frase: Semper fidelis, besluit, ‘n frase wat deesdae in elke seesoldaat se gedagtes gegraveer is. Wat beteken dit? ‘Altyd betroubaar’! Beide is belangrike woorde, maar die belangrikste is die eerste woord: altyd. Hoekom? Omdat ‘n seesoldaat dit nie kan bekostig om slegs betroubaar te wees wanneer dit gemaklik of gerieflik is, of wanneer hy lus is, of wanneer dit hom gelukkig maak nie. Semper fidelis beteken dat jy altyd betroubaar moet wees – ten spyte van die koste daaraan verbonde.

God wil dieselfde van jou sê as wat van Hom gesê word: “‘n Mens kan altyd op U vertrou…” Of jy dus nou ‘n baas, ‘n werknemer, ‘n ma of pa, ‘n man of vrou, ‘n vriend, spanmaat of ‘n seesoldaat is, die woord vir jou vandag is: Wees altyd betroubaar.

Sielskos: Gen 35-36; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4