‘n Gebed van vergifnis

2023-05-05
Efesiërs 4:32 NLV

Die Bybel sê: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (verse 31-32 NLV).

Sukkel jy om iemand te vergewe? Hier is ‘n gebed vir jou: ‘Here, ek loof U dat U my vergewe het en my sondes weggewas het. Openbaar enigiets wat ek vandag aan U moet bely, sodat ek dit voor U kan bring en daarvan gereinig en vrygemaak kan word, veral enige plek in my hart waar ek nie iemand vergewe het nie. Ek weet hoe subtiel wrokkigheid en bitterheid kan ophoop en my gebede kan verhinder. Ek besef dat my gebrek aan vergifnis teenoor ander my daarvan kan weerhou om u vergifnis te ervaar (sien Markus 11:25). U het die onvergeeflike aan die kruis vergewe. Ek besef dat ek nie in staat is om op my eie te vergewe nie. Herinner my dat ek nie my vergifnis voorwaardelik, op grond van of mense dit verdien of nie, kan maak nie en dat die fokus van my hart moet bly om meer soos U te probeer word. Gee my die genade om te vergewe en om nie vergifnis terug te hou totdat die ander persoon dit wat ek van hulle verwag, doen of sê nie. Verwyder enige woede, bitterheid en wrokkigheid uit my hart uit. Giet u Gees oor my uit en reining my van enigiets wat nie van U afkomstig is nie. Stel my in staat om in die vergifnis wat U vir my gegee het te wandel en dit na ander mense uit te reik. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Num 7; Matt 6:1-18; Ps 37:8-15; Spr 11:3

Gebruik jou Godgegewe kreatiwiteit

2023-05-04
Eksodus 35:35 ABA

Die Bybel sê God ‘…het hulle vaardig gemaak om al die soorte werk te kan doen: Hulle kan planne teken, borduur op blou, pers en rooi wol-materiaal en linne-materiaal, en hulle kan weef…’ (vers 35 ABA). Wanneer God jou roep om iets te doen, het Hy reeds die vermoë om dit te kan doen, binne-in jou geplaas. Satan hoop dat jy dit nooit sal ontdek nie. Hy wil hê dat jy in die status quo vasgevang moet bly, met die geloof dat die manier waarop dinge tans is, is hoe dit altyd sal wees. Dis nie waar nie! Wanneer jy jou denke verander, begin jou lewe verander. ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53).

Solank as wat jy tevrede is om te bly waar jy tans is, sal jy nooit begin om kreatief te dink nie. Wanneer jy egter besluit om jou lewe ten goede te verander, word jy onderrigbaar en maak jy jouself ontvanklik om kreatief te begin dink. Soos alles anders in die lewe, begin kreatiwiteit met een idee. Dan begin daardie idee vermenigvuldig! Elke kreatiewe idee wat jy het, verhoog jou vermoë om ‘n kreatiewe denker te wees.

Die digter Maya Angelou het opgemerk: ‘Jy kan nie kreatiwiteit opgebruik nie. Hoe meer jy dit gebruik, hoe meer het jy. Ongelukkig word kreatiwiteit dikwels versmoor, eerder as om aangemoedig te word. Daar moet ‘n klimaat ontstaan waarin nuwe maniere van dink, waarneming en bevraagteken aangemoedig word.’

As jy kreatiewe denke begin ontwikkel, is daar geen beperking op die soort idees waarmee jy vorendag sal kom of hoe ver jy in die lewe sal gaan nie. Is jy gereed om te begin? Vra jou Skepper vir ‘n kreatiewe idee, tree dan in geloof op en begin daad by die woord voeg.

Sielskos: Num 4:34-6:27; Matt 5:38-48; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2

Geldsake in die huwelik

2023-05-03
Spreuke 15:27 NLV

Een van die grootste bronne van konflik in die huwelik, is geld. Dit gebeur omdat die man en vrou dikwels teenoorgestelde idees het oor hoe dit aangewend moet word. Wanneer een eggenoot gewillig is om te wag om iets te koop totdat hulle finansies in orde is, maar die ander een nie, begin die gevegslinies opgetrek word. Nog ‘n meningsverskil wat kan voorkom is om te besluit wanneer, en waarvoor, lenings aangegaan moet word. Dis gevaarlike grond. Niks irriteer ‘n gedissiplineerde, spaarsamige persoon meer as om saam met iemand te woon wat hul inkomste en hul toekomstige verdienste op dinge wat nie werklik nodig is nie, mors.

Nog ‘n potensiële slagveld vir baie van ons in die huwelik is die besluit om wanneer en hoeveel vir ons kinders te gee. Omdat ons so lief vir hulle is, wil ons hê dat hulle lewens makliker en beter as ons s’n moet wees. Dit verg egter ‘n bestendige hand om ‘n vol glas vas te hou. Die Bybel leer ons duidelik die deugde van harde werk, spaarsamig lewe, spaar, bou en werk in die sweet van ons aangesig. As ons kinders nie hierdie deugde op die regte manier leer nie – terwyl hulle onder ons dak is nie – is daar ‘n goeie kans dat hulle dit op die moeilike manier sal leer – terwyl hulle hul eie huis bou.

Hier is dus goeie raad: Vermy skuld sover moontlik en wees baie versigtig met kredietkaarte. Die misbruik daarvan kan jou familie se stabiliteit en toekoms in gedrang bring. Kredietkaarte moet inderwaarheid met die volgende waarskuwing uitgereik word: ‘Gevaar! Hanteer met omsigtigheid!’ Jesus stel dit so: ‘…Pas op! Moenie gierig wees vir wat jy nie het nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV).

Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 5:27-37; Ps 2; Spr 10:30-32

Moenie wag nie; geniet jou lewe nou

2023-05-02
Prediker 3:22 NLV

Salomo skryf: ‘Ja, ek het agtergekom dat daar niks beters is nie as dat mense gelukkig is in hulle werk. Dit kom die mens toe. Wie kan hom laat weet wat ná hom sal gebeur?’ Begin dink wat jy kan doen om meer vreugde in elke ervaring te vind. Die huidige oomblik is al wat gewaarborg is, moet dus nie wag tot later – tot jy trou, aftree, op vakansie gaan of tot jou kinders met universiteit klaarmaak – om jou lewe te geniet nie. Niemand weet wat volgende in hulle lewens of in die wêreld gaan gebeur nie. Jy lewe nou, omhels dit dus en vier dit.

Niemand was besiger as Jesus nie, tog het Hy geweet hoe om die lewe te vier! Sy eerste wonderwerk het by ‘n troue plaasgevind. Sy skedule was gejaagd, tog het Hy dit onderbreek om tyd saam met kinders te geniet. Die behoeftes waarvoor Hy te staan gekom het was eindeloos, tog het Hy tyd geneem om te rus.

‘n Anonieme skrywer sê: ‘As ek my lewe kon oorhê, sou ek meer kanse en meer reise onderneem het. Ek sou meer berge uitgeklim het, in meer riviere geswem het en na meer sonsondergange gekyk het. Ek sou meer roomys en minder boontjies geëet het. Ek sou meer ware probleme en minder denkbeeldige probleme gehad het. Ek was een van daardie mense wat nêrens sonder ‘n termometer, ‘n warmwatersak, ‘n reënjas en ‘n valskerm gegaan het nie. As ek dit alles oor moes doen, sou ek plekke besoek, dinge doen en ligter reis as wat ek het.’

Moenie wag nie; geniet jou lewe nou.

Sielskos: Num 1-2; Matt 5:21-26; Ps 35; Spr 10:28-29

Ervaar God se teenwoordigheid en vreugde

2023-05-01
Psalm 16:11 NLV

As jy ongelukkig was voor jy Jesus ontmoet het, is dit maklik om die fout te maak deur te dink dat die enigste plek waar mens sy teenwoordigheid kan geniet, die kerk is. Nee, jy kan sy teenwoordigheid oral geniet. By die huis, by die werk, by die skool en selfs gedurende tye van lyding en teëspoed.

Broer Lawrence, ‘n Karmelitiese monnik in ‘n Franse klooster, het die topverkoper, The Practice of the Presence of God, geskryf. Hy het ‘n afkeer van sy daaglikse roetine in die kombuis gehad. Toe het God vir hom gewys dat alles wat hy elke dag doen, vir God en saam met God gedoen kan word. Hierdie waarheid het sy lewe getransformeer.

Jy kan jou gedagtes ontwikkel om meer produktief te wees en jy kan ook jou siel ontwikkel om meer sensitief vir God te wees. Jy kan die plek bereik waar jy sy teenwoordigheid en sy behaagdheid in alles wat jy doen, kan aanvoel. Om te glo dat God by jou teenwoordig is sal jou nie veel help as jy dink dat Hy altyd ontevrede met jou is nie. Wanneer jy jouself egter as aanvaarbaar in Christus sien, besef jy dat Hy nie net altyd by jou teenwoordig is nie, maar dat Hy tevrede is met jou (sien Efesiërs 1:6). Dit sal jou denke oor God radikaal verander.

Daar is dosyne dinge wat met die alledaagse lewe verband hou en jy kan dit alles geniet as jy net die besluit neem om dit te doen – aantrek, werk toe gaan, dinge organiseer, take verrig, inkopies doen, ens. Dis immers die dinge waaruit die lewe bestaan. Vreugde kom uit ‘n besluit om vir elke oomblik wat jy gegee word as ‘n seldsame en waardevolle geskenk van God, dankbaar te wees.

Sielskos: Jak 3-5; Matt 5:13-20; Ps 94:12-23; Spr 10:27

Christus kom weer!

2023-04-30
2 Petrus 3:10 NLV

Moenie dat mense wat datums voorspel jou sinies oor Christus se spoedige wederkoms maak nie. Toe die stigter van ‘n groot kerkdenominasie in die pers die datum van Christus se wederkoms voorspel het, moes sy opvolgers in die openbaar erken dat hulle verkeerd was. Onthou jy die skrikaanjaers van Y2K? Hulle het dit ‘n wetenskaplike sekerheid verklaar dat die jaar 2000 die einde van die wêreld en die wederkoms van Christus sou meebring en het veroorsaak dat mense hul werk los, hul huise verkoop, kos opgaar en na die heuwels toe vlug. As gevolg van sulke verleenthede, verswyg of onderbeklemtoon baie predikers die waarheid van Christus se tweede koms. Ja, wanneer sommige mense die boodskap hoor, rol hulle hul oë en sê: ‘Nie alweer nie!’

Twyfel oor Christus se wederkoms is egter een van die tekens wat waarborg dat dit gaan gebeur. Die Bybel sê: ‘Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is. Hulle sal soos volg redeneer: ‘Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was’… Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ‘n dief… Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. Lewe in vrede met God’ (2 Petrus 3:3-4, 9-10, 14 NLV).

Sielskos: Kol 1:9-23; 1 Sam 3