Lesse van ‘n gebroke hart

2023-05-17
Psalm 51:14 NLV

‘n Gebroke hart kan nie genees word deur sestien uur ‘n dag te werk, dit in die gym uit te sweet of middels wat jou gemoed verander, soos alkohol en dwelms, te gebruik nie. Hierdie dinge kan ‘n tydelike oplossing bring, maar bring nie ‘n blywende genesing mee nie. Nadat hy in sonde en skaamte verval het, het Dawid gebid: ‘Gee my tog weer die vreugde van u redding…’ Goeie nuus: God kan dit wat jy verloor het herstel en jou dinge oor jouself leer wat jy nie geweet het nie, om jou sodoende ‘n beter persoon te maak.

Een van die eerste lesse wat Hy ons leer gaan oor vergifnis. Jy kan nie die swaard van onvergifnis oor iemand anders se kop hou en verwag om self genesing te kry nie. Jou vrede en selfvertroue voor God hang van jou gewilligheid om genade aan ander te bewys, af (sien Markus 11:25).

Die tweede les wat Hy ons leer, gaan oor verhoudings. Sommige verhoudings sal vir jou meer pyn as plesier gee. Judas se verraad, so pynlik soos wat dit was, was instrumenteel om die geskiedenis se grootste gebeurtenis – die kruis – te weeg te bring. Beteken dit dat enigiemand en almal in jou lewe kan instap en doen wat hulle wil? Nee; hulle toegang tot jou word deur die skild van God se doel vir jou, beperk. Sommige mense bring vertroosting terwyl ander karakter bou en jy het beide nodig.

Die derde les wat Hy ons leer gaan oor wanneer om ‘ja’ te sê. ‘…Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie’ (Openbaring 3:7 NLV). Of God dus die deur oopmaak of dit sluit, vertrou Hom, volg Hom en sê: ‘Ja, Here,’ want Hy is lief vir jou en het net die beste vir jou in gedagte.

Sielskos: Num 32:25-33:56; Matt 10:11-20; Ps 72:1-11; Spr 11:19-21

Verheerlik dit God?

2023-05-16
1 Korintiërs 10:31 NLV

Wanneer jy op die punt staan om iets te doen waaroor jy nie seker is nie, vra jouself af: ‘Sal dit God verheerlik as ek dit doen?’ As jy hierdie reël volg, sal jy nie verkeerd gaan in die lewe nie. Kom ons wees meer spesifiek. Wanneer jy jou geld op ‘n eerlike manier verdien, is dit joune om te spandeer soos jy wil. Nadat jy God sy deel, wat by 10 persent begin, gegee het, kan jy kies wat om met die res te doen.

Jou finansiële besluite het egter nagevolge wat nie net jou nie, maar ook jou familie affekteer. Wanneer jy skuld aangaan wat jy nie kan terugbetaal nie, ly hulle saam met jou. Jou reputasie ly ook daaronder. Die vraag is nie of jy dit kan bekostig nie, maar of God daardeur verheerlik sal word? Sal Hy tevrede wees?

Wat van jou verhoudings? Jy is enkellopend, eensaam en smag na geselskap. Jy ontmoet iemand waarvan jy regtig hou. Wanneer ongekontroleerde passie deesdae tot seks voor die huwelik lei, knip die samelewing nie eers ‘n oog nie. As verloste kind van God is jy egter anders. Jesus sê dat ons in die wêreld, maar nie van die wêreld is nie. Dit beteken dat ons volgens ‘n ander stel reëls leef: Skriftuurlike reëls. Miskien sal jou maat jou weiering van seksuele intimiteit as verwerping sien en mag dalk selfs besluit om jou te verlaat. Wat staan jou te doen?

Vra jouself af: ‘Word God hierdeur verheerlik? Sal Hy tevrede wees?’ Jy sê: ‘Dis nie maklik om God tevrede te stel nie.’ Dit was nog nooit nie. As jy egter met vreugde, selfrespek, selfvertroue en integriteit wil lewe, moet jy die regte pad kies. Dis die pad wat God altyd verheerlik.

Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 10:1-10; Ps 67; Spr 11:16-18

Verander jou denke, verander jou lewe (3)

2023-05-15
Spreuke 1:5 NLV

Die boek Spreuke begin met die volgende woorde: ‘Hierdie is die spreuke van Salomo… Die doel van hierdie spreuke is om mense wysheid te leer… Dit sal hulle help om wyse woorde te verstaan. Deur hierdie woorde sal hulle dissipline leer en weet hoe om regverdig, reg en billik op te tree. Iemand wat nog onervare is, sal verstandig word. Die spreuke sal jongmense kennis gee en onderskeidingsvermoë. Selfs hulle wat wys is, kan luister na die spreuke sodat hulle tot dieper insig kan kom…’ (Spreuke 1:1-5 NLV).

Kreatiewe denke is eenvoudig gedissiplineerde denke. As jy dink dat jy alles weet wat daar is om te weet, dan weet jy reeds alles wat jy ooit gaan weet. Om buite die boks te dink, moet jy begin om die regte vrae te vra. Sir Antony Jay het gesê: ‘Die onkreatiewe denker kan die verkeerde antwoorde raaksien, maar dit verg ‘n kreatiewe denker om die verkeerde vrae raak te sien.’

Verkeerde vrae bring die proses van kreatiewe denke tot ‘n stilstand. Hulle stuur jou by dieselfde ou paadjie af. Om jou lewe te verander, moet jy jou denke verander. Dit beteken dat jy gewillig moet wees om die volgende twee vrae te vra: ‘Hoekom moet dit altyd op hierdie manier gedoen word? Is daar ‘n beter manier?’

Of jou doelwit nou is om ‘n beter lewe, ‘n beter familie, ‘n beter besigheid, ‘n beter kerk, ‘n beter beroep of ‘n beter ‘watookal’ te bou, alle verandering en vooruitgang moet begin deur hierdie twee vrae eerlik te beantwoord. Wil jy dus sukses behaal? Dan moet jy gewillig wees om jou denke te verander om dit te kan bereik.

Sielskos: Num 27-29; Matt 9:27-38; Ps 62; Spr 11:15

Verander jou denke, verander jou lewe (2)

2023-05-14
Spreuke 13:20 NLV

As jy deur negatiwiteit omring word, moet jy vir ‘n beter omgewing op die uitkyk wees. Charlie Brower het gesê: “‘n Nuwe idee is delikaat. Dit kan deur ‘n spot of ‘n gaap doodgemaak word; dit kan deur ‘n kwinkslag doodgesteek word en deur ‘n frons op die regte man se voorkop, doodbekommer word.”

Negatiewe omgewings vermoor elke minuut goeie idees. ‘n Kreatiewe omgewing, daarenteen, word soos ‘n kweekhuis waar idees saadskiet, opkom en floreer. Jy moet mense uitsoek wat aan persoonlike groei toegewyd is, om self te kan groei. Sulke mense:

1) Moedig kreatiwiteit aan. David Hills sê: ‘Studies oor kreatiwiteit dui daarop dat die grootste enkele veranderlike of werknemers kreatief sal wees of nie, is of hulle sien dat hulle toestemming het om kreatief te wees.’ Wanneer innovasie en goeie denke openlik aangemoedig en beloon word, sien mense dat hulle toestemming het om kreatief te wees.

2) Wees gewillig om die risiko van mislukking te neem. Selfs wanneer jy deeglik gestudeer en jouself voorberei het, sal jy verskeie kere moet probeer om sukses te behaal. Jy moet dus in ‘n omgewing wees waar foute as deel van die kreatiewe proses gesien word.

3) Glo in die potensiaal van ‘n droom. ‘n Kreatiewe omgewing moedig die gebruik van ‘n leë vel papier en die vraag: ‘As jy ‘n prentjie kan teken van wat jy wil bereik, hoe sal dit lyk?’ aan. ‘n Kreatiewe omgewing het dr Martin Luther King jnr toegelaat om met passie te praat en te verklaar: ‘Ek het ‘n droom,’ nie ‘Ek het ‘n doelwit,’ nie. Doelwitte mag fokus gee, maar drome het krag. Drome vergroot jou wêreld. En God is die gewer van drome en visies (sien Joël 2:28 NLV).

Sielskos: Jes 51:1-16; Mark 5:1-20

Verander jou denke, verander jou lewe (1)

2023-05-13
Romeine 12:2 NLV

Wanneer jy kreatief dink, dink jy soos God jou Skepper. Nie almal sal egter jou kreatiewe idees verwelkom nie. Jesus is nie gekruisig omdat Hy wonderwerke gedoen het nie; daarvoor was Hy geliefd en is toegejuig. Hy is gekruisig omdat Hy idees gehad het wat die status quo uitgedaag het. God is die gewer van groot konsepte, waarhede en idees. Wanneer Hy dus vir jou een gee, moenie toelaat dat enigiemand jou daaruit praat nie. Moet ook nie dat die vrees vir verwerping of mislukking jou idee doodmaak nie.

Jy kan immers nie iets nuut en opwindend doen as jy in dieselfde ou groef bly nie. Moenie net harder aan dieselfde ou ding werk nie; maak ‘n verandering. Die eerste verandering is hoe jy dink, waarna jy luister en wat jy glo. Kyk na die volgende frases: ‘Ek is nie ‘n kreatiewe persoon nie. Volg die reëls. Moenie vrae vra nie. Moenie anders wees nie. Bly binne die lyne. Daar is net een manier om dit te doen. Moenie dwaas wees nie. Dink aan jou reputasie. Dis nie logies nie. Dis nie prakties nie. Dis nog nooit vantevore gedoen nie. Dit kan nie gedoen word nie. Dit het nie vir hulle gewerk nie. Ons het dit al probeer. Dis te veel werk. Ons kan nie bekostig om ‘n fout te maak nie. Dit sal te moeilik wees om te bestuur. Ons het nie tyd nie. Ons het nie die geld nie. Ja, maar…’

Paulus skryf: ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (vers 2 NLV). Die woord vir jou vandag is – verander jou denke, verander jou lewe.

Sielskos: Num 25-26; Matt 9:14-26; Ps 57; Spr 11:14

Hê ‘n visie vir jou lewe

2023-05-12
Joël 2:28 NLV

Wanneer jy ‘n klein seuntjie vra wat hy wil wees wanneer hy groot is, mag hy dalk ‘n brandweerman of ‘n dokter sê. Wanneer jy ‘n klein dogtertjie dieselfde vraag vra, sal sy dalk antwoord dat sy ‘n filmster of ‘n feetjieprinses wil wees. Die vermoë om te droom is ‘n gawe wat God binne elkeen van ons geplaas het. As jy groot dinge in die lewe wil bereik, het jy ‘n visie nodig. Josef se visie het eers waar geword toe hy dertig was, maar hy het dit al in sy tienerjare van God af ontvang. God sal vir jou ook een gee: ‘…Jongmense sal visioene sien.’

Op die oomblik mag jy dalk verskillende opsies vir jou lewe oorweeg en selfs met sommige eksperimenteer. Dis in die haak, jy leer nog jouself; jou sterk- en swakpunte, wat jou aandag trek en waarin jy geen belangstelling het nie, ken. As jy jou denke net op een ding fokus en jou ambisie verander dan, sal jy jou beste denke daarop gemors het. Soos jy egter groei en volwasse word, moet jy selektief begin word. Daar is ‘n Chinese gesegde wat lui: “‘n Man wat twee hase jaag, vang geen.”

Wanneer jy ‘n Godgegewe visie ontvang, het dit blywende krag. Dis soos ‘n vuur wat in jou brand. Dit mag dalk ‘n voltydse beroep of ‘n deeltydse werk wees, maar dis die ding waaruit jy die meeste vervulling sal kry. Paulus het ‘n visie gehad en gevolglik het hy die geskiedenis verander en is daar kerke en katedrale wat na hom vernoem is. Hier is ‘n gebed wat God sal antwoord: ‘Here, gee my ‘n visie vir my lewe!’

Sielskos: Num 22-24; Matt 9:1-13; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13