2023-03-26
Filippense 3:20 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n pastoor wat vir sy gemeente gevra het: ‘Wie van julle wil hemel toe gaan?’ Almal, behalwe een klein seuntjie, het hulle hande opgesteek. Die pastoor het gesê: ‘Seun, wil jy nie hemel toe gaan nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, maar ek dog jy maak ‘n groep bymekaar om nou dadelik te gaan!’
Kom ons wees eerlik, totdat ‘n geliefde sterf of ons oud word en voel dat ons ons opdrag hier op aarde voltooi het, dink of praat ons nie baie oor die hemel nie. Dan voel ons hoe die hemel ons begin aantrek. Ons moet so voel. Ons sal gemiddeld so sewentig of tagtig jaar hier deurbring, terwyl ons die ewigheid in die hemel sal deurbring. ‘Daarna sal ons… vir altyd by Hom… wees’ (1 Tessalonisense 4:17 NLV).
Hier op aarde kry ons ‘n gemengde telkaart; soms doen ons goed, ander kere nie so goed nie. In die hemel sal ons egter net soos Jesus wees. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie…’ (Filippense 3:20-21 NLV).
C.S. Lewis het geskryf dat in die hemel sal elkeen van ons “‘n skitterende, stralende, onsterflike skepsel, wat deurgaans pols met sulke energie en vreugde en wysheid en liefde as wat ons ons nie nou kan voorstel nie,” wees. Al die patriarge, profete en predikers in die Bybel het na die hemel verlang. Sagaria het dit as volg beskryf: ‘…Hulle sal ook soos ‘n juweel in ‘n koning se kroon wees. Hulle sal blink en skitter in sy land’ (Sagaria 9:16-17 DB).
As jy vandag sou sterf, sal jy hemel toe gaan? Jy kan, deur jou vertroue in Jesus Christus te plaas.
Sielskos: 1 Kon 17:1-24; 1 Kor 12
2023-03-25
Lukas 6:37 NLV
Hier is nog drie stappe na vergifnis: 1) Aanvaar mense soos hulle is en moet hulle nie probeer verander nie. Dit hou jou net aan hulle vasgeketting, terwyl jy jouself kwel oor wat hulle gedoen het en eis dat hulle op maniere wat jy goedkeur, moet optree. Niks maak mense minder gewillig om te verander as wanneer jy hulle probeer beheer en eis dat hulle aan jou vereistes moet voldoen nie. Om mense te verander is nie jou werk nie – dis God s’n! Jou werk is om te kies om te vergewe en die uitkoms in God se hande te los.
2) Sien jou oortreder as God se instrument vir jou groei. Dis makliker om iemand te vergewe wanneer jy ophou om hulle as Satan se agent wat gestuur is om jou te vernietig te sien en hulle as God se instrument om jou te ontwikkel, begin sien. Josef se lewe is ‘n sprekende bewys van hierdie beginsel. Die pad wat hom van die put tot die paleis geneem het, was met onreg, teleurstelling en verraad geteer. God het egter elke pynlike gebeurtenis gebruik om hom by sy lotsbestemming uit te bring. God kan dieselfde vir jou doen.
3) Probeer om met jou oortreder te versoen. Versoening is in God se aard. ‘Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is…’ (Romeine 5:10 AFR83). Wat God vir jou gedoen het, wil Hy hê moet jy aan die een wat teenoor jou oortree het, doen. Jesus het versoening ‘n hoofprioriteit gemaak deur te sê: ‘los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede… Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:24 NLV). Ja, dit sal onbaatsugtigheid en nederigheid van jou kant af verg, maar die opbrengs is die belegging werd!
Sielskos: Job 24-28; Luk 21:1-11; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2023-03-24
Kolossense 3:13 NLV
Die ellende om met onvergifnis in jou hart te lewe, duur altyd langer as die pyn van die oortreding. Altyd! Wanneer jy aan wrokkigheid vashou, maak jy die deur vir depressie en fisiese siektetoestande oop. Vergifnis genees jou wonde en herstel jou vreugde. Hier is twee stappe om jou te help om te vergewe:
1) Onthou dat jy onvoorwaardelik vergewe is. Onthou God se genade teenoor jou en die prys wat vir jou vergifnis betaal is. Wanneer jy weier om genade te betoon, is jy soos die man wat Jesus gesê het van ‘n enorme skuld kwytgestel is, maar geweier het om ‘n ander man se skamele skuld aan hom te vergewe (sien Matteus 18:23-34). Die genade wat God aan jou bewys het, laat jou met geen rede om te weier om die persoon wat jou seergemaak het, te vergewe nie.
2) Bevry die oortreder van die skuld wat hulle aan jou verskuldig is. Jy mag dalk heeltemal geregtig wees om te sê: ‘Hulle skuld my vir dit wat hulle gedoen het!’ Jou vriende mag dalk saamstem. Die wet mag dalk saamstem en jy mag dalk dink dat die enigste manier hoe jou oortreder gaan leer om te doen wat reg is, is wanneer hulle vir hulle fout boet. Solank as wat jy egter aan jou ‘regte’ vashou, word jy aan die verlede vasgeketting. Jou toekoms word deur die verlede gyselaar gehou.
Jou oortreder se sonde teen jou is deur dieselfde opofferende liefde wat jou sondeskuld gekanselleer het betaal, dus het hulle dieselfde behoefte en reg tot vergifnis as wat jy het. Vergifnis is ook nie net tot hulle voordeel nie, maar tot joune ook: ‘…As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (Lukas 6:37 NLV).
Sielskos: Job 21-23; Luk 20:27-47; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2023-03-23
Psalm 55:23 NLV
As jy in moeilike tye grootgeword het, doen jy outomaties een van die volgende twee dinge: 1) Vertrou meer op God omdat jy sy getrouheid al ervaar het. 2) Dink, bekommer en praat aanhoudend oor die ‘wat as’ in die lewe.
Daar is baie om oor te dink, want die toekoms rus in God se hande, nie joune nie. Dis moontlik vir iets om baie groter as wat dit waarlik is, vir jou voor te kom. Dis die kern van bekommernis. Dis soos ‘n sneeubal; dit begin klein, maar soos jy dit oor en oor in jou gedagtes rol, word dit groter en groter totdat dit die potensiaal het om jou te begrawe.
Wat is dus die antwoord? ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Vul jou hart met God se Woord. Ontwikkel dan die gewoonte om dit wat in jou hart is, meer werklik vir jou te laat word as dit wat jy sien, dink of voel. Jy kan kies om aan dit wat God kan doen, in plaas van dit wat jy nie kan doen nie, te dink.
As jy aanhou om oor die ingewikkeldheid van jou situasie obsessief te wees, sal jy in wanhoop opeindig. Met ander woorde, jy sal vasgevang voel. Wanneer dit gebeur, is dit maklik om paniekerig te raak en irrasionele dinge te doen wat net die probleem vererger.
In stede daarvan, ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie.’ Die Here sal jou versterk, ondersteun en jou staande hou. God mag jou nie onmiddellik uit die situasie neem nie, maar sy onderhoudende genade sal jou daardeur bring. Gee vandag jou probleem vir God.
Sielskos: Job 18-20; Luk 20:9-26; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18
2023-03-22
Lukas 5:5 NLV
Jy sê: ‘Wat het geword van die vers in Galasiërs 6 wat belowe wat jy saai, sal jy ook oes? Ek het my beste gedoen. Ek het vertrou, opgeoffer, die regte dinge gedoen, maar niks geoes nie.’ Dit is ontmoedigend en wil jou laat tou opgooi wanneer jy ‘n gebrek in jou finansies, werk, huwelik, kinders of bediening ervaar.
Die dissipels was ervare vissermanne. Hulle het egter heelnag op die see deurgebring en niks gevang nie, dus was hulle moedeloos. Dis toe Jesus opdaag! Toe hulle dink dat daar niks meer is wat hulle kan doen nie, het Hy in hulle boot geklim. Hy werk steeds op hierdie manier.
Jesus weet dat jy self sal aanhou probeer wanneer jy dink dat jy die situasie self kan hanteer. Dus wag Hy tot jou hulpbronne uitgeput is en jy erken dat jy uit opsies uit is en raak dan betrokke. Hy het vir Petrus gesê: ‘… Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang’ (Lukas 5:4 NLV). Petrus het geantwoord: ‘…ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie…’ (Lukas 5:5 NLV). Miskien het Petrus gedink: ‘Here, U is die prediker, maar ek is ‘n professionele visserman. As daar enigiets in die water was, sou ek dit gevang het!’ Dis toe dat die wonderwerk gebeur. Petrus het Jesus gehoorsaam, ongeag wat hy gevoel of gedink het.
Wanneer jy moedeloos en hulpeloos is, wanneer jy dink daar is nie ‘n weg uit die gemors nie, moet jy stil raak en luister en Jesus sal vir jou sê wat om te doen. Wanneer Hy dit doen, moet jy, selfs al het jy vrae, sê: ‘…Maar as u so sê, sal ons weer probeer.’ Berei jouself dan vir die resultate wat net God kan gee, voor.
Sielskos: Job 15-17; Luk 19:41-20:8; Ps 13; Spr 8:14-16
2023-03-21
Kolossense 3:22 NLV
As jy verantwoordelik was om mense by die werk in diens te neem, waarvoor sou jy uitgekyk het? Vaardigheid, toewyding, stiptelikheid, betroubaarheid, geduld, vriendelikheid en konsekwentheid? Jesus het gesê: ‘As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees…’ (Lukas 16:10 NLV). Die lewe bestaan meestal uit klein sake, as jy dus onbetroubaar in die klein dinge is, sal jy in meeste dinge van die lewe onbetroubaar wees.
Het jy ‘n stapel items by die werk waaroor jy skuldig voel omdat jy nie daarby uitkom nie? Betroubaarheid sluit jou hantering daarvan in. Dit mag dalk nie vir jou saakmaak dat iemand vir jou ‘n e-pos of ‘n brief gestuur het nie, maar daardie persoon verwag ‘n antwoord. Hulle wêreld mag dalk daarvan afhang. Hoe hanteer jy die klein dingetjies in die lewe? Jesus het gesê: ‘En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?’ (vers 12 NLV).
As jy die besigheid waarvoor jy werk besit het, sou jy al daardie ekstra pouses vir koffie geneem het? Sou jy die huurmotor wat jy so pas vir ‘n week lank onverskillig mee gery het, gekoop het? Hoe jy dinge wat nie aan jou behoort nie hanteer, is ‘n toets van jou getrouheid aan God.
Betroubaarheid is in alle areas van die lewe belangrik. God sê dat jy vir jou betroubaarheid beloon sal word, dus moet jy jou beste by die werk gee. ‘Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie’ (Kolossense 3:23 NLV). As ‘n volgeling van Christus, moet jy ‘n reputasie as die betroubaarste mens by die werk hê. Hoekom? Omdat jy weet wie jou ware baas is!
Sielskos: Job 11-14; Luk 19:22-40; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13