2023-04-16
Handelinge 6:1 DB
Aangesien die regering in die tyd van die Nuwe Testament nie na weduwees en weeskinders omgesien het nie, het die kerk verantwoordelikheid daarvoor geneem. Ongelukkig het vooroordeel sy lelike kop uitgesteek en het die Joodse weduwees en weeskinders voorkeurbehandeling bo die ander gekry. Hoe het die kerkleiers daarop gereageer? Hulle kon dit maklik afgewys het, soos ons so dikwels doen. Hulle kon gesê het: ‘Ons is geroepe om siele, nie mae nie, te voed. Ons hanteer kwessies van sonde en redding, nie van sandale en sop nie.’
Hier is egter wat hulle gedoen het. Eerstens, het hulle ‘n vergadering belê om die probleem op te los (sien Handelinge 6:2). Hulle het elke gemeentelid laat verstaan dat hulle armoede ernstig opneem en dat elkeen persoonlik voor God verantwoordelik is om iets daaraan te doen. Die Skrif steun nie gedwonge kommunisme nie, maar dit skryf duidelike Gees-geleide vrywilligerswerk voor.
Tweedens, het hulle die probleem aan hulle slimste en beste mense gegee. Hulle het sewe mans – gerespekteerde gemeentelede, vol van die Heilige Gees en wysheid – gekies om die verantwoordelikheid oor te neem (sien Handelinge 6:3).
In plaas daarvan om ons kinders vir belangrike velde soos medies, die regte, politiek of die regering voor te berei, kom ons leer hulle dat om na behoeftiges om te sien, een van God se hoogste roepings is.
Hoekom gaan meer as ‘n biljoen mense elke aand honger bed toe? Hoekom sterf meer as dertigduisend kinders (een elke drie sekondes) aan wanvoeding en voorkomende siektes wanneer ons iets daaraan kan doen? Niemand kan alles doen nie, maar God het elkeen van ons geroep om iets te doen! ‘Suiwer en onbevlekte godsdiens… is dat ons weeskinders en weduwees in hulle swaarkry versorg, en dat ons nie toelaat dat die wêreld ons besmet nie’ (Jakobus 1:27 NLV).
Sielskos: 2 Kon 6:1-23; Ef 1:15-23
2023-04-15
2 Korintiërs 3:18 NLV
Soos die ou gesegde lui – jy word aan jou vriende geken. Paulus verduidelik dit as volg: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (vers 18 NLV).
Hoe meer tyd jy in God se teenwoordigheid bestee, hoe meer sal jy sy ewebeeld weerspieël en sy teenwoordigheid met jou saamdra. Die Bybel sê vir ons dat nadat Moses veertig dae op ‘n berg in God se teenwoordigheid deurgebring het, kon die Israeliete nie na sy gesig kyk nie, omdat die heerlikheid van die Here daarop gereflekteer was (sien Eksodus 34:29). Moses het al meer soos God geword, namate hy al hoe meer tyd in sy teenwoordigheid deurgebring het.
Die Bybel sê: ‘Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV). Dit beteken dat jy altyd ‘n spieël is, maak nie saak wat jy doen nie! Jesus het gesê: ‘Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!’ (Matteus 5:16 NLV). Met ander woorde, mense moet na jou kyk en God wat binne-in jou woon, kan sien. Dit moet die geval by die huis, by die werk, wanneer jy ontspan en enige ander plek waar jy jouself mag bevind, wees.
Sielskos: Lev 26-27; Matt 1:1-6; Ps 32; Spr 10:4-7
2023-04-14
Psalm 44:4 NLV
Het jy gehoor van die padda wat nie water kon kry nie, dus het hy twee voëls gevra om hom na ‘n dam daar naby te neem? Hy het hulle oortuig om elkeen die punt van ‘n stokkie in hulle bekke te neem, terwyl hy die middel van die stokkie vasbyt, sodat hulle sodoende met hom tot by die dam kon vlieg. Dit was nogals ‘n vreemde verskynsel: twee voëls, een stokkie, met ‘n padda in die middel. Hulle het goed gevorder, totdat ‘n koei in die veld opgekyk het en gevra het: ‘Wie se idee was dit?’ Die padda kon dit nie weerstaan nie. Trots het oor omsigtigheid geseëvier en terwyl hy na die aarde toe geval het, het hy geskree: ‘Dit was my ideeeee…!’
Moenie dieselfde fout maak nie. ‘Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid kom net voor die val’ (Spreuke 16:18 NLV).
Hoekom is jy goed met dit wat jy doen? Vir jou eie gemak? Om vir jou aftrede te spaar? Om jou selfvertroue te versterk? Nee, dis alles bonusse, maar nie die hoofrede nie. Jy is goed met dit wat jy doen – om God se onthalwe. Dit gaan oor Hom, nie oor jou nie! Lees hierdie woorde en oordink dit in jou hart: ‘Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk’ (1 Kronieke 29:12 NLV).
Nadat hy al Israel se oorwinnings, seëninge en suksesse onthou het, herinner Dawid ons: ‘Hulle het nie die land met die swaard verower, of die oorwinning deur eie krag behaal nie. Maar deur u krag was hulle suksesvol, deur u teenwoordigheid en u goedheid’ (Psalm 44:4 NLV). Hou in gedagte dat die seëninge wat jy elke dag ervaar, slegs joune is omdat God jou begunstig. Dis die waarheid!
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Luk 24:45-53; Ps 25:16-22; Spr 10:3
2023-04-13
Efesiërs 3:19 NLV
Prinses Alice was koningin Victoria se dogter. Toe haar seun ‘n ongeneeslike siekte genaamd swart difterie opgedoen het, het die dokters die seun in kwarantyn geplaas en sy ma gewaarsku om weg te bly van hom sodat sy nie ook geïnfekteer word nie. Een dag het sy gehoor hoe haar seun vir sy verpleegster fluister: ‘Hoekom wil my ma my nie meer soen nie?’ Sy woorde het haar hart diep getref en sy het na hom toe gehardloop en van kop tot tone gesoen. Binne ‘n paar dae het sy egter gesterf en is begrawe.
Wat sal ‘n ma noop om haar lewe vir haar kind te waag? Liefde! Staan nou by die kruis en vra wat sou Christus genoop het om iets selfs groters vir ons te doen? Liefde! Paulus het aan die gelowiges in Efese geskryf: ‘Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef…’
Miskien het die mense wat jou moes liefgehad het, dit nie gedoen nie; en diegene wat jou kon liefhê, wou nie. Miskien is jy by die hospitaal gelos, of by die altaar verlaat, of met ‘n leë bed en ‘n gebroke hart agtergelaat. Ongegag die rede, jy is met die volgende vraag gelaat: ‘Is daar enigiemand wat lief is vir my?’ Vandag antwoord Christus omonwonde: ‘Ek is!’ Die liefde wat Hy vir jou het, gaan alle verstand te bowe.
Die gesangeskrywer, Charles Gabriel, het geskryf: ‘I stand amazed in the presence of Jesus the Nazarene, And wonder how he could love me, a sinner, condemned, unclean. How marvelous! How wonderful! And my song shall ever be: How marvelous! How wonderful! Is my Saviour’s love for me!’ God kan nie liewer vir jou wees as wat Hy op hierdie oomblik is nie en dit sal nooit verander nie.
Sielskos: Lev 21:1-23:25; Luk 24:36-44; Ps 25:8-15; Spr 10:2
2023-04-12
Lukas 6:45 NLV
Waar kom goedheid vandaan en hoe kan jy dit in meer van jou daaglikse besluite en aksies kweek? Sommige mense dink dat goedheid ‘n kwessie van die kop is en dat die regte denke die regte lewe tot gevolg het. Vandag wek elke politikus die indruk dat onderwys die wondermiddel vir feitlik elke probleem in die samelewing is. Tog sal opvoeding van die kop, sonder dieselfde klem op integriteit van die hart, slegs slim duiweltjies voortbring. Indien opvoeding alleenlik die antwoord was, sou witboordjie misdade heel waarskynlik skerp gedaal het.
Ander dink weer dat goedheid ‘n kwessie van hande is. Hulle sê dat goedheid beteken dat jy mense goed behandel. Om goed te doen maak egter nie van iemand ‘n goeie persoon nie. Moordenaars wat in die tronk is mag dalk goed vir hul moeders wees, maar hulle is nie goeie individue nie.
Die waarheid is dat goedheid nie in jou gedagtes of jou hande te vinde is nie; dis weggesteek in jou hart. Jesus, die beste mens wat ooit gelewe het, het gesê: “‘n Goeie mens bring goeie dade voort uit ‘n goeie hart…” Goedheid is nie net ‘n kwessie van wat ons weet of wat ons doen nie; dis ‘n kwessie van wie ons is. Dit maak nie saak hoe lank jy lewe nie, maar hoe goed jy lewe.
Sir Francis Bacon het een keer gesê: ‘Van alle deugde en vaardighede van die verstand, is goedheid die belangrikste, omdat dit die karakter van God is; daarsonder is die mens ‘n besige, ondeunde, ellendige ding.’ Beweeg dus nader aan God in jou begeerte om goed te wees. Jy word immers soos die geselskap wat jy hou.
Sielskos: Lev 18-20; Luk 24:25-35; Ps 25:1-7; Spr 10:1
2023-04-11
Psalm 134:1 NLV
God het tyd in dae en nagte verdeel; dus sal jy ‘dag-ervarings’ en ‘nag-ervarings’ hê. Jy kan byvoorbeeld ‘n ‘nag-ervaring’ in ‘n skeihof, wanneer jy bankrot verklaar word, of wanneer jy werkloos is, of langs ‘n graf, hê. Omdat jy nie duidelik in die nag kan sien nie, is dit maklik om te wonder of God regtig daar by jou is. Hou moed – Hy is! Met farao se weermag op hul hakke en die Rooi See voor hulle, het die Israeliete voor hul grootste uitdaging te staan gekom. Die Bybel sê egter: ‘…Die Here het die water teruggedryf met ‘n sterk oostewind wat deur die nag gewaai het…’ (Eksodus 14:21 NLV).
Wees bemoedig; God is aan die werk selfs wanneer jy Hom nie kan sien nie. George Matheson het die volgende gesang geskryf: ‘Will I remain in God’s house at night… love Him for who He is… desire not the gift but the giver? When I can remain… during the darkness of night and worship… I’ve accepted Him for Himself alone.’
Moenie net na God toe draai wanneer jy ‘n wonderwerk nodig het nie; fokus op jou verhouding met Hom en jy sal ‘n wonderwerk ontvang wanneer jy een nodig het. Jesus het gesê: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry’ (Johannes 15:7 NLV).
Nadat hy alles naby en dierbaar aan hom verloor het, het Job se vriend, Elihu, vir hom gesê: ‘…Waar is God, ons Maker, die Een wat ons ‘n lied laat sing in die nag?’ (Job 35:10 NLV). Jesus het gesê: ‘Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê…’ (Matteus 10:27 AFR83). Hou moed; dis tydens jou nag-ervaring wat die Here jou stabiliseer, ondersteun en versterk sodat jy oorwinning kan behaal.
Sielskos: Lev 15-17; Luk 24:19-24; Ps 50:16-23; Spr 9:17-18