Bewaak hierdie areas van kwesbaarheid

2023-04-04
1 Korintiërs 10:12 NLV

Hier is drie areas waarin ons veral kwesbaar is:

1) Moedeloosheid. In ‘n oomblik van moedeloosheid het Petrus Jesus verloën. Moedeloosheid laat jou dinge sê wat jy nie bedoel nie en dinge doen wat buite jou karakter is. Dis hoekom Judas skryf: ‘…Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees. Hou julle liefdesband met God in stand…’ (Judas verse 20-21 NLV).

2) Opwinding. Herodus het opgewonde geraak en ‘n aanbod gemaak waaroor hy baie spyt was: ‘…Ek sal enigiets wat jy van my vra vir jou gee…’ (Markus 6:23 NLV). Die meisie het vir Johannes die Doper se kop gevra en omdat Herodus ‘n koning was, kon hy nie sy belofte terugtrek nie. Wees versigtig wanneer jy opwinding opsoek en hoe jy reageer wanneer jy dit vind. ‘As ons natuurlike geneigdheid eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood. Moet dus nie mislei word nie…’ (Jakobus 1:15-16 NLV).

3) Moegheid. In die Ou Testament het ‘n ‘geboortereg’ beteken dat die oudste seun twee keer meer van sy vader se boedel erf. Normaalweg sou Esau dit nie oorweeg het om sy geboortereg te verkoop nie, maar hy was doodmoeg toe hy dit gedoen het (sien Genesis 25:29-34). Moegheid kan veroorsaak dat jy perspektief verloor en besluite maak volgens dit wat op die oomblik reg voel, in plaas daarvan wat in die langtermyn vir jou goed gaan wees.

Die Bybel sê: ‘Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ‘n voorbeeld vir ons… Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:11-12 NLV). Bewaak dus hierdie drie areas van kwesbaarheid.

Sielskos: Lev 5-7; Luk 23:1-12; Ps 18:30-50; Spr 9:7-9

Jy moet die pad stap

2023-04-03
Josua 1:3 NLV

Die boek Job het twee-en-veertig hoofstukke. In die eerste een-en-veertig hoofstukke, ervaar Job die verlies van sy gesondheid, sy rykdom en sy familie. Hy bevraagteken God oor en oor, maar kry net stilte as ‘n antwoord. Hy hou egter aan om die pad met God te stap en sê: ‘…Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar’ (Job 23:10 NLV).

Let drie dinge op: Eerstens, om goud te word, moet jy deur die vuur gaan. Tweedens, die hitte van die vuur en die tyd wat die metaal in die vuur moet bly, word deur die suiweraar bepaal. Derdens, wanneer jy die proses probeer aanjaag, sal jy met ‘n minderwaardige stof, soos tin, opeindig. God het vir Josua gesê: ‘…Ek [sal] elke plek waar julle kom vir julle gee.’ Met ander woorde, jy moet die pad stap om te kry wat God jou beloof het.

Die Amerikaanse digter C.V. Wright het geskryf: ‘The man who succeeds never waits for the crowd. He strikes out for himself. It takes nerve, it takes a lot of grit, but the man that succeeds has both… Success is the accomplishment of that which people think can’t be done.’

Selfvoldaanheid, moegheid, twyfel, kritiek en moedeloosheid is alledaagse struikelblokke wat voortdurend oorkom moet word. Hoe doen mens dit? Jy hou aan om die pad te stap! Jy sal ‘n ooreenstemmende draad regdeur die Bybel opmerk: God daag op wanneer jy Hom regtig nodig het en doen vir jou wat jy nie vir jouself kan doen nie. Die res van die tyd – wat die meeste van die tyd is – versterk Hy jou en sê: ‘Jy moet die pad stap.’ Dit is die woord vir jou vandag!

Sielskos: Lev 1-4; Luk 22:63-71; Ps 18:1-29; Spr 9:4-6

Hoe God jou sien

2023-04-02
Jesaja 43:4 NLV

Het jy al ooit ‘n motorhuis uitverkoping bygewoon in die hoop om ‘n winskopie raak te loop? Vir die onopgeleide oog lyk baie van die items soos gemors. Die opgeleide oog sien egter ‘n skat wat vermom is; items wat net skoongemaak, gepoleer en gerestoureer moet word sodat dit weer waardevol is. Dis wat God met ons doen.

Wanneer Satan vir jou vertel dat jy waardeloos is, kyk God binne-in jou en sien versteekte skatte raak. Wanneer jy Jesus die Here van jou lewe maak, stel Hy jou in staat om jou verlede te oorkom, versoeking te weerstaan, slegte gewoontes te oorwin en bo jou selfopgelegde beperkings uit te styg en te besef dat jy groot waarde in God se oë het.

‘n Man het na ‘n psigiater toe gegaan wat vir hom gesê het: ‘Ek het jou probleem gediagnoseer. Jy het ‘n lae selfbeeld – nogal algemeen onder verloorders!’ Ons glimlag, maar die waarheid is dat wanneer jy aanhou om jouself af te kraak, jy geneig is om na mense wat dieselfde doen, aangetrek te word. Wanneer jy egter die waarde wat God aan jou heg begin besef, begin jou hele perspektief verander. Met God kan jy nie verloor nie. Selfs wanneer jy struikel, sal Hy jou help om weer op te staan, sterker en wyser te word en tot oorwinning aan te beweeg.

Wanneer jy jouself as iemand wat net foute maak en te kort skiet sien, kyk jy in die verkeerde spieël. Wanneer jy begin om jouself in die spieël van God se Woord te sien, sien jy iemand wat elke dag getransformeer word om meer en meer soos Jesus te lyk (sien 2 Korintiërs 3:18 NLV). Dis hoe God jou vandag sien.

Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29

Gaan na die regte bron toe

2023-04-01
1 Samuel 27:1 NLV

Die Bybel sê: “Dawid dink toe by homself: ‘Eendag sal Saul my nog doodmaak. Dis beter dat ek vlug en by die Filistyne gaan woon…'” (vers 1 NLV). In die verlede, het Dawid die Here se raad gevra (sien 1 Samuel 23:2, 4). Hy het ook raad by ervare, bewese raadgewers gekry. Hierdie keer is hy egter deur sy vrese gelei en het na ‘n vyandige gebied oorgeloop. Dit het hom ‘n tydelike gevoel van verligting gegee.

Salomo het gesê: ‘Dit lyk dalk vir iemand of hy die regte ding doen; agterna kom dit uit dat dit na die dood gelei het. Lag kan hartseer wegsteek; as die vrolikheid verby is, bly die verdriet nog agter. ‘n Agterbakse mens kry sy verdiende loon. ‘n Goeie mens pluk die vrugte van sy goedheid. ‘n Dwaas glo alles wat hy hoor. ‘n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee’ (Spreuke 14:12-15 NLV).

Uiteindelik het die Filistyne Dawid verwerp omdat hulle hom nie kon vertrou nie. Hulle het gesê: ‘…Stuur hom terug na die plek wat jy tot sy beskikking gestel het!.. Hy kan nie saam met ons in die geveg gaan nie. Wat sal gebeur as hy teen ons draai?..’ (1 Samuel 29:4 NLV).

Wees versigtig wanneer jy ‘n geestelike insinking beleef, want die besluite wat jy maak kan langdurige gevolge hê. Ons kan die volgende uit Dawid se situasie leer: 1) In plaas daarvan om na jou vrese te luister, luister na God. Terwyl hy tussen die puinhope van sy lewe gestaan het, het Dawid, ‘…by die Here sy God krag ontvang’ (1 Samuel 30:6 NLV), en jy sal ook. 2) Soek wyse raadgewers. Dis die laaste ding wat jy in jou ellende sal wil doen, maar ‘…dit is veilig om baie raadgewers te hê’ (Spreuke 11:14 NLV).

Sielskos: Fil 1-4; Luk 22:54-62; Ps 31:14-24; Spr 9:1-3

Probeer ‘n uiltjie knip

2023-03-31
Spreuke 3:24 NLV

God het spesifieke snellers in ons liggame ingebou om ons te laat weet wanneer dit tyd is om bewustheid te ontvlug. Wyse mense luister na hierdie leidrade. Van die geskiedenis se bekendste mense wat lief daarvoor was om ‘n uiltjie te knip, sluit Albert Einstein, Thomas Edison en Winston Churchill in.

Daar is ‘n rede hoekom jou ooglede tweeuur die middag begin swaar voel. Jou hefspiere, wat konstant saamgetrek is om jou ooglede oop te hou, begin ingee. ‘n Chemiese stof genaamd adenosien, wat in jou brein afgeskei word wanneer jy wakker is, begin ophoop en laat jou slaperig voel. Gevolglik smag jou liggaam na slaap om die adenosien te laat versprei, wat onmiddellike verligting tot gevolg het.

‘n Studie wat in die Annals of Internal Medicine gepubliseer is, bevestig dat mense wat vir minstens dertig minute, drie keer per week in die middag slaap, ‘n derde minder geneig is om aan hartsiektes te sterf. Bykomende navorsing stel voor dat om ‘n uiltjie te knip, ons kreatiwiteit en geheue kan verbeter. Die kognitiewe neurowetenskaplike, William Fishbein, sê dat ons brein gedurende ‘n middagslapie aanhou werk om probleme op te los en nuwe idees te vorm. Dit help verduidelik hoekom Mozart gesê het dat hy musiek in sy drome komponeer.

Studies het ook al gewys dat ‘n bietjie ekstra slaap met gewigsbeheer kan help! Ghrelien, ‘n hormoon wat in ons ingewandes geproduseer word, sê vir ons dat ons honger is en veroorsaak drange vir lekkers, sout kos en stysels – al die slegte goed! Wanneer ons egter meer slaap, stoor ons dikderm minder ghrelien en ons lus vir gemorskos verminder.

In die Skrif het Jesus nie net self gereelde ruspouses geneem nie; Hy het ook sy dissipels aangemoedig om sy voorbeeld te volg. Probeer dus om ‘n uiltjie te knip.

Sielskos: Job 40-42; Luk 22:39-53; Ps 31:1-13; Spr 8:34-36

Vra God vir rigting

2023-03-30
Spreuke 16:3 NLV

As ‘n volgeling van Jesus Christus, moet jou rigting nie van mense kom en deur God bevestig word nie; dit moet van God af kom en deur mense bevestig word. Die Bybel sê: ‘Mense kan planne maak, maar die finale besluit kom van die Here af. Alles wat hy doen, kan vir die mens reg lyk. Die Here weet egter waarom hy dit alles doen. Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag. Die Here het alles gemaak vir ‘n bepaalde doel…’ (verse 1-4 NLV).

Jy mag dalk in staat wees om dit wat iemand anders gedoen het, te doen en om dit selfs beter te doen. Het God jou egter geroep om daardie spesifieke ding te doen? Voor jy iemand anders se leiding volg, doen eers die volgende dinge:

1) Gaan die bron van hulle wysheid na. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig. Hy laat hulle wat reg leef, sukses behaal. Hy beskerm hulle wat hulle pad suiwer hou… As jy aanvaar wat ek vir jou sê, sal jy insig hê in wat regverdig, reg en billik is. Jy sal op die goeie pad bly’ (Spreuke 2:6-9 NLV).

2) Gaan hulle beweegredes na. Johannes skryf: ‘Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak…’ (Openbaring 20:12 NLV). Sal een daarvan ‘die boekrol van beweegredes’ wees? As dit is, sal jou optrede en prestasies onder goddelike ondersoek staande kan bly?

3) Gaan die uitkoms wat hulle verlang, na. As jy sukses soek om mag en aansien te hê, of rykdom soek net om gemak te hê, oortree jy een van die kernbeginsels van God se Woord: Jy is geseën om ‘n seën vir ander te wees.

Sielskos: Job 38-39; Luk 22:24-38; Ps 6; Spr 8:32-33