2023-02-25
Prediker 3:6 NLV
Hoe kan ons ons kinders help om die lewe se verliese te navigeer?
1) Moenie hulle kapasiteit vir droefheid onderskat nie. Kinders is dikwels die ‘vergete’ bedroefdes. Hulle pyn is waarlik en intens; erken en verklaar dit dus geldig.
2) Moenie dit vermy om oor die verlies te praat wanneer hulle teenwoordig is nie. Deur hulle van volwassenes wat rou weg te hou, ontneem jy hulle die geleentheid om ondersteuning te ontvang en hulle verlies beter te verstaan. Sluit hulle by die familie se ervaring van rou in.
3) Moedig hulle aan om hulle gevoelens oor die verlies te deel. Leer hulle dat hulle nie hoef ‘sterk’ te wees nie en bevestig dat hulle gevoelens saakmaak. Baie jong kinders het ‘n beperkte begrip van die betekenis, permanensie en onomkeerbaarheid van die dood. Hulle kan net baie kort en konkreet daaroor praat. Ouer kinders verstaan die betekenis daarvan en moet aangemoedig word om daaroor te praat.
4) Maak voorsiening vir elke kind se persoonlikheid. Kinders wat introverte is mag dalk hulle eie spasie nodig hê; terwyl ekstroverte dit mag nodig hê om daaroor te praat en te sosialiseer. Afhanklike kinders het sterk volwassenes rondom hulle nodig; onafhanklike kinders kan baie dinge self hanteer.
5) Kommunikeer op ‘n realistiese manier met hulle. Volwassenes gebruik dikwels woorde wat kinders verwar. ‘Jou pa het huis toe gegaan… vir ewig aan die slaap geraak… is die ewige rus in’ ens. Om die dood as die einde van hierdie fisiese lewe te beskryf is Bybels, verduidelik die betekenis van verlies en laat kinders toe om vrae wat vir hulle saakmaak, te vra. Jou kinders kan verlies hanteer en verstaan dat die ewige lewe God se wonderlike oplossing is; dat ons eendag by ons geliefdes in die hemel gaan aansluit (sien Johannes 14:2-3).
Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11
2023-02-24
Prediker 3:2 NLV
Navorsers by die Colorado Instituut vir Leed bied die volgende nuttige vlakke na herstel aan.
Vlak 1 – Skok. Ons eerste reaksie is een van ontkenning en ongeloof. ‘Ek kan nie glo dit gebeur nie – dis nie waar nie!’ Daar is ‘n verdowing van ons sintuie, ‘n God-ontwerpte natuurlike ‘narkose’ wat die eerste slag buffer en ons tyd gee om ons hanteringsmeganismes bymekaar te maak.
Vlak twee – Protes. Ons voel woede en wrokkigheid teenoor God, tog voel ons skuldig omdat ons Hom blameer. Ons blameer onsself, die dokters, die pasiënt en bevraagteken God se liefde en getrouheid – ons onderhandel selfs met Hom. ‘As U net ‘n wonderwerk sal doen en hulle terugbring, sal ek…’
Vlak drie – Wanorde. Alles val uitmekaar. Die leefstyl wat ons geken en liefgehad het, rafel uit. Die drome wat ons gekoester het, verdamp. Ons voel hopeloos, magteloos en verlore in ‘n vreemde, leë heelal. Sekondêre verliese kan opduik: finansiële onsekerheid, sosiale ontwrigting, depressie, verlies aan konsentrasie, ens. Ons is oortuig dat die lewe nooit weer normaal sal wees nie. Ons oorleef van oomblik tot oomblik, te bang om oor die pad vorentoe te dink.
Vlak vier – Herorganisasie. Onverbiddelike hartseer maak plek vir golwe van hartseer wat in frekwensie en intensiteit wissel. Ons begin om ons verlies te akkommodeer en te aanvaar. Die energie wat ons aan ons hartseer bestee het, kan weer begin gebruik word om aan die eise en geleenthede van ons nuwe leefstyl te voldoen. Stadig kom ons weer op die been en neem weer die leisels oor. Die proses sal baie maande neem en volle herstel selfs jare. God beloof egter dat dit sal gebeur! Daar sal ‘n tyd wees om ‘…gesond te maak… ‘n tyd om op te bou… te lag… te dans’ (Prediker 3:3-4 NLV).
Sielskos: 1 Tess 1-5; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8
2023-02-23
Prediker 3:6 NLV
God se Woord ignoreer of verklein nie die pynlike realiteite van die lewe nie. Ons en ons geliefdes sal onvermydelik verliese in die lewe ervaar: siekte, oud word, dood, egskeiding, liggaamsgebrek, verlies van onafhanklikheid, werkloosheid, finansiële druk, ens. Groot verliese plaas ons in onbekende situasies. Dus moet ons die dinamika van ons verlies verstaan sodat ons daardeur kan beweeg en weer begin lewe.
Lewensveranderende verliese begin met die pynlike gevoel dat iets of iemand wat onontbeerlik vir ons was, weggeneem is, wat ons ontredderd laat voel. Dan kom die droefheid – brandende emosies van oorweldigende hartseer wat dikwels met woede, benoudheid, verwarring en hulpeloosheid gepaard gaan. Vervolgens beweeg ons aan na die rou fase toe – en ons begin om ons leed en verlies uit te druk. Dis die fase van harde werk – trane, herinneringe en hartverskeurende huil wat ons tot in ons diepste wese skud. Ons voel skuldig en spyt oor dit wat ons gedoen of gesê het, of nie gedoen en gesê het nie.
Ons hartseer gee diegene rondom ons die geleentheid om te reageer en om die vertroosting en gerusstelling wat ons nodig het om te begin genees, aan te bied. Dit is God se protokol om gebroke harte te genees. Die Israeliete se geliefde leier is op 120 jaar oorlede en het ‘n bedroefde nasie agtergelaat (sien Deuteronomium 34). God het hulle toegelaat om vir dertig dae oor hulle verlies te rou en mekaar te vertroos, voordat hulle weer hul dagtake hervat het.
Neem dus die tyd wat jy nodig het om die werk te doen om oor jou verlies te treur, want Jesus het gesê: ‘Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee’ (Matteus 5:4 NLV).
Sielskos: Rom 15-16; Luk 11:14-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5
2023-02-22
Lukas 22:31-32 NLV
Jon Walker sê: ‘Toe Jesus vir Petrus gesê het: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif…’ wonder ons hoekom die Here daartoe ingestem het. ‘n Goeie sifting verheerlik God, soos Job wat aangehou het om sy Maker te loof toe dinge verlore gelyk het. Dit ondersoek jou swakhede. Waar jy nog steeds dink, ‘Ek kan’, sal ‘n goeie, vinnige sifting jou noop om te sê: ‘Ek kan nie, maar God kan.’ Dit laat God toe om die afleidings wat jou kan verhinder om sy doel in jou lewe te verwesenlik, weg te krap.
Petrus se sifting het al sy stamp-en-snork-geblaas weggeskraap en ‘n hart wat leerbaar en gewillig was om Kornelius en sy nie-Joodse gesin in die familie van God te verwelkom, geopenbaar. Let op, Jesus het nie gesê: ‘Maak jouself vir ‘n warrelwind van seer gereed, Petrus. Ek weet jy gaan My in die steek laat!’ nie. In plaas daarvan het Hy na die toekoms verwys.
Petrus sou die sifting oorleef; hy sou nederig, maar sterker terugkom, met die doelwit om sy broers en susters te versterk. Die Here het vir die sifting ja gesê om Petrus van ‘n leier wat dien, na ‘n dienskneg wat lei te verander. Dit is ‘n beduidende verskuiwing van die denke van mense na die denke van God.
Jy mag dalk dae hê wanneer jy wonder of God besig is om toe te laat dat Satan jou sif. Jy kan ‘n God-siening daarvan inneem, met die wete dat Hy altyd in beheer is. ‘Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV).’
Sielskos: Rom 12-14; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23
2023-02-21
Psalm 23:2 NLV
Selfs wanneer jy reg lewe en al die regte dinge doen, kan die lewe jou steeds gedreineerd laat voel. Soms voel jy gedreineerd, nie omdat jy enigiets verkeerd gedoen het nie, maar net omdat jy in die wêreld woon. Die kombinasie van die wêreld, die vlees en die duiwel sal jou geestelike lewenskrag by jou steel as jy dit toelaat.
Jy probeer bid, maar die woorde kom nie. Jy weet dat jy jou Bybel behoort te lees, maar wanneer jy probeer om dit te doen, raak die letters deurmekaar en niks maak sin nie. Jy is nie lus om na geestelike mense, veral die van hulle wat jy vermoed hulle positiewe standpunte veins, te luister nie. Jy gaan net deur die geestelike bewegings, knik jou kop en sê amen; maar in jou siel voel jy leeg.
Dawid, wat eers ‘n skaapwagter was, het gesê dat God ons laat rus. Hoekom? Omdat ons net soos skape sal aanhou ronddwaal en onsself uitput.
Let op die twee dinge wat Dawid sê: 1) ‘Hy laat my rus in groen weivelde…’ Die woord ‘groen’ beteken ‘vars.’ Jy het elke dag deur gebed en ‘n nuwe inname van sy Woord, ‘n vars ontmoeting met God nodig. Brood is nie die enigste ding wat oud kan raak nie; jou geestelike lewe kan ook.
2) ‘…Hy bring my by waters waar daar vrede is’ (vers 2 AFR83). Jy het tyd vir stilte en introspeksie nodig. ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Die enigste manier om God intiem te leer ken, sy leiding aan te voel en krag uit sy mag te put, is om stil te wees.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20
2023-02-20
Psalm 127:3-4 NLV
Ons kinders is soos pyle; hulle moet in die regte rigting gerig word. Wanneer hulle in die verkeerde rigting gerig word, kan hulle in geweld, dwelms en vernietigende leefstyle opeindig. Solank ons hulle bespot of oordeel, sal hulle nooit gemaklik voel om vir hulp na ons te draai nie. Gebreekte pyle kom in alle kleure en vorms voor: swart, wit, ryk, arm. Pyn bevooroordeel nie; dit spaar geen ouderdoms- of sosiale groep nie.
Wat is die antwoord? Laat die sterkes die laste van die swakkes dra (sien Romeine 15:1). ‘Jesus… het ‘n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak’ (Matteus 14:14 NLV). Toe die dissipels gedink het dat hulle in die storm gaan sterf, het hulle nie Christus se krag uitgedaag nie, maar sy deernis: ‘…Leermeester, skeel dit U niks dat ons besig is om te vergaan nie?’ (Markus 4:38 NLV).
Waar daar nie deernis is nie, sal daar nie ‘n wonderwerk wees nie. Eers wanneer jy deur iemand se pyn geroer word, eerder as om deur hulle simptome afgesit te word, kan jy hulle genesing meebring. Een skrywer merk op: ‘Ons kan soveel kerke bou soos ons wil. As mense egter nie ‘n liefdevolle stem in ons heilige sale kan vind nie, sal hulle onaangeraak deur ons clichés en godsdienstige retoriek beweeg. Kerk is nie ‘n klub vir welgesteldes nie, maar ‘n hospitaal vir diegene wat genees en bevry moet word. Jy hoef nie van alles te hou van die mense wie jy geroep is om te dien nie, maar jy moet hulle liefhê omdat God dit doen.’
Ons is geroep om diegene wat die wêreld weggegooi het bymekaar te maak, omdat hulle vir God saakmaak: “Die magtige Here sê: ‘Die dag as Ek ingryp, sal hulle my kosbare besitting wees…'” (Maleagi 3:17 NLV).
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Luk 10:25-37; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14