Jy dors na God

2023-02-19
Johannes 4:15 NLV

Hierdie Samaritaanse vrou het die leegheid in haar lewe met verskeie verhoudings probeer vul. Dit het egter nie gewerk nie. Wanneer jy dit wat slegs in Christus gevind kan word in enigiemand anders soek, plaas jy soveel stres op die verhouding dat dit onder die gewig daarvan sal breek.

Hoekom het Jesus gesê: ‘Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie…” (vers 18 NLV)? Omdat jy die patroon om ander mense as ‘n narkotiese middel te gebruik om die pyn in jou innerlike leemte te verdoof, moet verbreek. Hoe meer jy die simptome medisinaal probeer behandel, hoe minder kans is daar dat jy God sal toelaat om die oorsaak te behandel.

Die ander disfunksionele neiging is dat jy aanhou om die dosis te verhoog. Wanneer jy al hoe meer van ander mense, in plaas van God, afhanklik raak om ‘n gevoel van heelheid in jou lewe te skep, misbruik jy jou verhoudings. Om aan mense vas te klou is baie anders as om hulle lief te hê. Dis nie soseer ‘n liefdesverklaring as ‘n uitroep van jou behoefte aan hulle nie. Soos wellus, is dit uiters selfsugtig. Jy neem, eerder as om te gee.

Jesus het hierdie Samaritaanse vrou se dors met sy Woord geles deur te sê: ‘Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ‘n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel’ (vers 14 NLV). Luister na haar getuienis: ‘Kom kyk self – ‘n man het my alles vertel…’ (vers 29 NLV). Wat Jesus vir haar gedoen het, sal Hy vandag vir jou doen.

Sielskos: 2 Kron 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8

Jesus wil jou vry maak

2023-02-18
Lukas 13:12 NLV

Die Bybel sê: “[Jesus het] ‘n vrou gesien wat deur ‘n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: ‘Vrou, jy is van jou kwaal genees!'” (verse 11-12 NLV).

Let vier dinge in hierdie verhaal op: die persoon, die probleem, die Groot Geneser en die voorskrif. Elke persoon, insluitend jy, sal ‘n probleem hê. Belangriker as dit is egter dat die Groot Geneser vir elke probleem, insluitend joune, ‘n voorskrif het. Jesus se openingsverklaring oor die probleem in hierdie vrou se lewe is ‘n uitdagende opdrag: ‘…jy is van jou kwaal genees!’

Nadat jy jou toestand ontleed het en die oorsprong daarvan verstaan, sal dit die gesag van God se Woord verg om die verlede agter jou te sit. Hierdie vrou het as gevolg van iets wat haar agtien jaar terug aangeval het gely, maar tog was haar trauma nog so vars soos die dag wat dit plaasgevind het. Haar probleem was in die verlede gewortel, maar die voorskrif daarvoor kon net in die huidige Woord van God gevind word.

Jesus, wat die Lewende Woord is, ‘…bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV). Dit wil sê dat die woord wat jy vandag hoor, in staat is om jou gisters te genees! Jesus het gesê: ‘Vrou, jy is van jou kwaal genees.’ Hoekom het Jesus haar nie op haar naam genoem nie? Omdat sy belofte op ons almal van toepassing is.

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Luke 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6

Jy sal deur dit kom

2023-02-17
Prediker 3:1-4 NLV

Smart kom in baie vorms na ons toe. Jy kan jou werk, jou huis of jou gesondheid verloor. Niks maak egter seerder as wanneer jy iemand vir wie jy baie lief is, verloor nie. Golwe van rou sal oor jou spoel soos die oseaan sy golwe op die strand neergooi. Wat jy ook al doen, moenie verdrink nie. Moenie daar stilstaan en toelaat dat die gety jou intrek nie. Laat jouself toe om die smart te voel sonder om dit om jou nek te bind. Laat die gewig daarvan toe om jou te help om deur jou gedagtes, jou vrese en indien nodig, jou trane te werk. Om te rou verlig die siel, soos die uitasem van koolstofdioksied jou liggaam verlig.

Daar kom egter ‘n tyd wat jy moet opstaan en aangaan. Die vlakke van rou waardeur jy beweeg is skok, ontkenning, bedinging, dan smart en uiteindelik aanvaarding. Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my’ (Psalm 23:4 NLV). Wanneer jy aan die ander kant van hierdie vallei uitkom, sal jy in staat wees om met meer dankbaarheid en minder smart, daarop terug te kyk.

In plaas daarvan om op dit wat jy verloor het te fokus, sal jy dankbaar wees vir dit wat jy oor het. Moet ook nie bang wees om daardie seldsame oomblikke van lag wat selfs in die aangesig van hartseer voorkom, te geniet nie. Lag laaf die siel en verlig die spanning van daardie tye; dit verg van ons om buite ons huidige pyn te tree en pas ons fokus aan. Dit op sigself is ‘n helende balsem. “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne…” (Spreuke 17:22 NLV).

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Luk 10:1-12; Ps 5; Spr 5:1-2

Jy kan jou selfpersepsie verander

2023-02-16
1 Korintiërs 15:10 NLV

Die wedergeboorte begin ‘n transformerende proses oor hoe jy oor jouself dink. Dit moet egter elke dag volgehou word deur jou gedagtes te vernuwe. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).

Wanneer jou gedagtes dus deur God se Woord verander word, gebeur twee dinge: a) jy weet wat sy wil vir jou is, en b) jy weet dat Hy tevrede met jou is. Wanneer hierdie twee dinge gebeur verander jou selfpersepsie, aangesien jy nie meer aan die genade van ander mense se opinies of evaluering oorgelaat word nie.

Ons opinie van onsself word diep deur die menings van die gesagsfigure in ons vormingsjare, geraak. As ons ouers geneig was om ons af te skeep of te ignoreer, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat ons nie hulle tyd, aandag en liefde werd was nie, wat ons selfwaarde afgebreek het. Soos ons egter in God se Woord volwasse word, leer ons om in die lig van ons nuwe selfbeeld te wandel en verkry ons nuwe selfwaarde.

Ongeag waardeur jy in die lewe is of die foute wat jy gemaak het, sal God jou help om te besef wie jy is en wat Hy jou begenadig het om te doen. Voor Paulus vir Christus ontmoet het, het hy Christene doodgemaak. Nadat hy egter vir Christus ontmoet het, het hy geskryf: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie…’

Wanneer jy God se goedheid verstaan – sy onverdiende, onfeilbare guns teenoor jou – sal dit jou persepsie van jouself ingrypend verander.

Sielskos: Gen 50; Haggai 1-2; Luk 9:57-62; Ps 149; Spr 4:25-27

In plaas van bekommer, vertrou God

2023-02-15
Filippense 4:6 NLV

Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Bekommernis is soos ‘n wiegstoel. Dit hou jou besig, maar dit bring jou nêrens. As jy dit inderwaarheid te lank doen, maak dit jou net moeg! Een mediese kundige sê dat ons ongeveer dertigduisend gedagtes per dag het en deur ons ongekontroleerde gedagtegang, skep ons ‘n gunstige omgewing vir siekte; ons maak onsself siek! ‘n Ander mediese navorser skat dat 87 persent van siektes met verkeerde gedagtepatrone verbind kan word.

Die bron van bekommernis is eenvoudig; dis die versuim om God te vertrou om vir die verskillende situasies in jou lewe te sorg. Die meeste van ons probeer al ons hele lewe lank om vir onsself te sorg, dus neem dit tyd – en baie daarvan – om te leer om eerder op God te vertrou. Die enigste manier wat jy leer om dit te doen, is om dit eenvoudig te doen. Elke keer wat jy bid en die probleem aan God oorgee, ervaar jy sy getrouheid. Dit maak dit makliker om Hom volgende keer te vertrou.

Wanneer dit by probleme kom, sal daar altyd ‘n volgende een wees! Wanneer jy dus begin angstig voel, sê: ‘Ek vertrou God volkome; daar is geen rede om my te bekommer nie!’ Hoe meer jy oor hierdie waarheid dink, hoe meer sal jy vind dat jy vertroue bo bekommernis kies.

Sielskos: Gen 47-49; Luk 9:46-56; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24

Reageer op die regte manier

2023-02-14
Romeine 5:3 NLV

Viktor Frankl is tydens die Tweede Wêreldoorlog na ‘n Nazi konsentrasiekamp gestuur. Die wagte daar het hom van alles ontneem. Hulle het sy vrou, sy familie en sy klere weggevat. Hulle het selfs sy trouring gesteel. Hy het egter een ding gehad wat niemand by hom kon wegneem nie. Hy het geskryf: ‘Die laaste van menslike vryhede is die vermoë om ‘n mens se houding in ‘n gegewe stel omstandighede te kies.’ Die wagte kon nie Frankl se vryheid om sy houding te kies van hom wegneem nie.

Ons weet nie wat more, of selfs vandag, gaan gebeur nie. Ons kan nie ons omstandighede beheer nie, maar ons kan ons reaksie daarop beheer. Ons kan beheer of ‘n ervaring ons sterker of swakker gaan maak, ons geloof of ons vrees gaan vermeerder, of dit ons ‘n beter of ‘n bitter persoon gaan maak. Daar is ‘n gesegde wat sê: ‘Dieselfde sonskyn wat die botter laat smelt, verhard die klei.’ God wil hê dat ons moeilikhede ons moet versterk.

Paulus skryf: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (verse 3-5 NLV).

Hier is nog ‘n belangrike gedagte – die toetse en beproewings waardeur ons in hierdie lewe gaan, is wat ons bekwaam maak om in die volgende lewe saam met Christus te heers en te regeer. Hierdie wete sal jou help om op die regte manier te reageer!

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19