‘n Gebed van toewyding aan God

2023-05-11
Johannes 17:4 NLV

As dit die begeerte van jou hart is om God te behaag en sy wil vir jou lewe te vervul, is hier ‘n gebed vir jou: ‘Here, ek dank U dat U my steeds liefhet, selfs al weet U alles van my. U ken my gedagtes, my foute, my sondes en tog noem U my u kind. U genade teenoor my gaan alle verstand te bowe. Meer as enigiets anders, wil ek U intiem ken en u teenwoordigheid daagliks in my lewe aanvoel. As daar enige deel van my is wat ek van U weerhou, wys dit uit vir my sodat ek U kan uitnooi om daar te heers. Gaan my binne, Heilige Gees, en verkwik my siel met riviere van lewende water. Vloei dan uit my uit na ‘n droë en dors wêreld (sien Johannes 7:38-39).

Help my om my oë op U, in plaas van ander, gerig te hou (sien Hebreërs 12:1-2). Here, wees altyd my rykste skat. Help my om nooit ‘n afgod van enigiets of enigiemand anders te maak nie of om toe te laat dat besittings of afleidings van hierdie wêreld op enige manier voor U te staan kom nie. U is my geneser, my hoop en my krag.

Wanneer ek vryheid nodig het, is U my Redder. U is my skild teen die Vyand, my berader wanneer ek leiding nodig het en my skuilplek in dae van teëspoed (sien Psalm 32:7). U is waarlik die God van wonderwerke. Doen u wonderwerke van genade in my lewe en hou aan om my dag vir dag te verander om meer soos U te wees (sien 2 Korintiërs 3:18). In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Num 19-21; Matt 8:18-34; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11

‘n Gebed vir finansiële tevredenheid

2023-05-10
1 Timoteus 6:6 NLV

Die Bybel sê: ‘Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ‘n groot rykdom. Alles in aanmerking geneem, het ons tog niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons sal ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort. Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor’ (verse 6-10 NLV).

Hier is ‘n gebed vir finansiële tevredenheid: ‘Here, genees my van die stres van kommer oor hoe mense my sien. Dankie dat U my leer om langs U, nie voor U uit te loop nie. Ek berou die tye wat ek voor U uit geloop het. Ek is ook spyt oor die tye wat U my probeer seën het en ek êrens agter U was, besig om met ou kwessies te stoei. Van vandag af sal ek saam met U in vrede en welvaart loop, met die wete wie ek is en Wie s’n ek is. Ek berei my voor om deur die praktiese treë wat ek besig is om te leer, geseën te word. My fokus is egter op U en my verhouding met U. U Woord sê dat wanneer ek U eerste stel, sal ander dinge gebeur soos wat ek myself voorberei vir dit wat U vir my in gedagte het (sien Matteus 6:33). Dankie vir die volwassenheid wat ek geestelik, emosioneel en finansieel ontvang. My familie sal deur dit wat U besig is om my te leer, geseën word. Amen.’

Sielskos: Num 16-18; Matt 8:1-17; Ps 44:1-8; Spr 11:9

Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (4)

2023-05-09
Daniël 6:23 NLV

Hier is nog ‘n paar situasies waar God vir jou ‘n engel kan stuur:

1) Wanneer jy in die moeilikheid kom omdat jy die regte ding doen. Deur God se wil te doen, het Daniël in die leeukuil beland, maar God het hom daaruit gebring. Die koning het verklaar: ‘…dat in al die gebiede van my ryk daar agting en respek moet wees vir die God van Daniël. Hy is die God wat lewe en vir altyd bestaan…’ (Daniël 6:27 NLV).

2) Wanneer jy moeg is om versoeking te weerstaan. Wanneer die drang om ‘n drankie, ‘n dwelm of ‘n sigaret op te tel oorweldigend voel, of jy dink dat die enigste manier uit die situasie is om ‘n leuen te vertel, of eensaamheid jou in die arms van die verkeerde persoon dryf. Nadat Jesus vir veertig dae lank teen versoeking geveg het, sê die Bybel: ‘Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg’ (Matteus 4:11 NLV).

3) Wanneer die las wat jy dra te swaar voel. Voor Jesus se kruisiging het Hy die bepalende gebed van sy lewe gebid: “‘Vader, as U wil, neem tog hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!’ Daar het ‘n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk” (Lukas 22:42-43 NLV). God sal jou deur sy Woord en gebed versterk. Soms sal Hy mense wat jy ken stuur om jou te help. Paulus het geskryf: ‘…Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen… God… het ons ook ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus’ (2 Korintiërs 7:5-6 NLV). Ander kere sal Hy ‘n engel stuur.

Die punt bly egter staan: Wanneer jy tot God om hulp roep, kan jy seker wees dat hulp op pad is.

Sielskos: Num 14-15; Matt 7:15-29; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8

Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (3)

2023-05-08
Psalm 34:8 NLV

In watter ander situasies kan God ‘n engel stuur om jou te help?

1) Om jouself uit die moeilikheid te help. Lot het in Sodom gewoon, ‘n stad wat op die punt was om as gevolg van sonde verwoes te word. Toe het God engele gestuur om hom en sy familie van hul naderende ondergang te red. Lot het geluister, gehoorsaam en oorleef, maar ongelukkig het sy vrou nie en sy het omgekom (sien Genesis 19).

2) Om jou lewensrigting te verander. ‘Moses het sy skoonpa, Jetro, se skape opgepas… Skielik het die engel van God aan hom verskyn in ‘n vlam wat in ‘n bos brand…’ (Eksodus 3:1-2 NLV). Moses het gedink dat sy lewe verby was. Hy het in ‘n paleis begin en in ‘n weiveld opgeëindig. Elke ervaring, goed en sleg, het hom egter toegerus om die grootste uittog van mense in die geskiedenis te lei.

3) Wanneer jy voor jou grootste uitdaging te staan kom. Om die Beloofde Land binne te gaan, moes Israel eers Jerigo verower. Josua het nie ‘n idee gehad hoe om dit te doen nie. Toe het God ‘n engel gestuur met ‘n plan wat letterlik die stad se mure sou laat ineenstort (sien Josua 5:14).

4) Wanneer jy dit jou beste gegee het en wil tou opgooi. Na sy skouspelagtige oorwinning oor die Baäl profete op Karmelberg, het Isebel beveel dat die profeet Elia doodgemaak moet word. Hoe het dit hom geaffekteer? “…’Ek het nou genoeg gehad, Here,’ het hy gesê. ‘Neem nou maar my lewe…’ Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ‘n engel het hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet!'” (1 Konings 19:4-5 NLV).

Vandag stuur God steeds engele in vermomming om ons te help.

Sielskos: Num 11-13; Matt 7:1-14; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6

Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (2)

2023-05-07
Psalm 91:11 NLV

In watter situasie kan God ‘n engel stuur om jou te help? 1) Wanneer diegene wat jy liefhet en vertrou jou teleurstel. Dink jou in hoe Hagar gevoel het. In ‘n gesamentlike besluit met sy vrou, Sara, het Abraham vir Hagar swanger gemaak in ‘n poging om God se belofte te probeer vervul. Toe Isak egter ‘n jaar later gebore is, het Abraham haar weggestuur. Huilend het Hagar baba Ismael onder ‘n boom gelos en weggeloop. God het egter ‘n engel gestuur om haar te sê dat haar seun bestem is om die vader van ‘n groot nasie te wees (sien Genesis 21:18).

2) Wanneer jy verneder word en nie jouself kan verdedig nie. Maria het beplan om eers te trou en daarna ‘n baba te kry. God het egter ‘n ander plan gehad. Nie net het sy voor openbare vernedering te staan gekom nie, maar volgens die wet moes sy doodgemaak geword het. God het egter ‘n engel gestuur om haar te verdedig en vir haar te sê dat sy in die middel van God se wil was (sien Lukas 1:34-38).

3) Wanneer jy oor die dood van ‘n geliefde rou en bang is vir die toekoms. Maria Magdalena het Jesus liewer as die lewe self gehad, toe Hy dus sterf en begrawe is, was sy verbyster en haar hart was gebroke. Toe het God ‘n engel gestuur om aan te kondig: ‘Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood…’ (Matteus 28:6 NLV). Die Bybel sê: ‘…Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!’ (Hebreërs 13:2 NLV).

‘n Siniese wêreld kan jou daaraan laat twyfel dat God jou waarlik so lief het dat Hy ‘n engel sal stuur om jou te help. Dis egter die waarheid.

Sielskos: Ps 34; Hand 12:1-17

Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (1)

2023-05-06
Hebreërs 1:14 NLV

God kan in verskeie vorms na jou toe kom. Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het en die storm stilgemaak het, het hulle gedink dat Hy ‘n spook was. Jou intellek kan dus jou geloof ondermyn. Die Bybel sê dat engele ‘…geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat gered gaan word,’ is.

Het jy al ooit ‘n engel gesien? Hulle is nie altyd in wit geklee met dramatiese groot vlerke nie. Soms is hulle so alledaags dat hulle oorgesien word. ‘Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!’ (Hebreërs 13:2 NLV).

Miskien dink jy dat God nie vir ons engele stuur nie, omdat Hy sy Heilige Gees vir ons gegee het om ons te help, te beskerm en te lei. Dis egter nie so nie. Onthou, God het ‘n engel gestuur om Petrus die aand voor sy teregstelling uit die tronk te red. Paulus was op pad Rome toe op ‘n skip wat bestem was om deur ‘n woeste storm vernietig te word. God het egter ‘n engel gestuur om hom te verseker dat hy die storm sou oorleef. Dus het Paulus aangekondig: ‘…Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan. Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus…’ Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het’ (Handelinge 27:22-25 NLV).

Jy mag dalk nie in staat wees om engele te sien nie, maar jy kan seker wees dat hulle jou kan sien; hulle neem inderdaad nooit hulle oë van jou af nie (sien Matteus 18:10).

Sielskos: Num 8-10; Matt 6:19-34; Ps 37:16-24; Spr 11:4