2023-03-20
Spreuke 30:1 AFR53
Dr Richard Swenson sê: ‘Jy kan in die woud ingaan, ‘n boompie van tien voet kies, dit oorbuig en wanneer jy dit loslaat, sal dit na sy normale hoogte terugskiet. As jy dit egter verder en verder buig, sal dit geboë bly. Met stres buig jy eers en dan herstel jy. Met uitbranding buig jy eers en dan breek jy – en jy bly gebroke. Wanneer die skrywer van Spreuke sê: ‘…Ek het my moeg gemaak, o God…,’ verwys hy nie na ‘n versinsel van sy verbeelding of ‘n sensasionele diagnose deur sielkundiges nie. Uitbranding is werklik, dit is algemeen en dit is gevaarlik; dit lei tot prikkelbaarheid, woede, paranoia, hoofpyne, maagsere, depressie en selfdood. Uitbranding veroorsaak dat iets binne-in jou breek; jy gee nie om wie jou sien of hoor nie, jy wil net wegkom. Die goeie nuus is dat jy jou passie, entoesiasme, produktiwiteit en uitnemendheid kan herstel, maar dit neem egter tyd en die genesingsproses veroorsaak dikwels littekens. Uitbranding is algemeen onder geestelikgesinde mense wat sensitief is. Hulle sien pyn en internaliseer dit. Hulle wil die gewondes help, maar hulle besef nie dat hulle nooit ontwerp is om die wêreld op hul skouers te dra nie.’
Wat is dus die oplossing? ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Om Psalm 91 se voordele te ontvang, moet jy egter aan sy voorwaardes voldoen deur God jou skuilplek te maak, in Hom te bly en jouself aan sy gesag te onderwerp. ‘Ek sal vir die Here sê: ‘U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou’ (Psalm 91:2 NLV). Lees dus vandag God se Woord, internaliseer, verpersoonlik en verbaliseer dit, en jou lewe sal ‘n opwaartse wending neem.
Sielskos: 1 Kor 10-11; Matt 2:13-18; Ps 130; Spr 10:12
Hebreërs 11:6 NLV
Hier is drie waarhede uit die Skrif wat jou geloof meer effektief sal maak: Eerstens, glo dat Hy werklik dáár is. Die krag van die taal wat hier gebruik word, is baie meer as net ‘n vae erkenning van God se bestaan. Hy is die enigste ware God! Hierdie Skrifgedeelte sê Hy is uniek, opreg en permanent teenwoordig en aktief.
Tweedens, glo dat God in staat is. Toe twee blinde mans Jesus genader het sodat Hy hulle gesond kon maak, het Hy vir hulle gevra: “…’Glo julle regtig Ek kan julle gesond maak?’ Hulle sê vir Hom, ‘Ja, Here, ons glo U kan dit doen.’ Hy raak toe hulle oë aan en sê: ‘Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur'” (Matteus 9:28-29 NLV). Onmiddellik kon hulle sien. Jesus het geweet dat Hy in staat is om hulle gesond te maak, maar Hy wou hê hulle moes glo dat Hy dit kon doen. Totdat jy nie in God se vermoë om aan jou behoefte te voldoen glo nie, het jy geen basis om jou vertroue en gebede op te baseer nie.
Derdens, glo dat God gewillig is. As jy weet dat Hy in staat is, moet jy ‘n tree in geloof neem. ‘n Melaatse man het Jesus genader en gesê: ‘…’Here, as U wil, kan U my gesond maak.’ Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ En dadelik het sy melaatsheid verdwyn’ (Matteus 8:2-3 NLV). Is God gewillig? Hy sê dat Hy ‘dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.’ Dit laat geen plek vir twyfel nie. God is vandag nie net in staat nie, maar ook gewillig om aan jou behoefte te voldoen.
Sielskos: Job 8-10; Luk 19:1-21; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9
2023-03-19
Psalm 30:6 NLV
Een huwelikskenner vertel dat ‘n enkelma hom ‘n verhaal gestuur het wat gehelp het om die eensaamheid en stres om kinders alleen groot te maak, te verduidelik. Sy sê dat sy een reënerige dag by haar venster uitgekyk het en ‘n rooiborsie en haar kuikens in hul nes gesien het. Soos die reën geval het, het die rooiborsie haar kuikens met haar uitgestrekte vlerke bedek. Toe het dit begin hael. In plaas daarvan om haar kop veilig in die nes te druk, het die rooiborsie haar kop opwaarts gestrek en die houe gevat om haar kuikens te beskerm. Al die kuikens het dit veilig deur die storm gemaak. Wat ‘n grafiese illustrasie van die uitdagings van enkelouerskap!
Die verantwoordelikheid om kinders alleen groot te maak is meedoënloos en vereis van ‘n ma of pa om geld te verdien, te kook, skoon te maak, toesig te hou oor huiswerk, vir siek kinders te sorg, ensovoorts. Tussendeur hierdie daaglikse verpligtinge, moet hulle ook uitpluis hoe om aan hulle eie persoonlike en geestelike behoeftes te voldoen. In konteks geneem, mag dit dalk een van die moeilikste opdragte op aarde wees.
Enkelouers, hetsy nou moeders of vaders, het ons voortdurende ondersteuning en gebede nodig. Aan diegene wat die houe namens hulle kinders neem, wees verseker dat daar beter dae aan die kom is. Die storm waarin jy jou tans bevind, sal nie vir ewig duur nie. ‘n Pragtige reënboog sal binnekort te voorskyn kom. Wanneer die werk voltooi is en die kroos gesonde klein voëltjies groot is, sal daar soete voordele vir die ouers wat nie wegvlieg nie, wees. God se Woord beloof: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.’
Sielskos: Jes 40:1-31; Joh 9:1-39
2023-03-18
Psalm 77:3 NLV
Hier is twee belangrike gebedsbeginsels: 1) Praat met God te midde van moeilikheid. Dit is die moeilike tye wat jou op jou knieë dwing – ‘n slegte mediese verslag, ‘n kind wat verslaaf is aan dwelms, ‘n verlore werk of ‘n moeilike huwelik. Dis hoekom God moeilike tye toelaat! Hy laat toe dat moeilikheid ons teister – nie om ons ellendig te laat voel nie, maar om ons na Hom toe te bring. Hosea die profeet het gesê: ‘…Sodra hulle moeilikheid het, dán sal julle My soek’ (Hosea 5:15 NLV). God se vaderlike hart wil hê dat ons in Hom bly en Hom vertrou. Hy is lief genoeg vir ons om moeilikheid in ons lewens toe te laat om ons sodoende nader aan Hom te bring. Wanneer ons na Hom in moeilike tye draai, vind ons uit dat Hy ‘…ons toevlug en ons krag [is]; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:2 NLV).
2) Praat ten alle tye met God. In sy bekende boek: The Practice of the Presence of God, verwys broer Lawrence na gebed as ‘n voortdurende gesprek met God – ‘n gebruik vir alle tye, plekke en omstandighede. Gesprekke met God terwyl hy kook of skottelgoed was, het hy net so bevredigend soos in sy toegewese gebedstye gevind. Hy raai ons aan om voortdurend te bid: ‘Sodat ons onsself aan ‘n voortdurende gesprek in eenvoud met Hom gewoond kan maak. Dat ons net hoef te erken dat God intiem by ons teenwoordig is en ons onsself elke oomblik tot Hom moet rig.’ Dit klink soos Paulus se instruksies oor die onderwerp: ‘Doen alles deur gebed en smeking… en bid vir almal wat aan God behoort’ (Efesiërs 6:18 NLV).
Sielskos: Job 5-7; Luk 18:18-43; Ps 19; Spr 8:6-7
2023-03-17
Psalm 51:9 NLV
Onthou jy toe die meeste restaurante vasgestelde ure gehad het? Hulle skedule het bepaal of jy honger moes gaan, al dan nie. Nie meer nie: nou kan jy enige tyd wanneer jy honger raak, by baie van jou gunsteling eetplekke inhardloop. Dis hoe God werk; Hy is 24/7 beskikbaar. Alhoewel gebed nie tot sekere tye beperk word nie, is daar sekere tye wat dit noodsaaklik is om met God te praat. Hier is twee van daardie tye:
1) Wanneer jy gesondig het. Jou emosies van skuld en skande, plus Satan ‘die aanklaer,’ sal jou aansê om God te vermy. Die enigste oplossing vir sonde is egter om na Hom toe te draai. Belas deur owerspel, misleiding en moord, het Dawid besef dat hy sy sonde aan God moet bely. ‘Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees… Skep vir my ‘n rein hart, o God. Gee vir my ‘n nuwe, standvastige gees’ (verse 9, 12 NLV). Johannes het gesê God ‘…is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). Het jy gesondig? ‘n Nuwe begin is net ‘n gebed weg.
2) Wanneer jy bekommerd en bang is. Jy hoef nie ver te kyk om dinge te kry om oor bekommerd te wees nie. Bekommernisse oor finansies, werk, gesondheid en familie kan jou gestres en angstig maak. Waarnatoe moet jy draai? Gebed is God se antwoord op vrees en angs. ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles… As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).
Sielskos: Job 1-4; Luk 18:1-17; Ps 11; Spr 8:4-5
2023-03-16
Johannes 8:11 NLV
“Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op die daad van owerspel betrap is… Hulle sê vir Hom: ‘Leermeester… Moses het in die wet aan ons die opdrag gegee om sulke vroue te stenig, maar wat sê u daaroor?’… Jesus het egter afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: ‘Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi’… Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: ‘Dame, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?’ Sy het geantwoord: ‘Niemand nie, Meneer.’ Jesus sê toe vir haar: ‘Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie'” (verse 3-7 10-11 NLV).
Daardie dag het Jesus drie dinge gedemonstreer: 1) Die skynheiligheid van ‘n dubbele standaard. Aangesien hierdie vrou op heterdaad betrap is, het hulle seker geweet wie die man ook was. Daar is steeds vandag ‘n dubbele standaard wat neerkyk op ‘n vrou as gevolg van haar verlede, terwyl die man verskoon word. Die Fariseërs het klippe gebruik, ons gebruik woorde, maar die slagoffer word ongeag gewond.
2) Wie mag veroordeel. ‘Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi.’ Wie was die enigste sondelose daardie dag tussen hulle? Jesus! Dus is Hy alleen gekwalifiseerd om te oordeel.
3) Jy kan bo jou verlede uitstyg. ‘Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.’ Hierdie woorde kan as volg geparafraseer word: ‘Gaan, en omdat jy ‘n ontmoeting met Jesus gehad het, kan jy bo jou verlede uitstyg.’
Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 17:20-37; Ps 115; Spr 8:1-3