Laat God jou lei

2023-03-09
Psalm 23:3 NLV

Die lewe is vol keuses, besluite en opsies. Dis ook vol mense met sterk opinies wat jou sal probeer vertel in watter rigting hulle dink jy moet gaan. As ons tyd kon terugdraai, sou amper almal van ons besluite in die verlede verander, omdat dit ons op die pad van ‘verkeerdheid’, eerder as die pad van ‘geregtigheid’, gebring het.

Skape sal na alles wat hulle instinkte aanspreek, soos ‘n bessiebos, aangetrek word, selfs al neem dit hulle van die kudde en die herder se beskermende sorg af weg. Hulle dink dat hulle weet wat die regte pad is, terwyl hulle eintlik nie ‘n idee het nie.

Vraag: Is jy besig om jou aptyte en eetlus, eerder as jou skaapwagter te volg? Jy sê: ‘Maar God het vir my ‘n brein gegee om te gebruik.’ Ja, maar jy moet dit ontwikkel. Dis beperk en sal jou net so ver neem. Die Heilige Gees wil jou graag verby daardie beperkinge neem. ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (Romeine 8:14 NLV).

Hoe lei God ons? Objektief deur sy Woord, en subjektief deur sy Gees. Soos jy sy Woord lees, hoor jy sy stem en wanneer jy rus (sien Psalm 23:2), druk Hy dit wat Hy wil hê jy moet doen, op jou hart. As jy op die verkeerde pad is, draai na God toe en Hy sal jou weer na die regte pad toe lei. Jy vra: ‘Sal God werklik met iemand soos ek praat?’ Ja: ‘…Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit, en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NVL). Laat God jou vandag lei!

Sielskos: Eks 30-32; Luk 14:25-35; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5

Nie ‘hopelik’ nie, maar ‘verseker’

2023-03-08
Ps 106">Psalm 23:6 DB

Die Psalmdigter het nie woorde soos ‘miskien,’ of ‘dalk,’ of ‘moontlik,’ of ‘hopelik’ gebruik nie. Nee, hy sê: ‘sal,’ wat ‘n term van sekerheid is. ‘Sal’ beteken vir seker; sonder twyfel!

Daar is baie dinge in die lewe waarvan jy nie seker kan wees nie. Jy gaan vir ‘n doktersondersoek en ontdek dat jy ‘n kwaadaardige gewas het. Jy werk vir dieselfde maatskappy vir jare met die geloof dat jou werk veilig is, totdat hulle jou as gevolg van finansiële redes afdank. Jy bid vir jou kinders, leef voorbeeldig en leer hulle wat reg en verkeerd is, maar bevind jou dan een nag by die polisiestasie nadat hulle as gevolg van dronkbestuur of dwelms gearresteer is.

As verloste kind van God, is hier twee dinge waarvan jy seker kan wees: God se goedheid en genade. Wat is jou konsep van God? Dis ‘n baie belangrike vraag, dink dus daaroor na voor jy antwoord. Jou konsep van God sal jou vertroue in Hom bepaal. Dawid was ver van perfek af. Sommige van sy mannewales sou die voorblad van die skinderblaaie gehaal het. Hy het egter nooit aan God se goedheid en genade teenoor hom getwyfel nie: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis’ (Psalm 56:10 NLV). Jesus het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).

Sy goedheid waarborg dat daar aan elke behoefte voldoen kan word en sy genade waarborg dat elke sonde vergewe kan word. Net soos skaaphonde verlore skape terug na die trop toe dryf, so sal God se goedheid en genade jou elke keer terug na sy liefdevolle arms toe dryf.

Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2

Gebruik jou gawe

2023-03-07
1 Petrus 4:10 NLV

Die Bybel sê: ‘…God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien… Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word…’ (verse 10-11 NLV).

Jy mag dalk nie bevoorreg genoeg wees om by ‘n plek te werk wat jou gawes gebruik nie, maar jy moet ten minste in daardie rigting beweeg. Paulus het as ‘n tentmaker gewerk om sy roeping as prediker te finansier. As jy dus weet dat jy ‘n kreatiewe persoon met ‘n aanleg vir ontwerp en visuele kunste is en jy met jou rekeningkundige beroep geïrriteerd is, mag dit dalk tyd wees om jou beroepsdoelwitte te heroorweeg. As jy daarvan hou om probleme op jou rekenaar op te los, maar jy tans as ‘n kok werk, is dit tyd om terug te staan en te heroorweeg.

Jy kan dalk nie op die oomblik ‘n bestaan uit jou passie maak nie, dus werk jy in ‘n onverwante veld. Dis in die haak vir nou. Jou visier moet egter daarop bly om God se roeping te volg. Moses het twee-derdes van sy lewe bestee om vir sy regte roeping gereed te maak – om die kinders van Israel na die Beloofde Land te lei. God mors nooit ervaring nie.

Dikwels sal die wysheid wat jy by ‘n werk wat jy nie wil hê nie, opdoen, jou help om in jou toekomstige werk; die een wat God vir jou gekies het, sukses te behaal. Hou dus aan groei en glo in God. Wanneer Hy dan die deur oopmaak, sal jy gereed wees om daardeur te loop.

Sielskos: Eks 25-27; Luk 14:1-14; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35

Agter wat kruip jy weg?

2023-03-06
1 Samuel 10:22 NLV

Toe Samuel Israel se eerste koning aan die mense wou voorstel, het hulle Saul gekry waar hy ‘agter die mense se reisgoed,’ wegkruip. Die Hebreeuse woord vir reisgoed of bagasie simboliseer die self-opgelegde beperkings wat jou verhinder om die taak wat God jou opgelê het, te doen.

Dinge soos: 1) Gevoelens van ontoereikenheid. Saul se eerste reaksie toe hy gehoor het dat hy tot koning verkies is, was: ‘…Ek is maar net ‘n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste…’ (1 Samuel 9:21 NLV). Wanneer jy nie vir God in die vergelyking bring nie, sal jy altyd minderwaardig voel. In plaas daarvan om op jou eie swakhede en onvermoë te fokus, konsentreer eerder op ‘…hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo…’ (Efesiërs 1:19 NLV).

2) Vrees oor wat ander mense mag dink. Die skrywer van Spreuke sê vir ons: ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Saul het kop-eerste in hierdie slagyster geval! Toe Samuel hom konfronteer oor hoekom hy nie die Amalekiete uitgewis het nie, het hy geantwoord: ‘…want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee’ (1 Samuel 15:24 NLV).

3) Deur te pragmaties te wees. Die Bybel sê: ‘Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:8 NLV). Dit was Saul uitgeknip! Toe hy nie van God gehoor het nie, het hy sake self aangepak en ‘n towenares geraadpleeg. Nadat hy beloof het om Dawid nie seer te maak nie, het hy aanhoudend jag op hom gemaak. Aanpasbaarheid is prysenswaardig, maar God vereis konsekwentheid en toewyding.

Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31

Moenie eers daaraan DINK om op te gee nie!

2023-03-05
2 Korintiërs 4:8 DB

Ons gee as gevolg van verskeie redes op: 1) Ons vrees mislukking. Ons het almal dinge in ons verlede wat ons eerder sal wil vergeet. Sit hulle agter jou. Paulus skryf: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).

2) Ons is bekommerd oor wat mense gaan sê. ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Hoe jy teenoor kritiek reageer, is een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal maak. Daar sal altyd mense wees wat nie van jou hou of jou verstaan nie.

3) Ons luister na die verkeerde stemme. Satan is die Vader van die Leuen en hy sal alles in sy vermoë doen om jou te ontmoedig. Paulus sê: ‘…Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:4-5 NLV). As ‘n gedagte van God af kom, aanvaar dit; as dit van Satan af kom, ‘vernietig’ dit.

4) Ons verloor fokus. As gelowiges, lewe ons deur te glo en nie deur te sien nie (sien 2 Korintiërs 5:7). Dit beteken dat jy elke besluit moet maak op grond van wat God sê en nie volgens wat jou natuurlike oë kan sien nie.

5) Ons verloor kontak met ander gelowiges. Toe die apostels uit die tronk gekom het, het hulle ‘…dadelik die ander gelowiges opgesoek…’ (Handelinge 4:23 NLV). Om sterk te bly, het jy gemeenskap met ander Christene nodig. Te veel mense gee op die kruin van sukses op; moenie een van hulle wees nie. Daar is net een graad verskil tussen warm water en stoom – hou dus aan en moenie eers daaraan dink om op te gee nie!

Sielskos: Matt 6:19-34; 1 Kon 8:17-40

Beweeg verby die raaiwerk (3)

2023-03-04
Openbaring 3:7 DB

Hier is nog twee maniere om God se wil vir jou lewe te ken: 1) Voorsienende omstandighede. Wanneer God leiding neem, sal die pad vir jou oopgaan. Wanneer Hy jou stuur, gaan Hy voor jou uit (sien Johannes 10:4). Sy Woord sê: ‘…Waar Hy toesluit, kan niemand oopmaak nie en waar Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie.’ Wie sluit die regte deure oop? God. Wie sluit die verkeerde deure toe? God. Die regte deure kan tot seën lei, maar die verkeerde deure lei tot pyn en verlies. Niks behalwe ongeloof kan ‘n deur toehou wanneer God dit beveel om oop te maak nie. Die enigste hulp wat God van jou wil hê, is as volg: ‘…Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die Here julle vandag red…’ (Eksodus 14:13 NLV).

2) Innerlike ‘verkeersligte.’ Jy is ‘n nuwe skepping met ‘n nuwe geestelike aard wat lewendig in God is, toegerus om aan te voel wanneer God in jou beweeg (sien Romeine 6:11 NLV). Die raad van wyse en volwasse Christene kan help, maar die laaste woord moet in jou eie hart gespreek word. ‘Dis mos God wat julle gewillig maak… en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). As jou wil aan God oorgegee is, is Hy besig om te werk om jou wil en gedrag te rig. Glo dit, want Hy verklaar dit so! Hy sal vir jou die ‘rooi lig’ gee wanneer Hy wil hê jy moet stop en die ‘groen lig’ wanneer Hy wil hê jy moet voortgaan. Moenie op rooi beweeg nie! Moenie op groen stop nie!

Sielskos: Eks 18-21; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29