Bewys genade aan diegene wat anders as jy is

2023-04-10
2 Petrus 3:18 AFR83

Dink hoeveel gelukkiger en energiek jy sou wees as jy nie probeer om mense te beheer en hulle reg te ruk nie. Een skrywer sê: ‘Gee jou geliefdes die waardigheid om hulle eie foute te maak en daaruit te leer. As jy altyd in iemand anders se besigheid rondgrawe, gaan jy nie net uitbrand nie, jy verhinder God om in hulle lewens te werk… hulle behoort aan Hom, nie aan jou nie!’

Toe wettiese Joodse gelowiges in die Nuwe Testament probeer het om kosjer wette op nie-Joodse gelowiges af te dwing, het Paulus geskryf: ‘Dié wat vrymoedigheid het om alles te eet, moet nie uit die hoogte neersien op hulle wat dit nie doen nie. Net so moet die nie-eters die eters nie veroordeel nie, want God het hulle by Hom verwelkom’ (Romeine 14:3 NLV). Net omdat jy nie vry voel om iets te doen nie, gee dit jou nie die reg om diegene wat dit doen te veroordeel nie – tensy dit duidelik in die Skrif verbied word.

Gladys M. Hunt skryf: ‘Aanvaarding beteken dat jy kosbaar is net soos jy is. Jy kan praat oor hoe jy voel en hoekom – en iemand gee regtig om. Jy kan nuwe idees opper sonder om afgeskiet te word. Jy kan selfs ketterse gedagtes uitdruk en dit met intelligente bevraagtekening bespreek. Jy voel veilig. Niemand sal oordeel uitspreek nie, selfs al stem hulle nie met jou saam nie. Dit beteken nie dat jy nooit tereggewys sal word nie, dit beteken eenvoudig dat dit veilig is om jouself te wees.’

Wanneer dit by die waarheid kom, staan vas! Wanneer dit egter by nie-noodsaaklikhede soos persoonlike voorkeure, gebruike en tradisies kom, behoort elkeen ‘…seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband’ (Romeine 14:5 NLV).

Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 24:13-18; Ps 50:1-15; Spr 9:13-16

‘n Nuwe avontuur

2023-04-09
Hebreërs 2:15 NLV

Toe Charles Lindbergh, die eerste persoon wat alleen oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het, sterwend aan kanker was, het hy hierdie woorde neergeskryf om by sy begrafnisdiens voorgelees te word: ‘Ons vertrou die liggaam van Charles A. Lindbergh tot sy laaste rusplek toe; maar ons gee sy gees aan die Almagtige God oor, met die wete dat die dood maar ‘n nuwe avontuur is.’ Die dood is slegs ‘n nuwe avontuur, dus is daar geen rede om dit te vrees of te ignoreer nie. Jy kan dit as gevolg van Christus met vreugde en selfvertroue in die gesig staar. Sy opstanding waarborg joune.

Aristoteles was verkeerd; die dood is nie iets wat gevrees moet word nie. Die Grieke was verkeerd, die roeier Charon sal jou nie oor die Styx-rivier na die vergetelheid in ‘n sonlose wêreld van geeste vervoer nie.

As ‘n gelowige word jy nie begrawe nie, jy word geplant! ‘Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies… Ons liggame wat in die grond geplant word, is maar heel gewoon, maar hulle sal in glansende heerlikheid opgewek word. Hulle is maar baie broos wanneer hulle geplant word, maar hulle sal vol krag wees wanneer hulle opgewek word’ (1 Korintiërs 15:42-43 NLV).

Een dag toe die Heilige Franciscus van Assisi besig was om sy tuin te skoffel, het ‘n man hom gevra wat hy sou doen as hy skielik sou weet dat hy daardie dag teen sonsonder sou sterf. Hy het geantwoord: ‘Ek sou my tuin klaar skoffel.’ Hier was ‘n man wat gereed was om dood te gaan en sonder die vrees vir die dood, was hy gereed om elke oomblik uit die lewe te put. Dis hoe jy ook moet lewe!

Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-12

Hy het klere met ons uitgeruil

2023-04-08
Johannes 19:23 NLV

Johannes skryf: ‘Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy boklere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ‘n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle het toe vir mekaar gesê: ‘Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot wie s’n dit sal wees’…’ (verse 23-24 NLV).

Joodse moeders het tradisioneel hierdie kleed as ‘n geskenk vir hul seuns wat die huis verlaat, gemaak. Alhoewel ons nie weet of Maria Jesus se kleed gemaak het nie, was dit heel waarskynlik ‘n kosbare besitting. Dis ook betekenisvol, omdat klere dwarsdeur die Bybel gedrag en karakter simboliseer. Paulus sê: ‘…By julle doop het julle Christus aangetrek soos ‘n mens ‘n stel nuwe klere aantrek…’ (Galasiërs 3:27 DB).

Die woorde: ‘… van bo tot onder aaneen geweef,’ dui aan dat Jesus altyd deur God se gedagtes gerig is. Hy het inderwaarheid gesê: ‘…die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen…’ (Johannes 5:19 NLV). Toe Jesus gekruisig is, het Hy sy naatlose kleed eenkant gesit, en ‘…in ons plek ‘n vervloekte [ge]word…’ (Galasiërs 3:13 AFR83), deur die kleed van sonde waarop ons name geskryf was, aan te trek.

Hy het soos ‘n gewone misdadiger vir sonde wat Hy nie gepleeg het nie gesterf, sodat ons die kleed van sy geregtigheid kan aantrek. Sodat sondaars soos ons wat na die kruis kom, daar kan wegstap met ‘…regverdigheid aan soos ‘n borsplaat…’ (Jesaja 59:17 NLV), die belt van ‘…regverdigheid… en ook waarheid’ (Jesaja 11:5 NLV), en ‘…klere van redding…’ (Jesaja 61:10 NLV), aan ons lyf. Jesus het nie net ‘n plek in die hemel vir ons voorberei nie; Hy het ook seker gemaak dat ons reg vir die geleentheid aangetrek sou wees.

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 23:50-56; Ps 69:7-21; Deut 21:22-23

Hoe kon Hy dit doen?

2023-04-07
Romeine 5:8 NLV

As jy al Schindler’s List gekyk het, het jy seker na die tyd gevra: ‘Hoe kon hulle dit gedoen het?’ Die storte… die oonde… die skoorstene wat menslike oorskot uitrook. Treine wat daagliks met moeders, vaders, kinders en bejaardes opdaag – soos beeste op pad na ‘n slagplaas. Die ergste van alles – soldate wat bevele uitvoer sonder om ‘n oog te knip. Hoe kon hulle dit doen?

Die antwoord is sonde! As jy dink dat slegs Hitler en sy trawante ‘n monopolie op sonde besit, dink weer! Dawid het gesê: ‘Want ek is as sondaar gebore en was dit voor my geboorte’ (Psalm 51:7 NLV). Sy eie ongure hoofstuk van owerspel en moord bevestig dit.

Lees die volgende opsomming wat ons almal beskryf: ‘Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ‘n enkele een nie. Hulle kele is ‘n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs’ (Romeine 3:12-14 DB).

Jy moet dit verstaan sodat jy die volgende kan waardeer: ‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Wanneer jy hierdie Skrifgedeelte lees, verander die vraag na: ‘Hoe kon Hy dit doen?’ Dank God dat ons nie die straf kry wat ons verdien nie. Ons het egter gekry wat ons nodig het – genade!

William R. Newell het geskryf: ‘Oh, the love that drew salvation’s plan! Oh, the grace that brought it down to man! Oh, the mighty gulf that God did span at Calvary!’ Neem vandag ‘n oomblik en dank God vir die genade wat jou verlos het. Dis waaroor Goeie Vrydag gaan.

Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53

Voorwaarts en opwaarts

2023-04-06
Filippense 3:14 NLV

Om God se wil vir jou lewe te vervul, moet jy die volgende doen:

1) Na ‘n hoër vlak van geloof beweeg (sien Romeine 1:17). Voor Dawid vir Goliat doodgemaak het, moet hy eers ‘n leeu en ‘n beer doodmaak. Deesdae worstel ons met kwessies wat vereis dat ons God nog meer moet vertrou.

2) God se leiding in elke situasie soek (sien Spreuke 3:6). Hy belowe: ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV).

3) Jouself geestelik belyn. God is besig om sy volk in lyn te bring en diegene saam te bring wat as een man sal staan wanneer die stryd aanbreek. Dit is noodsaaklik om te weet wie jy kan vertrou om saam met jou te veg en jy ontdek sulke mense net in tye van beproewing (sien Josua 8:1).

4) God se wil vir jou lewe ken. God speel nie wegkruipertjie met sy wil nie. Wanneer jy tyd met Hom bestee, sal jy dit ontdek (sien Psalm 143:10) Wanneer jy dit doen, sal jy floreer.

5) God se Woord in die stryd te gebruik. Die Godgegewe woorde wat in die Skrif gevind word, is jou krag in tye van moeilikheid en toetse. Jesus het die Woord gebruik om Satan die aftog te laat blaas (sien Matteus 4). Die wapen van God se Woord werk steeds vandag.

6). Moenie oormatig introspektief wees nie. Net die Heilige Gees het die vermoë om ons harte en gedagtes te ondersoek en te ken (sien Johannes 16:8-15). God sal areas wat korreksie nodig het volgens sy tyd openbaar. Totdat dit gebeur, beweeg in geloof vorentoe.

7) Pas jou gedagtes op. Maak dit ‘n ommuurde stad wat toegang tot negatiewe gedagtes en skadelike invloede weier (sien Spreuke 4:23 NLV).

Sielskos: Lev 8-10; Luk 23:13-25; Ps 26; Spr 9:10-12

Vereenvoudig jou lewe

2023-04-05
Matteus 11:28 NLV

Die gemiddelde kantoorwerker word elke dag met meer as tweehonderd boodskappe via e-pos, sms, Twitter en blogs gebombardeer. Een uit drie bestuurders raak inderwaarheid as gevolg van inligting-oorlading siek. Dit laat mens wonder – as tegnologie ons al hierdie tyd en energie spaar, hoekom is ons so kapot? Sukses bied meer geleenthede vir die Vyand om jou in die grond in te dryf.

Dis nie ‘n lewe nie en dit is vir seker nie God se wil vir jou lewe nie. Moenie wag tot jy die bodem tref, afgedank word, jou lewe weggooi of jou familie verloor nie. Moenie wag tot jy te oud, te lendelam of te verknog aan jou leefwyse is nie. Vandag sê Jesus vir jou: ‘Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik… Kom leer van My…’ (Matteus 11:28-29 NLV).

Die leierskapskundige en christelike skrywer, Phil Cooke, sê: ‘Die Here sal nie die druk verlig terwyl jy op die verkeerde plek en tyd is, terwyl jy die verkeerde dinge saam met die verkeerde mense doen nie. As jy die korporatiewe leer uitklim en jou gesin afskeep, is jou prioriteite verkeerd. Wanneer jy in God se wil is, kan jy hard werk maar lig reis! Hy sal jou laste dra en die gewig op Homself neem. Om jou lewe te vereenvoudig beteken dat jy minder ure werk, tyd vir ontspanning maak en meer in jou geliefdes belê. Markte, opdragte, persoonlikhede en situasies verskil, maar hierdie beginsels is vir almal waar.’

Die woord vir jou vandag is dus – vereenvoudig jou lewe.

Sielskos: Eks 12:1-14; Matt 26:1-29; Ps 49:1; 1 Kor 11:20-34