2023-04-23
Genesis 35:14 NLV
Daar is gebeurtenisse in ons hele lewe wat, as ons terugkyk daarna, ons die hand van God daarin kan sien. Een skrywer stel dit so: ‘Miskien het jy iemand raakgeloop wat jou aan jou eggenoot voorgestel het. Of ‘n kollega het bedank en skielik is jy bevorder. Of ‘n vreemdeling het iets gesê wat tot jou hart gespreek het. Hierdie is alles tekens van God se guns en wanneer jy in die versoeking kom om moedeloos te word, moet jy onthou hoe God die deur vir jou oopgemaak het, hoe Hy ‘n weg vir jou gebaan het, hoe Hy jou lewe gespaar het, hoe Hy jou kind gesond gemaak het. Daar is nie so iets soos toeval nie. Wanneer iets goeds gebeur, moet jy erken dat dit God is en gereeld daaraan dink.’
In die Ou Testament het Jakob ‘….’n klip soos ‘n pilaar regop gesit op die plek waar God met hom gepraat het…’ Het jy onlangs enige pilare as gedenktekens opgerig? ‘n Seker manier om jou geloof te bou is om al die kere wat God ‘n deur wat gesluit en versper was vir jou oopgemaak het, dae wat jy eensaam was en God die regte persoon in jou lewe ingebring het, nagte wat jy so sleg gevoel het dat jy gedink het jy gaan nie die oggend sien nie, te onthou. Skielik het God dinge vir jou omgedraai, jou uit die put gelig, jou ‘n nuwe begin gegee en vandag is jy gelukkig, gesond en heel.
Die beste van alles is dat indien Hy dit voorheen gedoen het, sal Hy dit weer doen! Hy is vandag dieselfde as wat Hy gister was en wanneer jy die tyd neem om sy goedheid en getrouheid te onthou, versterk dit jou om aan te hou om die goeie geveg van geloof te veg.
Sielskos: Eks 17:8-16; Ef 3:14-21
2023-04-22
Psalm 107:13-14 NLV
Toe die Israeliete na God geroep het, het Hy hulle ‘uit duisternis en somberheid gered, en hulle boeie stukkend gebreek.’ Hy kan jou ook bevry van dit wat jou vandag gevange hou. Dis ook nie net ‘n tydelike vryheid nie, maar ‘n langtermyn vryheid: ‘As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees’ (Johannes 8:36 NLV).
Hier is twee tree wat jy na vryheid kan neem: 1) Roep na die Here. God het gesê: ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). Hou op om dit alleen te probeer hanteer. As jy jouself kon red, sou jy nie ‘n Redder nodig gehad het nie. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). 2) Voed jou siel geestelik.
Vryheid is ‘n tweeledige proses. Die eerste is nagmaal met Jesus. Die Israeliete het die Paaslam geëet in voorbereiding om slawerny te verlaat. Jesus, die Lam van God, verklaar: ‘Ek is die brood wat lewe gee… As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe…’ (Johannes 6:51 NLV). Wanneer jy jou gevoelens en behoeftes met Hom deel, sal dit jou las en eensaamheid verlig en jou siel voed. Jesus het gekom, ‘…om aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word… dat onderdruktes bevry sal word…’ (Lukas 4:18 NLV).
Die tweede deel is om op die Skrif te mediteer. Die Israeliete het slawe geword omdat hulle God se Woord verwerp het: ‘Hulle het in opstand gekom teen die voorskrifte van God. Die leiding van die Allerhoogste het hulle geminag. Daarom… hulle het gestruikel, en daar was niemand om te help nie’ (Psalm 107:11-12 NLV). Om vry te word en vry te bly, moet jy jou elke dag op God se lewensgewende Woord voed.
Sielskos: 1 Kor 15-16; Matt 3:1-10; Ps 103:13-22; Spr 10:14
2023-04-21
Eksodus 3:7 NLV
Die Israeliete is vir vierhonderd jaar deur hul Egiptiese slawedrywers gevange gehou en onderdruk en hulle ‘…het die lewe bitter swaar gemaak vir die Israeliete…’ (Eksodus 1:14 NLV). ‘n Mens kan hulle gevoelens van hulpeloosheid verstaan wanneer jy die areas in jou eie lewe waar jy vir vryheid van ou gewoontes veg, oorweeg. Of dit nou woede, kos, alkohol, dwelms, seks, geld of verkeerde verhoudings is, ons ervaar ‘n sin van magteloosheid in ons stryd daarteen.
Die Israeliete het egter na God geroep en Hy het geantwoord: ‘…Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle…. om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry.’ Vandag sien God jou, God hoor jou en God is besorg oor jou. Hy het gesê: ‘Daarom het Ek gekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei… na hulle eie mooi, groot land. Dit is ‘n land met oorgenoeg kos…’ (Eksodus 3:8 NLV).
Let op dat die Here gekom het om hulle te bevry. Hoe het Hy dit gedoen? Hulle verlossing het die dood van die vlekkelose Paaslam geverg. Nadat hulle die offerbloed daarvan aan hulle deurkosyne gesmeer het, het hulle die lam gekook en geëet terwyl hulle in hulle reisklere geklee was, staf in die hand, gereed om gevangenskap agter te laat.
Vandag wil God hê dat jy biddend moet voorberei vir jou reis na vryheid; nie deur jou eie vergeefse menslike pogings nie, maar deur geloof in die gestorte bloed van Jesus, die Lam van God wat ons sondes wegneem. ‘Verwyder hierdie slegte invloed onder julle uit sodat julle weer nuut en skoon kan wees… Ook vir ons is daar immers ‘n Paaslam geslag – Christus’ (1 Korintiërs 5:7 NLV). Is jy nie bly nie?
Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 2:19-23; Ps 103:1-12; Spr 10:13
2023-04-19
Handelinge 9:11 NLV
Het almal jou Saulus afgeskryf? ‘Hy het te ver gegaan.’ ‘Sy is te hard… te verslaaf… te oud… te koud.’ Josef het geglo dat hy eendag met sy broers, wat hom verraai het, herenig sou word en dit het toe wel gebeur. Die profeet Hosea se vrou het hom verlaat en ‘n prostituut geword. Tog het hy die deur oopgehou en sy het huis toe gekom. God het in Saulus geglo. Hy het juis deur Ananias in Saulus geglo: ‘…Broer Saul, die Here het my gestuur, Jesus wat aan jou verskyn het op pad hierheen. Hy het my gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word’ (vers 17 NLV).
Max Lucado skryf: My gunsteling Ananias-tipe storie behels twee kamermaats op universiteit. Die Ananias van die twee was ‘n verdraagsame siel. Hy het sy vriend se laatnag dronkenskap, middernagtelike opgooie en hele dag se slaap verdra. Hy het nie gekla wanneer sy vriend vir die hele naweek verdwyn of sigarette in die kar rook nie. Hy kon vir ‘n kamermaat wat kerk toe gaan, minder vloek en wat oor iets anders as meisies besorg was, gevra het. Hy het egter met sy persoonlike Saulus uitgehou, in die hoop dat iets goeds kan gebeur as die kamermaat net sy lewe bymekaar kon kry. Hy het dus aangehou om die gemors skoon te maak, om sy kamermaat kerk toe te nooi en na hom om te sien. Ek kan nie ‘n helder lig of ‘n harde stem onthou nie. Ek het nog nooit op pad na Damaskus gereis nie. Ek onthou egter duidelik dat Jesus my van my troontjie afgestamp het en die lig aangeskakel het. Dit het vier semesters geneem, maar Steve se voorbeeld en Jesus se boodskap het uiteindelik tot my deurgedring.’
Maak dus nie saak wat nie, moenie op jou Saulus opgee nie!
Sielskos: 1 Kor 7-9; Matt 2:1-12; Ps 127; Spr 10:11
2023-04-18
Psalm 41:2 NLV
Driekwart van die wêreld se inkomste eindig in die sakke van 20 persent van sy populasie op. Dink so daaraan: tien suiwelboere besit tussen hulle tien koeie. Die koeie is egter nie eweredig verdeel nie. Dit is meer soos volg: Twee boere besit agt koeie, terwyl die ander agt boere twee koeie deel. Klink dit reg? Die twee boere wat agt koeie besit, mag dalk maklik sê: ‘Ek het vir my koeie gewerk.’
Die vraag is egter: watter verantwoordelikheid plaas God op diegene wat ‘het’ teenoor diegene wat nie ‘het’ nie? Eerstens, dat jy jouself moet toelaat om besorgdheid en medelye te voel. Tweedens, dat jy uit jou gemaksone beweeg en iets daaraan doen. ‘Geseënd is die mens wat omgee vir die armes. In tye van nood sal die Here hom red. Die Here sal hom beskerm en hom die lewe laat behou. Hy gee aan hom voorspoed in die land en lewer hom nie oor in die mag van sy vyande nie. Die Here sorg vir hom as hy siek is en laat hom opstaan uit sy siekbed’ (verse 2-4 NLV).
Wanneer jy die armes seën, seën God jou. Dus, soos een leier geskryf het, moet jy die volgende jou gebed maak: ‘Here, U het beloof dat ons altyd die armes in ons midde sal hê. Help my om seker te maak dat die teenoorgestelde ook waar is: Dat ek altyd te midde van die armes is – besig om te help, te bemoedig en hand by te sit waar ek kan. Stel my in staat om die onsigbare God lief te hê deur die baie sigbare armes in my hoek van die wêreld te dien. Help my om kreatief te wees sonder om neerhalend te wees, bemoedigend te wees sonder om egotisties te wees en vreesloos te wees sonder om dwaas te wees. Amen.’
Sielskos: 1 Kor 4-6; Matt 1:18-25; Ps 43; Spr 10:10
2023-04-17
Jeremia 22:16 NLV
Toe hy ‘n teologiestudent was, het Jim Wallis en sommige van sy klasmaats elke vers oor armoede, rykdom, geregtigheid en onderdrukking met ‘n skêr uit die Bybel gesny. Teen die tyd wat hulle klaar was, het daar amper tweeduisend verse op die vloer gelê! Die feit is dat wanneer jy besorgdheid oor die armes uit jou Bybel sny, sny jy die hart daaruit! Hier is een so ‘n vers: ‘Hy het gesorg vir arm en behoeftige mense… Daarom het dit goed gegaan met hom. Wys dit nie dat hy My ken nie?’ vra die Here’ (vers 16 NLV).
Jesus het dikwels die Skrif aangehaal, maar net op een geleentheid lees ons waar Hy die Skrif neem en daaruit voorlees. Watter gedeelte het Hy gekies om in die openbaar voor te lees? ‘Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig… dat gevangenes vrygelaat sal word, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (Lukas 4:18 NLV). Hier was sy doenlysie: hulp vir liggaam en siel, krag vir die fisiese en die geestelike en terapie vir die tydelike en die ewige.
Daar is sommige mense (alhoewel hulle in die minderheid is) wat arm is omdat hulle lui is en moet leer dat God se Woord sê: ‘…As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie’ (2 Tessalonisense 3:10 NLV). Ander is egter arm omdat parasiete hulle liggame verswak het, of omdat hulle elke dag ses ure bestee om water te gaan kry, of omdat hulle grond van hulle afgevat is, of VIGS hulle ouers se lewens geëis het. Hierdie is die mense wat God ons opdrag gegee het om voor te sorg!
Sielskos: 1 Kor 1-3; Matt 1:7-17; Ps 56; Spr 10:8-9