Hoe God ons lei

2023-03-15
Psalm 119:105 NLV

Die woorde: ‘U woord is ‘n lamp vir my voete,’ beteken dat jy veronderstel is om volgens God se wil te loop, nie volgens jou eie gedagtes, wense of begeertes nie. Die woorde: ‘en ‘n lig op my pad,’ beteken dat jy nie sommer enige rigting kan inslaan nie; jy moet die pad wat God vir jou beplan het, volg.

Jy sal nooit verkeerd gaan wanneer jy die Skrif vir leiding raadpleeg nie, maar jy moet seker maak dat jy die Skrif in konteks lees. Moenie die ‘oop venster metode’ gebruik nie, waar jy die wind toelaat om oor die bladsye in jou Bybel te waai, dan jou oë toeknyp, na ‘n vers wys en sê: ‘Dit is God se leiding oor hierdie saak.’ As jy dit doen, kan jy dalk met die volgende vers as jou vers vir die dag opeindig: ‘Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op’ (Matteus 27:5 NLV).

Sal jy na ‘n dokter toe wil gaan wat sonder om jou te ondersoek, sê: ‘Dis jou galblaas’? Jy sal vra: ‘Hoe weet jy?’ En hy sal antwoord: “Wel, ‘n paar oomblikke gelede het ek by die venster gesit en God gevra om die bladsye van my anatomieboek tot by jou probleem te waai – en die onderwerp op die bladsy was toe ‘galblaas.'” Jy sal baie gou uit sy spreekkamer hardloop!

Sommige mense oefen hierdie soort teologiese toordery uit, beland dan in die moeilikheid en sê: ‘Wel, God het my gelei,’ terwyl God egter niks met hulle keuses te doen gehad het nie. Wanneer jy ‘n vers lees wat sê: ‘Dit is God se wil,’ kan jy seker weet dat dit sy wil is. As jy ongehoorsaam is aan Hom, sal jy ly en as jy Hom gehoorsaam, sal jy geseën word.

Sielskos: Est 5-10; Luk 17:1-19; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27

Die verhaal van jou Bybel

2023-03-14
1 Petrus 1:25 NLV

Daar was nie een Engelse kopie van die Bybel in die veertiende eeu nie! Dit was slegs in Latyn, die taal van die geestelikes, beskikbaar en was aan die podiums van die katedrale vasgeketting. Toe het ‘n prominente professor in teologie aan die Oxford Universiteit gesê: ‘Dis nie reg nie. Mense moet die Bybel in hulle eie taal kan lees.’ Kerkleiers het hom as ‘n ketter en ‘n instrument van die duiwel gebrandmerk.

Soos Noag wat spykers in die ark geslaan het terwyl mense hom gespot en geminag het, so het John Wycliffe begin om die Skrif te vertaal terwyl ‘n vloed van vervolging rondom hom ontstaan het. Toe hy uiteindelik sy vertaling van die Skrif voltooi het, het hy die volgende op die binneblad van die eerste kopie van die Engelse Skrif geskryf: ‘Hierdie Bybel is vertaal en sal ‘n regering van die mense, deur die mense en vir die mense, moontlik maak.’ Vyfhonderd jaar later het president Abraham Lincoln hierdie verklaring vir sy beroemde toespraak by Gettysburg geleen.

Dertig jaar nadat Wycliffe gesterf het, is hy weer as ‘n ketter verklaar. Gevolglik is sy liggaam opgegrawe, sy bene is tot stof verbrand en sy as is in ‘n rivier gegooi. ‘n Hedendaagse historikus beskryf die toneel as volg: ‘Thus this brook hath conveyed his ashes into (the river) Avon, Avon into Severn, Severn into the narrow seas, they into the ocean. And thus ashes… are the emblem of his doctrine… now… dispersed the world over.’

Daarom skryf Petrus: “‘Maar die woord van die Here hou vir ewig.’ En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.”

Sielskos: Est 1-4; Luk 16:19-31; Ps 24; Spr 7:24-27

Fokus op jou Godgegewe visie

2023-03-13
Handelinge 26:19 NLV

Wanneer God jou ‘n visie gee van wat Hy wil hê jy moet doen, sal jy teen die stroom van die wêreld moet skop. Die samelewing wil jou in ‘n boks hou. Die meeste mense is geestelik aan die status quo getrou. Hulle wil hê wat was, nie wat kan wees nie. Hulle soek veiligheid en eenvoudige antwoorde. Jy moet jouself dus toestemming gee om ‘n ander rigting in te slaan en nuwe grond te ontdek.

Paulus het gesê: ‘…ek [was] nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam… nie.’ Dit was sy verterende passie en die sentrale fokus van sy lewe. Hy het elke oggend opgestaan en daaraan gedink en elke aand met dit in sy gedagtes gaan slaap. Aan die einde van sy lewe, kon hy sê: ‘…ek het die wedloop voltooi… En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid…’ (2 Timoteus 4:7-8 NLV). Of jou visie nou is om ‘n groot familie, ‘n groot kerk, ‘n groot besigheid, of ‘n groot ‘enigiets’ op te bou, jy sal daarop moet fokus.

Die skrywer Harry A. Overstreet het opgemerk: ‘Die onvolwasse verstand spring van een ding na die volgende; die volwasse verstand wil graag volhard.’ Verdien elke area van jou lewe gefokusde dinktyd? Nee. Wees selektief in jou denke. Wat het God jou geroep om te doen? Wat is jou rol daarin? Watter vaardighede moet jy opskerp? Watter kennis moet jy opdoen? Watter verhoudings moet jy bou?

Die eerste vraag wat Paulus gevra het toe God vir hom sy visie gegee het, was: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). Dis die vraag wat jy ook vandag vir God moet vra.

Sielskos: Eks 39-40; Luk 16:1-18; Ps 135; Spr 7:21-23

Stappe om jou bekommernisse te oorkom

2023-03-12
Job 42:2 NLV

Job het sy rykdom, sy gesondheid en sy kinders verloor. Die boek wat hy geskryf het, is ‘n gesprek tussen homself en God. Aan die begin van die boek sê Job: ‘Luister na my klag…’ (Job 13:6 NLV). Hy vra: ‘Hoekom gebeur dit alles met my?’ Op hierdie punt is hy totaal en al op homself gefokus. Teen die middel van die boek het Job egter geestelik gegroei en volg hy nou ‘n ander benadering – hy besluit om op God se Woord te staan: ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar. Want ek het op sy paaie gebly en Hom gevolg sonder om weg te draai. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het. Wat Hy sê, het ek in my hart bewaar’ (Job 23:10-12 NLV).

Teen die laaste hoofstuk van sy boek, besluit Job om God volkome te vertrou: ‘Ek weet nou U kan enigiets doen, en niemand kan U keer nie… Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:2, 5 NLV). Job het uiteindelik by die plek uitgekom waar hy kon sê: ‘Ek vertrou op God, daar is geen rede om my te bekommer nie!’

Na nege maande se bekommernis, vrae en redenasies, besluit hy dat hy nie al die antwoorde op sy vrae nodig het nie, hy het net die wete dat God vir hom omgee, nodig. Sy verhaal eindig met hierdie woorde: ‘…die Here [het] hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het’ (vers 10 NLV). Daar het jy dit; die stappe om jou bekommernisse te oorkom!

Sielskos: Hand 2:1-21; Joël 2:23-32

Jou beker vol seëninge

2023-03-11
Psalm 23:5 NLV

Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, wat U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge’ (verse 4-5 NLV).

God het nie beloof dat jy nie met die dood, of vrees, of die bose, of vyande te doen sal kry nie. Hy het eenvoudig gesê dat ten spyte daarvan, of selfs soms te midde daarvan, jou beker vol seëninge sal wees. Paulus skryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Hy deurweek jou met vreugde en vrede, sodat ‘…julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Hy gee jou vreugde in oorvloed, sodat ‘…julle… die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde [kan] bring nie’ (1 Petrus 1:8 NLV). Hy gee jou oorvloedige vrede – Hy gee ‘…God se vrede… Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV).

Wanneer jy dus sukkel om met jou salaris uit te kom, of die toekoms vrees, kyk in die spieël en sê: ‘God is my bron; ek het meer as genoeg, my beker is vol seëninge.’ Moet dit ook nie net in tye van nood of krisis doen nie; maak dit ‘n gewoonte wat jy elke dag uitoefen.

Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20

God is jou voorsiener

2023-03-10
Psalm 23:5 NLV

Die volgende keer wat jy by die tafel aansit om ‘n heerlike maaltyd te geniet, stop en dink aan al die mense wat dit moontlik gemaak het. ‘n Boer het dit gekweek of grootgemaak; ‘n voedselverwerkingsmaatskappy het dit voorberei en verpak; ‘n vragmotormaatskappy het dit vervoer; ‘n kruidenierswinkel het dit verkoop; toe het iemand die prys betaal om dit te koop, dit gaar te maak en dit vir jou voorgesit om te eet.

Daar is baie skakels in hierdie ketting, maar die eerste skakel is God. Hy het die grond, die sade en die vee gemaak. Sonder Hom, sou jy verhonger het. Dis hoekom dit gepas is om elke keer wat jy by die tafel aansit, Hom te dank. Alles wat jy het, kom van God af (sien Jakobus 1:17). Miskien dink jy: ‘Maar ek het hard gewerk vir dit wat ek het.’ Dan moet jy vir jou werksetiek en jou moeite geloof word.

Dit is egter nie die einde van die storie nie: ‘Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet. Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in die goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel’ (1 Timoteus 6:17-18 NLV).

Wanneer God sê jy moet gereed en gewillig wees om te deel, sê Hy inderwaarheid: ‘Net soos Ek die voorsiener van al jou seëninge is, so moet jy uitgaan en daardie seëninge met ander deel.’

Sielskos: Eks 33-35; Luk 15:1-10; Ps 112; Spr 7:6-9