2023-03-03
Johannes 16:13 NLV
Doen altyd die volgende twee dinge: 1) Erken God se Woord as die finale gesag rakende sy wil (sien Jesaja 8:20). Die Bybel praat duidelik oor die lewe se belangrike kwessies. Elke ander bron van leiding moet daarmee saamstem. Jy het ook nie ‘n teologiese graad nodig nie; laat God net toe om deur sy Woord met jou te praat voor jy enigiemand anders se opinie opsoek.
Dis byvoorbeeld onaanvaarbaar om ‘n leuen te vertel, want God sê: ‘…Moenie lieg nie’ (Levitikus 19:11 NLV). Soortgelyk, is dit verkeerd om ‘n buite-egtelike verhouding aan te knoop, want die Bybel sê duidelik: ‘Moenie egbreuk pleeg nie’ (Eksodus 20:14 NLV). Punt. Geen ander opinie is nodig wanneer God se Woord duidelik is nie.
‘n Woord van waarskuwing egter: Wanneer jy geïsoleerde Bybelverse uitkies, lei dit tot verwarring, nie duidelikheid nie. Byvoorbeeld: ‘…Alles is immers julle s’n’ (1 Korintiërs 3:21 NLV), is nie toestemming om te neem wat jy wil nie! Wat as jy egter die Bybel deursoek en nie beginsels vind om jou kwessie aan te spreek nie?
Oorweeg dan die volgende stap: 2) Erken die innerlike indrukke van die Heilige Gees. Hoe kan jy weet dat jou indrukke van die Heilige Gees af kom? Deur die wete dat jy jou wil ten op sigte van die kwessie ten volle aan God onderwerp het. Jou ‘indrukke’ moet ook nie in teenstelling met ander Bybelse beginsels wees nie. Hier is die Heilige Gees se opdrag: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid… Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV). Moenie haastig wees nie. As dit van God se Gees af kom, sal dit met tyd en gebed sterker en duideliker word. Indien nie, sal dit verdwyn. Wag dus in gebed!
Sielskos: Eks 16-18; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28
2023-03-02
Filippense 2:13 NLV
Onthou jy die kinderspeletjie ‘Steek Vas die Donkie se Stert’? Om daardie speletjie te wen was net ‘n ‘skoot in die donker’. Baie van God se kinders gebruik ‘n soortgelyke metode om God se wil en doel vir hulle lewe te ontdek. Dit hoef egter nie so te wees nie. Hier is ‘n paar Skriftuurlike stappe wat jy kan neem om die raaiwerk uit die proses te neem:
1) Wy jouself daaraan toe om God se wil te gehoorsaam. Dis onmoontlik om God se wil te verstaan totdat jy jouself daaraan toewy om dit onvoorwaardelik te gehoorsaam. Enige begeerte om jou eie wil te behou, maak jou blind vir sy wil. Vertrou dat God lief is vir jou, die beste vir jou wil hê en dat wanneer jy jouself aan Hom onderwerp, jy ‘…goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).
2) Luister na die Skaapwagter se stem en plaas jou vertroue daarop. Jesus los jou nie alleen om uit te pluis wat sy wil vir jou lewe is nie. Hy is ons Goeie Skaapwagter en ‘…die skape luister fyn na sy stem… en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NLV). Met tyd en ervaring, sal jy ook leer om God se stem te ken.
Soos Abraham homself aan God se wil onderwerp het sonder om te weet waarheen hy gelei sou word, so word jy geroep om jou wil oor te gee sonder om te weet waarheen Hy jou lei. God beloof wysheid, insig en begrip – nie aan mense wat geestelik slim is nie, maar aan enige persoon wat wysheid kort (sien Jakobus 1:5-6). Glo dus dat sy wysheid joune is!
Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25
2023-03-01
Spreuke 14:17 NLV
Jy het verslaap, die motor wou nie vat nie, jy was laat vir werk en jou rekenaar het ingegee! Hierdie dinge kan jou kwaad maak, maar slegs as jy dit toelaat. Salomo het gesê: ‘Iemand wat kort van draad is, doen dom dinge…’, wanneer jy dus van woede wil opstyg, moet jy ‘n rowwe landing verwag! Die Bybel sê: ‘Dis beter om geduldig te wees as dapper. Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem’ (Spreuke 16:32 NLV).
Dawid het gesê: ‘…Soggens bring ek my versoeke vol verwagting na U toe’ (Psalm 5:4 NLV). Begin om jou dag aan God te offer en jy sal minder geneig wees om in woede te reageer wanneer dinge verkeerd gaan.
Een pastoor skryf: “Ons tyd hier is kort. Wat ‘n jammerte om toe te laat dat iets wat twintig jaar of twintig minute gelede gebeur het, jou dag verwoes. Ek het besluit om elke dag ten volle te geniet. Ek mag dalk foute maak; dinge mag dalk nie volgens plan verloop nie. Ek mag dalk teleurgestel word, maar ek gaan my lewe op ‘n gelukkige manier leef. Ek gaan nie toelaat dat dit wat gebeur, of nie gebeur nie, my vreugde steel nie. Elke oggend sê ek: ‘Vader, dit gaan ‘n wonderlike dag wees. Ek dank U dat ek dissipline en selfbeheersing het; dat ek goeie besluite maak. Ek mag dalk nie alles gister gedoen het wat ek kon nie, maar daardie dag is verby. Vandag gaan ek beter doen.'”
Het jy al ooit gewonder hoekom ‘n motor se voorruit so groot en sy truspieëltjie so klein is? Omdat dit wat agter jou is, nie naastenby so belangrik is soos dit wat voor jou lê nie. Hou dus aan vorentoe kyk en maak nie saak wat vandag gebeur nie, moenie jou vrede verloor nie.
Sielskos: Eks 10-12; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22
2023-02-28
Psalm 23:6 NLV
Die liefde van God voel vir sommige van ons nie werklik nie. Hoekom doen dit nie? Omdat ons probeer om hierdie aarde ons tuiste te maak. Gevolglik lewe ons met bekommernis en frustrasie. Eers wanneer jy die regte siening van daar het, sal jy die regte siening van hier hê. Wanneer jy jou ware tuiste verstaan, is die dood nooit ‘n punt nie; dis eerder ‘n voegwoord.
Minder as een sekonde nadat jy sterf, sal jy na God se teenwoordigheid vergesel word. Jy sal nie eers lank genoeg dood wees om te weet dat jy gesterf het nie. Vinniger as wat jy jou oë kan knip, beweeg jy van een dimensie na die ander. Jy gaan van lewe in hierdie tyd na om te ‘…bly in die huis van die Here so lank as wat [jy] lewe.’
Die meeste van ons sal nie skielik aan ‘n hartaanval, ‘n beroerte of in ‘n motorongeluk sterf nie. Vir die meeste van ons, sal die dood geleidelik kom soos ons oor tyd verouder. Jy sal voel hoe jou liggaam versleg en wegkwyn en jy sal weet dat die dood naderkom. Dan sal God jou in die oorgangsfase plaas. Hy sal die hemel baie meer aanloklik as die aarde laat lyk sodat jy dink: ‘Ek wens God wil gou maak en my huis toe neem.’ Hy mag dalk selfs vir jou ‘n klein voorskou van die heerlikheid gee en jou die Redder wat wag om jou te verwelkom, laat sien. Wanneer jy daardie wye oop arms sien, sal jy wil hê dat jou reis gou moet plaasvind. Jy sal soos Dawid sê: ‘Maar omdat ek reg gedoen het, sal ek U sien. Wanneer ek wakker word, sal ek tevrede wees in u teenwoordigheid’ (Psalm 17:15 NLV). Oos, wes, tuis, bes!
Sielskos: Eks 7-9; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19
2023-02-27
Psalm 23:6 NLV
Die meeste versekeringsmaatskappye is betroubaar. Hulle sal vir jou dekking deur die meeste seisoene en teëspoed in die lewe bied. Nie alle versekeringsmaatskappye is egter so nie. In sommige gevalle, verhoog hulle óf jou premies óf kanselleer jou polis die oomblik wanneer jy ‘n eis indien.
Die versekeringspolis wat jy met God het is egter wonderlik. Daar is verskillende soorte versekering wat dinge soos vuur, eiendom, misdaad, gesondheid, motors en die dood dek. Die enigste versekeringspolis wat jou egter na die dood kan dek, is die een wat God aanbied. Jy hoef ook nie daaroor bekommerd te wees om die ‘fynskrif’ te lees nie, want Hy sal dit nie kanselleer nie.
Paulus verduidelik dit so: ‘Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry?.. Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het. Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie. Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:35, 37-38 NLV).
Het jy jou sondes bely? Het jy jou vertroue in Christus geplaas om jou Redder te wees? Dan is jy vir alle tye en vir ewig gedek. ‘Through many dangers, toils, and snares, I have already come; ’tis grace hath brought me safe thus far, and grace will lead me home.’
Sielskos: Eks 4-6; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15
2023-02-26
Prediker 3:6 NLV
Wat het ons kinders nog van ons nodig wanneer hulle treur?
1) Ons eerlikheid. Hulle het nodig om te weet dat ons ook seer het. Wanneer hulle jou sien huil, maar jy sê vir hulle: ‘Ek is doodreg,’ maak dit hulle deurmekaar. Hulle dink dat jy nie regtig seer het nie, of dat trane niks beteken nie, of dat jy nie eerlik met hulle is nie. Hulle moet weet dat jy eerlik met hulle is, sodat hulle eerlik met jou kan wees en jou met hulle seer kan vertrou.
2) Ons moet bewus wees van hulle gevoelens sonder om hulle te veel te beskerm. Vir hulle, soos vir jou, is daar “‘n tyd om te huil… ‘n tyd om te verloor…” (verse 4, 6 NLV). Moenie hulle hartseer, woede en depressie onderdruk of ongeldig verklaar nie. Dis deel van hulle Godgegewe menslikheid en sal hulle help om gebalanseerde, deernisvolle volwassenes te word.
3) Luister op ‘n sensitiewe manier. Kinders leer en groei deur verlies wanneer hulle ‘n oop en begrypende luisteraar het. Luister en herhaal dan hulle gevoelens. ‘Dit klink of jy kwaad is. Wil jy daaroor praat?’ Moenie analiseer nie, vra! Luister met jou oë en ore. ‘Jou woorde sê dat jy reg is, maar jou oë lyk of hulle hartseer is.’
4) Toestemming om negatiewe emosies uit te druk. Woede en wrokkigheid teenoor dokters, die sisteem, familielede, jouself of selfs God, is normaal! Moenie sê: ‘Moenie sulke goed sê nie.’ Sê eerder: ‘Dit klink soos ‘n ware, eerlike uitdrukking van pyn en teleurstelling. Wil jy daaroor praat?’ Uitdrukking van negatiewe emosies haal die angel daaruit.
5) Insluiting by ons hartseer rituele. Sluit hulle by gesinsbyeenkomste, begrafnisbeplanning en dienste in, en hulle sal vertroosting in die bekragtiging, afsluiting en genesing wat hierdie tye bring, vind!
Sielskos: Matt 14:22-33; 1 Kon 3:4-28