Begin Skrifgedeeltes memoriseer

2023-04-29
Kolossense 3:16 NLV

Voor geskrewe tale ontwikkel het, was mens se geheue die enigste manier om te leer. Deesdae sien mense dit as uitgedien om dinge uit jou kop te probeer leer. Om woorde uit jou kop te leer maak egter nooit jou gedagtes ‘n dowwer plek nie – inteendeel! Wanneer ons wonderlike woorde in ons geheue gestoor het, sal ons ‘n baie ryker innerlike lewe as iemand wat dit nie het nie, hê.

Eva Hermann het twee jaar in ‘n Nazi-konsentrasiekamp deurgebring. Sy het geskryf hoe ‘n jong selmaat toevallig die gebed van Sint Teresa opgesê het: ‘Let naught trouble thee; let naught frighten thee; all things pass. God alone changeth not. Patience can do all things. Whoever has God, has everything. God alone sufficeth.’ Toe Eva sien hoe baie hierdie gebed die meisie help, het sy begin om dit aan die einde van elke dag te herhaal. Eva het later geskryf hoe haar tyd in die kamp getransformeer is deur die woorde wat sy gememoriseer het.

Dit illustreer hoe die woorde wat ons in ons gedagtes dra, beskikbaar is om enige gegewe oomblik te transformeer. Wanneer daar dus ‘n vers of Skrifgedeelte is wat tot jou spreek, stop en skryf dit op ‘n kaartjie neer. Plak dit op jou badkamerspieël, of stoor dit op jou slimfoon, ‘n kalender, of in jou kar. As jy ‘n ouditiewe leerder is, luister na die Skrif wat op CD’s of op ‘n iPod voorgelees word. As jy ‘n visuele leerder is, steek ‘n kers aan en lees hierdie woorde: ‘…God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie’ (1 Johannes 1:5 NLV).

Wanneer God se Woord geoefen, onthou en gereeld herhaal word, is dit soos ‘n stroom van vreugde, vrede en krag wat vloei en jou siel daarmee saamdra.

Sielskos: Jak 1-2; Matt 5:6-12; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26

Verander jou verwagtinge

2023-04-28
Johannes 15:11 NLV

Hoekom het Jesus gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’? Want as jy dit toelaat, sal stres jou vreugde steel en jou aan ‘n lewe van depressie, saaiheid en ontevredenheid oorgee.

Kom ons wees eerlik – die meeste van ons is heeltemal te ernstig! Ons maak ‘n groot bohaai van alles. Om vyf minute laat te wees, in die verkeer vas te sit, in ‘n ry te wag, die kos te brand, ‘n kilogram op te tel, ‘n plooi te ontdek, ‘n eerlike te fout maak… noem maar op; ons verloor alle perspektief. Die ware probleem is dat ons onrealistiese verwagtinge het. Dis nie hoe God wil hê jy moet lewe nie!

As jy die vreugde wat Jesus beloof het wil ervaar, moet jy hierdie twee dinge doen: 1) Toegee dat jou stres hoofsaaklik aan die manier waarop jy besluit het die lewe moet wees, te wyte is. 2) Erken dat jou verwagtinge baie van jou frustrasie veroorsaak. Wanneer jy aanhou verwag dat dinge ‘n sekere manier moet wees en dit is nie, sal jy altyd ontsteld wees.

Hier is ‘n idee: Probeer om vandag die lewe sonder al daardie verwagtinge te benader. Moet byvoorbeeld nie verwag dat almal vriendelik moet wees nie – wanneer sommige mense dan is, sal jy aangenaam verras wees. Moenie verwag dat jou dag sonder probleme sal wees nie; wanneer probleme hulle opwagting maak, kyk op en sê: ‘Dankie Here, vir nog ‘n geleentheid om te groei.’ In plaas daarvan om stroomop te swem, leer om saam met die stroom te beweeg. Gou sal jy agterkom dat jy die lewe meer geniet! Nie net dit nie: Ander mense sal dit ook meer geniet om in jou geselskap te wees.

Sielskos: Dan 11-12; Matt 5:1-5; Ps 144:9-15; Spr 10:22-23

‘Diensknegte’ vir lewe

2023-04-27
Romeine 1:1 NLV

Dade praat harder as woorde. Dis wat jy doen, nie wat jy beweer jy is nie, wat tel. In die Skrif het die woord ‘dienskneg’ soms verwys na ‘n derdevlak-galeislaaf wat aan die roeispaan van ‘n Romeinse skip vasgeketting was. Dag en nag het hulle geroei op die maat van dromme en hetsy in ‘n geveg of in handelsdiens, het hulle verwag om vasgeketting aan daardie roeispaan te sterf. Wat ‘n aaklige beeld!

Paulus sê: ‘Nou wil ek baie ernstig vra, liewe broers en susters:.. gee… julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak’ (Romeine 12:1 NLV). Paulus het geen twyfel gehad oor wat God hom geroep het om te wees nie. Toe hy na homself as ‘n ‘dienskneg’ verwys het, het hy ‘n slaaf wat sy eienaar vir ses jaar lank getrou gedien het, beskryf.

Die wet van Moses het vereis dat ‘n slaaf in sy sewende jaar vrygelaat word. Indien hy egter teruggekom het nadat hy vrygelaat is en gesê het: ‘Meester, ek dien u nie omdat ek moet nie; ek dien u omdat ek wil,’ het sy eienaar hom dan geneem en vir hom ‘n gat in sy oor met ‘n els gemaak, wat gewys het dat hy vir ewig aan sy eienaar behoort (sien Eksodus 21:6).

Soms is dit nodig dat jy opkyk en sê: ‘Here, ek dien U nie omdat ek moet nie; ek dien U omdat ek lief is vir U. Maak ‘n gat in my oor. Merk my as U s’n. Maak my aan U vas sodat ek nooit aan iemand anders kan behoort nie.’

Wanneer jy dink aan alles wat Jesus al vir jou gedoen het, is dit regtig te veel om te vra?

Sielskos: Dan 8-10; Matt 4:18-25; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21

Bou ‘n verhouding met jou kinders

2023-04-26
Psalm 127:1 NLV

Hoe sal jy jou verhouding met jou kinders beskryf? Gespanne? Opwindend? Hartverskeurend? Genotvol? As jy verras wil wees, vra hulle om hul gevoelens oor jou en hulle huis te beskryf. Wees gewaarsku, jy mag dalk nie hou van wat hulle sê nie! ‘n Christelike huis vrywaar jou nie noodwendig nie. Ons ou natuur steek nog steeds van tyd tot tyd sy kop uit en vasgestelde gewoontes kan tot gebroke kommunikasie lei. Wanneer Bybelse beginsels geïgnoreer word, is die gevolg daarvan pyn en spanning in die familie.

Die volgende is voorbeelde daarvan: 1) Rebekka het haar seun Jakob liewer as sy broer Esau gehad, dus het sy hom gebruik om hulle vader, Isak, te mislei, wat skeuring in die familie veroorsaak het (sien Genesis 27). 2) Eli, die hoëpriester, het nie sy seuns gedissiplineer nie en op die ou einde het dit hom sy lewe gekos (sien 1 Samuel 3-5). 3) Dawid het een ding gepreek en ‘n ander ding gedoen en sy kinders (soos kinders geneig is om te doen), was meer deur wat hy gedoen het as dit wat hy gesê het, beïnvloed (sien 2 Samuel 11, 13, 15-16; 1 Konings 11). Niemand is immuun nie; nie Dawid nie, nie Rebekka nie, nie Eli nie – nie jy nie!

Die evaluasie is egter nutteloos as dit tot skuldgevoelenes sonder optrede lei. Wat moet jy dus doen? Neem tyd om nader aan jou kinders te beweeg. Ruim die struikelblokke tussen julle uit die weg uit. Jy kan niks verander tensy jy gewillig is om dit te erken nie – en soms moet verandering by jou begin. Byvoorbeeld, moet jy jou houding aanpas? Wat van jou prioriteite? Wat van die voorbeeld wat jy deesdae stel? Voor jy probeer om jou kinders te hanteer, vra God om jou eers te hanteer.

Sielskos: Dan 5-7; Matt 4:8-17; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18

Kies vandag die regte houding

2023-04-25
Romeine 12:2 NLV

Lank voordat die volgende woorde: ‘Die grootste ontdekking van my generasie is dat mense hul lewens kan verander deur hul houdings te verander,’ deur William James, die vader van Amerikaanse sielkunde, gesê is, het God gesê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy….’ (Spreuke 23:7 AFR53).

Dikwels is dit ons gedagtes, nie ons omstandighede nie, wat ons geluk bepaal. Ons hou aan dink dat ons gelukkig sal wees wanneer sekere dinge gebeur. Sommige moeders sal byvoorbeeld sê: ‘Wanneer Jannie laerskool toe gaan, sal ek gelukkig wees.’ Hulle is dan gelukkig, vir ‘n tydjie. Dan: ‘Wanneer Jannie hoërskool klaarmaak, sal ek gelukkig wees.’ Hulle is dan, ten minste vir die Desembervakansie, gelukkig. Vervolgens bring Jannie se gradeplegtigheid dieselfde belofte mee; so ook sy troue en die geboorte van die eerste kleinkind. Die probleem is egter dat die ma nie geleer het om tussen ‘gebeurtenisse’ gelukkig te wees nie.

Wanneer jou geluk deur iets buite jouself beheer word, sal jy altyd mense, plekke en dinge se gyselaar wees. Dis nie hoe God wil hê jy moet lewe nie – ‘n slagoffer van omstandighede buite jou beheer. Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees’ (Psalm 34:2 NLV). Dawid het die regte houding gekies en jy moet dieselfde doen!

Jy moet dit ook onderhou. Dis die moeilike deel. Dis soos die boer wat gesê het: ‘Die moeilikste ding van koeie melk – is dat hulle nie gemelk bly nie!’ Dis dieselfde met houding; jy moet elke dag aan hom werk deur jou denkpatrone te vernuwe. Jy doen dit deur jouself in God se Woord te verdiep en sy Woord in jouself te laat wortelskiet. Doen jy dit gereeld?

Sielskos: Dan 3-4; Matt 4:1-7; Ps 7:1-9; Spr 10:16

Pasop vir selfbejammering

2023-04-24
1 Korintiërs 10:24 NLV

Selfbejammering kan dodelik wees. Dit sê vir die vrou en moeder wat hard werk: ‘Niemand waardeer jou nie.’ Dit sê vir die kantoorwerker: ‘Kyk hoe waardevol is jy, tog kry jy nooit erkenning of word daarvoor beloon nie.’ Dit sê vir die werklose: ‘Jy gaan nie ‘n kans kry nie!’ Vir die geskeide persoon: ‘Daar is geen plek vir jou nie!’ Vir die bedroefde: ‘Daar is geen hoop nie!’ Vir die sukkelende: ‘Daar is geen manier nie!’

Kyk na die profeet Elia. Vier-en-twintig uur na sy grootste oorwinning, was hy baie depressief en het homself baie jammer gekry: ‘…Ek het nou genoeg gehad… Neem nou maar my lewe… Ek het U met toewyding gedien… Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (1 Konings 19:4, 10 NLV).

Oor die algemeen is daar twee redes vir selfbejammering. Die eerste is emosionele manipulasie. Ons gebruik selfbejammering om mense skuldig te laat voel en ons ons sin te laat kry. Dis onvolwassenheid en jy moet dit aanspreek, of dit nou in jouself of iemand anders is. Aan die ander kant, kan selfbejammering ook uit pure uitputting spruit. God het vir Elia vier dinge gewys wat nodig was om homself weer op koers te kry: 1) Hy moes meer rus. 2) Hy het nie reg geëet nie. 3) Hy het probeer om alles in sy eie krag te doen. 4) Hy was geïsoleerd en het ‘n vriend nodig gehad. Dus het God vir hom Elisa gegee. Dit het die probleem opgelos en die volgende keer wat ons vir Elia sien, is hy weer sy ou self.

Neem vandag ‘n oomblik en dink hoe hierdie vier waarhede op jou lewe van toepassing is.

Sielskos: Dan 1-2; Matt 3:11-17; Ps 113; Spr 10:15